Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 57— Hervorming *
Die volk van Juda het plegtig en in die openbaar belowe om die wet van God te gehoorsaam. Maar toe die invloed van Esra en Nehemia vir ‘n tyd lank onttrek was, was daar baie wat die HERE verlaat het. Nehemia het tydelik na Persië teruggekeer. Tydens sy afwesigheid in Jerusalem, het daar euwels ingesluip wat gedreig het om die nasie te mislei. Afgodedienaars het nie alleen vastrapplek in die stad gekry nie, maar het ook die tempel, slegs deur hul teenwoordigheid, besoedel. Deur ondertrouery, het ‘n vriendskap tussen Eljasib, die hoëpriester en Tobia, die Ammoniet, Israel se geswore vyand, ontstaan. As gevolg van hierdie onheilige verbintenis, het Eljasib vir Tobia toegelaat om ‘n kamer van die tempel te betrek, ‘n vertrek wat tot nog toe as ‘n stoorplek vir die tiendes en offergawes van die volk gedien het. DVvPEk 525.1
As gevolg van die wreedheid en verraad van die Ammoniete en Moabiete teenoor Israel, het God deur Moses verklaar dat hulle vir ewig uit die vergadering van sy volk uitgesluit moet word. (Sien Deuteronomium 23:3-6). In weerwil van hierdie woord, het die hoëpriester die offergawes wat in die kamer van God se huis gestoor was, uitgegooi om plek te maak vir hierdie verteenwoordiger van ‘n verbode ras. Groter minagting vir God kon nie getoon word as om hierdie guns aan die vyand van God en sy waarheid te verleen nie. DVvPEk 525.2
Met sy terugkeer uit Persië het Nehemia van hierdie blatante ontheiliging verneem en onmiddellike maatreëls ingestel het om die indringer te verdryf. “En ek was erg ontstemd...” het hy verklaar, “...sodat ek al die huisraad van Tobía uit die kamer buitentoe gegooi het, met die bevel dat hulle die kamers moes reinig; en ek het die gereedskappe van die huis van God, die spysoffer en die wierook daarin teruggebring.” (Neh 13:8, 9). DVvPEk 525.3
Nie alleen was die tempel ontheilig nie, maar die offergawes was misbruik. Dit het daartoe gelei dat die vrygewigheid van die volk ontmoedig is. Hulle het hul ywer en geesdrif verloor en was huiwerig om hul tiendes te betaal. Die skatte van die huis van die HERE was swak voorsien; baie van die sangers en ander wat in diens van die tempel was en wat nie voldoende ondersteuning ontvang het nie, het die werk van God verlaat om elders te werk. DVvPEk 526.1
Nehemia het begin werk om hierdie misbruike reg te stel. Hy het almal wat die diens van die huis van die HERE verlaat het, versamel “...en hulle weer op hulle pos aangestel.” Dit het vertroue by die volk ingeboesem “...en die hele Juda het die tiendes van koring en mos en olie na die voorraadkamers gebring.” Manne wat as betroubaar geag is, was as “skatmeesters aangestel ... en hulle moes aan hulle broers uitdeel.” DVvPEk 526.2
'n Verdere gevolg van gemeenskap met afgodedienaars, was die miskenning van die Sabbat, die teken wat die Israeliete van al die ander nasies as aanbidders van die ware God onderskei het. Nehemia het bevind dat heidense handelaars en smouse uit die omliggende land wat na Jerusalem gekom het, baie van die Israeliete aangespoor het om op die Sabbat handel dryf. Daar was sommige wat nie oorreed kon word om hul beginsels prys te gee nie, maar ander het oortree en saam met die heidene gewerk om die gewetensbesware van die meer pligsgetroues te weerlê. Baie het openlik gewaag om die Sabbat te oortree. “In dié dae...” skryf Nehemia, “...het ek in Juda mense gesien wat op die Sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed en dit op die Sabbatdag in Jerusalem inbring... Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die Sabbat aan die kinders van Juda selfs in Jerusalem verkoop.” DVvPEk 526.3
Hierdie stand van sake sou moontlik voorkom gewees het indien die leiers hul gesag uitgeoefen het; maar ‘n begeerte om hul eie belange te bevorder, het hulle daartoe gelei om die goddelose te bevoordeel. Nehemia het hulle vreesloos oor hul pligsversuim tereggewys. “Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die Sabbatdag ontheilig?” het hy streng gevra. “Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die Sabbat te ontheilig!” Toe beveel hy dat “...sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die Sabbat donker was ... die deure gesluit moes word; en ... dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die Sabbat nie...” En aangesien hy meer vertroue in sy eie dienaars gehad het as die wat die deur die leiers van Jerusalem aangestel sou word, het hy hulle as poortwagters aangestel om toe te sien dat sy bevele uitgevoer word. DVvPEk 527.1
Geensins geneig om van hul voorneme af te sien nie, het “...die koopmans en handelaars in allerhande koopware ‘n paar keer buitekant Jerusalem vernag...” in die hoop vir ‘n geleentheid om met die burgers of inwoners van die platteland handel te dryf. Nehemia het hulle gewaarsku dat hulle gestraf sou word indien hulle met hierdie praktyk sou volhou. “Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die Sabbat gekom nie.” Hy het ook aan die Leviete opdrag gegee om die poorte te bewaak, wetende dat hulle groter respek as die gewone mens sou afdwing, terwyl, as gevolg van hulle noue verband met die diens van God, dit redelik sou wees om te verwag dat hulle ywerig sou wees om gehoorsaamheid aan Sy wet af te dwing. DVvPEk 527.2
En toe het Nehemia sy aandag op die gevaar wat Israel weereens bedreig het as gevolg van hulle ondertrouery en gemeenskap met afgodedienaars gevestig. Hy skryf: “In dié dae het ek ook Jode gesien wat Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het. En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie.” DVvPEk 527.3
Hierdie onwettige alliansies het groot verwarring in Israel veroorsaak; want sommige wat dit aangegaan het, was invloedryke manne, leiers na wie die volk die reg gehad het om op te sien vir raad en ‘n veilige voorbeeld. Nehemia het die ondergang van die nasie voorsien indien hierdie euwel sou voortduur en het ernstig met die oortreders geredeneer. Hy het hulle verwys na die geval van Salomo en hulle daaraan herinner dat onder al die nasies daar geen koning verrys het soos hierdie man aan wie God groot wysheid geskenk het nie; maar desnieteenstaande het afgodiese vroue sy hart van God afgewend en sy voorbeeld het Israel gekorrupteer: “Moet ons nou van julle hoor...” het Nehemia streng gevra, “...dat julle al hierdie groot kwaad doen?” “Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie!” DVvPEk 528.1
Soos wat Hy God se opdragte en dreigemente en die skrikwekkende oordele wat Israel in die verlede weens hierdie einste sonde besoek het aan hulle voorgelê het, is hulle gewete aangewakker en ‘n werk van hervorming het begin wat God se dreigende toorn afgeweer en Sy goedkeuring en seëninge meegebring het. DVvPEk 528.2
Daar was sommige in die heilige amp wat vir hul heidense vroue gepleit en verklaar het dat hulle hulself nie van hulle kon skei nie. Maar geen onderskeid is getref nie; geen agting is vir rang of posisie getoon nie. Wie onder die priesters of leiers geweier het om hul verbintenis met afgodedienaars te verbreek, is summier uit die diens van die HERE gesit. ‘n Kleinseun van die hoëpriester, wat met ‘n dogter van die berugte Sanballat getroud was, is nie alleenlik uit sy amp onthef nie, maar onmiddellik uit Israel verban. “Dink aan hulle my God...” het Nehemia gebid, “...oor die bevlekking van die priesterskap en van die verbond met die priesterskap en met die Leviete.” DVvPEk 528.3
Hoeveel sielefoltering hierdie noodsaaklike strengheid die getroue werker van God gekos het, sal alleenlik in die oordeel geopenbaar word. Daar was ‘n voortdurende stryd met opponerende elemente en slegs deur vas, verootmoediging en gebed is vordering gemaak. DVvPEk 529.1
Baie wat met afgodedienaars getrou het, het verkies om saam met hulle in ballingskap te gaan en het saam met diegene wat uit die gemeente verban was, by die Samaritane aangesluit. Sommiges wat hoë posisies in die werk van God beklee het, het hulle weg gevind en hulle lot ten volle by hulle ingewerp. Begerig om hierdie alliansie te versterk, het die Samaritane beloof om die Joodse geloof en gebruike volkome aan te neem en die afvalliges, vasbeslote om hul voormalige broers te oortref, het ‘n tempel op die berg Gerisim, in opposisie met God se huis in Jerusalem, opgerig. Hulle godsdiens was steeds ‘n vermenging van Judaïsme en heidenisme en hulle aanspraak dat hulle die volk van God was, was die bron van skeuring, wedywering en vyandskap tussen die twee nasies, van geslag tot geslag. DVvPEk 529.2
In die hervormingswerk wat tans voortgesit moet word, word daar mense benodig wat, soos Esra en Nehemia, sonde nie sal verontskuldig of verskoon nie en ook nie sal terugdeins om die eer van God te verdedig nie. Diegene op wie die las van hierdie werk rus, sal nie stilbly as daar verkeerd opgetree word nie en hulle sal ook nie die kwaad met ‘n kleed van valse liefde bedek nie. Hulle sal onthou dat God geen aannemer van die persoon is nie en dat strengheid teenoor ‘n paar mense, genade vir baie tot gevolg mag hê. Hulle sal ook in gedagte hou dat in die een wat kwaad bestraf, die gees van Christus ewig openbaar sal word. DVvPEk 529.3
In hul werk het Esra en Nehemia hulleself voor God verootmoedig en hul sondes en die sondes van hul volk bely en om vergifnis gepleit asof hulle self die oortreders was. Geduldig het hulle geworstel, gebid en gely. Dit wat hulle werk bemoeilik het, was nie die openlike vyandigheid van die heidene nie, maar die geheime teëstand van sogenaamde vriende wat, deur hul invloed in diens van die bose te laat geld, die las van God se knegte tienvoudig vererger het. Hierdie verraaiers het die HERE se vyande van ammunisie voorsien om in hul stryd teen Sy volk te gebruik. Hulle bose passies en wederstrewige wil was voortdurend in stryd met die duidelike vereistes van God. DVvPEk 530.1
Die sukses van Nehemia se pogings toon wat deur gebed, geloof en wyse, energieke optrede bereik kan word. Nehemia was nie ‘n priester nie; hy was nie ‘n profeet nie; hy het geen aanspraak op ‘n hoë titel gemaak nie. Hy was ‘n hervormer wat vir ‘n belangrike tyd opgevoed is. Dit was sy doel om sy volk by God reg te stel. Geïnspireer met ‘n verhewe doel, het hy die energie van sy hele wese aangewend vir die uitvoering daarvan. Hoë, onwrikbare integriteit het sy pogings gekenmerk. Toe hy in kontak met die bose gekom het en opposisie teen wat reg was, het hy met sulke vasberadenheid standpunt ingeneem dat die volk met vars ywer en moed aangespoor is om te arbei. Hulle kon nie anders as om sy lojaliteit, patriotisme en sy innige liefde vir God te erken nie; en toe hulle dit sien, was hulle bereid om te volg waar hy gelei het. DVvPEk 530.2
Die werksaamhede in ‘n God-aangestelde plig, is ‘n belangrike deel van die ware godsdiens. Mense, as God se instrument, moet die geleenthede aangryp waardeur Hy Sy wil kan uitvoer. Vinnige en besliste optrede op die regte tyd sal glorieryke triomf behaal, terwyl vertraging en verwaarlosing tot mislukking en oneer aan God sal lei. As die leiers in die saak van waarheid geen ywer aan die dag lê nie en as hulle onverskillig en doelloos is, sal die kerk onverskillig, laks en lief vir plesier wees; maar gevul met ‘n heilige voorneme om God en Hom alleen te dien, sal die volk verenig, hoopvol en met ywer geïnspireer wees. DVvPEk 530.3
Die woord van God is gevul met skerp en opvallende kontraste. Sonde en heiligheid word langs mekaar geplaas, sodat ons, deur dit te aanskou, die een kan vermy en die ander kan aanneem. Die bladsye wat die haat, valsheid en verraad van Sanballat en Tobia beskryf, beskryf ook die edelheid, toewyding en selfverloëning van Esra en Nehemia. Dit staan ons vry om enigeen van die twee volgens ons keuse na te boots. Die vreesagtige gevolge van oortreding van God se gebooie word teenoor die seëninge as gevolg van gehoorsaamheid gestel. Ons moet self besluit of ons onder die een gaan ly, of ons in die ander gaan verlustig. DVvPEk 531.1
Die herstel- en hervormingswerk wat deur die teruggekeerde ballinge, onder die leierskap van Serubbábel, Esra en Nehemia uitgevoer is, skep ‘n beeld van die werk vir geestelike herstel wat in die laaste dae van die aarde se geskiedenis sal moet plaasvind. Die oorblyfsel van Israel was ‘n swak volk, blootgestel aan die verwoesting van hul vyande; maar God se doel was om deur hulle ‘n kennis van Homself en sy wet op die aarde te bewaar. Hulle was die bewakers van ware aanbidding, die bewakers van die heilige godspraak. Hul ervarings tydens die herstel van die tempel en die heroprigting van die muur van Jerusalem was uiteenlopend; die teëstand wat hulle ervaar het was sterk. Die laste op die skouers van die leiers van hierdie werk was swaar, maar hierdie manne het met onwrikbare vertroue vorentoe gebeur en in nederigheid van gees en ‘n vaste vertroue op God, geglo dat Hy sal toesien dat Sy waarheid seëvier. Soos Koning Hiskia, het Nehemia “...die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en Sy gebooie onderhou ... En die HERE was met hom.” (2 Kon 18:6,7) DVvPEk 531.2
Die geestelike herstel, waarvan die werk wat in Nehemia se tyd uitgevoer is, ‘n simbool was, word in die woorde van Jesaja uiteengesit: “Hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak.” “En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie.” (Jes 61:4; 58:12) DVvPEk 531.3
Die profeet beskryf hier ‘n volk wat, in ‘n tyd van algemene afvalligheid van waarheid en geregtigheid, poog om die beginsels wat die grondslag van die koninkryk van is, te herstel. Hulle is die herstellers van die breuk wat in God se wet gemaak is — daardie muur wat Hy om sy uitverkorenes vir hul beskerming aangebring het, waarvan gehoorsaamheid aan hierdie voorskrifte van geregtigheid, waarheid en reinheid, hulle ewige beskerming is. DVvPEk 532.1
Met woorde van onmiskenbare betekenis, wys die profeet op die spesifieke werk van hierdie oorblyfsel volk wat die muur herstel: “As jy jou voet terughou van die Sabbat — om nie jou sake op my heilige dag te doen nie en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Jes 58:13,14) DVvPEk 532.2
Aan die einde van tyd moet elke Goddelike instelling reggestel word. Die verbreking van die wet, in die tyd toe die Sabbat deur die mens verander is, moet herstel word. God se oorblyfsel volk, wat voor die wêreld as hervormers staan, moet toon dat die wet van God die grondslag van elke blywende hervorming is en dat die Sabbat van die vierde gebod as ‘n gedenkteken van die skepping moet staan, ‘n voortdurende herinnering aan die mag van God. In helder, duidelike taal, moet aan hulle die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid aan al die voorskrifte van die dekaloog voorgelê word. Gedring deur die liefde van Christus, moet hulle met Hom saamwerk om die puinhope op te bou. Hulle moet ‘n “...herbouer van gebreekte mure, herstellers van paaie, om dit bewoonbaar te maak” wees. (Vers 12) DVvPEk 532.3