Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 5—Salomo se Berou
Die HERE het twee keer gedurende Salomo se bewind aan hom verskyn met woorde van goedkeuring en raad — die nagvisioen by Gibeon toe die belofte van wysheid, rykdom en eer, tesame met ‘n vermaning om nederig en gehoorsaam te bly aan hom belowe is; en na die inwyding van die tempel, toe die HERE hom weer ‘n keer tot getrouheid vermaan het. Die vermanings was duidelik, die beloftes heerlik; tog is daar van hom, wat in omstandighede, karakter en lewe so geskik blyk te gewees het vir die taak op hande en om die verwagtinge van die hemel na te kom, geskryf: “Hy het die bevel van die HERE nie gehou nie.” “Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie;” (1 Kon 11:9,10). En sy afvalligheid was so volkome, sy hart so deur oortreding verhard, dat sy saak bykans hopeloos blyk te gewees het. DVvPEk 51.1
Salomo het van die vreugde van Goddelike gemeenskap weggedraai om bevrediging te vind in sinsgenot. Hiervan sê hy self: “Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê... Ek het slawe en slavinne gekoop... Ek het vir my ook silwer en goud versamel en ‘n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het.” DVvPEk 51.2
“En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind en daar was geen voordeel onder die son nie.” DVvPEk 51.3
“Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is! ... Daarom het ek die lewe gehaat ... En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het.” (Pred 2:4-18) DVvPEk 52.1
Deur sy eie bittere ervaring het Salomo die leegheid van die lewe van iemand wat in aardse dinge die hoogste goed gesoek het, beleef. Hy het altare opgerig vir heidense gode, net om uit te vind hoe tevergeefs hulle beloftes van rus vir die gees was. Neerslagtige en siel-kwellende gedagtes het hom dag en nag getreiter. Vir hom was daar nie langer enige lewensvreugde of gemoedsrus nie en sy toekoms was donker en wanhopig. DVvPEk 52.2
Tog het die HERE hom nie versaak nie. Met boodskappe van teregwysing en ernstige oordele het Hy gepoog om die koning op te wek tot ‘n besef van die sondigheid van sy weg. Hy het Sy beskerming onttrek en toegelaat dat teëstanders die koninkryk treiter en verswak. “En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet ... God het ook as teëstander vir hom verwek Reson, ... owerste van ‘n bende ... hy het ‘n afsku van Israel gehad en hy het oor Aram [Sirië] koning geword ... Ook Jeróbeam ... ‘n dapper held ... het sy hand opgehef teen die koning.” (1 Kon 11:14,23-28) DVvPEk 52.3
Ten einde laaste, het die HERE deur ‘n profeet, ‘n ontstellende boodskap aan Salomo gelewer: “Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee. Maar in jou dae sal Ek dit nie doen nie ter wille van jou vader Dawid; uit die hand van jou seun sal Ek dit afskeur.” (Verse 11,12) DVvPEk 52.4
Opgewek asof uit ‘n droom deur hierdie oordeel oor hom en sy huis, het Salomo met ‘n aangeraakte gewete, sy dwaasheid in die regte lig gesien. In sy gees gekasty, met verswakte verstand en liggaam, het hy moeg en dorstig weggedraai van die aarde se gebroke vate om weereens van die fontein van lewe te drink. Vir hom het die dissipline van lyding uiteindelik sy taak volbring. Vir lank is hy deur vrees vir totale ondergang as gevolg van sy onvermoë om van dwaasheid weg te draai geteister; maar nou het hy in die boodskap wat aan hom oorgedra is, ‘n straal van hoop raakgesien. God het hom nie totaal afgesny nie, maar gereed gestaan om hom van ‘n gevangenisskap, erger as die dood, te verlos en waaroor hy geen mag gehad het om homself te bevry nie. DVvPEk 53.1
Uit dankbaarheid het Salomo erkenning aan die mag en liefdevolle barmhartigheid van die Een wat hoër as die hoogste is gegee; in berou het hy begin terugkeer na die verhewe vlak van reinheid en heiligheid waarvan hy so ver afgedwaal het. Hy sou nooit kon hoop om homself van die gevolge van sonde te red nie; hy sou nooit sy gedagtes kon losmaak van die herinneringe aan die selfbevrediging waaraan hy homself skuldig gemaak het nie, maar hy sou alles in sy vermoë doen om ander te verhoed om in dieselfde dwaasheid te volg. Hy sou met nederigheid die verkeerdheid van sy optrede erken en sy stem in waarskuwing verhef, voordat ander onherroeplik meegevoer word deur die bose invloede wat hy in werking gestel het. DVvPEk 53.2
Die opregte belyer vergeet nie sy sonde van die verlede nie. Hy is nie, sodra hy vrede gevind het, onaangeraak ten opsigte van sy foute nie. Hy dink aan diegene wat, as gevolg van sy eie optrede, tot boosheid gelei is en werp alles in die stryd om hulle op die regte pad terug te lei. Hoe helderder die lig wat hy betree, hoe sterker is die begeerte om die voetstappe van ander in die regte rigting te lei. Hy gaan nie ligtelik oor sy dwaling en maak lig van sy verkeerde optrede nie, maar hy hys die gevaarsein op sodat ander op die waarskuwing kan ag slaan. DVvPEk 53.3
Salomo het erken dat “...die hart van die mensekinders vol boosheid is en dat dwaasheid in hulle hart is.” (Pred 9:3) Hy het ook verklaar: “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen; aangesien ‘n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe — alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees en dit nie goed sal gaan met die goddelose en hy die dae nie sal verleng soos ‘n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie.” (Pred 8:11-13) DVvPEk 54.1
Deur die Gees geïnspireer, het die koning die geskiedenis van sy verkwiste jare, met die lesse van waarskuwing, vir die nageslag opgeteken. En gevolglik, hoewel die saad wat hy gesaai het ‘n oes van onheil onder sy volksgenote opgelewer het, was sy lewenstaak nie heeltemal verlore nie. In ootmoed en nederigheid het Salomo in sy later jare “...die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is — woorde van waarheid. Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee. En buitendien, my seun, wees gewaarsku.” (Pred 12:9-12) DVvPEk 54.2
“Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou Sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg,” het hy gemaan. (Verse 13,14) DVvPEk 54.3
Uit latere geskrifte van Salomo blyk dit dat, namate hy meer en meer die boosheid van sy weë besef het, hy veral die jeug gewaarsku het om nie dieselfde foute, wat hom gelei het om die Hemel se beste gawes op nietighede te verkwis te begaan nie. Met smart en skaamte het hy bely dat, in die fleur van sy manlikheid, toe hy by God sy troos, sy ondersteuning, sy lewe moes vind, hy weggedraai het van die lig van die Hemel en die wysheid van God en die aanbidding van afgode in die plek van die aanbidding van Jehova geplaas het. En nou dat hy deur pynlike ervaring die dwaasheid van sy lewe besef het, was sy innige begeerte om ander te red van dieselfde bittere ervaring waardeur hy gegaan het. DVvPEk 54.4
Met ontroering het hy aangaande die voorregte en verantwoordelikhede van die jeug in God se diens geskryf: DVvPEk 55.1
“Verder, soet is die lig en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid. Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring. En weer verdriet uit jou hart en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid. (Pred 11:7:10) DVvPEk 55.2
“En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid,
Voordat die ongelukkige dae kom,
En die jare aanbreek waarvan jy sal sê:
Ek het daar geen behae in nie —
Voordat die son,
En die lig,
En die maan en die sterre,
Verduister word,
En die wolke terugkom ná die reën:
Dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe,
En die sterk manne krom word,
En die malers die werk staak,
omdat hulle te min geword het,
En die wat deur die vensters kyk, verduister word,
En die deure na die straat gesluit word, Terwyl die geruis van die meul verswak,
En hy opstaan as die voëltjies begin sing,
En al die tone van die lied dof sal word;
Ook sal hy bang wees vir ‘n hoogte,
En verskriklike dinge sal op die pad wees!
En die amandelboom sal in bloei staan,
En die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep,
En die kapperkruid nutteloos wees;
Want die mens gaan na sy ewige huis,
En die rouklaers sal op die straat rondgaan:
Voordat die silwerdraad verwyder word,
En die goue oliekruik stukkend val,
En die kruik by die fontein gebreek word,
En die wiel stukkend in die put val.
En die stof na die aarde terugkeer
Soos dit gewees het:
En die gees na God terugkeer,
Wat dit gegee het.”
DVvPEk 55.3
(Prediker 12:1-7)
Salomo se waarskuwings is nie slegs vir die jeug nie, maar ook 82 vir hulle op gevorderde leeftyd en vir diegene wat op die heuwel van die lewe neerdaal en die westelike son in die gesig staar, is die lewe van Salomo vol waarskuwing. Ons sien en hoor van die onbestendigheid van die jeug, die jonges wat weifel tussen goed en kwaad en die stroom van bose hartstog wat te sterk vir hulle is. Maar ons verwag nie onbestendigheid en ontrou by meer volwasse mense nie; ons verwag dat die karakter gevestig sal wees en beginsels stewig ingewortel. Maar dit is nie altyd die geval nie. Toe Salomo se karakter soos ‘n stewige eikeboom moes wees, het hy onder druk van versoeking in sy standvastigheid DVvPEk 56.1
geval. Toe sy krag die sterkste moes gewees het, is gevind dat hy op sy swakste was. DVvPEk 57.1
Uit hierdie voorbeelde moet ons leer dat die enigste veiligheid vir oud en jonk in waaksaamheid en gebed lê. Veiligheid is nie gesetel in ‘n verhewe posisie en groot voorregte nie. ‘n Persoon kan vir jare ‘n ware Christelike ervaring geniet en steeds blootgestel wees aan Satan se aanvalle. In die stryd met innerlike sondes en uiterlike versoeking, is selfs die wyse en magtige Salomo oorwin. Sy mislukkings leer ons dat ongeag ‘n persoon se intellektuele vermoëns en hoe getrou hy God ook in die verlede gedien het, hy nooit met veiligheid op sy eie wysheid en integriteit kan staatmaak nie. DVvPEk 57.2
Die ware grondslag en patroon vir karakterbou was in elke geslag en in elke land steeds dieselfde. Die Goddelike wet: “Jy moet die HERE jou God liefhê uit jou hele hart ... en jou naaste soos jouself” (Luk 10:27), die groot beginsel wat in die karakter en lewe van ons Verlosser gemanifesteer is, is die enigste sekere fondament, die enigste ware gids. “En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ‘n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis;” (Jes 33:6) die wysheid en kennis wat slegs God se Woord kan oordra. DVvPEk 57.3
Hierdie vermaning tot gehoorsaamheid aan Sy gebooie is steeds net so geldig soos toe dit aan Israel gegee is: “Dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke.” (Deut 4:6) Hierin lê die enigste beskerming vir individuele integriteit, die reinheid van die huis, die welstand van die gemeenskap en die stabiliteit van die nasie. Te midde van al die lewe se verwarringe en gevare en teenstrydige bewerings, is die een veilige en gewisse reël, om te doen wat God sê. “Die bevele van die HERE is reg...” en “...hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.” (Ps 19:8;15:5) DVvPEk 57.4
Diegene wat ag slaan op die waarskuwing van Salomo se afvalligheid, sal die eerste aanduiding van die sondes wat hom oorval het, vermy. Slegs gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die Hemel kan ‘n mens van afvalligheid bewaar. God het aan die mens baie lig en seëninge geskenk; maar tensy hierdie lig en seëninge aangeneem word, verleen hulle geen beskerming teen ongehoorsaamheid en afvalligheid nie. Wanneer diegene wie God tot vertrouensposisies verhef het van Hom af wegdraai na menslike wysheid, dan word hulle lig duisternis. Die vermoëns wat aan hulle toevertrou is, word ‘n strik. DVvPEk 57.5
Totdat die stryd beëindig is, sal daar altyd diegene wees wat van God sal afwyk. Satan sal omstandighede so vorm dat, tensy ons deur Goddelike krag bewaar word, hulle byna onopmerklik die versterkings van die siel sal verswak. Met elke tree moet ons onsself afvra: “Is dit die weg van die HERE?” Vir so lank as wat die lewe sal duur, sal dit nodig wees om emosies en hartstogte doelgerig te bewaak. Tensy ons op God vertrou, die lewe in Christus geborge, is ons nie vir ‘n oomblik veilig nie. Waaksaamheid en gebed is die beskerming vir reinheid. DVvPEk 58.1
Elkeen wat die Stad van God deur die nou poort binnegaan, sal dit met pynlike moeite doen; want “...daarin sal nie inkom iets wat verontreinig...” nie. (Op 21:27). Maar niemand wat geval het hoef in wanhoop op te gee nie. Bejaardes wat eens deur God vereer is, het moontlik hul siele verontreinig en deug op die altaar van wellus geoffer; maar as hulle hul bekeer, die sonde verlaat en na God draai, is daar steeds hoop vir hulle. Hy wat verklaar: “Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee”, gee ook die volgende uitnodiging: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Op 2:10;Jes 55:7) God haat sonde, maar Hy het die sondaar lief. “Ek sal hulle afkerigheid genees...” sê die HERE; “...hulle vrywillig liefhê, want My toorn is van hulle afgewend.” (Hosea 14:5) DVvPEk 58.2
Salomo se bekering was opreg; maar die skade wat sy 85 voorbeeld van bose dade berokken het, kon nie ongedaan gemaak word nie. Gedurende sy afvalligheid was daar mense in sy koninkryk wat getrou gebly het, wat hul reinheid en lojaliteit behou het. Maar baie het afgedwaal; en die magte van die bose wat in werking gestel is deur die inleiding van afgodediens en wêreldse praktyke, kon nie maklik deur die berouvolle koning gestuit word nie en sy invloed ten goede is grootliks verswak. Baie het gehuiwer om volle vertroue in sy leierskap te plaas. Alhoewel die koning sy sonde bely het en tot voordeel van toekomstige geslagte sy dwaasheid en berou neergepen het, kon hy nooit hoop om volkome die vêrreikende gevolge van sy wandade ongedaan te maak nie. Aangemoedig deur sy afvalligheid, het menigtes in hulle boosheid volhard. En in die afdraande pad van talle heersers wat hom opgevolg het, kan die gevolge van die droewige invloed van die prostitusie van sy Godgegewe kragte teruggespoor word. DVvPEk 58.3
In die bepeinsing van die bittere gevolge van sy boosheid, was Salomo genoop om in angs uit te roep: “Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.” “Daar is ‘n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, ‘n dwaling wat van die maghebber uitgaan: die dwaasheid word op groot hoogtes gestel.” DVvPEk 59.1
“Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; ‘n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer.” (Pred 9:18;10:5,6,1) DVvPEk 59.2
Van die vele lesse wat uit Salomo se lewe geleer kan word, word geeneen meer benadruk as die een wat die mag van invloed vir goed of kwaad uitbeeld nie. Hoe gering ons sfeer ook al mag wees, oefen ons steeds ‘n invloed vir goed of vir kwaad uit. Buite ons kennis of beheer, het dit ‘n invloed op ander in seëninge of vervloeking. Dit mag swaar van somberheid, ontevredenheid en selfsug wees, of vergiftig deur die dodelike smet van een of ander gekoesterde sonde; of dit kan gevul wees met die lewegewende krag van geloof, moed en hoop en soet met die geur van liefde. Maar die sterk invloed ten goede of ten kwade is gewis. DVvPEk 59.3
Dat ons invloed ‘n geur van die dood tot die dood kan inhou, 86 is ‘n vreesaanjaende gedagte, maar tog moontlik. Een misleide siel wat die ewige saligheid verbeur - wie sal die verlies kan bereken! Tog kan een onbesonne daad, een ondeurdagte woord deur ons geuiter, so ‘n groot invloed op die lewe van ‘n ander uitoefen, dat dit tot die ondergang van sy siel kan lei. Een klad op die karakter mag vele van Christus af weglei. DVvPEk 60.1
Soos ‘n saad wat gesaai is ‘n oes oplewer en dit op sy beurt weer gesaai word, word die oes vermenigvuldig. Hierdie wet geld ook in ons verhoudings met ander. Elke daad, elke woord is ‘n saad wat vrug sal dra. Elke daad van bedagsaamheid, van gehoorsaamheid, van selfverloëning, sal homself in ander weergee en deur hulle in nog ander. Net so is elke daad van afguns, boosaardigheid of onmin, saad wat opskiet in “...wortel[s] van bitterheid..” waarmee vele besoedel sal word.(Heb 12:15) En hoeveel groter in getal sal die “vele” vergif! Aldus sal die saai van goed en kwaad vir tyd en ewigheid voortgaan. DVvPEk 60.2