Die Verhaal Van Profete en Konings

16/69

Hoofstuk 12—Van Jisreël tot Horeb *

Met die dood van die profete van Baal, is die weg geopen vir ‘n magtige geestelike hervorming onder die tien stamme van die noordelike koninkryk. Elia het die volk se afvalligheid aan hulle voorgehou en ‘n beroep op hulle gedoen om hul harte te verootmoedig en na die HERE te draai. Die oordele van die Hemel is uitgevoer; die mense het hul sondes bely en die God van hul vaders as die lewende God erken. En nou kon die vloek van die Hemel onttrek word en die aardse seëninge van die lewe hernu word. Die land sou met reën verkwik word. “Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën!” (Vers 41) Daarna het Elia na die top van die berg gegaan om te bid. DVvPEk 115.1

Dit was nie vanweë enige uiterlike tekens van reën wat Elia met soveel vertroue vir Agab kon gebied om hom vir reën voor te berei nie. Die profeet het geen wolke in die hemel gewaar en geen donderweer gehoor nie. Hy het eenvoudig die woorde wat die Gees van die HERE hom beweeg het om, in antwoord op sy eie sterk geloof uit te spreek, geuiter. Hy het regdeur die dag, sonder om terug te deins, die wil van God uitgevoer en het sy onvoorwaardelike vertroue in die profesieë van God se woord openbaar. En noudat hy alles in sy mag gedoen het, het hy geweet dat die Hemel die seëninge wat voorspel was vrylik sou uitstort. Dieselfde God wat die droogte gestuur het, het oorvloedige reën as beloning vir die doen van wat reg is beloof; en nou het Elia gewag vir die beloofde reënbui. Met ‘n gesindheid van nederigheid het Elia “...hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek... ” (vers 42) en by God voorspraak vir ‘n berouvolle Israel gedoen. DVvPEk 115.2

Elia het sy dienaar weer en weer na ‘n uitkykpunt oor die Middellandse See gestuur om waar te neem of daar enige sigbare teken was dat God sy gebed gehoor het. Elke keer het die dienaar met dieselfde antwoord teruggekeer: “Daar is niks nie.” Die profeet het nie ongeduldig geraak of sy geloof versaak nie, maar het voortgegaan met sy ernstige pleidooie. Ses keer het die dienaar teruggekeer met die boodskap dat daar geen teken van reën in die koperagtige hemel was nie. Onverskrokke het Elia hom nog eenkeer gestuur; en hierdie keer het die dienaar teruggekeer met die woorde: “Daar gaan ‘n wolkie soos ‘n man se hand op uit die see.” (Vers 44). DVvPEk 116.1

Dit was voldoende. Elia het nie gewag dat die hemel verdonker nie. In daardie klein wolkie het hy in geloof ‘n oorvloed van reën gewaar; en hy het in harmonie met sy geloof opgetree en sy dienaar vinnig na Agab gestuur met die boodskap: “Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie.” (Vers 44) DVvPEk 116.2

Dit was as gevolg van Elia se groot geloof dat God hom in hierdie ernstige krisis in die geskiedenis van Israel kon gebruik. Soos wat hy gebid het, het sy geloof uitgereik en die beloftes van die Hemel aangegryp en hy het in gebed volhard totdat sy smeekbede beantwoord was. Hy het nie gewag op die volle bewys dat God hom gehoor het nie, maar was gewillig om alles op die geringste teken van Goddelike guns te plaas. En wat Elia by magte was om deur God te vermag, kan almal in hul eie sfeer van aktiwiteit in God se diens verrig; want aangaande die profeet uit die berge van Gilead is geskrywe: “Elía was ‘n mens net soos ons en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie.” (Jak 5:17) DVvPEk 116.3

Geloof soos hierdie word vandag in die wêreld benodig — geloof wat op die woord van God se beloftes beslag sal lê en sal weier om te laat gaan totdat die Hemel hoor. Geloof soos dit bring ons in noue verbintenis met die hemel en verleen aan ons krag om die magte van die duister te bemeester. Dit is deur geloof dat God se kinders “...koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.” (Heb 11:33,34) En deur geloof behoort ons ook vandag die hoogtes van God se doel met ons te bereik. “As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” (Mark 9:23) DVvPEk 116.4

Geloof is ‘n wesenlike element van heersende gebed. “ En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb 11:6). “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.” (1 Joh 5:14,15) Met die volhardende geloof van Jakob en die standvastige volharding van Elia, kan ons ons versoeke aan die Vader voorlê en aanspraak maak op alles wat Hy beloof het. Die eer van Sy troon berus op die vervulling van Sy Woord. DVvPEk 117.1

Die skemer het aangebreek toe Agab begin voorberei het om van die berg Karmel na benede te gaan. “En in ‘n oogwink was die hemel swart van wolke en wind en ‘n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jisreël.” (Vers 45) Soos wat hy in die donkerte en verblindende reën na die koningstad gereis het, kon hy niks voor hom sien nie. Elia, wat as die profeet van God, Agab voor sy onderdane verneder het en sy afgodiese priesters gedood het, het hom steeds as Israel se koning erken; en nou, as ‘n huldeblyk en deur die krag van God versterk, het hy voor die koninklike wa gehardloop en die koning tot by die ingang van die stad begelei. DVvPEk 117.2

In hierdie beleefde daad van God se boodskapper wat aan die bose koning betoon is, is daar ‘n les vir almal wat beweer dat hulle dienaars van God is, maar wat in hul eie beraming verhewe is. Hulle huiwer om selfs noodsaaklike dienste te lewer, bevrees dat hulle uitgevind sal word dat hulle die taak van ‘n dienskneg verrig. Diesulkes het veel te leer uit die voorbeeld wat Elia gestel het. Deur sy woord is die skatte van die hemel drie jaar lank van die aarde weerhou; hy is uitsonderlik deur God vereer deurdat, in antwoord op sy gebed, vuur uit die hemel neergedaal en die offer verteer het; sy hand het die oordeel van God in die slagting van die afgodiese profete uitgevoer; en sy smeekbede vir reën is toegestaan. En tog, na hierdie uitsonderlike dade waarmee God sy openbare bediening vereer het, was hy bereid om hierdie minderwaardige taak te verrig. DVvPEk 117.3

Elia en Agab se paaie het by die hek van Jisreël geskei. Die profeet, wat verkies het om buite die mure te bly, het homself in sy mantel toegewikkel en op die kaal grond gaan lê om te slaap. Die koning het ingegaan en spoedig die beskutting van sy paleis bereik, waar hy aan sy vrou die wonderlike gebeure van die dag meegedeel het en van die wonderbaarlike openbaring van Goddelike krag wat aan Israel bewys het dat Jehova die ware God en Elia Sy gekose boodskapper is. Toe Agab aan die koningin vertel van die dood van die afgodiese profete, het Isébel, verhard en onberouvol, woedend geword. Sy het geweier om toe te gee dat die gebeure op Karmel van die oorheersende voorsienigheid van God getuig en steeds uitdagend, het sy blatant verklaar dat Elia moet sterf. DVvPEk 118.1

Daardie nag het ‘n boodskapper die moeë profeet wakker gemaak en die volgende boodskap van Isébel aan hom gelewer: “Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle.” (1 Kon 19:2) DVvPEk 118.2

'n Mens sou dink dat, nadat soveel dapperheid aan die dag gelê is, nadat hy so volkome oor koning en priesters en mense geseëvier het, Elia daarna nooit weer sou toegee aan neerslagtigheid of bevrees word nie. Maar hy, wat met soveel bewyse van God se liefdevolle sorg geseën was, was nie bo menslike swakhede verhewe nie en in hierdie donker uur het sy geloof en sy moed hom begewe. Verwilderd het hy uit sy sluimering wakker geskrik. Die reën het uit die hemele neergestort en dit was donker om hom. Hy het vergeet dat God drie jaar tevore sy skrede na ‘n skuiling vêr weg van Isébel se haat en Agab se soektog gerig het en nou het die profeet vir sy lewe gevlug. “En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan.” (1 Kon-19:3,4) DVvPEk 118.3

Elia moes nie van sy pos gevlug het nie. Hy moes Isébel se dreigement met ‘n beroep op beskerming van die Een wat aan hom die opdrag gegee het om die eer van Jehova te verdedig, beantwoord het. Hy moes aan die boodskapper gesê het dat die God op Wie hy vertrou, hom sou beskerm teen die haat van die koningin. Slegs enkele ure het verloop sedert hy getuie was van die wonderlike manifestasie van Goddelike krag en dit moes aan hom die versekering gegee het dat hy nie nou versaak sou word nie. As hy gebly het waar hy was, as hy God sy toevlug en krag gemaak het en vasgestaan het vir die waarheid, sou hy teen leed beskerm gewees het. Die HERE sou aan hom ‘n verdere treffende oorwinning besorg het deur Sy oordele oor Isébel te vel; en die indruk wat dit op die koning en die volk sou gemaak het, sou ‘n groot hervorming teweeggebring het. DVvPEk 119.1

Elia het groot verwagtings van die wonderwerke wat op Karmel verrig is gehad. Hy het gehoop dat na hierdie vertoning van God se mag, Isébel nie langer so ‘n sterk invloed oor Agab sou uitoefen nie en dat daar ‘n spoedige hervorming in Israel sou plaasvind. Hy het die hele dag op Karmel gearbei sonder enige voedsel. Tog, toe hy Agab se strydwa na die hek van Jisreël begelei het, was sy gemoed sterk, ten spyte van die fisiese druk waaronder hy gearbei het. DVvPEk 119.2

Maar ‘n reaksie soos wat dikwels op groot geloof en roemryke sukses volg, so was die druk op Elia. Hy het gevrees dat die hervorming wat op Karmel begin is, nie sou voortduur nie en terneergedruktheid het hom oorweldig. Hy was tot op die kruin van Pisga verhewe en nou was hy in die vallei. Terwyl hy onder die inspirasie van die Almagtige was, het hy die ergste toets van geloof deurstaan; maar in hierdie tyd van moedeloosheid, met die dreigement van Isébel in sy ore en Satan wat oënskynlik steeds deur die sameswering van hierdie goddelose vrou geheers het, het hy sy houvas op God verloor. Hy was bo maat verhewe en die reaksie was oorweldigend. Elia het van God vergeet en aangehou vlug, totdat hy homself alleen in ‘n verlate wildernis bevind het. Totaal uitgeput het hy onder ‘n besembos gaan sit. Terwyl hy daar gesit het, het hy begeer om te sterf. “En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie.” (1 Kon 19:4) ‘n Vlugteling, ver verwyder van mense se woonplekke, sy gees deur bittere teleurstelling verpletter, wou hy nooit weer ‘n mens se aangesig sien nie. Uiteindelik het hy, totaal uitgeput, aan die slaap geraak. DVvPEk 119.3

Almal ervaar tye van erge teleurstelling en uiterste moedeloosheid — dae wanneer smart jou porsie is en dit moeilik is om te glo dat God steeds die goedhartige Weldoener van Sy aardgebonde kinders is; dae wanneer kwellinge die siel treiter totdat die dood verkieslik bo die lewe blyk te wees. Dit is dan wanneer baie hulle houvas op God verloor en onder die slawerny van twyfel en die binding van ongeloof gebring word. DVvPEk 120.1

As ons in sulke tye, met geestelike insig, die betekenis van God se voorsienigheid kon onderskei, sou ons engele sien wat poog om ons van onsself te red en daarna strewe om ons voete op ‘n fondasie, meer ferm as die ewigdurende hewels, te plaas en nuwe geloof, nuwe lewe, sou ontstaan. Die getroue Job, ten tye van sy beproewing, het verklaar: DVvPEk 120.2

“Mag die dag vergaan waarop ek gebore is.
Ag, was my verdriet maar goed geweeg,
En my ongeluk meteens in ‘n skaal opgehef! Ag, mag my bede maar uitkom,
En mag God my verwagting maar gee!
En mag dit God behaag om my te verpletter,
Sy hand uit te strek en my af te sny!
Dan sou ek nog troos hê;

So wil dan ook ék my mond nie hou nie,
Ek wil spreek in die benoudheid van my gees,
Ek wil kla in die bitterheid van my siel.

Sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as
hierdie geraamte van my.
Ek verfoei my lewe.
Nie vir altyd sal ek lewe nie:
Laat my met rus,
Want my dae is nietigheid.
DVvPEk 120.3

(Job 3:3;6:2,8- 10;7:11,15,16)

Alhoewel Job moeg was vir die lewe, was hy nie toegelaat om te sterf nie. Die moontlikhede van die toekoms is aan hom uitgewys en ‘n boodskap van hoop is aan hom gegee: DVvPEk 121.1

Ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet;
en jy sal vasstaan sonder om te vrees.
Ja, jy sal die moeite vergeet;
Soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink.

En helderder as die middag sal die lewe oprys;
is dit donker — dit sal wees soos die môre!
En jy sal vertrou, want daar is verwagting.
Ook sal jy lê
Sonder dat iemand jou skrikmaak;
En baie sal jou guns soek.
Maar die oë van die goddelose sal versmag,
En die toevlug is vir hulle verlore;
En hulle verwagting is — uitblasing van die laaste asem.
DVvPEk 121.2

(Job 11:15-20)

Vanuit die dieptes van mismoedigheid en wanhoop het Job opgestyg na die hoogtes van volkome vertroue in die genade en die reddende mag van God. Triomfantlik het hy verklaar: DVvPEk 122.1

Kyk, al wil Hy my ombring — ek hoop op Hom:...
Hy sal ook my verlossing wees.”
DVvPEk 122.2

[Job 13:16 in die KJV]

Maar ek, ek weet: My Verlosser leef;
En Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
En nadat hulle so my vel afgeskeur het,
Sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
Hom wat ék sal aanskou my ten goede,
En my oë — en geen vreemde nie — sal sien.
DVvPEk 122.3

(Job 13:15,16;19:25-27)

“Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord...” (Job 38:1) en Sy mag aan Sy kneg geopenbaar. Nadat Job slegs ‘n vlugtige blik van sy Skepper gekry het, het hy homself verafsku en in sak en as berou gekry. Toe kon die HERE hom oorvloedig seën en sy laaste jare die beste jare van sy lewe maak. DVvPEk 122.4

Hoop en moed is noodsaaklik ten einde perfekte diens vir God te verrig. Dis die vrug van geloof. Neerslagtigheid is sonde en onredelik. God is in staat en gewillig om aan Sy dienaars, oorvloediglik van die krag wat hulle benodig om toetse en beproewings te deurstaan, te voorsien. Die planne van die vyande van Sy werk mag oënskynlik goed georden en gevestig wees, maar God kan die sterkste hiervan omverwerp. En dit doen Hy op Sy eie tyd en Sy eie manier, wanneer Hy sien dat die geloof van Sy diensknegte genoegsaam beproef is. DVvPEk 122.5

Vir diegene wat ontmoedig is, is daar ‘n gewisse geneesmiddel — geloof, gebed, werk. Geloof en aktiwiteit sal versekering en tevredenheid wat daagliks sal toeneem, verleen. Word jy versoek om toe te gee aan angstige voorbodes of volslae wanhoop? Selfs in die donkerste dae, wanneer dinge die mees somberste voorkom, moenie bevrees wees nie. Glo in God. Hy is bekend met jou behoeftes. Hy besit al die mag. Sy oneindige liefde en deernis raak nooit uitgeput nie. Moenie vrees dat Hy nie sy belofte gestand sal doen nie. Hy is ewige waarheid. Hy sal nooit die verbond wat Hy met diegene wat hom liefhet gesmee het, wysig nie. En Hy sal aan sy getroue diensknegte die mate van effektiwiteit verleen wat hul behoefte vereis. Die apostel Paulus het getuig: “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring ... Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Kor 12:9,10). DVvPEk 122.6

Het God Elia in sy uur van beproewing versaak? Geensins! Hy het Sy dienskneg nie minder liefgehad toe Elia self van God en mens verlate gevoel het nie, as toe, in antwoord op sy gebed vuur uit die hemel neergedaal het en die bergpiek verlig het nie. En nou, terwyl Elia geslaap het, het ‘n sagte aanraking en ‘n aangename stem hom wakker gemaak. Hy het bevrees opgevlieg, asof om te vlug, bang dat die vyand hom ontdek het. Maar die bejammerende gesig wat oor hom gebuk het, was nie die gesig van ‘n vyand nie, maar die van ‘n vriend. God het ‘n engel uit die hemel met voedsel vir Sy dienskneg gestuur. “Staan op, eet!” het die engel gesê. “Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ‘n broodkoek, op warm klippe gebak en ‘n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.” (1 Kon 19:5,6). DVvPEk 123.1

Nadat Elia die lafenis wat aan hom voorgesit is genuttig het, het hy verder geslaap. Die engel het ‘n tweede keer verskyn. Hy het die uitgeputte man aangeraak en met bejammerende deernis gesê: “Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. En hy het daar in ‘n spelonk gegaan.” (1 Kon 19:5-7) DVvPEk 123.2