Die Verhaal Van Profete en Konings

13/69

Hoofstuk 9—Elia die Tisbiet*

Tussen die berge van Gilead, oos van die Jordaan, het daar in die dae van Agab ‘n man van geloof en gebed gewoon, wie se vreeslose bediening bestem was om die vinnige verspreiding van afgodery in Israel te stuit. Ver van enige vername stad verwyder, met geen hoë posisie of status nie het Elia, die Tisbiet, nietemin sy missie, met die volle vertroue in God se doel om die weg vir hom voor te berei en aan hom oorvloedige sukses te verleen, aangepak. Die woord van geloof en krag was op sy lippe en sy hele lewe was aan hervormingswerk gewy. Sy stem was die een wat in die wildernis uitroep om sonde te bestraf en die gety van die bose te stuit. En terwyl hy na die mense as ‘n bestraffer van sonde gekom het, het sy boodskap die balsem van Gilead aan sonde-siek siele, wat genesing begeer het, gebied. DVvPEk 86.1

Soos wat Elia aanskou het hoe Israel dieper en dieper in afgodery verval, was sy siel ontsteld en sy verontwaardiging opgewek. God het groot dinge vir sy volk gedoen. Hy het hulle uit slawerny verlos en “...aan hulle die lande van die heidene gegee ... dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar.” (Ps 105:44,45) Maar die weldadige plan van Jehova was nou bykans vergete. Ongeloof was vinnig besig om die uitverkore volk van die Bron van hul krag te skei. Elia is met hartseer oorweldig. Met siele-angs het hy by God gepleit om die eens-begunstigde volk op hul bose weg te stuit, om indien nodig, hulle met oordele te besoek, sodat hulle gelei kon word om hul afdwaling van die hemel in die ware lig te sien. Hy het verlang om te sien dat hulle tot bekering kom voordat hulle sulke uiterstes in boosheid begaan, dat hulle die HERE sal genoodsaak om hulle totaal te vernietig. DVvPEk 86.2

Elia se gebed is beantwoord. Herhaalde oproepe, vermanings en waarskuwings het nie daarin geslaag om Israel tot bekering te bring nie. Die tyd het aangebreek dat God deur strafgerigte met hulle moes praat. In soverre die Baal- aanbidders beweer het dat die skatte van die hemel, naamlik die dou en die reën, nie van Jehova nie, maar wel van die beherende magte van die natuur afkomstig was en dat die skeppende energie van die son die aarde verryk het om volop te produseer, het God se vloek swaar op die besoedelde land gerus. Aan die afvallige stamme van Israel moes die dwaasheid om op die mag van Baal vir tydelike seëninge te vertrou, getoon word. Alvorens hulle nie berouvol tot God terugkeer en Hom as die bron van alle seëninge erken nie, sou geen dou of reën op die land neerdaal nie. DVvPEk 87.1

Opdrag is aan Elia gegee om die boodskap van oordeel uit die Hemel, aan Agab oor te dra. Hy het nie daarna gesoek om die HERE se boodskapper te wees nie; die woord van die HERE het na hom toe gekom. En jaloers vir die eer van God se saak, het hy nie versuim om die hemelse opdrag uit te voer nie, al het gehoorsaamheid geblyk die spoedige weerwraak van die bose koning tot gevolg te hê. Die profeet het dadelik vertrek en dag en nag gereis totdat hy Samaria bereik het. By die paleis, het hy geen toelating gevra nie en ook nie gewag om formeel aangekondig te word nie. Geklee in die gewone rowwe gewaad van die profete van daardie tyd, het hy, skynbaar onopgemerk, by die wagte verbybeweeg en vir ‘n wyle voor die verstomde koning gestaan. DVvPEk 87.2

Elia het nie verskoning gemaak vir sy skielike verskyning nie. Een groter as Israel se koning het hom gebied om te praat; en met sy hand na die hemel opgehef, het hy plegtig in die naam van die lewende God bevestig dat die oordele van die Allerhoogste spoedig oor Israel sou kom. “So waar as die HERE, die God van Israel, leef...” het hy verklaar, “...voor Wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (1 Kon 17:1) DVvPEk 87.3

Dit was slegs deur ‘n sterk geloof in die onfeilbare krag van God se woord wat Elia die boodskap kon lewer. Indien hy nie volkome vertroue in die Een wat hy gedien het gehad het nie, sou hy nooit voor Agab verskyn het nie. Onderweg na Samaria het Elia deur immer-vloeiende strome gereis, groen-bedekte heuwels en statige woude wat geblyk het buite bereik van die droogte te wees. Alles waarop sy oog gerus het, was in skoonheid geklee. Dalk het hy gewonder hoe riviere, wat nog nooit ophou vloei het kon opdroog nie, of hoe hierdie heuwels en valleie ooit deur droogte geskroei kon word. Maar hy het geen plek vir ongeloof toegelaat nie. Hy het volkome geglo dat God die afvallige Israel sou verneder en dat hulle deur oordele tot berou gebring sou word. Die dekreet van die hemel is gelewer; God se woord kon nie faal nie; en ten spyte van lewensgevaar, het Elia vreesloos sy opdrag vervul. Soos ‘n donderslag uit ‘n helder hemel, het die boodskap van dreigende oordeel op die ore van die goddelose koning geval. Maar nog voordat Agab van sy verbasing kon herstel of kon reageer, het Elia net so skielik as wat hy gekom het, sonder om op die uitwerking van sy boodskap te wag, verdwyn. En die HERE het voor hom uitgegaan om sy pad gelyk te maak. “Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe... ” is die profeet beveel, “...en steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is; en jy moet uit die spruit drink en Ek het aan die kraaie bevel gegee om jou daar te onderhou.” (1 Kon 17:3,4) DVvPEk 88.1

Die koning het sorgvuldig navraag gedoen, maar die profeet kon nie gevind word nie. Koningin Isébel, woedend oor die boodskap wat die skatte van die hemel opgesluit het, het geen tyd verspil om met die Baalpriesters te beraadslaag, wat met haar verenig het om die profeet te vervloek en die toorn van Jehova te minag nie. Maar ondanks hul begeerte om hom, wat die woorde van weë uitgespreek het te vind, was hulle bestem om teleurgestel te word. Ook kon hulle nie die kennis van die oordeel wat as gevolg van die heersende afvalligheid uitgespreek is, vir ander verberg nie. Berigte van Elia se veroordeling oor die sondes van Israel en sy profesie van spoedige bestraffing het vinnig deur die land versprei. Sommige het bevrees geword, maar oor die algemeen is die hemelse boodskap met spot en minagting ontvang. DVvPEk 88.2

Die woorde van die profeet het onmiddellik in werking getree. Diegene wat aanvanklik geneig was om te spot met die gedagte van ‘n ramp, het spoedig rede tot ernstige nadenke gehad, want na ‘n paar maande het die aarde, sonder verfrissende dou of reën, uitgedroog en die plantegroei verdor. DVvPEk 89.1

Met verloop van tyd het strome, wat nooit voorheen sonder water was nie, se vlakke begin daal en spruite het opgedroog. Nogtans is die mense deur die leiers aangemoedig om op Baal se mag te vertrou en die profesie van Elia as ydele woorde ter syde te stel. Die priesters het steeds daarop aangedring dat dit deur die mag van Baal was dat reën geval het. Vrees nie Elia se God nie en moenie sidder vir sy woord nie, het hulle aangemoedig, dit is Baal wat die oes op sy tyd voortbring en dit is hy wat vir mens en dier voorsien. DVvPEk 89.2

God se boodskap aan Agab het aan Isébel, haar priesters en al die aanhangers van Baal en Astarte die geleentheid gebied om die magte van hul gode te toets en indien dit moontlik was,Elia verkeerd te bewys. Die profesie van Elia het enkel alleen teen die versekering van honderde afgodiese priesters gestaan. 7Indien Baal, ten yeqst u van Elia se profesie, in staat was om dou en reën te voorsien en te veroorsaak dat die strome steeds vloei en die plantegroei floreer, laat die koning hom dan dien en die volk hom as god erken. DVvPEk 89.3

Vasbeslote om die mense onder misleiding te hou, het die Baalpriesters steeds offers aan hul gode geoffer en dag en nag na hulle geroep om die aarde te verkwik. Met kosbare offers het die priesters gepoog om die toorn van hul gode te paai; met ywer en deursettingsvermoë wat ‘n beter saak waardig was, het hulle om hul heidense altare getalm en ernstig vir reën gebid. Nag na nag, deur die gedoemde land, het hul krete en pleidooie opgegaan. Maar geen wolke het bedags hul verskyning gemaak om verligting te bring van die skroeiende son nie. Geen dou of reën het die dorstige aarde verfris nie. Die woord van Jehova staan onveranderd, ongeag enigiets wat die Baalpriesters kan doen. DVvPEk 89.4

'n Jaar het verbygegaan sonder enige reën. Die aarde was verskroei asof met vuur. Die versengende hitte van die son het die bietjie plantegroei wat oorleef het vernietig. Strome het opgedroog en bulkende troppe en blêrende kuddes het heen en weer in ellende rondgedwaal. Eens vrugbare landerye het soos skroeiende woestynsand geword, ‘n verlate wildernis. Die bosse wat aan afgod-aanbidding toegewy was, was blaarloos; die bome, yl, skeletagtige oorblyfsels van die natuur, het geen skaduwee gebied nie. Die lug was droog en verstikkend; stofstorms het die oë verblind en asemhaling bemoeilik. Eens welvarende stede en dorpe het in plekke van rou verander. Honger en dors het sy tol van mens en dier geëis. Hongersnood, met al sy afgryse, het al nader gesluip. DVvPEk 90.1

Maar nogtans, nieteenstaande hierdie bewyse van God se mag, het Israel nie berou getoon en ook nie die les wat God aan hulle wou tuisbring geleer nie. Hulle het nie ingesien dat Hy, wat die natuur geskep het, Sy wette beheer en van hulle instrumente van seën of vernietiging kon maak nie. Hooghartig en bekoor deur hul valse aanbidding, was hulle onwillig om hulself onder die magtige hand van God te verneder en het begin rondsoek na een of ander oorsaak waaraan hulle hul ellende kon toeskryf. DVvPEk 90.2

Isébel het volstrek geweier om die droogte as ‘n teken van die oordeel van Jehova te erken. Ontoegeeflik in haar vasberadenheid om die God van die hemel te trotseer, het sy, saam met feitlik die hele Israel verenig om Elia te veroordeel as die oorsaak van al hul ellende. Het hy dan nie teen hulle metodes van aanbidding getuig nie? As hy maar net uit die weg geruim kon word, het sy aangevoer, sou die woede van hul gode bedaar en hul probleme tot ‘n einde kom. DVvPEk 90.3

Aangehits deur die koningin, het Agab die mees doelgerigte soektog na die profeet gelas. Na die buurnasies, heinde en ver, het hy boodskappers gestuur om na die man wat hy gehaat, maar ook gevrees het, te soek; en in sy angstigheid om die soektog so deeglik moontlik uit te voer, het hy hierdie koninkryke en nasies versoek om ‘n eed af te lê dat hulle geen kennis dra van waar die profeet hom bevind nie. Maar die soektog was tevergeefs. Die profeet was veilig beskut teen die boosheid van die koning, wie se sondes die oordeel van ‘n beledigde God, oor die land gebring het. DVvPEk 91.1

Na haar mislukte pogings teen Elia, was Isébel vasbeslote om haarself te wreek, deur al die profete van Jehova dood te maak. Nie een mag bly lewe het nie. Die woedende vrou het haar doel deur middel van ‘n bloedbad van baie van die dienaars van God uitgevoer. Nie almal het egter omgekom nie. Obadja, die goewerneur in Agab se huis, maar steeds aan God getrou, het “...honderd profete geneem...”, sy lewe op die spel geplaas “...en hulle vyftig by vyftig man in ‘n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou.” (1 Kon 18:4) DVvPEk 91.2

Die tweede jaar van hongersnood het verbygegaan en steeds het die onbarmhartige hemele geen teken van reën getoon nie. Vaders en moeders, magteloos om die lyding van hul kinders te verlig, was genoodsaak om hulle te sien sterf. Tog het die afvallige Israel steeds geweier om hulle harte voor God te verneder en het voortgegaan om teen die man, deur wie se woorde hierdie verskriklike oordeel oor hulle gekom het, te murmureer. Dit het geblyk dat hulle nie in staat was om hul lyding en nood as ‘n oproep tot bekering te onderskei nie, ‘n Goddelike bemiddeling om hulle te red van die finale stap wat hulle buite die bereik van God se vergifnis sou stel. DVvPEk 91.3

Die afvalligheid van Israel was ‘n euwel, veel erger as al die veelvuldige euwels van hongersnood. God het gepoog om hulle van hul dwaling te bevry en hulle te lei om hul verantwoordelikheid teenoor die Een aan Wie hulle hul lewe en alles verskuldig was, in te sien. Hy het probeer om hulle te help om hul verlore geloof te herwin en moes desnoods groot ellende oor hulle bring. DVvPEk 92.1

“Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?” “Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? DVvPEk 92.2

Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” “Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eseg 18:23,31,32;33:11) DVvPEk 92.3

God het boodskappers na Israel gestuur met ‘n beroep om na hul trou terug te keer. Indien hulle ag geslaan het op hierdie aanmanings en van Baal af weggedraai het na die lewende God, sou Elia se boodskap van oordeel nooit gegee gewees het nie.Maar die waarskuwings wat veronderstel was om ‘n geur van die lewe te wees, het getuig vir hulle ‘n geur tot die dood te wees. Hulle eer was gekrenk en hul woede is teen die boodskappers opgewek en nou het hulle Elia met die uiterste haat bejeën. As hulle hom net in die hande kon kry, sou hulle hom met graagte aan Isébel uitlewer — asof hulle, deur hom stil te maak, die vervulling van sy woorde sou kon verhoed!Selfs met die ramp wat hulle in die gesig gestaar het, het hulle ferm met hul afgodery volhard. Sodoende het hulle bly toevoeg tot die skuld wat die oordele van die Hemel oor die land gebring het. DVvPEk 92.4

Vir die geteisterde Israel was daar slegs een uitweg: Om weg te draai van die sondes wat die bestraffende hand van die Almagtige oor hulle gebring het en ‘n heelhartige terugkeer na die Here. Aan hulle is die volgende versekering gegee: “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder My volk stuur en My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:13,14) Dit was om hierdie seëninge te bewerkstellig, dat God voortgegaan het om die dou en die reën van hulle te weerhou, totdat ‘n besliste hervorming plaasgevind het. DVvPEk 92.5