Die Verhaal Van Profete en Konings

10/69

Hoofstuk 7—Jerobeam

Op die troon geplaas deur die tien stamme wat teen die huis van Dawid gerebelleer het, was Jerobeam, die voormalige dienskneg van Salomo, in ‘n posisie om wyse hervormings in beide siviele en godsdienstige sake teweeg te bring. Onder die leierskap van Salomo het hy bekwaamheid en goeie oordeel aan die dag gelê en die kennis wat hy gedurende die jare van getroue diens opgedoen het, het hom geskik gemaak om met diskresie te regeer. Maar Jerobeam het nagelaat om God sy vertroue te maak. DVvPEk 71.1

Jerobeam se grootste vrees was dat die harte van sy onderdane, moontlik in die toekoms deur die regeerder wat op Dawid se troon sit, gewen sou word. Hy het gereken dat as die tien stamme toegelaat word om die antieke setel van die Joodse monargie dikwels te besoek, waar tempeldienste steeds soos tydens Salomo se bewind voortgegaan het, sommige geneig sou wees om hulle trou aan die regering in Jerusalem te hernu. Jerobeam het na oorlegpleging met sy raadgewers, ‘n blatante stap geneem om sovêr moontlik so opstand af te weer. Hy sou dit bewerkstellig deur binne die grense van sy nuutgevormde koninkryk, twee sentrums van aanbidding te skep, een te Bet-el en die ander te Dan. Die tien stamme sou genooi word om in hierdie plekke bymekaar te kom om die HERE te aanbid, in plaas van in Jerusalem. DVvPEk 71.2

Met hierdie instelling het Jerobeam gehoop dat hy die verbeelding van die Israeliete sou aangryp, deur ‘n sigbare verteenwoordiging wat die teenwoordigheid van die onsigbare God sou simboliseer, daar te stel. Gevolglik het hy twee goue kalwers laat maak en in die heilige plekke by die aangewese sentrums vir aanbidding geplaas. Met hierdie poging om die Godheid te verteenwoordig, het Jerobeam die eenvoudige gebod van Jehova geskend: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld ... maak ... nie... Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.” (Ex 20:4,5) DVvPEk 71.3

Jerobeam se begeerte om die tien stamme van Jerusalem af weg te hou was so oordrewe, dat hy die fundamentele swakheid van sy plan uit die oog verloor het. Hy het nie die groot gevaar waaraan hy die Israeliete blootgestel het, deur die afgodiese simbool van die godheid waarmee hul voorvaders gedurende die eeue van Egiptiese gevangenskap so bekend was, aan hulle voor te hou, in ag geneem nie. Jerobeam se onlangse verblyf in Egipte moes hom die dwaasheid van so ‘n stap, om sulke heidense voorstellings voor die volk te stel, geleer het. Maar sy voorgenome doel om die noordelike stamme aan te spoor om hul jaarlikse besoeke aan die Heilige Stad te staak, het hom genoop om die mees onverstandige maatreëls in te stel. “Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het!” (1 Kon 12:28). Sodoende is hulle uitgenooi om neer te buig voor die goue beelde en vreemde vorms van aanbidding aan te neem. DVvPEk 72.1

Die koning het die Leviete wat in sy koninkryk gewoon het, oorreed om as priesters in die nuut opgerigte heiligdomme te Bet-el en Dan te dien, maar sy pogings het misluk. Hy was daarom genoodsaak om “...priesters aan [te] stel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie.” (vers 31) Verskrik deur hierdie vooruitsig, het baie van die gelowiges, insluitende ‘n groot aantal Leviete, na Jerusalem gevlug waar hulle in vrede volgens die Goddelike voorskrifte kon aanbid. DVvPEk 72.2

“En Jeróbeam het ‘n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het.” (Vers 32) DVvPEk 72.3

Die koning se vermetele uittarting van God om die Goddelike instellings ter syde te stel, is nie toegelaat om ongestraf verby te gaan nie. Terwyl hy nog in die proses was om die godsdiensoefening waar te neem en wierook te brand tydens die inwyding van die vreemde altaar wat hy by Bet-el opgerig het, verskyn daar ‘n man van die HERE uit die koninkryk van Juda voor hom, ‘n man wat gestuur is om hom aan te kla omdat hy dit waag om vreemde vorms van aanbidding in te stel. DVvPEk 73.1

Die profeet het “...uitgeroep teen die altaar ... en gesê: Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josía en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan en op jou sal mensbene verbrand word.” DVvPEk 73.2

“En hy het dieselfde dag ‘n wonderteken aangekondig en gesê: Dit is die wonderteken dát die HERE gespreek het: Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur en die as wat daarop is, afgegooi word.” (1 Kon 13:2,3,5) DVvPEk 73.3

Toe Jerobeam dit gewaar, is hy met ‘n gees van uittarting teen God gevul en het hy die boodskapper probeer bedwing.Uit woede “...steek Jeróbeam sy hand uit bo van die altaar af en sê: Gryp hom!” Sy onbesonne optrede is met onmiddellike bestraffing begroet. Die hand wat so uitgesteek was na die boodskapper van Jehova, het styf geword en hy kon dit nie terugtrek nie. DVvPEk 73.4

Paniekbevange het die koning met die profeet gepleit om vir hom voorspraak by God te doen: “Smeek tog die aangesig van die HERE jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die HERE om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.” (Verse 4, 6) DVvPEk 73.5

Jerobeam se poging om met plegtigheid die vreemde altaar in te wy was tevergeefs, respek waarvoor tot disrespek vir die aanbidding van Jehova in die tempel in Jerusalem sou gelei het. Die boodskap van die profeet moes die koning van Israel tot berou en versaking van sy bose weë, wat mense weggelei het van die ware aanbidding van God gelei het. Maar hy het sy hart verhard en was vasberade om op sy gekose weg voort te gaan. DVvPEk 73.6

Ten tye van die fees in Bet-El was die harte van die Israeliete nie volkome verhard nie. Baie was nog ontvanklik vir die invloed van die Heilige Gees. Die Here wou hê dat diegene wat haastig op pad was na afvalligheid gekeer moes word voordat dit te laat was. Hy het Sy boodskapper gestuur om die afgodiese verrigtinge te onderbreek en om aan die koning en Sy volk te openbaar wat die uitwerking van hierdie afvalligheid sou wees. Die verwoesting van die altaar was ‘n teken van God se ontevredenheid met die gruwel wat oor Israel gebring is. DVvPEk 74.1

Die Here poog om te red, nie om te vernietig nie. Hy verlustig Hom in die redding van siele. “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie.” (Es 33:11) Deur middel van waarskuwings en pleidooie roep Hy na die eiesinniges om hul bose weë te versaak en na Hom terug te keer en te lewe. Hy gee aan sy uitverkore boodskappers ‘n heilige dapperheid sodat diegene wat hoor, mag vrees en tot bekering gebring kan word. Met hoeveel fermheid het die man van God die koning nie berispe nie! En hierdie ferme optrede was noodsaaklik; die heersende euwels kon op geen ander wyse aangespreek word nie. Die HERE het vrymoedigheid aan sy dienaar verleen om ‘n blywende indruk op die toehoorders te maak. Die boodskappers van die HERE hoef nooit die mens te vrees nie, maar behoort onwrikbaar te staan vir wat reg is. Solank hulle hul vertroue in God plaas, hoef hulle nie te vrees nie; want Hy wat hulle die opdrag gee, gee daarmee saam die versekering van sy beskermende sorg. DVvPEk 74.2

Nadat die boodskapper sy boodskap afgelewer het en hy op die punt was om terug te keer, roep Jerobeam na hom en sê:“Kom met my saam huis toe en versterk jou en laat ek jou ‘n geskenk gee.” “Al gee u my die helfte van u huis, ek kan nie met u saamgaan nie en ek kan geen brood eet of water drink in hierdie plek nie,” antwoord die profeet. “Want so het die HERE my bevel gegee deur sy woord en gesê: Jy mag geen brood eet of water drink nie en jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.” (1 Kon 13:7-9) DVvPEk 74.3

Dit sou goed vir die profeet gewees het indien hy by sy plan, om sonder versuim na Juda terug te keer, gebly het. Terwyl hy met ‘n ander roete onderweg was, is hy deur ‘n bejaarde man ingehaal wat beweer het dat hy ook ‘n profeet is en valse verklarings aan die man van God gemaak het: “Ek is ook ‘n profeet net soos jy en ‘n engel het met my gespreek deur die woord van die HERE en gesê: Bring hom terug saam met jou na jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink. Hy het vir hom gelieg.” (Vers 18) Die leuen en die uitnodiging is oor en oor herhaal totdat die man van God oorreed is om om te draai. DVvPEk 75.1

Aangesien die ware profeet homself toegelaat het om ‘n weg in te slaan wat teenstrydig was met sy opdrag, het God toegelaat dat hy vir sy ongehoorsaamheid boet. Terwyl hy en die een wat hom oorreed het om terug te keer na Bet-el aan tafel gesit het, het die inspirasie van die Almagtige oor die valse profeet gekom, “...en hy het die man van God wat uit Juda gekom het, toegeroep en gesê: So spreek die HERE: Omdat jy wederstrewig was teen die mond van die HERE deur nie die gebod te hou wat die HERE jou God jou beveel het nie, ... daarom sal jou lyk nie in die graf van jou vaders kom nie.” (Verse 21,22) DVvPEk 75.2

Hierdie profesie van onheil het spoedig tot vervulling gekom. “Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op ... en hy gaan weg; toe kom ‘n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan. Intussen kom daar manne verby wat die lyk op die pad sien lê, ... en hulle het dit kom sê in die stad waar die ou profeet woon. Toe die profeet wat hom van die pad af laat omdraai het, dit hoor, sê hy: Dit is die man van God wat teen die mond van die HERE wederstrewig was.” (Verse 23-26) DVvPEk 75.3

Die straf wat die ontroue boodskapper ingehaal het, was net ‘n verdere getuienis van die waarheid van die profesie wat oor die altaar uitgespreek is. Indien die profeet ongeskonde sou voortreis nadat hy aan die opdrag van die HERE ongehoorsaam was, sou die koning hierdie feit gebruik het om sy eie ongehoorsaamheid te regverdig. Met die vernietiging van die altaar, die verlamde arm en die vreesagtige lot van hom wat dit gewaag het om God se uitdruklike bevel te verontagsaam, moes Jerobeam die onmiddellike misnoeë van ‘n God wat te nagekom is kon onderskei en hierdie oordele moes hom gemaan het om nie vol te hou met verkeerde optrede nie. Maar ver daarvan om berou te toon, het Jerobeam “...maar weer priesters van die hoogtes aangestel uit al die dele van die volk. Elkeen wat wou, dié het hy aangestel, dat hy een van die priesters van die hoogtes kon word.” Sodoende het hy nie net self grootliks gesondig nie, maar het “...hy Israel laat sondig.” “En hierdeur was daar sonde vir die huis van Jeróbeam en wel om dit te verdelg en uit te roei van die aarde af.” (Verse 33,34;14:16) DVvPEk 76.1

Teen die einde van ‘n gekwelde bewind van twee-en-twintig jaar, het Jerobeam ‘n rampspoedige nederlaag gely in ‘n oorlog met Abia, die opvolger van Rehabeam. “En Jeróbeam het geen krag meer behou in die dae van Abía nie en die HERE het hom swaar getref, sodat hy gesterf het.” (2 Kron 13:20) DVvPEk 76.2

Die afvalligheid wat tydens Jerobeam se bewind ingelei is, het meer en meer toegeneem totdat dit gelei het tot die algehele ineenstorting van die koninkryk van Israel. Selfs voor Jerobeam se dood het Ahia, die bejaarde profeet van Silo, wat jare tevore Jerobeam se aanstelling as koning voorspel het, verklaar: “En die HERE sal Israel slaan, soos ‘n riet in die water heen en weer beweeg en sal Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy aan hulle vaders gegee het en hulle anderkant die Eufraat verstrooi, omdat hulle hul heilige boomstamme gemaak en die HERE geterg het. En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.” (1 Kon 14:15,16) DVvPEk 76.3

Tog het die HERE Israel nie versaak voordat Hy alles moontlik gedoen het om hulle terug te bring tot getrouheid aan Hom bring nie. Deur die lang donker jare waarin heerser na heerser in algehele uittarting teen die Hemel opgetree het en Israel dieper en dieper in afgodery ingelei het, het God boodskap na boodskap na sy afvallige mense gestuur. Deur sy profete het Hy aan hulle elke geleentheid gebied om die vlaag van afvalligheid te stuit en na Hom terug te keer. Gedurende die jare wat sou volg, sou Elia en Elisa leef en werk en die deernisvolle oproepe van Hosea, Amos en Obadja sou ook in die land gehoor word. Nimmer sou die koninkryk van Israel sonder edele getuies van die mag van God om van sonde te red, gelaat word nie. Selfs gedurende die donkerste ure sou sommiges lojaal aan hul Goddelike Heerser bly en te midde van afgodery, ‘n vlekkelose lewe in die oë van ‘n heilige God leef. Hierdie getroue siele het onder die oorblyfsel deur wie die ewige doel van Jehova uiteindelik vervul sou word getel. DVvPEk 77.1