Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 6—Die Verdeling van die Koninkryk
“Daarna het Salomo met sy vaders ontslaap en is begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Rehábeam het in sy plek koning geword.” (1 Kon 11:42) DVvPEk 61.1
Kort na die bestyging van die troon, is Rehábeam na Sigem waar hy verwag het om formele erkenning van al die stamme te ontvang. “Rehábeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het na Sigem gekom om hom koning te maak.” (2 Kron 10:1) DVvPEk 61.2
Onder die wat teenwoordig was, was Jerobeam, die seun van Nebat — die einste Jerobeam wat onder Salomo se bewind bekend gestaan het as “...'n dapper held...” en aan wie die profeet Ahia, die Siloniet, die ontstellende boodskap gelewer het: “Kyk, Ek gaan die koninkryk uit die hand van Salomo afskeur en aan jou die tien stamme gee.” (1 Kon 11:28,31) DVvPEk 61.3
Die Here het duidelik deur sy boodskapper met Jerobeam gespreek oor die noodsaaklikheid om die koninkryk te verdeel. Hierdie verdeling moet plaasvind, het Hy verklaar, “...omdat hulle My verlaat en hul neergebuig het voor Astárte, die godin van die Sidoniërs, voor Kamos, die god van die Moabiete en voor Milkom, die god van die kinders van Ammon en nie gewandel het in My weë deur te doen wat reg is in My oë, naamlik My insettinge en My verordeninge, soos sy vader Dawid nie.” (Vers 33) DVvPEk 61.4
Jerobeam het verdere opdrag ontvang dat die koninkryk nie verdeel sou word voor die einde van Salomo se bewind nie: “Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van My kneg Dawid wat Ek verkies het, wat My gebooie en My insettinge gehou het. Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee, die tien stamme.” (Verse 34,35). DVvPEk 61.5
Alhoewel Salomo verlang het om die ingesteldheid van Rehábeam, sy gekose opvolger, voor te berei om die krisis, wat deur die profeet van God voorspel is, met wysheid die hoof te bied, was hy nooit in staat om ‘n sterk, vormende invloed ten goede in die gedagtes van sy seun, wie se vroeëre onderrig erg verwaarloos was, uit te oefen nie. Rehábeam het van die kant van sy moeder, ‘n Ammoniet, die stempel van ‘n wankelrige karakter geërf. Met tye het hy gestreef om God te dien en is ‘n mate van voorspoed aan hom gegun; maar hy was nie standvastig nie en het uiteindelik toegegee aan die bose invloede wat hom vanaf sy kinderjare omring het. In die foute van Rehábeam se lewe en sy uiteindelike afvalligheid, word die vreesaanjaende gevolge van Salomo se verbintenis met afgodiese vroue aan die lig gebring. DVvPEk 62.1
Die stamme het vir lank erge onreg onder die onderdrukkende maatreëls van hul vorige regeerder verduur. DVvPEk 62.2
Die uitspattigheid van Salomo se bewind gedurende sy afvalligheid, het daartoe gelei dat hy die volk swaar belas en baie slaafse dienste van hulle verwag het. Voordat daar met die kroning van die nuwe vors voortgegaan is, het die leiers van die onderskeie stamme onderneem om vas te stel of dit Salomo se seun se voorneme was om die las van die volk te verminder. “En hulle het gestuur en hom laat roep. Toe kom Jeróbeam met die hele Israel en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê: U vader het ons juk hard gemaak; maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien.” DVvPEk 62.3
Begerig om eers sy raadgewers te raadpleeg voordat hy sy beleid uiteensit, het hy geantwoord: “Kom oor drie dae na my terug. En die volk het gegaan.” DVvPEk 62.4
“Daarop hou koning Rehábeam raad met die oudstes wat voor sy vader Salomo gedurende sy lewe gestaan het en hy vra: Wat raai u aan om hierdie volk te antwoord? En hulle het met hom gespreek en gesê: As u vir hierdie volk goed is en hulle behaag en hulle met vriendelike woorde toespreek, sal hulle altyd u dienaars wees.” (2 Kron 10:3-7) DVvPEk 62.5
Ontevrede met die antwoord, het Rehábeam die jonger manne, met wie hy in sy jeug en vroeë volwasse jare geassosieer het, geraadpleeg: “Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter?” (2 Konings 12:9) Die jong manne het voorgestel dat hy streng teen die onderdane van sy koninkryk optree en duidelik aan hulle stel dat hy geen inmengery in sy persoonlike wense sal duld nie. DVvPEk 63.1
Gevlei deur die vooruitsig van algehele mag, het Rehábeam onderneem om die raad van die ouer raadgewers van sy ryk te ignoreer en die jong manne sy adviseurs te maak. So het dit gebeur dat toe “...Jeróbeam en die hele volk dan by Rehábeam [gekom het]... ” vir ‘n verklaring oor die beleid wat hy sou volg, “...het die koning die volk ‘n harde antwoord gegee: ... en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak — ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig — ék sal julle met gésels tugtig.” (Verse 12-14) DVvPEk 63.2
Indien Rehábeam en sy onervare raadgewers die hemelse wil vir Israel verstaan het, sou hulle geluister het na die versoeke van die volk vir hervorming in die regering se administrasie. Maar met die vergadering te Sigem, het hulle die gulde geleentheid wat aan hulle gebied is verbeur, nie gedink aan die gevolge van hulle besluit nie en het sodoende hul invloed oor ‘n groot gedeelte van die volk vir ewig verswak. Hulle uitdruklike vasberadenheid om die onderdrukking wat gedurende die regering van Salomo ingestel is, te bevorder en daaraan toe te voeg, was in stryd met God se plan vir Israel en het aan die volk ruim geleentheid gegee om die opregtheid van hulle motiewe te betwyfel. In hierdie onverstandige en ongevoelige poging om mag uit te oefen, het die koning en sy gekose raadgewers die trots van posisie en gesag onthul. DVvPEk 63.3
Die Here het Rehábeam nie toegelaat om die beleid wat hy uiteengesit het, uit te voer nie. Onder die stamme was daar duisende wat erg ontstoke was oor die onderdrukkende maatreëls van Salomo se bewind en hierdie mense het gevoel dat hulle nie anders kon as om in opstand te kom teen die huis van Dawid nie. “Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan.” (2 Kron 10:16) DVvPEk 64.1
Die skeuring wat Rehábeam se ondeurdagte toespraak tot gevolg gehad het, was onherstelbaar. Voortaan sou die twaalf stamme van Israel verdeeld wees, met die stamme van Juda en Benjamin wat die suidelike koninkryk, onder leiding van Rehábeam sou word, terwyl die tien noordelike stamme ‘n aparte regering gevorm het, bekend as die koninkryk van Israel, onder leiding van Jerobeam. Sodoende is die profeet se voorspelling aangaande die verdeling van die koninkryk bewaarheid. “Want dit was ‘n beskikking van God.” (Vers 15) DVvPEk 64.2
Toe Rehabeam agterkom dat die tien stamme hul trou aan hom onttrek het, het hy tot aksie oorgegaan. Deur middel van een van die invloedryke manne van sy koninkryk, naamlik “...Hadoram wat oor die dwangarbeid was...” het hy gepoog om versoening te bewerkstellig. Maar die ambassadeur van vrede is op ‘n wyse behandel wat getuig het van die gevoel teenoor Rehábeam. “Maar die kinders van Israel het hom gestenig sodat hy gesterf het. Verras deur die sterkte van die opstand het “...koning Rehábeam hom geweer om op ‘n wa te klim om na Jerusalem te vlug.” (Vers 18) DVvPEk 64.3
In Jerusalem het hy uit “...die huis van Juda en Benjamin, honderd-en-tagtig duisend krygshaftige jongmanne, byeen laat kom om teen Israel oorlog te voer, om die koningskap vir Rehábeam terug te win. Maar die woord van die HERE het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda en met die hele Israel in Juda en in Benjamin en sê: So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom.Hulle het toe geluister na die woorde van die HERE.” (2 Kron 11:1-4) DVvPEk 64.4
Drie jaar lank het Rehabeam probeer baat uit sy tragiese ervaring aan die begin van sy bewind en in hierdie poging was hy voorspoedig. Hy het “...stede as vestings opgebou in Juda...” “...en hy het die vestings versterk en daarin bevelhebbers aangestel met voorrade voedsel en olie en wyn.” Hy het hierdie versterkte stede “...uitermate versterk.” (2 Kron 11:5,11,12) Maar die geheim van Juda se voorspoed tydens die eerste vyf jaar van Rehabeam se bewind was nie as gevolg van hierdie maatreëls nie. Dit was hulle erkenning van God as die Opperheerser wat die stamme van Juda en Benjamin op die voorgrond geplaas het. Talle Godvresende manne van die noordelike stamme is by hulle getalle gevoeg. “En agter hulle aan het uit al die stamme van Israel die wat hulle hart daarop gerig het om die HERE, die God van Israel, te soek, na Jerusalem gekom om aan die HERE, die God van hulle vaders, te offer; en hulle het die koninkryk van Juda versterk en Rehábeam, die seun van Salomo, drie jaar lank bemoedig; want drie jaar lank het hulle in die weg van Dawid en van Salomo gewandel.” (Verse 16,17) DVvPEk 65.1
Deur met hierdie optrede te vohard, het Rehabeam die geleentheid gehad om die foute van die verlede tot ‘n groot mate reg te stel en ook vertroue in sy vermoë om met diskresie te regeer, herstel. Maar die pen van inspirasie het die treurige rekord van Salomo se opvolger nagespoor as een wat nie ‘n sterk invloed vir lojaliteit aan Jehova uitgeoefen het nie. Nieteenstaande die feit dat hy van nature hardkoppig was, met oordrewe selfvertroue, eiewys en met ‘n neiging tot afgodery, sou hy, indien hy sy volle vertroue in God geplaas het, ‘n sterk karakter, ‘n standvastige geloof en onderwerping aan hemelse voorskrifte ontwikkel het. Maar met verloop van tyd, het die koning sy vertroue in die mag van sy posisie en in die stede wat hy versterk het geplaas. Hy het geleidelik aan sy oorgeërfde swakhede toegegee, totdat sy invloed geheel en al aan die kant van afgodery was. “En toe Rehábeam die koningskap bevestig het en hy sterk was, het hy die wet van die HERE verlaat en die hele Israel saam met hom.” (2 Kron 12:1) DVvPEk 65.2
Hoe tragies, hoe betekenisvol is die woorde, “...en die hele Israel saam met hom.” Die mense wie God gekies het om ‘n lig vir die omliggende nasies te wees, het van hul Bron van krag weggedraai en daarna gestreef om soos die nasies om hulle te wees. Soos met Salomo, so ook met Rehabeam, het die invloed van ‘n verkeerde voorbeeld vele mislei. En soos met hulle, tot ‘n groter of kleiner mate, is die gevolge vandag vir elkeen wat homself oorgee aan die werk van die bose dieselfde - die invloed van verkeerde optrede is nie tot die dader beperk nie. Geen mens leef vir homself nie. Niemand sterf alleen in hul ongeregtigheid nie. Elke lewe is ‘n lig wat die weg vir ‘n ander ophelder en opvrolik, of ‘n donker en sombere invloed wat na wanhoop en ondergang neig. Óf ons lei mense opwaarts na geluk en die ewige lewe óf afwaarts na droefheid en die ewige dood. Indien ons deur ons dade die bose magte om ons versterk of in werking stel, dan deel ons in hulle sonde. DVvPEk 66.1
God het nie toegelaat dat die afvalligheid van Juda se regeerder ongestraf bly nie. “Toe het Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde jaar van koning Rehábeam, teen Jerusalem opgetrek — omdat hulle ontrou teenoor die HERE gehandel het — met twaalf honderd strydwaens en sestig duisend perderuiters; en ontelbaar was die manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het ... En hy het die versterkte stede ingeneem wat aan Juda behoort het en tot by Jerusalem gekom.” DVvPEk 66.2
“ Daarop kom die profeet Semája na Rehábeam en die owerstes van Juda wat vanweë Sisak in Jerusalem bymekaargekom het en sê vir hulle: So spreek die HERE: Júlle het My verlaat; daarom gee Ék julle ook oor in die hand van Sisak.” (Verse 2-5) DVvPEk 67.1
Die volk het nog nie tot sulke lengtes gegaan dat hulle God se oordele verag het nie. In die verliese wat hulle aan die hand van Sisak gely het, het hulle God se hand herken en hulself vir ‘n tyd verootmoedig. “Die HERE is regverdig,” het hulle erken. DVvPEk 67.2
“En toe die HERE sien dat hulle hul verootmoedig, kom die woord van die HERE tot Semája en sê: Hulle het hul verootmoedig: Ek sal hulle nie vernietig nie, maar hulle binnekort uitkoms skenk en my grimmigheid sal nie deur middel van Sisak oor Jerusalem uitgestort word nie. Maar hulle sal sy knegte word, sodat hulle my diens en die diens van die koninkryke van die lande kan leer ken!” DVvPEk 67.3
“En Sisak, die koning van Egipte, het teen Jerusalem opgetrek en die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het alles weggeneem; hy het ook die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem. Toe maak koning Rehábeam in die plek daarvan koper skilde en hy het dit aan die owerstes van die hardlopers toevertrou wat die ingang van die koning se huis bewaak... Maar weens sy verootmoediging het die toorn van die HERE van hom gewyk, sodat Hy hom nie geheel en al vernietig het nie; ook was daar in Juda nog goeie dinge.” (Verse 6-12) DVvPEk 67.4
Maar soos wat die hand van beproewing verdwyn het en die nasie weereens voorspoed ervaar het, het talle van hul vrese vergeet en teruggekeer na afgodediens. Koning Rehabeam was self hieraan skuldig. Alhoewel hy deur die rampe wat hom getref het verneder is, het hy nagelaat om van hierdie ervaring ‘n keerpunt in sy lewe te maak. Hy het die lesse wat God hom wou leer, vergeet en het in dieselfde sondes wat God se oordeel oor die volk gebring het, teruggeval. Na ‘n aantal roemlose jare waarin die koning “...gedoen [het] wat verkeerd was, want hy het nie sy hart gerig om die HERE te soek nie...” het “Rehábeam ... ontslaap met sy vaders en is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Abía het in sy plek koning geword.” (Verse 14, 16) DVvPEk 67.5
Met die skeuring van die koninkryk vroeg in Rehabeam se bewind het die heerlikheid van Israel begin kwyn om nooit weer ten volle herwin te word nie. Met tye in die eeue wat gevolg het, is die troon van Dawid beset deur manne met hoë morele waardes en vêrsiendheid en onder die heerskappy van hierdie soewereine, is die seëninge wat die mense van Juda ervaar het na die omliggende nasies uitgebrei. Met tye is Jehova se Naam bo elke afgod vereer en is Sy wet eerbiedig. Van tyd tot tyd het magtige profete opgestaan om die hande van die heersers te versterk en die volk aan te moedig om getrou te bly. Maar die saad van boosheid wat met Rehabeam se bestyging van die troon ontstaan het, sou nooit volkome ontwortel word nie; en met tye sou die eens uitverkore volk van God so laag daal, dat hulle ‘n spreekwoord onder die heidene geword het. DVvPEk 68.1
Tog, nieteenstaande die perversiteit van diegene wat na afgodiese praktyke oorgeleun het, sou God in Sy genade alles in Sy mag doen om die verdeelde koninkryk van totale ondergang te red. En soos die jare verbygegaan het en dit geblyk het dat Sy doel vir Israel totaal deur die lis van mense wat deur sataniese agente geïnspireer is, gedwarsboom is, het Hy steeds, deur middel van ballingskap en herstel, Sy heilsame planne vir die verbondsvolk gemanifesteer. DVvPEk 68.2
Die verdeling van die koninkryk was maar net die begin van ‘n wonderlike geskiedenis waarin God se lankmoedigheid en deernisvolle genade geopenbaar is. Deur die smeltkroes van beproewing, as gevolg van hul oorerflike en gekultiveerde neigings tot die bose, moes diegene wie God vir Homself wou suiwer as ‘n besondere volk, ywerig in goeie werke, naderhand erken: DVvPEk 68.3
“Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot en U Naam is groot in krag. Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? ... onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.” “Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en ‘n ewige Koning.” (Jer 10:6,7,10) DVvPEk 69.1
En die aanbidders van afgode sou uiteindelik die les leer dat valse gode magteloos is om op te hef en te red. “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit.” (Vers 11) Slegs deur getrouheid aan die lewende God, die Skepper van alles en die Heerser oor alle dinge, kan die mens rus en vrede vind. DVvPEk 69.2
Gesamentlik het die getugtigde en berouvolle Israel en Juda uiteindelik hul verbondsverhouding met Jehova van die Leërskare, die God van hulle vaders, hernu en kon hulle van Hom bely: DVvPEk 69.3
“Hy wat die aarde gemaak het deur Sy krag,
Wat die wêreld gegrond het deur Sy wysheid
En die hemel uitgespan het deur Sy verstand.
“As Hy Sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in
die hemel;
En Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde;
Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit
sy voorraadskure.”
“Elke mens word dom, sonder kennis;
Elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld;
Want sy gegote beeld is ‘n leuen en daar is geen gees in
hulle nie.”
“Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny;
In die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
Jakob se deel is nie soos hulle nie;”
DVvPEk 69.4
“Want Hy is die Formeerder van alles,
En Israel is die stam van Sy erfenis;
HERE van die leërskare is Sy Naam.”
DVvPEk 70.1
(Verse 12-16)