Die Verhaal Van Profete en Konings

63/69

Hoofstuk 55—Heidense Komplotte *

Sanballat en sy vertrouelinge het dit nie durf waag om openlik oorlog teen die Jode te voer nie; maar met toenemende kwaadwilligheid, het hulle voortgegaan met hul verskuilde pogings om hulle te ontmoedig, te verwar en te benadeel. Die mure rondom Jerusalem was vinnig besig om voltooiing te bereik. Sodra dit voltooi was en die poorte opgerig is, sou hierdie vyande van Israel nie kon hoop om die stad binne te dring nie. Hulle was des te meer gretig om die werk sonder verdere vertraging te staak. Uiteindelik het hulle ‘n plan beraam waarmee hulle gehoop het om Nehemia van sy pos weg te lok en terwyl hulle hom in hul mag gehad het, hom te dood of in die tronk te sit. DVvPEk 513.1

Onder die voorwendsel dat hulle ‘n kompromie tussen die opponerende partye verlang, het hulle samesprekings met Nehemia versoek en hom genooi om hulle in ‘n dorp op die vlakte van Ono te ontmoet. Maar deur die Heilige Gees ingelig oor hul eintlike doel, het hy geweier: “Toe stuur ek boodskappers na hulle...” het hy geskryf, “...om te sê: Ek doen ‘n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie. Waarom moet die werk ophou sodra ek dit verlaat om na julle af te kom?” Maar die verleiers was knaend. Vier keer het hulle ‘n soortgelyke boodskap gestuur en elke keer dieselfde antwoord gekry. DVvPEk 513.2

Nadat hulle bevind het dat hierdie skema onsuksesvol was, het hulle ‘n meer gewaagde strategie probeer. Sanballat het aan Nehemia ‘n boodskapper met ‘n ope brief gestuur wat lui: “Die gerug gaan rond onder die volke en Gasmu sê: Jy en die Jode is van plan om te rebelleer; daarom bou jy die muur en jy sal hulle koning word ... Ook het jy profete aangestel om van jou in Jerusalem uit te roep en te sê: Koning in Juda! En nou, sulke dinge sal deur die koning gehoor word; kom dan nou en laat ons saam beraadslaag!” DVvPEk 513.3

Indien hierdie genoemde gerugte werklik versprei was, sou daar rede tot kommer gewees het; want dit sou spoedig die koning se ore bereik het, wat op sy beurt met die strengste teenmaatreëls sou optree. Maar Nehemia was oortuig dat die brief van alle waarheid ontbloot was, geskryf om hom die skrik op die lyf te jaag en vir hom ‘n lokval te stel. Hierdie gevolgtrekking is deur die feit dat die brief ‘n ope brief was gestaaf, klaarblyklik sodat die mense die inhoud daarvan kon lees en bekommerd en geïntimideer sou raak. DVvPEk 514.1

Hy het onmiddellik geantwoord: “Daar het nie sulke dinge gebeur as dié waar jy van spreek nie, maar jy het dit self versin.” Nehemia was nie onkundig aangaande Satan se voorneme nie. Hy het geweet dat hierdie pogings aangewend was om die bouers se hande te verswak en sodoende hul pogings te frustreer. DVvPEk 514.2

Die Satan was oor en oor verslaan; en nou, met groter kwaadwilligheid en sluheid, het hy ‘n nog subtieler en gevaarliker strik vir die dienskneg van God gestel. Sanballat en sy makkers het manne gehuur wat beweer het dat hulle vriende van Nehemia was, om aan hom bose raad te gee, asof dit die woord van die HERE was. Die voorbok van hierdie ongeregtigheid, was Semaja, ‘n man wat voorheen deur Nehemia hoog geag was. Hierdie man het homself in ‘n kamer naby die heiligdom opgesluit, asof hy gevrees het dat sy lewe in gevaar was. Op daardie stadium was die tempel deur mure en hekke beskerm, maar die stadspoorte was nog nie opgerig nie. Deur voor te gee dat hy besorgd oor Nehemia se veiligheid was, het Semaja hom aangeraai om in die tempel skuiling te soek: “Laat ons saamkom in die huis van God...” het hy voorgestel, “...binne-in die tempel en laat ons die deure van die tempel toesluit; want hulle kom om u dood te maak, ja, hulle sal in die nag kom om u dood te maak.” DVvPEk 514.3

Indien Nehemia na hierdie bose raad geluister het, sou hy sy geloof in God versaak het en in die oë van die volk sou hy as ‘n lafaard en veragtelik voorgekom het. In die lig van die belangrike werk wat hy onderneem het en die vertroue wat hy in die krag van God bely het, sou dit heeltemal teenstrydig van hom gewees het om in vrees weg te kruip. Die alarm sou onder die volk versprei het, elkeen sou sy eie veiligheid opgesoek het en die stad sou onbeskermd gelaat gewees het om ‘n prooi in die hande van die vyand te wees. Daardie een onverstandige daad van Nehemia sou ‘n letterlike oorgawe gewees het van alles wat vermag is. DVvPEk 515.1

Dit het Nehemia nie lank geneem om die ware karakter en doel van sy raadgewer te deurpriem nie.: “Want ek het duidelik gemerk dat God hom nie gestuur het nie...” het hy gesê, “...maar dat hy die profesie oor my gespreek het, omdat Tobía en Sanbállat hom gehuur het. Daarvoor was hy gehuur, dat ek bang sou word en so sou maak en sonde doen, sodat dit hulle as slegte gerug kon dien om my smaadheid aan te doen.” DVvPEk 515.2

Hierdie berugte raad van Semaja is deur meer as een persoon van hoë aansien gerugsteun wat, hoewel hulle beweer het dat hulle Nehemia se vriende was, heimlik in ‘n sameswering met sy vyande was. Maar dit was tevergeefs dat hulle hul strik vir hom gestel het. Nehemia se vreeslose antwoord was: “Sal ‘n man soos ek vlug? En hoe durf een soos ek die tempel ingaan en in die lewe bly? Ek sal nie ingaan nie.” DVvPEk 515.3

Nieteenstaande die vyande se komplotte, openlik en in die geheim, het die bouwerk bestendig gevorder en in minder as twee maande vanaf die aankoms van Nehemia in Jerusalem, was die stad vir verdediging ommuur en kon die bouers op die mure loop en afkyk op hul verslane en verbaasde vyande. “En toe al ons vyande dit hoor...” het Nehemia geskryf, “...het al die nasies rondom ons bevrees geword en neerslagtig gevoel en hulle het erken dat hierdie werk deur onse God gedoen is.” DVvPEk 515.4

Maar selfs hierdie getuienis van die HERE se beherende hand was nie voldoende om ontevredenheid, rebellie en verraad onder die Israeliete te beperk nie: “Ook het in dié dae die edeles van Juda baie briewe geskrywe wat na Tobía gegaan het en dié van Tobía het na hulle gekom. Want baie in Juda was deur ‘n eed aan hom verbonde, omdat hy die skoonseun was van Segánja.” Hier word die bose gevolge van ondertrouery met afgodedienaars gesien. Die familie van Juda was aan die vyande van God gebonde en hierdie verhouding was vir hulle ‘n strik. Baie ander het dieselfde gedoen. Hierdie mense, net soos die gemengde menige wat uit Egipte saam met Israel opgekom het, was ‘n voortdurende bron van moeilikheid. Hulle was nie heelhartig in Sy diens nie; en wanneer God se werk ‘n offer geëis het, was hulle oorgehaal om hul plegtige eed van samewerking en ondersteuning te verbreek. DVvPEk 516.1

Sommige wat aan die voortou van die bose komplotte teen die Jode was, het nou beweer dat hulle begeer het om op ‘n vriendskaplike basis met hulle te verkeer. Die adel uit Juda wat in afgodiese huwelike verstrik geraak het en wat verraderlike korrespondensie met Tobia gewissel het en ‘n eed geneem het om hom te dien, het hom nou as ‘n man met bekwaamheid en versiendheid voorgehou, met wie ‘n bondgenootskap groot voordele vir die Jode sou inhou. Terselfdertyd het hulle Nehemia se planne en bewegings aan hom verraai. So is die werk van God se volk vir die aanvalle van hul vyande blootgelê en is geleentheid geskep om Nehemia se woorde en dade verkeerd te vertolk en sy werk te belemmer. DVvPEk 516.2

Toe die armes en onderdruktes ‘n beroep op Nehemia gedoen het om hul onreg reg te stel, het hy blatant tot hul verdediging ingetree en gesorg dat die oortreders die smaad wat op hulle gerus het van hulle wegneem. Maar die gesag wat hy ten bate van sy vertrapte landgenote uitgeoefen het, het hy nie op homself toegepas nie. Sommige mense het sy pogings met ondankbaarheid en verraad beantwoord, maar hy het nie sy gesag gebruik om die verraaiers straf op te lê nie. Kalm en onselfsugtig het hy voortgegaan met sy diens aan die volk, sonder om sy pogings of belangstelling te verslap. DVvPEk 516.3

Satan se aanslae was nog altyd op diegene gemik wat gepoog het om die werk en saak van God te bevorder. Alhoewel hy dikwels oorwonne was, het hy sy aanvalle gereeld met hernude ywer geloods en van metodes gebruik gemaak, tot dusver onbeproef. Maar sy heimlike voorneme, om deur diegene te werk wat beweer dat hulle God se werk goedgesind is, wat die meeste gevrees moet word. Openlike teëstand kan fel en wreed wees, maar dit hou minder gevaar vir God se saak in, as die geheime vyandigheid van diegene wat, hoewel hulle bely dat hulle God dien, in hulle harte die knegte van Satan is. Hulle besit die mag om die voordeel in die hande van diegene, wat van hul kennis gebruik sal maak om die werk van God te belemmer en sy knegte kwaad aan te doen te plaas. DVvPEk 517.1

Elke hulpmiddel wat die vors van duisternis aan kan dink, sal aangewend word om God se knegte aan te spoor om ‘n bondgenootskap met die agente van Satan aan te gaan. Herhaalde versoeke sal aan hulle gerig word om hulle weg te keer van hul werk; maar soos Nehemia, moet hulle onwrikbaar antwoord: “Ek doen ‘n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie.” God se werkers kan met veiligheid voortgaan met hul take sodat dat hul pogings die leuens, wat deur kwaadwilligheid benut word om hulle skade aan te doen, kan weerlê. Soos die bouers op die mure van Jerusalem, moet hulle weier om deur dreigemente, bespotting of valshede van hul werk afgelei te word. Nie vir een oomblik moet hulle hul waaksaamheid laat verslap nie, want hul vyande is voortdurend op hul spoor. Hulle moet voortdurend tot God bid om “...om hulle ontwil ‘n wag teen hulle uitgesit, dag en nag.” (Neh 4:9). DVvPEk 517.2

Soos wat die tyd van die einde nader, sal Satan se versoekings met groter krag op God se werkers geloods word. Hy sal menslike agente gebruik om diegene wat “...die mure bou...” te bespot en te belaster. Maar sou die bouers afkom om die aanvalle van hul vyande af te weer, sal dit die werk vertraag. Hulle moet poog om die doelwitte van hul teëstanders te verslaan, maar hulle moet niks toelaat om hulle van hul werk weg te roep nie. Waarheid is sterker as dwaling en geregtigheid sal oor ongeregtigheid seëvier. DVvPEk 517.3

Hulle moet ook nie toelaat dat hul vyande hul vriendskap en simpatie wen en hulle sodoende van hul plig weglok nie. Hy wat deur enige onbewaakte daad die saak van God aan skade blootstel, of die hande van sy medewerkers verswak, bring oor sy eie karakter ‘n vlek wat nie maklik verwyder kan word nie en plaas ‘n ernstige struikelblok in die weg van sy toekomstige bruikbaarheid. DVvPEk 518.1

“Die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose.” (Spr 28:4). Wanneer diegene wat met die wêreld verenig, maar tog groot suiwerheid beweer, vir eenheid met diegene wat nog altyd die teëstanders van die saak van die waarheid was pleit, moet ons hulle net so beslis soos Nehemia vrees en vermy. Hierdie raad het sy oorsprong by die vyand van alles wat goed is. Dit is die toespraak van manteldraaiers en moet vandag net so vasberade soos destyds teëgestaan word. Watter invloed ook al sou neig om die geloof van God se volk in Sy leidende krag te ondermyn, moet onwrikbaar weerstaan word. DVvPEk 518.2

In Nehemia se doelgerigte toewyding aan die werk van God en sy ewe onwrikbare vertroue op God, lê die rede vir die mislukking van sy vyande om hom in hul mag te kry. Die siel wat traag is, word ‘n maklike prooi vir versoeking; maar in die lewe met ‘n edele mikpunt en ‘n absorberende doelwit, vind die bose geen vastrapplek nie. Die geloof van die een wat voortdurend vorder, verswak nie; want bo, onder en verder, herken hy Oneindige Liefde wat alles ten goede laat meewerk om Sy goeie doel te bereik. God se ware diensknegte werk met ‘n vasberadenheid wat nie sal faal nie, want die troon van genade is hul konstante afhanklikheid. DVvPEk 518.3

God het Goddelike hulp vir al die noodgevalle waarteen ons menslike hulpbronne nie opgewasse is nie voorsien. Hy skenk die Heilige Gees om in elke benoudheid te help, ons hoop en versekering te versterk, om ons verstand te verlig en ons harte te suiwer. Hy bied geleenthede en open kanale vir werk. As Sy volk die tekens van Sy voorsienigheid dophou en gereed is om saam met Hom te werk, sal hulle magtige resultate aanskou. DVvPEk 519.1