Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 4—Gevolge van Oortreding
Primêr in die oorsake wat Salomo gelei het tot spandabelrigheid en verdrukking, was sy gebrek om ‘n gees van selfverloëning te koester. DVvPEk 39.1
Toe Moses aan die voet van Sinaï aan die volk vertel het van die Goddelike bevel: “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon”, was die reaksie van die Israeliete vergesel van geskikte geskenke. “En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring.”(Ex 25:8;35:21) Groot en uitgebreide voorbereidings vir die bou van die heiligdom, was nodig; ‘n groot hoeveelheid van die mees kosbare en duurste materiale is vereis, maar God het slegs vrywillige offergawes aanvaar. “Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring” (Ex 25:2), was die bevel wat Moses aan die volk moes oordra. Toewyding aan God en ‘n gesindheid van opoffering was die eerste vereiste vir die voorbereiding van ‘n blyplek vir die Allerhoogste. DVvPEk 39.2
'n Soortgelyke oproep tot selfverloëning is gemaak toe Dawid die verantwoordelikheid vir die bou van die tempel aan Salomo oorgedra het. Dawid het aan die vergadering gevra: “Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ‘n offer aan die HERE?” (1 Kron 29:5) Hierdie oproep tot toewyding en vrywillige diens moes altyd, deur diegene wat betrokke by die oprigting van die tempel was, in gedagte gehou word. DVvPEk 39.3
Vir die oprigting van die tabernakel in die wildernis, is mense gekies wat deur God met besondere vaardighede en wysheid bedeeld was. “Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê:Kyk, die HERE het Besáleël ... van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk; ... en Hy het dit ook in sy hart gegee om ander te onderrig, aan hom en aan Ohóliab ... van die stam van Dan. Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk van ‘n ambagsman en ‘n kunstenaar en van ‘n bewerker van veelkleurige goed in pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en van ‘n wewer ... hulle wat al die werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink... So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die HERE wysheid en verstand gegee het...” (Ex 35:30-35;36:1). Hemelse intelligentsia het met die ambagsmanne wat God self gekies het saamgewerk. DVvPEk 39.4
Die afstammelinge van hierdie vakmanne het hierdie talente tot ‘n groot mate van hulle voorvaders geërf. Vir ‘n geruime tyd het hierdie manne uit Juda en Dan nederig en onselfsugtig gebly; maar gaandeweg, byna onwaarneembaar, het hulle hul houvas op God laat gaan, asook hul begeerte om Hom op onselfsugtige wyse te dien. Hulle het, vanweë hul voortreflike vaardighede as werkers in die fynere kunste, hoër vergoeding vir hul dienste geëis. Soms is daar aan hul versoeke toegegee, maar meer dikwels is hulle van werk deur die omliggende nasies voorsien. In die plek van die edele gesindheid van selfverloëning wat in die harte van hul roemryke voorvaders geheers het, het hulle toegegee aan ‘n gees van hebsug en al meer inhalig geword. Om hulle selfsugtige begeertes te bevredig, het hulle hul Godgegewe vaardighede tot beskikking van heidense konings gestel en dieselfde talente gebruik om werke te vervolmaak wat tot oneer van hul Maker gestrek het. DVvPEk 40.1
Dit was onder hierdie groep wat Salomo na meester- vakmanne gaan soek het om oor die bou van die tempel op die berg Moria toesig te hou. Haarfyn spesifikasies aangaande elke aspek van die heilige struktuur is skriftelik aan die koning toevertrou; en hy kon God in geloof genader het vir gewyde helpers, aan wie spesiale vermoëns geskenk sou word om die werk noukeurig uit te voer. Maar Salomo het die geleentheid om geloof in God te toon egter uit die oog verloor en na die koning van Tirus gestuur met die versoek: “Stuur my dan nou ‘n kunsvaardige man om goud en silwer en koper en yster en purperrooi en bloedrooi en pers stowwe te bewerk en wat verstaan om figure uit te sny saam met die kunstenaars wat by my in Juda en in Jerusalem is.” (2 Kron 2:7) DVvPEk 40.2
Die Fenisiese koning het op hierdie versoek geantwoord, deur Huram, “...die seun van ‘n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader ‘n man van Tirus is...,” na hom te stuur. (Vers 14) Huram was van sy moeder se kant af ‘n afstammeling van Ohóliab, aan wie God eeue tevore spesiale wysheid geskenk het vir die oprigting van die destydse tabernakel. DVvPEk 41.1
Dus het daar, aan die hoof van Salomo se span werkers, ‘n man gestaan wie se pogings nie aangespoor was deur ‘n begeerte om onselfsugtige diens aan God te lewer, nie. Hy het Mammon, die god van hierdie wêreld, gedien. Die vesels van sy hele wese is met die beginsels van selfsug deurvleg. DVvPEk 41.2
Vanweë sy buitengewone vernuf het Huram hoë vergoeding geëis. Gaandeweg is die verkeerde beginsels wat hy gekoester het deur sy medewerkers aangeneem. Soos hulle dag na dag saam met hom gearbei het, het hulle toegegee aan die geneigdheid om sy loon met hul eie te vergelyk en daardeur het hulle die heilige aard van hul werk uit die oog verloor. Die gees van selfverloëning het plek gemaak vir ‘n gesindheid van hebsug. Die gevolg was ‘n eis vir hoër lone, wat toegestaan is. DVvPEk 41.3
Die onheilspellende invloede wat sodoende in werking getree het, het na alle vertakkings van God se diens en die ganse koninkryk versprei. Die hoë lone wat geëis en ontvang is, het aan talle die geleentheid geskenk om hulle in weelde en buitensporigheid te verlustig. Die armes is deur die rykes verdruk; die gees van selfverloëning was bykans verlore. In die vêrreikende gevolge van hierdie invloede kan die hoofoorsaak vir die verskriklike afvalligheid van hom wat eens onder die wysste van sterflinge getel was, nagespoor word. DVvPEk 41.4
Die skrille kontras tussen die gesindheid en motiewe wat onder die mense geheers het, wat die tabernakel in die wildernis gebou het en diegene betrokke by die bou van Salomo se tempel, hou ‘n les van diepe betekenis in. Die eiebelang wat die werkers aan die tempel gekarakteriseer het, vind sy eweknie in die selfsug wat vandag in die wêreld heers. Die gees van gierigheid, of die soeke na die hoogste posisie en die hoogste loon, vier hoogty. Die gewillige diens en vreugdevolle selfverloëning van die werkers aan die tabernakel word selde gevind. Maar dit is die enigste gesindheid wat Jesus se volgelinge moet aanspoor. Ons Goddelike Meester het die voorbeeld gestel van hoe Sy dissipels te werk moet gaan. Aan diegene vir wie Hy gesê het “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak” (Matt 4:19), het Hy geen geld as vergoeding vir hul dienste aangebied nie. Hulle moes saam met Hom deel in selfverloëning en opoffering. DVvPEk 42.1
Ons behoort nie te arbei vir die loon wat ons ontvang nie. Die motief wat ons aanspoor om vir God te werk, moet geen selfsug behels nie. Onselfsugtige toewyding en ‘n gees van opoffering was nog altyd en sal altyd die eerste voorwaarde vir aanvaarbare diens wees. Ons Heer en Meester verlang dat daar nie ‘n draad van selfsug in Sy werk ingeweef sal word nie. Ons pogings moet takt en vernuf, presisie en wysheid na vore bring, soortgelyk aan wat die God van perfeksie van die bouers van die aardse tabernakel vereis het; tog, in al ons arbeid moet ons in gedagte hou dat die grootste talente of die skitterendste dienste slegs aanvaarbaar word wanneer self as ‘n lewende, brandende offer op die altaar gelê word. DVvPEk 42.2
Nog ‘n afwyking van die regverdige beginsels wat uiteindelik tot die val van Israel se koning gelei het, was sy toegee aan die versoeking om die eer wat God alleen toekom, vir homself toe te eien. DVvPEk 42.3
Van die dag af wat die bou van die tempel aan Salomo toevertrou is tot by die voltooiing daarvan, was dit sy uitgesproke voorneme “...om ‘n huis te bou vir die Naam van die HERE, die God van Israel.” (2 Kron 6:7) Hierdie voorneme is tydens die inwyding van die tempel ten volle voor die hele vergadering van Israel erken. In sy gebed het die koning erken dat Jehova gesê het: “My Naam sal daar wees.” (1 Kon 8:29) DVvPEk 42.4
Een van die roerendste dele van Salomo se inwydingsgebed, was sy versoek tot God vir die vreemdelinge wat uit vêrafgeleë lande sou kom, om meer van Hom, Wie se roem onder die nasies versprei het, te leer. “Want hulle sal hoor van U grote Naam en U sterke hand en U uitgestrekte arm.” Vir elkeen van hierdie vreemdelinge was sy gebedsversoek: “Wil U dan hoor ... en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde U Naam mag ken, om U te vrees soos U volk Israel en mag gewaar word dat U Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.” (Verse 42,43) DVvPEk 43.1
Salomo het die diens afgesluit met die oproep op Israel om opreg en getrou aan God te wees, “...sodat al die volke van die aarde kan weet dat die HERE God is, [en] niemand meer nie.”(Vers 60) DVvPEk 43.2
Iemand groter as Salomo het die tempel ontwerp; God se wysheid en Sy heerlikheid word daarin geopenbaar. Diegene wat onbekend met hierdie feit was, het natuurlik vir Salomo as die argitek en bouer bewonder en aan hom die lof gegee, maar die koning het al die eer vir die ontwerp en oprigting daarvan ontken. DVvPEk 43.3
So was dit ook toe die Koningin van Skeba vir Salomo besoek het. Nadat sy gehoor het van sy wysheid en die manjifieke tempel wat hy gebou het, was sy vasbeslote “...om hom met raaisels op die proef te stel...” en self sy beroemde werke te sien. Vergesel van ‘n groot gevolg van dienaars en kamele gelaai met “...speserye en ‘n menigte goud en edelgesteentes...”, het sy die lang reis na Jerusalem aangepak. “Toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was.” Sy het met hom gepraat oor die raaisels van die natuur en Salomo het haar oor die God van die natuur, die Groot Skepper wat in die hoogste hemel woon en oor alles regeer geleer. “En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie.” (1 Kon 10:1-3;2 Kron 9:1,2) DVvPEk 43.4
“Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het ... was daar in haar geen gees meer nie.” “Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor.” (2 Kon 10:4¬8; 2 Kron 9:3-6) DVvPEk 44.1
Teen die einde van haar besoek was die koningin so goed deur Salomo oor die Bron van sy wysheid en voorspoed ingelig dat sy genoodsaak was om nie die mens op te hemel nie, maar om uit te roep: “Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op die troon van Israel te laat sit! Omdat die HERE Israel vir ewig liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te doen.” (1 Kon 10:9) Dit was die indruk wat God beplan het, op alle mense gemaak moes word. En wanneer “...al die konings van die aarde ... die aangesig van Salomo gesoek [het] om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het...”(2 Kron 9:23), het Salomo God vir ‘n tyd lank vereer deur hulle te wys na die Skepper van die hemel en die aarde, die Regeerder van die heelal, die Alwyse. DVvPEk 44.2
Indien Salomo volgehou het om met ‘n nederige gesindheid mense se aandag van homself na die Een wat aan hom wysheid, rykdom en eer gegee het te skuif, watter geskiedenis sou syne nie gewees het nie! Maar terwyl die pen van inspirasie sy deugde opteken, getuig dit ook getrou van sy ondergang. Verhef tot die hoogtepunt van grootheid en omring met die gawes van voorspoed, het Salomo duiselig geraak, sy balans verloor en geval. Onder die voortdurende lof van die mense van die wêreld was Salomo uiteindelik nie meer in staat om die vleitaal te weerstaan nie. Die wysheid aan hom toevertrou, om die Gewer mee te vereer, het hom met trots gevul. Hy het uiteindelik toegelaat dat mense van hom praat as een wat die mees waardigste is om lof te ontvang vir die ongeëwenaarde prag van die gebou wat beplan en opgerig is tot eer van en “...vir die naam van die HERE, die God van Israel.” [1 Kon 8:17] DVvPEk 44.3
Gevolglik het Jehova se tempel by al die nasies bekend geword as “Salomo se tempel”. Die menslike agent het die eer wat die Allerhoogste toekom, vir homself toegeëien. Tot vandag toe nog word verwys na die tempel, waarvan Salomo self verklaar het “...dat U Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het...” (2 Kron 6:33), nie as die tempel van Jehova nie, maar wel as die tempel van Salomo. DVvPEk 45.1
'n Mens kan nie groter swakheid openbaar as om vir homself die eer vir gawes wat van Omhoog aan hom geskenk is, toe te eien nie. Die ware Christen sal God die eerste en laaste en beste in alles stel. Geen ambisieuse motiewe sal sy liefde vir God demp nie; hy sal onophoudelik en volhardend toesien dat alle eer op sy hemelse Vader terugval. Dit is wanneer ons getrou is om God se naam te verheerlik, dat ons impulse onder hemelse toesig is en ons in staat gestel word om geestelike en intellektuele krag te ontwikkel. DVvPEk 45.2
Jesus, die Goddelike Leermeester, het immer die naam van Sy hemelse Vader verhoog. Hy het Sy dissipels geleer bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word.” (Matt 6:9) en hulle moes nie vergeet om te erken dat: “Aan U behoort ... die heerlikheid...” nie. (Vers 13) Die groot Geneesheer was so versigtig om toe te sien dat die aandag nie op Homself gevestig word nie, maar wel op die Bron van Sy krag, dat die verwonderde skare “...verbaas was om te sien dat stommes praat, gebreklikes gesond word, kreupeles loop en blindes sien”, dat hulle nie vir Jesus geprys het nie, maar “...die God van Israel verheerlik...” het. (Matt 15:31) In daardie wonderlike gebed wat Jesus net voor sy kruisiging gebid het, het Hy verklaar: “Ek het U verheerlik op die aarde.” “Verheerlik U Seun...” het Hy gepleit, “...sodat U seun U ook kan verheerlik.” “Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken en hulle hier het erken dat U My gestuur het. En Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees en Ek in hulle.” (Joh 17:1,4,25,26) DVvPEk 45.3
“So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.”(Jer 9:23,24) DVvPEk 46.1
“Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied
en Hom groot maak met danksegging.”
“U is waardig, o HERE, om te ontvang
die heerlikheid en die eer en die krag.”
” HERE, my God, ek wil U loof met my hele hart
en u Naam vir ewig eer.”
“Maak die HERE saam met my groot,
en laat ons saam Sy Naam verhef.”
DVvPEk 46.2
(Ps 69:31;Op 4:11; Ps 86:12; 34:4)
Die instelling van beginsels wat weglei van ‘n gees van opoffering en na selfverheffing neig, het gepaard gegaan met nog ‘n growwe verdraaiing van die Goddelike plan vir Israel. God het bestem dat Sy volk die lig van die wêreld moes wees. Uit hulle moes die heerlikheid van Sy wet, wanneer dit in die lewenspraktyk geopenbaar word, skyn. Vir hierdie doel het God gesorg dat die uitverkore volk ‘n strategiese posisie tussen die nasies van die wêreld inneem. DVvPEk 46.3
In Salomo se tyd het die koninkryk van Israel gestrek vanaf Hamat in die noorde tot by Egipte aan die suide en van die Middellandse see tot by die Eufraat-rivier. Hierdie gebied is deurkruis met etlike natuurlike hoofweë van die wêreldhandel en karavane uit vêrafgeleë lande het voortdurend heen en weer gereis. Sodoende is aan Salomo en sy volk die geleentheid gebied om vir mense van alle nasies die ware karakter van die Koning van alle konings te openbaar en hulle te leer om Hom te eerbiedig en te gehoorsaam. Hierdie kennis moes aan die hele wêreld deurgegee word. Deur middel van die offerstelsel moes Christus voor die nasies verhoog word sodat almal wat wou, mag lewe. DVvPEk 47.1
Geplaas aan die hoof van ‘n nasie wat as ligbaken vir die omliggende nasies moes dien, moes Salomo eintlik sy Godgegewe wysheid en sy kragtige invloed gebruik om aan hierdie groot beweging rigting te verleen en hulle te organiseer om lig te verleen aan diegene wat onkundig oor God en sy waarheid was. Sodoende sou menigtes oorgehaal gewees het tot trou aan hierdie Goddelike voorskrifte, Israel sou beskut gewees het teen die bose praktyke van die heidene en die HERE sou grootliks vereer gewees het. Maar Salomo het hierdie verhewe doel uit die oog verloor. Hy het nagelaat om gebruik te maak van sy uitmuntende geleenthede om lig aan diegene te skenk wat voortdurend deur sy gebied gereis het, of wat in die hoofstede vertoef het. DVvPEk 47.2
Die sending-gesindheid wat God in die harte van Salomo en alle opregte Israeliete geplant het, is vervang deur ‘n gees van kommersialisme. Die geleenthede wat hulle voorgedoen het deur kontak met baie nasies, is vir persoonlike verheerliking aangewend. Salomo het gepoog om sy politieke posisie, deur versterkte stede op die handelsroetes te bou, te verstewig. Hy het Geser naby Joppe, wat op die roete tussen Egipte en Sirië lê, herbou; Bet-Horon, wes van Jerusalem wat op die roete in die hart van Juda na Geser en die seestrand lei; Megiddo, geleë op die karavaanroete tussen Damaskus en Egipte en noordwaarts vanaf Jerusalem; en dan ook by “...Tadmor in die woestyn...” (2 Kron 8:4) langs die karavaanroete uit die ooste. Al hierdie stede is deeglik versterk. Die handelsvoordele van ‘n uitlaatpunt aan die bopunt van die Rooisee, is ontwikkel deur die bou van skepe “...in Éseon-Geber wat by Elot aan die kus van die Skelfsee in die land Edom lê.” Opgeleide seemanne uit Tirus “...het saam met Salomo se dienaars in Ofir aangekom...” om “...goud [te] gaan haal.” “Maar ook die skepe van Hiram wat goud uit Ofir gaan haal het ... [het] ‘n groot menigte sandelhout en edelgesteentes gebring.” (2 Kron 8:18; 1 Kon 9:26,28;10:11) DVvPEk 47.3
Die inkomste van die koning en baie van sy onderdane het sterk toegeneem, maar teen watter prys! Deur die hebsug en kortsigtigheid van diegene aan wie die godspraak van God toevertrou is, het ontelbare menigtes wat van al hierdie roetes gebruik gemaak het, onkundig oor Jehova gebly. DVvPEk 48.1
Christus se wandel op hierdie aarde was in skrille kontras met dié van Salomo. Die Verlosser, wat oor alle mag beskik het, het nooit hierdie krag vir selfverheerliking gebruik nie. Geen droom van aardse oorwinning of wêreldse grootheid het die volmaaktheid van Sy diensbaarheid aan die mensdom geskend nie. “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.” (Matt 8: 20) Diegene wat ag gee op die oproep om tot die Meester-werker se diens toe te tree, kan gerus Sy metodes bestudeer. Hy het gebruik gemaak van die geleenthede wat die hoofweë gebied het. DVvPEk 48.2
In die tussenposes van Sy heen-en-weer reise, het Jesus in Kapernaum vertoef, wat as “...Sy eie stad...” bekend geword het. (Matt 9:1) Geleë op die hoofweg wat strek vanaf Damaskus tot by Jerusalem en Egipte en tot by die Middellandse see, was dit goed aangepas om die middelpunt vir die Verlosser se werk te wees. Mense uit talle lande het deur die stad gereis of daar getalm om te rus. Hier het Jesus mense van allerlei nasies en uit alle stande ontmoet en aldus is Sy lesse na ander lande en na baie huishoudings uitgedra. Op hierdie wyse is belangstelling in die profesieë wat na die Messias wys, aangewakker en die aandag is na die Verlosser gelei en Sy missie is aan die wêreld voorgelê. DVvPEk 48.3
Tans in ons dag, is die geleenthede om kontak met manne en vroue uit alle stande en nasionaliteite te maak, veel groter as in die dae van Israel. Reis moontlikhede het duisendmaal vermeerder. DVvPEk 49.1
Soos Christus, behoort die boodskappers van die Almagtige vandag hulle posisies in die gewilde deurgange op te neem, waar hulle met verbygaande menigtes uit alle dele van die wêreld kan ontmoet. Soos Hy, wat Homself in God verberg het, moet hulle die saad van die evangelie versprei en die kosbare waarhede van die Heilige Skrifte aan andere voorlê, wat dan in die hart en verstand sal wortel skiet en ontkiem tot die ewige lewe. DVvPEk 49.2
Die plegtige lesse uit Israel se mislukking, toe hulle heerser en sy mense hul rug op die verhewe doel wat hulle moes vervul gekeer het, is ernstig. Waar hulle destyds swak was, tot so ‘n mate dat hulle eintlik gefaal het, moet vandag se Israel, die huidige verteenwoordigers van die hemel wat die ware kerk van Christus uitmaak, sterk staan; want op hulle skouers rus die taak om die werk wat aan die mens opgedra is te voltooi en die dag van finale beloning in te lei. Dieselfde invloede wat oor Israel geheers het in die tyd toe Salomo regeer het, sal nog steeds teëgekom word. Die magte van die vyand van alle geregtigheid is sterk verskans; slegs met God se krag kan die oorwinning behaal word. Die stryd voor ons vra vir ‘n gees van selfverloëning, wantroue van self en afhanklikheid van God alleen; vir die wyse benutting van elke geleentheid om siele te red. Die HERE se seën sal Sy kerk begelei, waar hulle as verenigde front voortgaan om aan ‘n wêreld wat in die duister van dwaling verkeer, die sieraad van heiligheid te openbaar, soos gemanifesteer in ‘n gees van Christelike selfverloëning, in opheffing van die Goddelike in plaas van die menslike en deur liefdevolle en onvermoeide diens aan diegene wat so ‘n groot behoefte aan die seëninge van die evangelie het. DVvPEk 49.3