Die Verhaal Van Profete en Konings

15/69

Hoofstuk 11—Karmel*

Terwyl Elia voor Agab gestaan het, het hy daarop aangedring dat die hele Israel byeengeroep moet word om hom en die profete van Baal en Astarte op die berg Karmel te ontmoet. “Stuur dan nou...” het hy beveel, “...laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en- vyftig profete van Baal en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.” (1 Kon 18:19) DVvPEk 106.1

Die bevel is deur iemand uitgereik, wat gelyk het asof hy in die werklike teenwoordigheid van Jehova staan; en Agab het onmiddellik, asof die profeet ‘n monarg en die koning ‘n onderdaan was, gehoorsaam. Vinnige boodskappers is regdeur die koninkryk afgevaardig met die opdrag om Elia en die profete van Baal en Astarte te ontmoet. In elke stad en dorp het mense gereed gemaak om op die bepaalde tyd byeen te kom. Soos wat die volk na die plek gereis het, was hulle harte onrustig met vreemde voorgevoelens. Iets buitengewoon was aan die kom; waarom anders die opdrag om by Karmel te vergader? Watter nuwe ramp sou daar nou oor die mense en die land kom? DVvPEk 106.2

Voor die droogte was die berg Karmel ‘n plek van prag, met strome wat uit standhoudende fonteine gevloei het en sy vrugbare skuinstes met blommeprag en florerende bosse oordek het. Maar nou het sy skoonheid onder ‘n skroeiende vloek weggekwyn. Die altare wat vir die aanbidding van Baal en Astarte opgerig was, het onder blaarlose bosse gestaan. Op die kruin van een van die hoogste kranse het daar, in skrille kontras, die afgebreekte altaar van Jehova gestaan. DVvPEk 106.3

Karmel het oor ‘n wye uitspansel van die land uitgekyk; sy hoogtes was uit verskeie dele van die koninkryk van Israel sigbaar. Aan die voet van die berg was daar uitkykpunte vanwaar baie van die verrigtinge wat bo-op plaasgevind het, waargeneem kon word. God is grootliks deur die afgode- aanbidding wat onder die dekmantel van sy beboste hange plaasgevind het onteer. Elia het hierdie hoogte spesifiek as die mees opvallendste plek vir die vertoning van God se krag en ter bevestiging van die eer van Sy Naam, gekies. DVvPEk 106.4

Vroeg die oggend op die bepaalde dag, het die leërskare van die afvallige Israel met groot afwagting naby die kruin van die berg vergader. Die profete van Isébel het in ‘n imposante verskeidenheid opgemarsjeer. Met koninklike praal het die koning nader getree en stelling aan die hoof van die priesters ingeneem, terwyl die afgodedienaars hom welluidend verwelkom het. Maar in die harte van die priesters was daar kommer terwyl hulle onthou het dat deur die woord van die profeet, die land Israel vir drie en ‘n half jaar van dou en reën ontneem was. Hulle was oortuig dat ‘n vreeslike krisis ophande is. Die gode op wie hulle vertrou het, was nie in staat om Elia as ‘n valse profeet te bewys nie. Teenoor hul waansinnige geroep, gebede, trane, vernedering, afskuwelike seremonies, hul duur en onophoudelike offers, was die gode wat hulle aanbid het, vreemd onaangeraak. DVvPEk 107.1

Teenoor koning Agab en die valse profete en omring deur die vergaderde leërskare van Israel, het Elia alleen gestaan as die enigste een wat verskyn het om die eer van Jehova te verdedig. Hy, wat deur die hele koninkryk met die skuld vir die ramp oor hulle belas is, het nou voor hulle gestaan, skynbaar weerloos in die teenwoordigheid van die monarg van Israel, die profete van Baal, die krygsmanne en die omliggende duisende.Maar Elia was nie alleen nie. Bo en rondom hom was die beskermende leërskare van die hemel, engele wat uitmunt in krag. DVvPEk 107.2

Onbeskaamd en vreesloos het die profeet voor die menigte gestaan, ten volle bewus van sy opdrag om die Goddelike bevel uit te voer. Sy gelaat was met plegtige ontsag verlig. Met angstige verwagting het die mense vir hom gewag om te begin praat. Elia het eers na die afgebreekte altaar van Jehova en toe na die menigte gekyk en toe in ‘n helder stem, soos die klank van ‘n basuin, het hy uitgeroep: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baal dit is, volg hom na!” (Vers 21). DVvPEk 107.3

Die mense het hom nie ‘n woord geantwoord nie. Niemand in daardie groot menigte het durf waag om lojaliteit aan Jehova te openbaar nie. Soos ‘n donker wolk het misleiding en blindheid Israel oortrek. Hierdie dodelike afvalligheid het nie eensklaps nie, maar geleidelik plaasgevind, omdat hulle van tyd tot tyd nie gehoor gegee het aan die woorde van waarskuwing en teregwysing wat die HERE aan hulle gestuur het nie. Elke afwyking van wat reg is, elke weiering om te bekeer, het hulle skuld verdiep en hulle verder van die Hemel weggedryf. En nou, in hierdie krisis, het hulle volgehou om te weier om standpunt vir God in te neem. DVvPEk 108.1

Die HERE verafsku ongeërgdheid en dislojaliteit in Sy werk in ‘n tyd van krisis. Die ganse heelal hou met onuitspreeklike belangstelling die laaste tonele van die groot stryd tussen goed en kwaad dop. God se volk nader die grense van die ewige wêreld; en wat kan van groter belang vir hulle wees as dat hulle lojaal aan die God van die hemel bly? Deur al die eeue heen het God sy morele helde gehad en vandag is daar steeds diegene wat soos Josef en Elia en Daniël, nie skaam is om te erken dat hulle deel uitmaak van God se besondere volk nie. Sy besondere seën vergesel die arbeid van manne van aksie, wat nie weggekeer kan word van die reguit pad van diens nie, maar wat met Goddelike krag sal vra: “Wie [is] vir die HERE...?” (Ex 32:26); manne wat nie slegs by die ondersoek sal stilstaan nie, maar wat daarop sal aandring dat diegene wat kies om hulself met die volk van God te vereenselwig, na vore sal kom en onweerlegbaar hul lojaliteit aan die Koning van die konings en die HERE van die here bekend sal maak. Sulke manne maak hulle wil en planne ondergeskik aan die wet van God. Hulle liefde vir Hom weeg by hulle swaarder as hul eie lewens. Hulle taak is om die lig wat die Woord uitstraal op te vang en dit in helder bestendige strale in die wêreld te laat skyn. Getrouheid aan God is hul leuse. DVvPEk 108.2

Terwyl Israel op Karmel geweifel en getalm het, het Elia se stem weer die stilte verbreek: “Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baal vierhonderd- en-vyftig tel. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees.” DVvPEk 109.1

Die voorstel van Elia was so redelik dat die volk nie daarvan kon wegskram nie en het dus moed bymekaar geskraap om te antwoord: “Die woord is goed.” (1 Kon 18:22-24). Die Baal- profete het nie durf waag om teë te stribbel nie; en Elia het hulle aangespreek en gelas: “Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie.” (Vers 25) DVvPEk 109.2

Uiterlik dapper en uitdagend, maar met vrees in hul skuldige harte, het die valse profete hul altaar voorberei en die hout en die offer daarop geplaas; toe het hulle met hul towerspreuke begin. Die eggo van hul skril krete het deur die woude en omliggende hoogtes weerklink, terwyl hulle die naam van hul god aanroep en sê: “O Baal, gee ons antwoord.” Die priesters het om hul altaar vergader en met hul met spronge en wriemeling en gegil, het hulle hul god gesmeek om hulp terwyl hulle hul hare uitgepluk en hulself stukkend gesny het. DVvPEk 109.3

Die oggend was reeds verstreke en die middag het aangebreek en steeds was daar geen aanduiding dat Baal die geroep van sy misleide volgelinge gehoor het nie. Daar was geen stem en geen antwoord op hulle waansinnige gebede nie. Die offer het onverteer gebly. DVvPEk 109.4

Soos hulle hul onbeheerste aanbidding voortgesit het, het die geslepe priesters voortdurend aan ‘n manier probeer dink om ‘n vuur op die altaar aan te steek sodat die volk sou glo dat die vuur direk van Baal afkomstig was. Maar Elia het hulle noukeurig dopgehou; en die priesters wat teen die hoop in gewag het vir die geringste geleentheid om te kul, het met hul sinnelose seremonies volgehou. DVvPEk 110.1

“En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie en geen opmerksaamheid nie.” (Verse 27-29) DVvPEk 110.2

Satan sou met graagte diegene wat hy mislei het en wie aan sy diens gewy was, te hulp wou kom. Met graagte sou hy weerlig stuur om hulle offer aan die brand te steek. Maar Jehova het sekere perke aan Satan gestel, sy mag beperk; en nie al die liste van die vyand kon ‘n enkele vonk op Baal se altaar laat ontvlam nie. DVvPEk 110.3

Ten einde laaste, hul stemme hees van al die geskreeu, hul klere bloedbevlek van self-toegediende wonde, het die priesters desperaat geraak. Met onverpoosde waansin het hulle nou hul pleidooi met afgryslike vloeke van hul songod vermeng en Elia het hulle steeds intens dopgehou; want hy het geweet dat indien die priesters op enige slinkse wyse daarin sou slaag om die vuur op hul altaar aan die brand te kry, hy onmiddellik in stukke verskeur sou word. DVvPEk 110.4

Die skemer het nader gekom. Die profete van Baal was uitgeput, swak en verward. Die een het een voorstel gemaak en ‘n ander iets anders, totdat hulle uiteindelik hul pogings gestaak het. Hulle gille en vloeke het nie meer oor Karmel weerklink nie. In wanhoop het hulle uit die wedywering onttrek. DVvPEk 111.1

Die hele dag lank het die mense die tonele van die verwarde priesters aanskou. Hulle het die wilde gespring rondom die altaar, asof hulle die brandende strale van die son kon aangryp om hul doel te dien, aanskou. Hulle het met afgryse toegekyk na die priesters se self-verminking en het geleentheid gehad om na te dink oor die dwaasheid van afgode-aanbidding. Baie in die skare was moeg vir die vertonings van demonisme en het met die diepste belangstelling op die bewegings van Elia gewag. DVvPEk 111.2

Teen die uur van die aandoffer, het Elia die volk gebied: “Kom nader na my.” Terwyl hulle bewerig nader gestaan het, het hy na die gebreekte altaar waar mense lank gelede die God van die hemel aanbid het gedraai en dit herstel. Vir hom was hierdie hoop klippe kosbaarder as al die manjifieke altare van die heidendom. DVvPEk 111.3

Met die herbou van hierdie antieke altaar het Elia sy eerbied vir die verbond wat die HERE met Israel gesluit het toe hulle deur die Jordaan die Beloofde Land binnegetrek het, getoon. “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders ... en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.” (1 Kon 18:31,32) DVvPEk 111.4

Die teleurgestelde priesters van Baal, uitgeput deur hulle nuttelose pogings, het gewag om te sien wat Elia gaan doen. Hulle het die profeet gehaat omdat hy ‘n toets voorgestel het wat die swakheid en oneffektiwiteit van hulle gode aan die kaak gestel het; en tog het hulle sy mag gevrees. Die volk, ook vreesbevange en amper ademloos met verwagting, het toegekyk terwyl Elia met die voorbereidings voortgegaan het. Die kalm gedrag van die profeet het ‘n skerp kontras met die fanatiese, sinnelose waansin van die volgelinge van Baal gevorm. DVvPEk 111.5

Na die voltooiing van die altaar, het die profeet ‘n sloot rondom gegrawe en nadat hy die hout gerangskik en die bul voorberei het, het hy die slagoffer op die altaar geplaas en die mense beveel om die offer en die alter met water te deurweek. “Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak.” (Verse 34,35) DVvPEk 112.1

Elia het die volk herinner aan hul langdurige afvalligheid wat die toorn van Jehova aangewakker het en ‘n beroep op hulle gedoen om hul harte te verootmoedig en na die God van hul vaders te draai, sodat die vloek op die land van Israel teruggetrek kon word. Toe het hy eerbiedig voor die onsienlike God neergebuig, sy hande na die hemel opgelig en ‘n eenvoudige gebed aangebied. Baal se priesters het van vroeg tot laat met skuim om die mond gegil en rondgespring; maar terwyl Elia gebid het, was daar geen sinnelose geskreeu oor die hoogtes van Karmel nie. Hy het gebid asof hy geweet het dat Jehova teenwoordig was, ‘n Getuie van die toneel, ‘n Hoorder van sy ernstige versoek. Die Baal profete het wild en onsamehangend gebid. Elia het eenvoudig en hartstogtelik gebid en gevra dat God Sy oppermag oor Baal sal toon, sodat Israel gelei sou word om na Hom terug te keer. DVvPEk 112.2

“HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is en ek U kneg en dat ek al hierdie dinge op U woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.” (Verse 36,37) DVvPEk 112.3

'n Swaarbelaaide, plegtige stilte het oor almal geheers. Die Baalpriesters het van angs gebewe. Bewus van hulle skuld, het hulle spoedige vergelding verwag. DVvPEk 113.1

Skaars het Elia klaar gebid of vuurvlamme, soos helder weerligstrale, het uit die hemel op die herboude altaar neergedaal, die offer verteer, die water in die sloot opgeslurp en selfs die stene van die altaar verteer. Die glans van die vlam het die berg verlig en die oë van die menigte verblind. Onder in die valleie waar baie in angsvolle spanning die bewegings van diegene daarbo dopgehou het, kon hulle duidelik sien hoe die vuur neerdaal en almal was verstom oor die verskynsel. Dit het gelyk soos die vuurkolom wat by die Rooisee die kinders van Israel van die Egiptiese leërmag geskei het. DVvPEk 113.2

Die mense op die berg het met eerbied voor die onsigbare God neergeval. Hulle het nie gewaag om langer na die vuur uit die Hemel te kyk nie. Hulle het gevrees dat hulle self ook verteer sou word; en oortuig van hulle plig om die God van Elia as die God van hulle vaders te erken aan Wie hulle trou verskuldig was, het hulle saam, met een stem, uitgeroep: “Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” Met verstommende helderheid het die uitroep oor die berg weerklink en deur die plein geëggo. Uiteindelik het Israel wakker geskrik, nie langer mislei nie en berouvol. Israel het uiteindelik besef hoe grootliks hulle God onteer het. Die karakter van Baal-aanbidding, in teenstelling met die redelike diens wat deur die ware God vereis word, was ten volle geopenbaar. Die mense het God se geregtigheid en genade om die dou en die reën te weerhou totdat hulle daartoe gebring kon word om Sy naam te bely, besef. Hulle was gereed om te erken dat die God van Elia bo elke afgod verhewe is. DVvPEk 113.3

Die Baalpriesters het met ontsteltenis die wonderbaarlike openbaring van Jehova se mag aanskou. Maar selfs in hulle verwarring en in die teenwoordigheid van Goddelike heerlikheid, het hulle geweier om hulle van hul bose werke te bekeer. Hulle sou steeds die profete van Baal bly. So het hulle hulself ryp vir vernietiging betoon. Om berouvolle Israel teen die aanloklikhede van diegene wat hulle geleer het om Baal te aanbid te beskerm, is Elia deur die HERE beveel om hierdie valse leraars te vernietig. Die woede van die mense was reeds teen die leiers van oortreding aangewakker; en toe Elia die bevel gee: “Gryp die profete van Baal! Laat niemand van hulle vry raak nie!” was hulle gereed om te gehoorsaam. Hulle het die Baalpriesters gegryp, en hulle na die spruit Kison geneem en voor die einde van daardie dag wat die begin van besliste hervorming was, is die Baal-dienaars om die lewe gebring. Nie een was toegelaat om te bly lewe nie. DVvPEk 113.4