Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 13—“Wat Maak Jy Hier?” *
Elia se skuilplek op die Berg Horeb, hoewel vir die mens versteek, was aan God bekend; en die uitgeputte en ontmoedigde profeet is nie op sy eie gelaat om alleen die stryd teen die magte van die duister wat hom neergedruk het te voer nie. By die ingang na die grot waarin Elia geskuil het, het God hom ontmoet, deur ‘n magtige engel te stuur om navraag oor sy behoeftes te doen en die Goddelike doel vir Israel aan hom duidelik te maak. DVvPEk 124.1
Nie voordat Elia geleer het om volkome op God te vertrou, kon hy sy werk vir diegene wat tot Baal-aanbidding verlei is, voltooi nie. Die onmiskenbare oorwinning op die hoogtes van Karmel het die weg gebaan vir nog groter oorwinnings; tog is Elia, as gevolg van die dreigement van Isébel, weggelei van die wonderlike geleenthede wat voor hom oopgegaan het. Die man van God moes tot die besef van die swakheid van sy huidige posisie in vergelyking met die voorsprong wat God vir hom beoog het, gebring word. DVvPEk 124.2
God het sy dienskneg ontmoet met die vraag: “Wat maak jy hier, Elia?” Ek het jou na die spruit Krit gestuur en daarna na die weduwee in Sarfat. Ek het jou gebied om na Israel terug te keer en om voor die afvallige priesters op Karmel te staan en Ek het jou met krag omgord om die koning se strydwa te begelei tot by die hek van Jisreël. Maar wie het jou op hierdie haastige vlug na die wildernis gestuur? Watter opdrag het jy hier? DVvPEk 124.3
Met bitterheid van siel het Elia sy klagte betreur: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het en hulle soek my lewe om dit weg te neem.” (1 Kon 19:10) DVvPEk 124.4
Met ‘n beroep op die profeet om die grot te verlaat, het die engel hom gebied om voor die HERE op die berg te staan en na Sy woord te luister. “En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ‘n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan.” (Verse 11-13) DVvPEk 125.1
God het nie deur manifestasie van Goddelike mag nie, maar deur “...die gesuis van ‘n sagte koelte...” gekies om Homself aan sy dienaar te openbaar. Die HERE wou Elia leer dat dit nie altyd die werk met die grootste vertoon is wat die suksesvolste is om Sy doel te bereik nie. Terwyl Elia op die openbaring van die HERE gewag het, het ‘n groot storm losgebars, die weerlig het geflits en ‘n verterende vuur het verby beweeg. Toe kom daar ‘n stil, sagte stem en die profeet het sy gesig voor die aangesig van die HERE bedek. Sy grimmigheid is gestil, sy gees versag en gedemp. Hy het nou besef dat ‘n stille en vaste vertroue op God, altyd vir hom in tye van nood tot hulp sou wees. DVvPEk 125.2
Dit is nie altyd die mees geleerde aanbieding van God se waarheid wat siele oortuig en bekeer nie. Mense se harte word nie deur welsprekendheid of logika bereik nie, maar wel deur die sagte invloed van die Heilige Gees wat stilweg, maar seker werk om die karakter te hervorm en te ontwikkel. Dit is die stil sagte stem van die Gees van God wat die krag besit om harte te verander. DVvPEk 125.3
“Wat maak jy hier, Elía?” het die stem weer gevra. En weer het die profeet geantwoord: “Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.” DVvPEk 125.4
Die HERE het Elia geantwoord dat die boosdoeners in Israel nie ongestraf sou bly nie. Mense moes spesifiek gekies word om die Goddelike doel vir die straf van die afvallige koninkryk te vervul. Daar was ernstige werk wat verrig moes word, om aan almal die geleentheid te bied om hulle aan die kant van die ware God te skaar. Elia self moes na Israel terugkeer en met ander die las om hervorming teweeg te bring, deel. DVvPEk 126.1
“Maar die HERE sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram. En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek. En die een wat van die swaard van Hásael vry raak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vry raak, hom sal Elísa doodmaak.” (Verse 15-17) DVvPEk 126.2
Elia het gedink dat hy die enigste in Israel was wat die ware God aanbid het. Maar Hy wat almal se harte lees, het aan die profeet bekend gemaak dat baie, selfs deur die lang jare van afvalligheid, aan Hom getrou gebly het. “Maar Ek sal [het] sewe duisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baal gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie. (Vers 18) DVvPEk 126.3
Uit Elia se ondervinding gedurende daardie dae van moedeloosheid en skynbare neerlaag kan verskeie lesse geleer word, lesse van onskatbare waarde vir die dienaars van God in die laaste dae wat gekenmerk word deur die algemene afwyking van wat reg is. Die afvalligheid wat vandag heers, is soortgelyk aan dit wat Israel in die dae van die profeet oorheers het. Deur die verheffing van die mens bo die Goddelike, in die lof van gewilde leiers en die aanbidding van Mammon; en deur die plasing van die leringe van die wetenskap bo die waarhede van openbaring, volg massas deesdae vir Baal. DVvPEk 126.4
Twyfel en ongeloof oefen hulle afbrekende invloede op x hart en verstand uit en baie vervang God se woorde met die teorieë van mense. Daar word in die openbaar geleer dat ons die tydperk bereik het waar menslike rede bo die leringe van die Woord verhef moet word. God se wet, die Goddelike standaard van geregtigheid, word as nietig verklaar. Die vyand van alle waarheid werk met misleidende mag om te veroorsaak dat manne en vroue menslike instellings plaas waar God moet wees en te vergeet van dit wat vir die geluk en die verlossing van die mensdom bestem is. DVvPEk 127.1
Tog is hierdie afvalligheid, wydverspreid soos dit is, nie universeel nie. Nie almal in die wêreld is wetteloos en sondig nie; nie almal het hulle by die vyand geskaar nie. God het duisende wat nie die knie voor Baal gebuig het nie; baie wat daarna verlang om meer aangaande Jesus en die wet te verstaan; baie wat hoop dat Jesus spoedig sal terugkeer om ‘n einde aan die heerskappy van sonde en dood te maak. En dan is daar baie wat Baal onwetend aanbid, maar wat steeds deur die Gees van God bearbei word. DVvPEk 127.2
Diesulkes het die persoonlike hulp van diegene wat God reeds leer ken het en die krag wat in sy woord skuil, nodig. In ‘n tyd soos hierdie, behoort elke kind van God aktief betrokke by hulpverlening aan andere te wees. Diegene wat ‘n begrip vir Bybelse waarheid het en poog om na manne en vroue te soek wat na die lig verlang, sal deur God se engele bygestaan word. En waar engele gaan, het niemand nodig om te vrees om voort te beweeg nie. As gevolg van die getroue pogings van toegewyde werkers, sal baie van die aanbidding van afgode wegdraai na die aanbidding van die ware God. Baie sal ophou om hulde aan mensgemaakte instellings te bring en vreesloos aan die kant van God en Sy wet standpunt inneem. DVvPEk 127.3
Baie hang af van die volgehoue aktiwiteit van hulle wat getrou en lojaal is en om hierdie rede wend Satan elke poging aan om die vervulling van die Goddelike doel deur gehoorsames te stuit. Hy veroorsaak dat sommige hul verhewe en heilige missie uit die oog verloor en bevrediging vind in die plesiere van hierdie lewe. Hy lei hulle om gemaksugtig te raak en, vir groter wêreldse voordele, weg van plekke te verhuis waar hulle ‘n voordelige invloed sou kon uitoefen. Hy veroorsaak ander om, ontmoedig as gevolg van teëstand of vervolging, hul plig te ontvlug. Maar sulkes word deur die Hemel met die teerste meegevoel bejeën. Aan elke kind van God wie se stem deur die vyand van siele suksesvol stilgemaak is, word die vraag gerig: “Wat maak jy hier?” Ek het jou opdrag gegee om die hele wêreld in te gaan en die evangelie te verkondig, om ‘n volk voor te berei vir die dag van die HERE. Hoekom is jy hier? Wie het jou gestuur? DVvPEk 127.4
Die vreugde wat voor Christus gestel is, die vreugde wat Hom deur opoffering en lyding onderhou het, was die vreugde om sondaars gered te sien. Dit behoort die vreugde van elke volgeling van Hom te wees, die aansporing vir sy ambisie. Diegene wat, selfs tot ‘n beperkte mate, besef wat verlossing vir hulle en hul medemens beteken, sal tot ‘n sekere mate die groot behoeftes van die mensdom begryp. Hulle harte sal met deernis gevul word wanneer hulle die morele en geestelike nood van duisende mense sien wat onder die skaduwee van ‘n ontsettende verdoemenis verkeer, in vergelyking waarmee liggaamlike lyding in die niet verdwyn. DVvPEk 128.1
Aan gesinne, sowel as indiwidue, word dieselfde vraag gestel: “Wat maak jy/julle hier?” In baie kerke is daar gesinne wat deeglik in God se waarheid onderrig is, wat hulle sfeer van invloed kan uitbrei deur na plekke te verhuis waar daar ‘n behoefte aan die dienste wat hulle kan bied bestaan. God doen ‘n beroep op Christen-gesinne om die donker plekke van die aarde te betree en met wysheid en deursettingsvermoë, vir diegene wat in geestelike duister gehul is, te werk. Om aan hierdie oproep gehoor te gee, verg selfverloëning. Terwyl baie wag dat elke hindernis uit die weg geruim word, gaan siele sonder hoop en sonder God verlore. Daar is mense wat, ter wille van wêreldse voordeel en om wetenskaplike kennis op te doen, bereid is om hulle in gebiede vol pestilensie te waag en om ontbering en gebrek te ly. Waar is diegene wat bereid is om dieselfde te doen om ander van die Verlosser te vertel? DVvPEk 128.2
Dit is nie ‘n vreemde verskynsel dat mense met geestelike krag onder moeilike omstandighede en bo hul kragte getoets word, moedeloos en wanhopig raak wanneer daar niks in die lewe oorbly om van te kies nie. Laat diesulkes onthou dat een van die magtigste profete voor die toorn van ‘n woedende vrou vir sy lewe gevlug het. As vlugteling, uitgeput en moeg gereis, met bittere teleurstelling wat sy gees verpletter het, het hy verlang om te sterf. Maar dit was juis toe alle hoop van hom gewyk het en dit geblyk het dat sy lewenstaak met nederlaag bedreig word, dat hy een van die kosbaarste lesse van sy lewe geleer het. In die uur van sy grootste swakheid het hy die behoefte en moontlikheid om God onder die mees haglikste omstandighede te vertrou, geleer. DVvPEk 129.1
Diegene wat, terwyl hulle hul lewens-energie aan selfopofferende diens bestee, in die versoeking kom om aan moedeloosheid en wantroue toe te gee, kan moed uit die ervaring van Elia skep. God se wakende sorg, Sy liefde en Sy krag, word veral namens sy diensknegte, wie se ywer misverstaan of nie waardeer word nie, wie se raad en teregwysings geminag word en wie se pogings vir hervorming met haat en teëkanting vergoed word, gemanifesteer. DVvPEk 129.2
Dit is ten tye van die grootste swakheid wat Satan die siel met die felste versoekings oorweldig. Dit was hoe hy gehoop het om oor die Seun van God te seëvier; want deur hierdie beleid het hy baie oorwinnings oor die mens behaal. Dit is wanneer die wilskrag verswak en geloof gefaal het, wat diegene wat lank en dapper gestaan het vir wat reg is, aan versoeking toegegee het. Moses, vermoei deur die veertig jaar se swerftog en ongeloof, het vir ‘n oomblik sy houvas op die Oneindige Krag verloor. Hy het op die grens van die Beloofde Land gefaal. So ook Elia. Hy wat gedurende die jare van droogte en hongersnood sy vertroue in Jehova gehandhaaf het, hy wat onverskrokke voor Agab gestaan het, hy wat op daardie uitputtende dag op Karmel voor die hele nasie as die enigste getuie van die ware God gestaan het, het in ‘n oomblik van swakheid toegelaat dat vrees vir die dood sy geloof in God oorwin. DVvPEk 129.3
En so is dit steeds vandag. Wanneer twyfel ons oorval, omstandighede ons verwar, of ons deur armoede en ellende getref word, dan is dit Satan se strewe om ons vertroue in Jehova te verswak. Dis dan wanneer hy ons mislukkings aan ons voorhou en ons in die versoeking bring om God te wantrou en Sy liefde te betwyfel. Hy hoop om die siel te ontmoedig en ons houvas op God te verbreek. DVvPEk 130.1
Diegene wat aan die voorpunt van die konflik staan, word deur die Heilige Gees geïnspireer om ‘n spesiale werk te verrig en sal dikwels ‘n reaksie ervaar wanneer die druk afneem. Neerslagtigheid kan die dapperste geloof beproef en die standvastigste wil verswak. Maar God verstaan en Hy ontferm Hom steeds oor hulle en het hulle lief. Hy lees die motiewe en die doel van die hart. Om geduldig te wag, om te vertrou wanneer alle hoop beskaam, is die les wat die leiers in God se werk moet leer. Die Hemel sal hulle nie in die dag van teëspoed versaak nie. Niks is skynbaar meer hulpeloos en tog meer onoorwinlik, as die siel wat sy eie nietigheid besef en volkome op God vertrou nie. DVvPEk 130.2
Die les van Elia se ervaring, naamlik om op God in tye van beproewing te vertrou, is nie slegs vir mense in posisies met groot verantwoordelikhede nie. Hy wat Elia se Bron van krag was, is magtig om elke sukkelende kind van Hom, ongeag hoe swak hulle mag wees, te versterk. Hy verwag lojaliteit van elkeen en sal krag volgens hulle behoefte skenk. In sy eie krag is die mens kragteloos, maar met God se krag, kan hy sterk wees om die kwaad te oorwin en ander te help om te oorwin. Satan kan nooit die oorhand oor iemand kry wat God sy verdediging maak nie. “Hulle sal van My sê: Alleen in die HERE is volle geregtigheid en sterkte.” (Jes 45:24) DVvPEk 130.3
Mede-Christen, Satan is bekend met jou swakheid; daarom moet jy aan Jesus vashou. Deur in God se liefde te bly, kan jy elke toets deurstaan. Die geregtigheid van Christus alleen kan aan jou die krag verleen om die gety van boosheid wat oor die hele wêreld spoel, te stuit. Sluit geloof in jou ervaring in. Geloof maak elke las ligter en verlig alle moegheid. Jy sal lotsbestemminge wat tans raaiselagtig is, kan oplos deur voortdurend op God te vertrou. Stap in geloof op die pad wat Hy vir jou uitgemerk het. Beproewings sal opduik, maar gaan voort. Dit sal jou geloof versterk en jou geskik vir diens maak. Die rekords van die heilige geskiedenis is vir ons geboekstaaf, nie net om te lees en dit te bepeins nie, maar sodat dieselfde geloof wat voorheen in die dienaars van God gewerk het, in ons kan werk. Waar daar ook al harte van geloof is om kanale van Sy krag te wees, sal die HERE nie op ‘n minder duidelike wyse te werk gaan nie. DVvPEk 131.1
Aan ons, net soos aan Petrus, word die woord gegee: “En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie.” (Luk 22:31,32) Christus sal nooit diegene vir wie Hy gesterf het verlaat nie. Ons mag Hom dalk verlaat en deur versoeking oorweldig word, maar Christus kan nooit die rug op iemand keer vir wie Hy die losprys van Sy eie lewe betaal het nie. Indien ons geestelike visie daartoe in staat was, sou ons siele onder verdrukking sien, belas met smart, neergedruk soos ‘n wa onder ‘n swaar vrag en gereed om in moedeloosheid te sterf. Ons sou engele sien wat diegene wat versoek word, tot hulp haas, die bose magte wat hulle omring terugdryf en hulle voete weer op ‘n vaste fondasie plaas. Die oorloë tussen die twee magte, is net so werklik soos die oorloë wat tussen die leërmagte van die wêreld gevoer word en in hierdie geestelike konflik is ewige bestemmings op die spel. DVvPEk 131.2
In die visioen wat aan die profeet Esegiël getoon is, was daar die verskyning van ‘n hand onder die vlerke van die gerubs. Dit is om God se dienaars te leer dat dit Goddelike mag is wat sukses verleen. Diegene wie deur God as Sy boodskappers aangestel word, moenie voel dat Sy werk van hulle afhang nie. Sterflike wesens word nie aan hul eie oorgelaat om hierdie las van verantwoordelikheid te dra nie. Hy wat nooit sluimer of slaap nie, wat voortdurend werk om Sy planne uit te voer, sal die werk voortsit. Hy sal die doelwitte van die goddelose mense in die wiele ry en die rade van diegene wat onheil teen Sy volk beplan, verwar. Hy wat die Koning is, die HERE van die leërskare, sit tussen die gerubs en te midde van die onmin en opskudding van die nasies, waak Hy nog steeds oor sy kinders. Wanneer die vestings van konings omvêrgewerp word, wanneer die pyle van toorn die harte van Sy vyande deurboor, sal Sy volk veilig in sy hande wees. DVvPEk 132.1