Die Verhaal Van Profete en Konings

62/69

*Hoofstuk 54—Teregwysing Teen Afpersing

Die muur van Jerusalem was nog nie voltooi nie toe Nehemia se aandag op die ongelukkige toestand van die armer klas van die volk gevestig is. In die onrustige toestand van die land, is die bewerking van die grond tot ‘n mate verwaarloos., Vanweë die selfsug van sommiges wat na Juda teruggekeer het, het die HERE se seën nie op die land gerus nie en daar was ‘n skaarste aan graan. DVvPEk 506.1

Ten einde voedsel vir hul gesinne te bekom, was die armes genoodsaak om dit op krediet en teen buitensporige pryse aan te koop. Hulle was ook verplig om fondse te bekom deur geld op rente te leen om die swaar belastings wat deur die konings van Persië opgelê is, te betaal. Om die nood van die armes te vererger, het die welgesteldes onder die Jode die behoeftes van die armes uitgebuit om hulself te verryk. DVvPEk 506.2

Die Here het Israel deur Moses beveel om elke derde jaar ‘n tiende te hef tot voordeel van die behoeftiges. ‘n Verdere bepaling is gemaak vir die opskorting van landbou-aktiwiteite elke sewende jaar, sodat die grond braak kon lê, terwyl produkte wat vanself opgekom het, gelaat is vir die gebruik van die behoeftiges. Getrouheid om hierdie offers te bring vir die verligting van die armes en vir ander welwillende gebruike, sou gedien het om die waarheid van God se eienaarskap van almal, asook die geleentheid om kanale van seën te wees, vars in die gedagtes van die volk te hou. Dit was die doel van Jehova dat Israel moes leer om alle selfsug uit hulle lewe te verwyder en edelheid van karakter aan te kweek. DVvPEk 506.3

God het ook deur Moses opdrag gegee dat: “As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ‘n skuldeiser wees nie.” “Jy mag jou broer geen rente oplê nie, rente van geld, rente van eetware, rente van enigiets wat ‘n mens teen rente uitleen nie.” (Ex 22:25; Deut 23:19) Verder het Hy gesê: “As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.” “Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.” (Deut 15:7,8,11) DVvPEk 506.4

Na die terugkeer van die ballinge uit Babilon, het die welgestelde Jode soms direk in stryd met hierdie opdragte opgetree. Toe die behoeftiges verplig was om te leen ten einde belasting aan die koning te betaal, het die rykes aan hulle geld teen ‘n hoë rentekoers voorgeskiet. Deur verbandlenings op die grond van die armes toe te staan, is die ongelukkige skuldenaars geleidelik tot die diepste armoede verlaag. Baie was genoodsaak om hul seuns en dogters as slawe te verkoop; en dit het gelyk asof daar geen hoop vir hulle was om hul toestand te verbeter nie, geen manier om hul kinders of hul lande te af te los nie, geen vooruitsigte nie, maar slegs toenemende nood, met ewige gebrek en gebondenheid. Tog was hulle van dieselfde nasie, kinders van dieselfde verbond as hul meer begunstigde broers. DVvPEk 507.1

Uiteindelik het die het hul toestand onder Nehemia se aandag gebring: “En tog moet ons nou ons seuns en ons dogters tot slawe verneder en van ons dogters is al verneder sonder dat ons daar iets aan kan doen en ons lande en ons wingerde behoort aan ander.” DVvPEk 507.2

Toe Nehemia van hierdie wrede onderdrukking verneem, was sy siel met verontwaardiging gevul. “En ek was baie verontwaardig...” het hy gesê, “...toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor.” Hy het besef dat indien hy daarin wou slaag om die onderdrukkende gebruik van uitbuiting te verbreek, hy ‘n onwrikbare standpunt vir geregtigheid moes inneem. Met sy kenmerkende energie en vasberadenheid, het hy te werk gegaan om verligting vir sy broers te bewerkstellig. DVvPEk 507.3

Die feit dat die onderdrukkers welaf mense was, wie se ondersteuning grootliks nodig was vir die werk om die stad te herstel, het hom vir geen oomblik beïnvloed nie. Hy het die edeles en owerstes skerp tereggewys en nadat hy ‘n groot samekoms van die volk byeen geroep het, het hy die vereistes van God aangaande hierdie saak aan hulle voorgehou. DVvPEk 508.1

Hy het hulle aandag gevestig op die gebeure wat tydens die bewind van Koning Agas plaasgevind het. Hy het die boodskap wat God destyds aan Israel gestuur het om hul wreedheid en onderdrukking te bestraf, herhaal. Die kinders van Juda was vanweë hul afgodery, oorgelewer in die hande van hul nog erger afgodiese broers, die mense van Israel, oorgelewer. Laasgenoemde het uiting aan hul vyandskap gegee deur duisende van die manne van Juda in ‘n geveg te dood en beslag op al die vroue en kinders te lê, met die oog daarop om hulle as slawe aan te hou of aan die heidene te verkoop. DVvPEk 508.2

Die HERE nie tussenbeide getree om die geveg te voorkom as gevolg van die sondes van Juda nie; maar deur die profeet Oded, het Hy die wrede doelwitte van die seëvierende leër bestraf. “En nou dink julle om die kinders van Juda en Jerusalem aan julle as slawe en slavinne onderdanig te maak. Wat julle betref, is daar nie by julle net skulde teenoor die HERE julle God nie?” (2 Kron 28:10) Oded het die volk Israel gewaarsku dat die toorn van die HERE teenoor hulle ontvlam het en dat hulle koers van ongeregtigheid en onderdrukking sy oordele oor hulle sou bring. Toe hulle hierdie woorde hoor, het die gewapende manne die gevangenes en die buit voor die vorste en die hele vergadering gelaat. Daarna het sekere vooraanstaande manne uit die stam van Efraim gekom en “...die gevangenes ondersteun en al die naaktes onder hulle uit die buit klere aangetrek; en hulle het aan hulle klere en skoene gegee en hulle laat eet en drink en hulle gesalf en almal wat moeg was, op esels vervoer en na Jérigo, die palmstad, by hul broers gebring.” (Vers 15) DVvPEk 508.3

Nehemia en ander het sommige van die Jode wat aan die heidene verkoop was, losgekoop en hy het nou hierdie optrede in teenstelling gebring met die gedrag van diegene wat ter wille van wêreldse gewin slawe van hul broers gemaak het. “Dit is nie goed wat julle doen nie...” het hy gesê. “Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?” DVvPEk 509.1

Nehemia het hulle daarop gewys dat hyself, met die bemagtiging van die Persiese koning, groot bydraes tot sy eie voordeel kon geëis het. Maar in stede hiervan het hy nie eers dit wat hom na regte toekom, geneem nie, maar vrygewig aan die armes gegee om hulle nood te verlig. Hy het by diegene onder die Joodse leiers wat hulself aan afpersing skuldig gemaak het aangedring om hierdie werk van ongeregtigheid te staak; om die grond van die armes, asook die opbrengs van die geld wat hulle van hulle verhaal het, aan hulle terug te besorg; en om aan hulle, sonder sekuriteit of woekerwins te leen. DVvPEk 509.2

Hierdie woorde is in die teenwoordigheid van die hele vergadering geuiter. Indien die leiers wou kies om hul optrede te regverdig, het hulle die geleentheid gehad om dit te doen. Maar hulle het geen verskoning aangebied nie. “Ons sal dit teruggee...” het hulle aangekondig, “...en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het.” Daarop het Nehemia in die teenwoordigheid van die priesters “...hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel.” “Toe sê die hele vergadering, Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel.” DVvPEk 509.3

Uit hierdie verslag leer ons ‘n belangrike les: “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels.” (1 Tim 6:10) Tans in ons generasie, is die begeerte na wins die absorberende passie. Rykdom word dikwels deur bedrog bekom. Daar is menigtes wat met armoede worstel, wat gedwing word om hard vir ‘n geringe loon te werk en nie in staat is om selfs in die geringste lewensbehoeftes te voorsien nie. Swoeg en ontbering, sonder hoop op beter vooruitsigte, maak hul laste swaar. Onversorg en onderdruk, weet hulle nie waarheen hulle hul moet wend vir verligting nie. En dit alles sodat die rykes hul uitspattigheid kan bevredig, of toegee aan hul begeerte om op te gaar! DVvPEk 509.4

Liefde vir geld en vertoon het hierdie wêreld ‘n kuil van diewe en rowers gemaak. Die Skrifte beeld die hebsug en onderdrukking wat net voor Christus se wederkoms sal heers uit: “Kom nou, julle rykes...” skryf Jakobus, “...ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom.” “Julle goud en silwer is verroes en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die HERE van die leërskare. Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ‘n slagdag. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie.” (Jak 5:1,3-6) DVvPEk 510.1

Selfs onder diegene wat beweer dat hulle in die vrees van die HERE wandel, is daar sommige wat dieselfde weg as die edeles van antieke Israel volg. Omdat hulle oor die mag beskik om dit te doen, eis hulle meer as wat regverdig is en word onderdrukkers. En omdat gierigheid en verraad in die lewens van diegene wat die Naam van Christus bely gesien word en omdat die name van hulle wat hul besittings deur ongeregtigheid bekom het op die kerk se boeke is, word die godsdiens van Christus met minagting bejeën. Uitspattigheid, uitoorlêery en afpersing, verswak die geloof van baie en vernietig hul geestelikheid. Die kerk is tot ‘n groot mate verantwoordelik vir die sondes van haar lidmate. Wanneer die kerk se stem nie teen die bose verhef word nie, word dit bekragtig daardeur. DVvPEk 510.2

Die gebruike van die wêreld is nie ‘n maatstaf vir die Christen nie. Hy moenie die skerpsinnige praktyke, uitbuitery en afpersing daarvan naboots nie. Elke onregverdige daad teenoor ‘n medemens, is ‘n oortreding van die goue reël. Elke onreg wat teenoor die kinders van God gepleeg word, word aan Christus self, in die persoon van Sy heiliges, gepleeg. Elke poging om die onkunde, swakheid of ongeluk van ‘n ander uit te buit, word in die boeke van die hemel as bedrog aangeteken. Wie God waaragtig vrees, sal verkies om eerder dag en nag te swoeg en die brood van armoede eet, as om toe te gee aan die passie vir wins wat die weduwee en die wees onderdruk, of die vreemdeling van sy reg ontneem. DVvPEk 511.1

Die geringste afwyking van regskapenheid breek die skanse af en berei die hart voor om groter onreg te pleeg. Presies tot daardie mate wat ‘n mens voordeel vir homself, ten koste van ‘n ander bekom, sal sy siel gevoelloos raak vir die invloed van die Gees van God. Winste wat teen so ‘n prys bekom word, is ‘n ontsaglike verlies. DVvPEk 511.2

Ons was almal skuldenaars aan Goddelike geregtigheid, maar ons het niks gehad om die skuld mee te betaal nie. Toe betaal die Seun van God, wat ons bejammer het, die prys van ons verlossing. Hy het arm geword sodat ons deur Sy armoede ryk kan word. Deur dade van vrygewigheid teenoor Sy armes, kan ons ons opregte dankbaarheid vir hierdie barmhartigheid wat aan ons bewys is, betoon: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het...” het die apostel Paulus voorgeskryf, “...aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Gal 6:10). En sy woorde is in ooreenstemming met dié van die Verlosser: “Want die armes het julle altyd by julle en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen.” “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Mark 14:7; Matt 7:12) DVvPEk 511.3