Die Verhaal Van Profete en Konings

11/69

Hoofstuk 8—Nasionale Afvalligheid

Vanaf die tydperk van Jerobeam se dood en Elia se verskyning voor Agab, het Israel geleidelik en geestelik agteruitgegaan. Regeer deur manne wat Jehova nie gevrees het nie en wat vreemde vorms van aanbidding aangemoedig het, het die grootste getal van die mense spoedig van hul plig om die lewende God te dien vergeet en baie van die afgodiese praktyke aangeneem. DVvPEk 78.1

Nadab, Jerobeam se seun, het slegs enkele maande geheers. Sy bose loopbaan is deur ‘n sameswering van een van sy generaals, Basha, om beheer oor die regering oor te neem, kortgeknip. Nadab, saam met al sy kinders wat in lyn was om die troon op te volg, is om die lewe gebring, “...volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg Ahía, die Siloniet — vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen en waarmee hy Israel laat sondig het.” (1 Kon 15:29,30) DVvPEk 78.2

So het die huis van Jerobeam vergaan. Die afgodiese aanbidding wat hy ingestel het, het die vergeldende oordele op die skuldige oortreders van die Hemel neergebring; en steeds het die daaropvolgende heersers, naamlik Baésa, Ela, Simri en Omri, oor ‘n tydperk van byna vyftig jaar, dieselfde noodlottige koers van boosheid gevolg. DVvPEk 78.3

Gedurende die groter gedeelte van hierdie tydperk van afvalligheid in Israel, het Asa oor die koninkryk van Juda regeer. Vir jare het Asa “...gedoen wat goed en reg was in die oë van die HERE sy God: hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap en aan Juda gesê om die HERE, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen. Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder en die koninkryk het gerus onder hom.” (2 Kron 14:2¬5) DVvPEk 78.4

Asa se geloof is hewiglik op die proef gestel toe “Serag, die Kussiet ... teen hulle uitgetrek [het] met ‘n leër van ‘n miljoen met driehonderd strydwaens...” en sy koninkryk binnegeval het. (Vers 9). Asa het nie op die “...versterkte stede [wat hy] in Juda [gebou]...” het “...met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels...” of op sy “...leër ... wat skild en spies dra ... almal dapper helde...” vertrou nie. (Verse 6-8). Die koning se vertroue was in die HERE van die leërskare in Wie se naam wonderbaarlike verlossing in die verlede vir Israel vermag is. Met die opstel van sy leërmagte vir die geveg het hy eers God se hulp ingeroep. DVvPEk 79.1

Die opponerende leërs het teenoor mekaar gestaan. Dit was ‘n tyd van toets en beproewing vir hulle wat die HERE dien. Was elke sonde bely? Het Juda se manne volle vertroue gehad in God se mag om hulle te verlos? Dit was die gedagtes waarmee die leiers geworstel het. Vanuit ‘n menslike oogpunt beskou, kon die groot leërskare uit Egipte alles in hul pad skoonvee. Maar in tye van vrede het Asa homself nie aan vermaak en plesier oorgegee nie; hy het hom voorberei vir enige noodtoestand. Hy het oor ‘n weermag beskik wat opgelei was vir konflik en hy het daarna gestreef om sy volk aan te moedig om vrede met God te maak. En nou, al was sy magte minder in getal as die van die vyand, het sy geloof in die Een op Wie hy vertrou, nie verswak nie. DVvPEk 79.2

Aangesien hy God genader het in tye van voorspoed, kon die koning nou op Hom staatmaak in tye van teëspoed. Sy versoeke het getoon dat hy nie ‘n vreemdeling aangaande God se wonderbaarlike mag was nie. “En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons en in U Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.” (Vers 11) DVvPEk 79.3

Die gebed van Asa is ‘n gebed wat op elke Christen-gelowige van toepassing is: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) In die stryd van die lewe sal ons te doen kry met bose invloede wat hulself verset teen wat reg is. Ons hoop is nie In die mens gesetel nie, maar in die lewende God. Ons kan met volle vertroue verwag dat Hy Sy almag, tot eer van Sy Naam, met die mens se pogings sal verenig. Geklee met die wapenrusting van Sy geregtigheid kan ons elke teëstander oorwin. DVvPEk 80.1

Koning Asa se geloof was daadwerklik beloon. “En die HERE het die Hussiete voor Asa en Juda verslaan en die Hussiete het gevlug. En Asa en die manskappe wat by hom was, het hulle agtervolg tot by Gerar; en van die Hussiete het soveel geval, dat daar vir hulle geen herstel moontlik was nie; want hulle was gebreek voor die aangesig van die HERE en voor Sy leer.” (2 Kron 14:12,13) DVvPEk 80.2

Soos wat die seëvierende weermag van Juda en Benjamin teruggekeer het na Jerusalem, het “...die Gees van God op Asárja, die seun van Oded, gekom; en hy het uitgegaan om Asa te ontmoet en vir hom gesê: Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle as julle met Hom is en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” “Wees julle dan sterk en laat julle hande nie slap hang nie, want daar is loon volgens julle werk.”(2 Kron 15:1,2,7) DVvPEk 80.3

Grootliks deur hierdie woorde aangemoedig, het Asa voortgegaan met die uitlei van ‘n tweede hervorming in Juda. Hy het “...moed geskep en die verfoeisels verwyder uit die hele land Juda en Benjamin en uit die stede wat hy op die gebergte van Efraim ingeneem het; en die altaar van die HERE wat voor die voorportaal van die HERE was, het hy herstel.” DVvPEk 80.4

“Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Simeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die HERE sy God met hom was. En hulle het in Jerusalem byeengekom, in die derde maand van die vyftiende jaar van die regering van Asa en dieselfde dag aan die HERE geoffer van die buit wat hulle ingebring het, sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee. En hulle het die verbond aangegaan om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek.” “En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind en die HERE het hulle rus verskaf rondom.” (Verse 8-12,15) DVvPEk 81.1

Asa se lang rekord van getroue diens, is deur enkele foute wat hy begaan het in tye toe hy nie sy volle vertroue op God geplaas het nie, geskend. By een so ‘n geleentheid, toe die koning van Israel die koninkryk van Juda binnegegaan en beslag gelê het op die versterkte stad van Rama, wat vyf myl van Jerusalem geleë is, het Asa uitkoms gesoek deur ‘n alliansie met Benhadad, die koning van Sirië, aan te gaan. Hierdie versuim om op God alleen te vertrou, is streng deur die profeet Hanani wat voor Asa verskyn het met die volgende boodskap, bestraf: DVvPEk 81.2

“Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. Was die Hussiete en die Libiërs nie ‘n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE — Sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.” DVvPEk 81.3

In plaas van om sy fout te erken en homself voor God te verneder, het hy “...hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk.” (Vers 10) DVvPEk 82.1

“En in die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.” (Vers 12) Die koning het in die een-en-veertigste jaar van sy bewind gesterf en is deur sy seun Josafat opgevolg. DVvPEk 82.2

Twee jaar voor Asa se dood het Agab reeds in die koninkryk van Israel begin regeer. Sy bewind was van die begin af gekenmerk deur ‘n vreemde en afgryslike afvalligheid. Sy vader, Omri, die stigter van Samaria, het “...gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers.” (1 Kon 16:25); maar Agab se sondes was selfs groter. Hy het “...nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.” “En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat ... gewandel het...” (Verse 33,31). Nie tevrede om die vorms van godsdienste, wat in Bet-el en Dan gevolg is, aan te moedig nie, het hy die mense openlik in die afskuwelikste heidenisme gelei, deur die aanbidding van Jehova te vervang met Baal-aanbidding. DVvPEk 82.3

Hy het “...Isébel, die dogter van Et-Baal, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem en Baal gaan dien en voor hom neergebuig en vir Baal ‘n altaar opgerig in die huis van Baal wat hy in Samaria gebou het.” (Verse 31,32) DVvPEk 82.4

Agab het nie alleenlik die Baal-aanbidding in die hoofstad ingestel nie, maar onder leiding van Isébel het hy heidense altare op baie “...hoë plekke..” opgerig waar die priesters en ander wat met hierdie verleidelike vorm van afgodediens verband hou, in die skuiling van omliggende bosse hulle onheilspellende invloed uitgeoefen het, totdat feitlik die hele Israel Baal gevolg het. “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het. En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het.” (1 Kon 21:25,26) DVvPEk 82.5

Ten opsigte van morele krag, was Agab swak. Sy verbintenis deur sy huwelik met ‘n afgodiese vrou met ‘n vasbeslote karakter en positiewe temperament, het rampspoedige gevolge vir beide homself en die nasie ingehou. Beginselloos, met geen hoë standaard om te doen wat reg is nie, is sy karakter maklik deur die vasberade gees van Isébel gevorm. Sy selfsugtige natuur was nie in staat om die genade van God teenoor Israel en sy eie verpligtinge as voog en leier van die uitverkore volk te waardeer nie. DVvPEk 83.1

Onder die verderflike invloed van Agab se bewind het Israel ver weggedwaal van die lewende God en het hulle hul weë voor Hom verontreinig. Vir baie jare het hulle hul sin vir eerbied en vrees vir God verloor; en nou het dit geblyk dat niemand dit wou waag om hulle lewens op die spel te plaas deur openlik op te staan teen die heersende godslastering nie. Die donker skaduwee van afvalligheid het die hele land oordek. Beelde van Baal en Astarte was oral te sien. Afgode-tempels en gewyde bosse, waar die werke van mensehande aanbid is, het toegeneem. Die lug was besoedel met die rook van slagoffers wat aan valse gode geoffer is. Heuwels en dale het weerklink met die dronk uitroepe van heidense priesters wat aan die son, maan en sterre geoffer het. DVvPEk 83.2

Deur die invloed van Isébel en haar goddelose priesters, is die mense geleer dat die afgode wat hulle daar geplaas het gode was, wat deur middel van hul duistere magte oor die elemente van die aarde, vuur en water geheers het. Al die oorvloed van die hemel — die kabbelende strome, die strome lewende water, die sagte dou, die reënbuie wat die aarde verkwik en die lande in oorvloed laat voortbring het - is toegeskryf aan die guns van Baal en Astarte, in plaas van die Gewer van elke goeie en volmaakte gawe. Die mense het vergeet dat die heuwels en die valleie, die strome en fonteine, in die hande van die lewende God was; dat Hy die son, die wolke van die hemel en al die magte van die natuur beheer. DVvPEk 83.3

Deur getroue boodskappers het die HERE herhaaldelike waarskuwings na die afvallige koning en die volk gestuur, maar hulle woorde van teregwysing was tevergeefs. Die geïnspireerde boodskappers het tevergeefs Jehova se reg om die enigste God van Israel te wees, verkondig; tevergeefs het hulle die wette wat Hy aan hulle toevertrou het, verhef. Vasgevang deur die skitterende vertoon en fassinerende rituele van afgode-aanbidding, het die mense die voorbeeld van die koning en sy hof gevolg en hulself oorgegee aan die bedwelmende, verlagende plesiere van sinlike aanbidding. In hul blinde dwaasheid het hulle gekies om God en Sy aanbidding te verwerp. Die lig wat so genadiglik aan hulle gegee is, het verdonker. Die fyngoud het dof geword. DVvPEk 84.1

Helaas, hoe het die glorie van Israel gekwyn! God se gekose volk het nog nooit vantevore so laag in afvalligheid gedaal nie. Daar was “...vier honderd-en-vyftig profete van Baal en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet.” (1 Kon 18:19) Niks anders as die wonderwerkende krag van God kon die nasie van algehele vernietiging bewaar nie. Israel het homself opsetlik van God geskei, tog het God steeds met deernis na diegene wat tot sonde verlei was, gehunker en Hy was op die punt om een van sy magtigste profete na hulle te stuur, deur wie baie teruggelei sou word tot getrouheid aan die God van hulle vaders. DVvPEk 84.2