Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 10—Die Stem van Streng Teregwysing *
'n Tyd lank het Elia in die berge by die spruit Krit geskuil. Daar is hy maande lank op ‘n wonderbaarlike wyse van voedsel voorsien. Later, soos wat die droogte in erns toegeneem het, het God sy dienskneg gebied om skuiling in ‘n heidense land te gaan vind. “Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is en bly daar; kyk, daar het Ek aan ‘n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.” (1 Kon 17:9) DVvPEk 94.1
Hierdie vrou was nie ‘n Israeliet nie. Sy het nooit die voorregte en seëninge ontvang wat die uitverkore volk van God geniet het nie, maar sy het in die ware God geglo en het volgens die lig wat op haar pad geskyn het, gewandel. En nou, toe dit nie meer veilig vir Elia in Israel was nie, het God hom na hierdie vrou gestuur om skuiling in haar huis te vind. DVvPEk 94.2
“ Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was ‘n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my ‘n bietjie water in die kan, dat ek kan drink. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my ‘n stukkie brood saam.” (1 Kon 17:10,11) DVvPEk 94.3
In hierdie arm woning het die hongersnood swaar gedruk en dit het geblyk dat die karige bietjie kos op ‘n einde was. Elia se opwagting was op die einste dag wat die weduwee gevrees het sy sou die stryd om aan die lewe te bly moes gewonne gee en haar geloof in die mag van die lewende God om in haar behoeftes te voorsien, tot die uiterste beproef is. Maar, selfs in haar uiterste nood, het sy van haar geloof getuig deur aan die versoek van die vreemdeling, wat van haar gevra het om haar laaste stukkie voedsel met hom te deel, toe te gee. DVvPEk 94.4
In antwoord op sy versoek vir spys en drank, het die weduwee geantwoord: “So waar as die HERE u God leef, ek het nie ‘n broodkoek nie, net maar ‘n hand-vol meel in die pot en ‘n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou ‘n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe.” Waarop Elia reageer het: “Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my ‘n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee.” (1 Kon 17:12-14) DVvPEk 95.1
Geen groter toets van geloof as hierdie kon vereis word nie. Tot dusvêr het die vrou alle vreemdelinge met vriendelikheid en milddadigheid behandel. Ongeag die lyding wat dit vir haar en haar kind tot gevolg sou hê en met vertroue in die God van Israel om in haar elke behoefte te voorsien, het sy aan hierdie uiterste toets van gasvryheid voldoen deur te handel”...volgens die woord van Elía.” (Vers 15). DVvPEk 95.2
Wonderlik was die gasvryheid wat deur hierdie Fenisiese vrou aan God se profeet getoon is en wonderlik is haar geloof en vrygewigheid beloon. “En sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elia gespreek het.” (Verse 15,16) DVvPEk 95.3
“Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie. Toe sê sy vir Elia: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak!” (Vers 18) DVvPEk 95.4
“Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo- kamer waar hy self gewoon het en hom op sy bed neergelê; en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, ‘n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe? ... Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep ... En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.” DVvPEk 95.5
“ Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe! En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u ‘n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.” (Verse 19-24) DVvPEk 96.1
Die weduwee van Sarfat het haar laaste krieseltjie kos met Elia gedeel en in ruil daarvoor was haar lewe en die van haar seun gespaar. En aan almal wat in tye van beproewing aan ander, wat meer behoeftig is, meegevoel en hulp verleen, het God ryke seëninge belowe. Hy het nie verander nie. Die belofte is tans net so seker as toe die Verlosser dit uitgespreek het: “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang.” (Mat 10:41). DVvPEk 96.2
“Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” (Heb 13:2). Hierdie woorde het nie hul krag met verloop van tyd verloor nie. Ons hemelse Vader plaas steeds geleenthede wat bedekte seëninge inhou, in die pad van Sy kinders; en diegene wat van hierdie geleenthede gebruik maak, put groot vreugde daaruit. As jy “...jou siel laat uitgaan na die hongerige en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” (Jes 58:10,11) DVvPEk 96.3
Christus sê vandag aan sy getroue diensknegte: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” Geen weldaad wat in Sy naam betoon word, sal nie erken en beloon word nie. En in dieselfde deernisvolle erkenning sluit Christus selfs die swakste en geringste van die familie van God in. “En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker koue water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” (Matt 10:40,42) DVvPEk 97.1
Gedurende die lang jare van droogte en hongersnood, het Elia ernstig gebid dat die harte van Israel sal wegdraai van afgodediens na getrouheid aan God. Die profeet het geduldig gewag terwyl die hand van die HERE swaar op die geteisterde land gerus het. Soos wat hy aan alle kante bewyse van die toename in lyding waargeneem het, was sy hart verwring met smart en het hy verlang na krag om ‘n spoedige hervorming te bewerkstellig. Maar God self was besig om Sy plan uit te voer en al wat Sy dienskneg kon doen, was om voort te gaan om in geloof te bid en te wag op die tyd van daadwerklike optrede. DVvPEk 97.2
Die afvalligheid wat in Agab se tyd geheers het, was die gevolg van baie jare se bose optrede. Stap vir stap, jaar na jaar, het Israel afgewyk van die regte koers. Van geslag tot geslag het hulle geweier om hulle paaie reguit te maak en uiteindelik het die meerderheid van die volk hulself aan die leierskap van die magte van die duisternis oorgelewer. DVvPEk 97.3
Ongeveer ‘n eeu is verstreke vandat, onder die leierskap van koning Dawid, Israel met vreugde in lofgesange aan die Allerhoogste verenig het, in erkenning van hul algehele afhanklikheid van Hom vir hul daaglikse behoeftes. Let op na die woorde van aanbidding wat hulle geuiter het: DVvPEk 97.4
O God van ons heil...
U laat die uitgange van die môre en die aand jubel.
U het die land besoek en oorvloed gegee
U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water.
DVvPEk 97.5
U berei hulle koring; ja, so berei U die land.
U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie
maak U dit week; U seën sy uitspruitsel.
U kroon die jaar van u goedheid en u voetspore drup
van vettigheid.
Die weivelde van die woestyn drup en die heuwels
gord hulleself met gejuig.
Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee,
en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.
DVvPEk 98.1
(Psalm 65:5,8-13)
Israel het God toe erken as die Een “...wat die aarde gegrond [het] op sy grondveste.” Ter uitdrukking van hul geloof het hulle gesing: DVvPEk 98.2
Hy het die aarde gegrond op sy grondveste Die waters het bo-oor die berge gestaan. DVvPEk 98.3
Vir u dreiging het hulle gevlug, DVvPEk 98.4
Vir die stem van u donder het hulle weggeskrik — Berge het opgerys, laagtes het weggesak — DVvPEk 98.5
Na die plek wat U vir hulle reggemaak het. DVvPEk 98.6
'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie;
Hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
DVvPEk 98.7
(Psalm 104:5-9)
Dit is deur die magtige krag van die Oneindige dat die elemente van die natuur op aarde en die see en die hemelruim binne hul vasgestelde bane bly en hierdie elemente wend Hy aan vir die geluk van sy skepsele. “Die HERE sal sy goeie skatkamer vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën.” (Deut 28:12) DVvPEk 98.8
Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes:
Tussen die berge loop hulle deur.
Hulle laat al die diere van die veld drink;
Die wilde-esels les hulle dors.
By hulle woon die voëls van die hemel; Tussen die takke uit laat hulle die stem hoor...
Hy laat gras uitspruit vir die diere
En die plante tot diens van die mens:
om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
En dat wyn die mens se hart kan bly maak;
om die aangesig te laat blink van olie,
En dat brood die mens se hart kan versterk.
Hoe talryk is u werke, o HERE!
U het hulle almal met wysheid gemaak;
Die aarde is vol van U skepsele!
Daar is die see, groot en alkante toe wyd
Daar is ‘n gewemel sonder getal,
Klein diere saam met grotes...
Hulle almal wag op U,
Dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
U gee dit aan hulle, hulle tel dit op;
U maak U hand oop,
Hulle word versadig met die goeie.
DVvPEk 98.9
(Psalm 104:10- 15;24-28)
Israel het ruim geleentheid gehad om te jubel. Die land waarheen die HERE hulle gelei het, het oorgeloop van melk en heuning. Met die tog deur die woestyn het God hulle die versekering gegee dat Hy hulle na ‘n land lei waar hulle geen gebrek aan reën sou ervaar nie. “Want die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet, soos ‘n groentetuin, natgelei het nie. Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink; ‘n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.” DVvPEk 99.1
Die belofte van oorvloedige reën was op voorwaarde van gehoorsaamheid gegee. “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee en jy sal eet en versadig word.” DVvPEk 99.2
“Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie en julle gou uit die goeie land omkom wat die HERE julle gee.” (Deut 11:10-17) DVvPEk 100.1
“Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie...” is die volk gewaarsku, dan sal “...jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”(Deut 28:15,23,24) DVvPEk 100.2
Hierdie was van die wyse raad wat Jehova aan antieke Israel gegee het. “Lê dan hierdie woorde van My weg in julle hart en in julle siel en bind dit as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofband tussen julle oë wees en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deut 11:18,19) Hierdie bevele was duidelik, maar tog, soos die eeue verstryk het en geslag na geslag die voorsiening wat vir hul geestelike welvaart gemaak is uit die oog verloor het, het die vernietigende invloede van afvalligheid gedreig om elke skans van Goddelike genade opsy te skuif. DVvPEk 100.3
Daarom het dit gebeur dat God sy volk met die strengste van Sy oordele moes straf. Elia se voorspelling is met verskriklike gevolge bewaarheid. Drie jaar lank is die doemprofeet in elke stad en nasie gesoek. Op Agab se aandrang het baie regeerders ‘n eed afgelê dat die profeet nie binne hulle grense te vinde was nie. Tog het die soektog voortgegaan, want Isébel en die Baal- profete het Elia met ‘n dodelike haat gehaat en hulle het geen moeite in hul pogings ontsien om hom in hul mag te kry nie. En steeds was daar geen reën nie. DVvPEk 100.4
Uiteindelik, “...geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elia gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.” DVvPEk 101.1
Gehoorsaam het “Elia ... gegaan om hom aan Agab te vertoon.” (1 Kon 18:1,2). Ongeveer dieselfde tyd wat die profeet na Samaria vertrek het, het Agab aan Obadja, die goewerneur van sy huishouding, voorgestel dat hulle deeglik soek na fonteine of spruite, in die hoop om weiding vir hul kuddes en troppe wat honger ly te vind. Selfs in die koninklike hof is die effek van die uitgerekte droogte deeglik ervaar. Die koning, diep bekommerd oor die vooruitsigte van sy huishouding, het besluit om persoonlik, saam met sy dienskneg, na moontlike gesogte weiding te gaan soek. “En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek en Obádja het afsonderlik met ‘n ander pad getrek.” (1 Kon 18:6) DVvPEk 101.2
“ Terwyl Obádja op pad was, kom Elia hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elia?” (Vers 7) DVvPEk 101.3
Gedurende Israel se afvalligheid het Obadja getrou gebly. Sy meester, die koning, het nie daarin geslaag om hom te laat wegdraai van sy trou aan die lewende God nie. Nou is hy bevoorreg met ‘n opdrag van Elia wat gesê het: “Gaan sê aan jou heer: Elia is daar.” (Vers 8). DVvPEk 101.4
Baie bevrees het Obadja uitgeroep: “Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring?” Om met so ‘n boodskap by Agab aan te kom, was om na om sy dood te soek. “So waar as die HERE u God leef...” verduidelik hy aan die profeet, “...daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie — dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem — ek weet nie waarheen nie — en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak.” (1 Kon 18:10-12) DVvPEk 101.5
Obadja het ernstig by die profeet gepleit om nie by hom aan te dring nie: “U dienaar vrees die HERE van sy jeug af. Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die HERE gedood het nie: dat ek van die profete van die HERE honderd man, vyftig by vyftig, in ‘n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het? En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak!” (Verse 13,14) DVvPEk 102.1
Met ‘n plegtige eed het Elia aan Obadja belowe dat die boodskap nie tevergeefs sou wees nie. “So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon!” Met hierdie waarborg het “Obádja ... Agab tegemoet gegaan en hom dit meegedeel.” (Verse 15,16) DVvPEk 102.2
Met verbasing en skrik het die koning na die boodskap, wat deur die man wat hy gevrees en gehaat het gestuur is en na wie hy so onvermoeid gesoek het, geluister. Hy was deeglik daarvan bewus dat Elia nie sy lewe in gevaar sou stel net om hom te ontmoet nie. Kon dit wees dat Elia ‘n verdere ellende oor Israel wou uiter? Die koning se hart is met vrees aangegryp. Hy het die verdorde hand van Jerobeam onthou. Agab kon nie anders as om die oproep te gehoorsaam en kon ook nie sy hand teen God se boodskapper verhef nie. En dus, vergesel met ‘n lyfwag van soldate, het die bewende monarg die profeet tegemoetgegaan. DVvPEk 102.3
Die koning en die profeet het van aangesig tot aangesig teenoor mekaar gestaan. Al was Agab gevul met ‘n hartstogtelike haat vir Elia, het dit gelyk asof hy onbeman en kragteloos in Elia se teenwoordigheid was. Met sy eerste hakkelende woorde :“Is dit jy, jou beroerder van Israel?” (Vers17) , het hy onbewustelik die mees innerlike gevoelens van sy hart openbaar. Agab het geweet dat dit deur die woord van God was dat die hemele soos koper geword het, tog het hy gepoog om die blaam vir die strawwe oordele wat op die land gerus het, op die profeet te plaas. DVvPEk 102.4
Dit is natuurlik dat die oortreder die boodskappers van God verantwoordelik hou vir die rampe wat die seker gevolg is van afwyking van die weg van geregtigheid. Diegene wat hulleself in Satan se mag plaas, is nie by magte om dinge te sien soos God dit sien nie. Wanneer die spieël van waarheid voor hulle opgehou word, word hulle verontwaardig oor die gedagte om tereggewys te word. Deur sonde verblind, weier hulle om hulle te bekeer; hulle voel dat God se dienaars teen hulle gedraai het en dus self die strengste teregwysing verdien. DVvPEk 103.1
Elia, wat in bewustelike onskuld voor Agab gestaan het, het geen poging aangewend om homself te verontskuldig of die koning te vlei nie. Hy het ook nie gepoog om die koning se woede te ontduik met die goeie tyding dat die droogte byna oor is nie. Hy het geen verskoning aangebied nie. Verontwaardig en jaloers vir die eer van God, het hy die aantygings van Agab omgekeer en vreesloos aan die koning verklaar dat dit sy sondes en die sondes van sy vaders is wat hierdie verskriklike ramp oor Israel gebring het. “Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baals aangeloop het” (Vers 18) DVvPEk 103.2
Vandag is daar ook behoefte aan die stem van ernstige teregwysing; want ernstige sondes het die volk van God geskei. Ontrouheid is spoedig besig om mode te word. “Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.” (Luk 19:14) Die gladde preke wat so dikwels gepreek word, maak geen indruk op die lange duur nie; die trompet stuur nie ‘n sekere klank uit nie. Mense word nie na die hart geruk deur die duidelike, skerp waarhede van God se woord nie. DVvPEk 103.3
Daar is baie belydende Christene wat, as hulle hul gevoelens eerlik sou uitspreek, sou sê: Wat se behoefte is daar om so uitgesproke wees? Hulle kan net sowel vra, hoekom was dit vir Johannes die Doper nodig om die Fariseërs soos volg aan te spreek: “Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?” (Luk 3:7). Hoekom moes hy Herodias so woedend gemaak het deur Herodes mee te deel dat dit teen die wet was om sy broer se vrou te neem? Die uitgesprokenheid van Christus se voorganger het sy dood veroorsaak. Hoekom kon hy nie net voortgaan sonder om diegene wat in sonde lewe so te ontstel nie? DVvPEk 104.1
So het die manne, wat as getroue bewaarders van God se wet behoort te staan geredeneer, totdat beleid die plek van getrouheid ingeneem het en sonde toegelaat is om onbestraf voort te duur. Wanneer sal die stem van getroue teregwysing weereens in die kerk gehoor word? DVvPEk 104.2
“U is die man!” (2 Sam 12:7) Woorde, so onmiskenbaar soos hierdie wat Natan met Dawid gespreek het, word selde op die preekstoel van vandag gehoor en selde in die openbare pers gesien. As hulle nie so raar was nie, sou ons meer van die krag van God onder mense waargeneem het. Die HERE se boodskappers moenie murmureer dat hul pogings vrugteloos is, voordat hulle berou het oor hul eie sinnigheid vir die goedkeuring van mense en hul begeerte om mense te behaag, wat daartoe lei dat hulle die waarheid onderdruk nie. DVvPEk 104.3
Die predikante wat mense wil behaag, wat vrede, vrede uitroep, wanneer God nie vrede uitgespreek het nie, behoort hul harte voor God te verootmoedig en Hom om vergifnis te vra vir hul onopregtheid en hul gebrek aan morele moed. Dit is nie uit liefde vir hul naaste wat hulle die boodskap wat aan hulle toevertrou is laat afwater nie, maar omdat hulle self-inskiklik en gemaksugtig is. Ware liefde soek eerstens na die eer van God en die verlossing van siele. Diegene wat hierdie liefde besit, sal nie van die waarheid af wegskram om hulleself te spaar van die onaangename gevolge wat daaruit mag voortspruit nie. Wanneer siele in gevaar verkeer, sal God se dienaars nie aan hulleself dink nie, maar hulle sal die woorde wat aan hulle gegee is verkondig en weier om boosheid te verskoon of te verbloem. DVvPEk 104.4
As elke predikant maar net die gewydheid van sy amp en die heiligheid van sy werk besef en dieselfde durf, wat Elia aan die dag gelê het, toon! As Goddelik-aangestelde boodskappers, is predikante in ‘n posisie van groot verantwoordelikheid. Hulle moet “...weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.” (2 Tim 4:2). In Christus se afwesigheid behoort hulle te arbei as rentmeesters van die wonders van die hemel, die gehoorsames te bemoedig en die ongehoorsames te waarsku. Wêreldse beleid behoort by hulle geen gewig te dra nie. Hulle mag nooit van die weg wat Jesus aan hulle opgedra het om te volg, afdwaal nie. Hulle moet in geloof voortgaan, met die besef dat hulle omring is met ‘n wolk van getuies. Hulle moet ook nie hul eie woorde spreek nie, maar die woorde wat Een, groter as die vorste van die aarde, hulle gebied het om te spreek. Hulle boodskap behoort te wees: “So sê die HERE.” God roep na manne soos Elia, Natan en Johannes die Doper — manne wat sy boodskap met getrouheid sal uitdra, ongeag die gevolge; manne wat die waarheid met dapperheid sal verkondig, al verg dit van hulle om alles waaroor hulle beskik op te offer. DVvPEk 105.1
God kan nie mense wat in tye van gevaar, wanneer krag, moed en invloed nodig is, bang is om op te staan vir wat reg is gebruik nie. Hy doen ‘n beroep op mense wat die stryd getrou sal voer teen onreg; oorlog teen owerhede en magte; teen die heersers van hierdie wêreld; teen geestelike goddeloosheid in hoë posisies. Dit is aan diegene wat hy die woorde sal uiter:“Mooi so, goeie en getroue dienskneg; ... Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matt 25:23) DVvPEk 105.2