Die Verhaal Van Profete en Konings

64/69

Hoofstuk 56—Onderrig in God se Wet *

Dit was die tyd van die Fees van Trompette. Baie het in Jerusalem byeengekom. Dit was ‘n toneel van droefgeestige belangstelling. Die muur van Jerusalem was herbou en sy poorte opgerig, maar ‘n groot deel van die stad was nog in puin. DVvPEk 520.1

Op ‘n houtplatform wat in een van die breedste strate opgerig was en omring met die hartseer herinnering aan Juda se vervloë glorie, het Esra, nou ‘n bejaarde man, gestaan. Aan sy regter- en linkerkant was sy broers, die mede-Leviete. Vanaf die platform het hulle oë oor die see van koppe gegaan. Die kinders van die verbond het vanuit die hele omliggende land bymekaargekom. “En Esra het die HERE, die grote God, geloof en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! ... en hulle het hul gebuig en die HERE aanbid met die aangesig na die aarde toe.” DVvPEk 520.2

Maar selfs hier was sigbare tekens van die sonde van Israel. Deur die ondertrouery van die volk met ander nasies, het die Hebreeuse taal korrup geword en groot sorg moes deur die sprekers aan die dag gelê word om die wet in die taal van die volk uit te lê op ‘n wyse waarop dit deur almal verstaan kon word. Sommige van die priesters en Leviete het saam met Esra gewerk om die beginsels van die wet te verduidelik. “En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is.” DVvPEk 520.3

“En die ore van die hele volk was op die wetboek gerig.” Hulle het aandagtig en met eerbied geluister na die woorde van die Allerhoogste. Soos die wet aan hulle verduidelik is, is hulle van hul skuld oortuig en het berou oor hul oortredings gehad. Maar hierdie was ‘n feesdag, ‘n dag van vreugde, ‘n heilige samekoms, ‘n dag wat die HERE die volk beveel het met vreugde en blydskap gevier moet word; en met die oog hierop, is hulle gebied om hul hartseer te beteuel en hulle te verbly oor God se groot genade teenoor hulle. “Hierdie dag is heilig aan die HERE julle God...” het Nehemia gesê, “...treur nie en ween nie! ... Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting.” DVvPEk 520.4

Die eerste gedeelte van die dag was aan godsdienstige oefeninge gewy en die volk het die res van die dag deurgebring deur die seëninge van God met dankbaarheid te herdenk en die oorvloed wat Hy voorsien het te geniet. Porsies is ook aan die behoeftiges, wat niks gehad het om voor te berei nie, gestuur. DVvPEk 521.1

Daar het groot vreugde geheers omdat die woorde van die wet voorgelees en verstaan is. Die daaropvolgende dag is die voorlesing en verduideliking van die wet voortgesit. En op die vasgestelde tyd — op die tiende dag van die sewende maand — is die plegtige dienste 665 van die Versoendag volgens die bevel van God uitgevoer. DVvPEk 521.2

Vanaf die vyftiende tot die twee-en-twintigste van dieselfde maand het die volk en die owerstes weer die huttefees gevier. Dit is verkondig “...deur al hulle stede en in Jerusalem om te sê: Trek uit op die gebergte en bring olyftakke en oliewenhout takke en mirte takke en palmtakke en takke van digte bome om hutte te maak soos geskrywe is. En die volk het uitgetrek en dit gebring en vir hulle hutte gemaak, elkeen op sy dak en op hulle erwe en in die voorhowe van die huis van God ... En daar was baie groot blydskap. En hy het dag vir dag, van die eerste dag af tot die laaste dag toe, voorgelees uit die wetboek van God.” DVvPEk 521.3

Terwyl hulle dag na dag na die woorde van die wet geluister het, is die volk van hul eie oortredings oortuig, asook die sondes van hul voorgeslagte. Hulle het ingesien dat dit as gevolg van hul wegdwaal van God was dat Sy beskermende sorg onttrek is en dat die kinders van Abraham in vreemde lande verstrooi was en hulle het besluit om na Sy genade te soek en belowe om in Sy gebooie te wandel. Maar voordat hulle met hierdie plegtige diens begin het, wat op die tweede dag na afloop van die huttefees gehou is, het hulle hul van die heidene onder hulle afgesonder. DVvPEk 521.4

Terwyl die volk hulself voor die HERE neergebuig het, hul sondes bely en om vergifnis gepleit het, het hulle leiers hulle aangemoedig om te glo dat God, soos Hy belowe het, hulle gebede verhoor het. Hulle moes nie slegs treur en ween en berou betoon nie, maar hulle moes ook glo dat God hulle begenadig het. Hulle moes hul geloof toon deur van Sy genade te vertel en Hom vir Sy goedheid te loof: “Staan op, loof die HERE julle God van ewigheid tot in ewigheid!” DVvPEk 522.1

En toe het daar van die vergaderde menigte, met uitgestrekte hande, die lied opgestyg: DVvPEk 522.2

“En laat hulle U heerlike Naam loof
Wat bo alle lof en prys verhewe is!
U is alleen die HERE,
U het die hemel, die hoogste hemel
en al sy leërskare, gemaak,
Die aarde en alles wat daarop is,
Die seë en alles wat daarin is,
En U hou dit alles in die lewe,
En die leër van die hemel buig hulle voor U neer.”
DVvPEk 522.3

Na afloop van die lied, het die leiers van die gemeente die geskiedenis van Israel herhaal en gewys hoe groot God se guns teenoor hulle was en hoe groot hul ondankbaarheid daarenteen was. Toe het die hele gemeente ‘n verbond gesluit om al die gebooie van God te onderhou. Hulle het onder die straf van hul sondes gely; en nou het hulle die regverdigheid van God se handelinge met hulle erken en hulself verbind om Sy wet te gehoorsaam. En sodat dit “...'n vaste verbond...” en in permanente vorm bewaar kon word, as ‘n gedenkteken van die verpligting waaronder hulle hulself geplaas het, is dit skriftelik opgeteken en die priesters, Leviete en vorste het dit onderteken. Dit moes dien as ‘n herinnering aan hulle plig en ‘n skans teen versoeking. Die volk het ‘n plegtige eed afgelê om “...te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is en om te hou en te doen al die gebooie van die HERE onse HERE en sy verordeninge en sy insettinge.” Die eed wat op hierdie stadium afgelê is, het ‘n belofte ingesluit om nie met die mense van die land te ondertrou nie. DVvPEk 522.4

Voordat die vastyd beëindig is, het die volk hul voorneme om na die HERE terug te keer verder geopenbaar deur te beloof om op te hou om die Sabbat te ontheilig. Nehemia het op hierdie stadium, soos ook op ‘n latere tydstip, sy gesag uitgeoefen om te voorkom dat heidense handelaars nie na Jerusalem kom nie; maar in ‘n poging om die volk te verhoed om aan versoeking toe te gee, het hy hulle met ‘n plegtige eed daartoe verbind om nie die Sabbatwet te oortree deur van hierdie handelaars te koop nie, in die hoop dat dit die handelaars sou ontmoedig en ‘n einde aan hierdie verkeer sou maak. DVvPEk 523.1

Daar is ook voorsiening gemaak om die openbare aanbidding van God te ondersteun. Benewens die tiende, het die vergadering belowe om jaarliks ‘n spesifieke bydrae vir die diens van die heiligdom te maak. “Die volk het die lot gewerp ... om die eerstelinge van ons grond en die eerstelinge van allerhande vrugtebome jaar vir jaar in die huis van die HERE te bring; en om die eersgeborenes van ons seuns en ons vee, soos geskrywe staan in die wet en die eersgeborenes van ons grootvee en ons kleinvee te bring.” DVvPEk 523.2

Israel het met diepe berou oor hul afvalligheid na God teruggekeer. Hulle het met droefheid en weeklaag belydenis gedoen. Hulle het die regverdigheid van God se optrede teenoor hulle erken en hulle verbind tot gehoorsaamheid aan Sy wet. Nou moes hulle geloof in Sy beloftes manifesteer. God het hulle bekering aanvaar; hulle moes hulle nou verbly in die versekering dat hulle sondes vergewe is en hul herstel tot Goddelike guns. DVvPEk 523.3

Nehemia se pogings om die aanbidding van die ware God in ere te herstel, is met sukses bekroon. So lank as wat die volk getrou was aan die eed wat hulle afgelê het, so lank hulle gehoorsaam was aan God se woord, só lank sou Hy Sy belofte nakom deur ‘n ryke seën oor hulle uit te stort. DVvPEk 524.1

Vir diegene wat van hulle sonde oortuig is en onder ‘n gevoel van onwaardigheid gebuk gaan, is daar lesse van geloof en bemoediging in hierdie verslag. Die Bybel weergee getrou die gevolge van Israel se afvalligheid; maar dit beeld ook die diepe vernedering en berou, die ernstige toewyding en vrygewige offergawes wat gepaard gegaan het met die kere wanneer hulle na die HERE teruggekeer het uit. DVvPEk 524.2

Elke ware terugdraai na die HERE bring blywende vreugde in die lewe. Wanneer ‘n sondaar toegee aan die invloed van die Heilige Gees, sien hy sy eie skuld en besoedeling in teenstelling met die heiligheid van die groot Ondersoeker van harte. Hy sien homself as ‘n veroordeelde oortreder. Maar hy moet nie, as gevolg hiervan, homself aan wanhoop oorgee nie; want sy kwytskelding is reeds verseker. Hy kan hom verheug in die wete dat sy sondes deur die liefde van ‘n vergewende hemelse Vader vergewe is. Dit is God se glorie, om berouvolle mense met Sy arms van liefde te omvou, om hul wonde te verbind, om hulle van hul sonde te reinig en hulle te beklee met ‘n kleed van verlossing. DVvPEk 524.3