Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 53—Die Bouers op die Muur *
Nehemia se reis na Jerusalem is met veiligheid voltooi. Die koninklike briewe aan die goewerneurs van die provinsies oo sy roete het hom van ‘n eerbare ontvangs en vinnige bystand verseker. Geen vyand het dit gewaag om die amptenaar wat deur die mag van die Persiese koning beskerm is en met merkbare ontsag deur die provinsiale heersers behandel is, te molesteer nie. Sy aankoms in Jerusalem, met militêre begeleiding wat getoon het dat hy op ‘n belangrike sending gekom het, het die jaloesie van die heidense stamme wat naby die stad gewoon het, wat hulself so dikwels in hul vyandskap teenoor die Jode verlustig het deur skade en beledigings teenoor hulle op te stapel, opgewek. Vooraan hierdie bose optrede was die hoofde van die stamme van Sanballat van die Horoniete; Tobia, die Ammoniet; en Gesem, die Arabier. Van die begin af het hierdie leiers met kritiese oë die bewegings van Nehemia dopgehou en op elke wyse tot hulle beskikking, gepoog om sy planne te dwarsboom en sy werk te belemmer. DVvPEk 497.1
Nehemia het met dieselfde versigtigheid en omsigtigheid wat hy tot dusver gehandhaaf het, voortgegaan. Wetende dat bittere en vasberade vyande gereed was om hom teë te gaan, het hy die aard van sy sending vir hulle verdoesel totdat ‘n ondersoek van die omstandighede hom in staat sou stel om sy planne te beraam. So het hy gehoop om die samewerking van die volk te verseker en hulle aan die werk te sit voordat die teenkanting van sy vyande opgewek word. DVvPEk 497.2
Nehemia het enkele manne gekies wat hy geweet het sy vertroue waardig was en aan hulle die omstandighede meegedeel wat hom daartoe gelei het om na Jerusalem te kom, die doel wat hy wou bereik en die planne wat hy voorgestel het hulle moet volg. Hulle belangstelling in sy onderneming is dadelik aangewakker en hul hulp verseker. DVvPEk 497.3
Op die derde aand na hul aankoms, het Nehemia om middernag opgestaan en saam met ‘n paar betroubare manne uitgegaan om self die verwoesting van Jerusalem te besigtig. Op die rug van sy muil het hy van een deel van die stad na die ander beweeg en die afgebreekte mure en poorte van die stad van sy vaders ondersoek. Pynlike herinneringe het die gedagtes van die Joodse patriot gevul terwyl hy met hartseer die verwoeste skanse van sy geliefde Jerusalem aanskou het. Herinneringe aan Israel se grootsheid van die verlede het in skrille kontras met die bewyse van haar vernedering uitgestaan. DVvPEk 498.1
Heimlik en in stilte het Nehemia sy rondte om die mure voltooi. “Die leiers het nie geweet waar ek heengegaan het en wat ek doen nie; want ek het tot nog toe die Jode en die priesters en die edeles en die leiers en die ander wat die werk moes doen, niks te kenne gegee nie.” Die res van die nag het hy in gebed deurgebring; want hy het geweet dat die oggend ‘n ernstige poging van hom sou verg om sy ontmoedigde en verdeelde landgenote aan te moedig en te verenig. DVvPEk 498.2
Nehemia het ‘n koninklike opdrag gehad wat vereis het dat die inwoners met hom saamwerk om die mure van die stad te herbou, maar hy het nie op die uitoefening van sy gesag staatgemaak nie. Hy het eerder gepoog om die vertroue en simpatie van die volk te wen, wetende dat ‘n vereniging van harte sowel as hande, noodsaaklik was in die groot werk voor hom. Toe hy die mense die volgende dag bymekaar roep, het hy argumente gevoer wat daarop bereken is om hul sluimerende energie aan te wakker en hul verspreide getalle te verenig. DVvPEk 498.3
Nehemia se toehoorders het nie geweet nie en hy het hulle ook nie van sy middernagtelike rondte van die vorige nag vertel nie. Maar die feit dat hy hierdie inspeksietoer gedoen het, het grootliks tot sy sukses bygedra; want hy kon die toestand van die stad met ‘n noukeurigheid en in die fynste besonderhede, wat sy toehoorders verstom het, bespreek. Die indruk wat op hom gelaat was toe hy na die verswakking en agteruitgang van Jerusalem gekyk het, het erns en krag aan sy woorde verleen. DVvPEk 498.4
Nehemia het aan die volk hul smaad onder die heidene voorgehou — hul godsdiens was onteer, hulle God belaster. Hy het hulle meegedeel dat hy in ‘n vêrafgeleë land van hul ellende verneem het, dat hy die guns van die Hemel namens hulle versoek het en dat hy, terwyl hy gebid het, besluit het om toestemming van die koning te verkry om hulle te hulp te kom. DVvPEk 499.1
Hy het God gevra dat die koning nie alleen net hierdie toestemming sou verleen nie, maar dat hy hom ook met die nodige gesag sal bemagtig en die nodige hulp vir die werk sal verleen; en sy gebed is op ‘n wyse wat aangetoon het dat die plan van die HERE afkomstig was, verhoor. DVvPEk 499.2
Al hierdie dinge het hy hulle meegedeel en nadat hy getoon het dat hy deur die gesamentlike gesag van die God van Israel en die Persiese koning ondersteun word, het Nehemia die volk direk gevra of hulle van hierdie geleentheid gebruik gaan maak om op te staan en die muur te herbou. DVvPEk 499.3
Die oproep het direk tot hul harte gespreek. Die gedagte aan hoe die Hemel se guns teenoor hulle geopenbaar is, het van hulle vrees ‘n beskaming gemaak en met nuwe moed het hulle met een stem gesê: “Ons sal klaarmaak en bou.” “En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk.” DVvPEk 499.4
Nehemia se hele siel is in die onderneming wat hy aangepak het uitgestort. Sy hoop, sy energie, sy entoesiasme, sy vasberadenheid, was aansteeklik en het ander met dieselfde hoë mate van moedigheid en verhewe doel geïnspireer. Elke man het op sy beurt ‘n Nehemia geword en gehelp om die hart en hand van sy buurman te versterk. DVvPEk 499.5
Toe die vyande van Israel hoor wat die Jode gehoop het om te bereik, het hulle hul uitgelag en gesê: “Wat is dit vir ‘n ding wat julle doen? Wil julle teen die koning rebelleer?” Maar Nehemia het geantwoord: “Toe antwoord ek hulle en sê vir hulle: Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie.” DVvPEk 499.6
Onder die eerstes wat Nehemia se gees van ywer en erns aangegryp het, was die priesters. Vanweë hul invloedryke posisie, kon hierdie manne baie bydra om die werk te bevorder of te belemmer; en hul geredelike samewerking het van meet af baie bygedra tot die sukses daarvan. Die meerderheid van die vorste en heersers van Israel het edelmoedig vir hul plig opgekom en hierdie getroue manne word as eerbaar in die boek van God gemeld. Daar was ‘n paar, die Tekoïete-adel, wie “...hulle nek nie gebuig [het] onder die diens van hulle HERE nie.” Die herinnering aan hierdie lakse diensknegte word met ‘n skandvlek gebrandmerk en as ‘n waarskuwing aan alle toekomstige geslagte oorgedra. DVvPEk 500.1
In elke godsdienstige beweging is daar sommige wat, alhoewel hulle nie kan ontken dat die saak van God afkomstig is nie, hulself steeds afsydig hou en weier om enige poging aan te wend om te help. Dit sal goed vir hulle sulke mense wees om te onthou van die rekord wat hoog gehou is, die boek is waarin daar geen weglatings en foute is nie, waaruit hulle geoordeel sal word. Daarin word elke verbeurde geleentheid om diens vir God te verrig, opgeteken; en daarin word ook elke daad van geloof en liefde vir ewig onthou. DVvPEk 500.2
Teen die geïnspireerde invloed van Nehemia se teenwoordigheid, het die voorbeeld van die Tekoïete-adel, min gewig gedra. Die mense was oor die algemeen deur patriotisme en ywer aangespoor. Manne met bekwaamheid en invloed het die verskillende klasse inwoners in groepe georganiseer en elke leier verantwoordelik vir die oprigting van ‘n sekere deel van die muur gemaak. En van sommige is daar geskrywe dat hy “...teenoor sy huis...” gebou het. DVvPEk 500.3
Nehemia se energie het ook nie getaan noudat die werk eintlik begin is nie. Met onvermoeide waaksaamheid het hy toesig oor die bouwerk gehou, die arbeiders leiding gegee, hindernisse identifiseer en voorsiening gemaak vir noodgevalle. Oor die ganse drie myl van die muur was sy invloed deurentyd sigbaar. Met tydige woorde het hy die banges moet ingepraat, die agtergeblewenes aangespoor en aan die yweriges erkenning gegee. En hy het voortdurend die bewegings van hul vyande dopgehou, wat van tyd tot tyd op ‘n afstand versamel en in gesprek verkeer het, asof hulle onraad beplan en daarna nader aan die werkers beweeg en probeer het om hul aandag af te lei. DVvPEk 501.1
Ten spyte van sy vele aktiwiteite, het Nehemia nie die Bron van sy krag vergeet nie. Sy hart was voortdurend tot God verhef, die groot Opsiener oor almal. “Die God van die hemel...” het hy uitgeroep, “...Hy sal ons dit laat geluk...” en hierdie woorde wat weergalm en herhaal is, het die harte van al die werkers op die muur met opgewondenheid laat klop. DVvPEk 501.2
Maar die herstel van Jerusalem se skanse het nie ongehinderd voortgegaan nie. Satan was besig om teëstand aan te hits en moedeloosheid te bewerkstellig. Sanballat, Tobia en Gesem, sy vernaamste agente in hierdie beweging, het hulle nou daarop ingestel om die herbouwerk te belemmer. Hulle het gepoog om verdeeldheid onder die werkers te veroorsaak. Hulle het die pogings van die bouers afgekraak, die onderneming as onmoontlik verklaar en mislukking voorspel. DVvPEk 501.3
“Wat maak die magtelose Jode?” het Sanballat uittartend uitgeroep. “Sal ‘n mens hulle laat begaan? ... Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel?” Tobia het met nog meer minagting bygevoeg: “Wat hulle ook al bou — as ‘n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!” DVvPEk 501.4
Die bouers is spoedig deur nog meer aktiewe opposisie geteister. Hulle was genoodsaak om voortdurend te waak teen die komplotte van hul teëstanders wat, terwyl hulle vriendskap geveins het, op verskeie maniere probeer het om verwarring te veroorsaak en wantroue te wek. Hulle het gepoog om die moed van die Jode te breek; hulle het sameswerings gevorm om Nehemia in hulle pogings te betrek; en valse Jode is gevind wat bereid was om met hierdie verraderlike onderneming te help. ‘n Berig is versprei dat Nehemia ‘n komplot teen die Persiese koning gesmee het en van plan was om homself as koning oor Israel aan te stel en dat almal wat hom gehelp het verraaiers was. DVvPEk 501.5
Maar Nehemia het egter steeds opgekyk na God vir leiding en ondersteuning en “...die volk was met hulle hart in die werk.” Die onderneming het voortgegaan totdat al die openinge opgevul en die hele muur opgebou was tot op die helfte van die beplande hoogte. DVvPEk 502.1
Toe die vyande van Israel sien hoe oneffektief hulle pogings was, was hulle woedend. Tot dusver het hulle nog nie gewaag om gewelddadige maatreëls in te stel nie, want hulle het geweet dat Nehemia en sy metgeselle in opdrag van die koning optree en was bang dat hulle die misnoeë van die koning op die hals sou haal. Maar in hul woede het hulle self aan die misdaad waarvan hulle Nehemia beskuldig het, skuldig geword. Hulle het vergader om te beraadslaag en “...'n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig.” DVvPEk 502.2
Op dieselfde tyd wat die Samaritane teen Nehemia en sy werk saamgesweer het, het sommige van die leiers onder die Jode wat ontevrede geraak het, probeer om hom te ontmoedig, deur die probleme met die onderneming te oordryf: “Die krag van die lasdraers beswyk en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie.” DVvPEk 502.3
Ontmoediging het ook nog vanuit ‘n ander bron ontstaan: “Die Jode wat by hulle gewoon het...” diegene wat deel aan die werk gehad het nie, het die verklarings en verslae van hul vyande bymekaargemaak en dit gebruik om die moed te breek en ontevredenheid te skep. DVvPEk 502.4
Maar die uittarting en bespotting, opposisie en dreigemente, het Nehemia slegs met meer vasberadenheid geïnspireer en hom tot groter waaksaamheid aangespoor. Hy het die gevare wat hy in hierdie oorlogvoering met hul vyande die hoof moes bied erken, maar sy moed was onwankelbaar. DVvPEk 503.1
“Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil ‘n wag teen hulle uitgesit, dag en nag...” het hy verklaar. “Ek [het] op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë. En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte HERE en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.” DVvPEk 503.2
“En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk. En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou ... Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou.” DVvPEk 503.3
Langs Nehemia het ‘n trompetblaser gestaan en op verskillende dele van die muur was daar priesters met heilige trompette. Die mense was verspreid in hul arbeid, maar wanneer gevaar by enige punt gedreig het, is ‘n sein gegee om hulle sonder versuim daarheen te haas. Dus het Nehemia gesê: “Ons het die werk gedoen, terwyl die helfte van hulle die spiese vashou vandat die rooidag uitkom totdat die sterre verskyn.” DVvPEk 503.4
Diegene wat in stede en dorpe buite Jerusalem gewoon het, is nou versoek om binne die mure te bly om oor die werk te waak en in die oggend gereed vir werk te wees. Dit sou onnodige vertraging voorkom en die geleentheid wat die vyand andersins beter in staat sou gestel het om die werksmense aan te val terwyl hulle van en na hul huise beweeg, uitskakel. Nehemia en sy metgeselle het nie van moeilikheid of uitdagende probleme weg gedeins nie. Hulle het nie bedags of snags en ook nie gedurende die kort tyd wat aan slaap afgestaan is, hul klere uitgetrek of hul wapenrusting opsy gesit nie. DVvPEk 503.5
Die opposisie en ontmoediging wat die bouers in Nehemia se tyd van openlike vyande en sogenaamde vriende teëgekom het, is tipies van die ervaring van diegene wat vir God werk, vandag sal teëkom. Christene word nie net deur die woede, minagting en wreedheid van hul vyande beproef nie, maar deur die traagheid, teenstrydigheid, louheid en verraad van erkende vriende en helpers. Bespotting en verwyte word na hulle geslinger. En dieselfde vyand wat tot minagting lei, sal op ‘n meer geleë tyd van wreder en meer gewelddadige maatreëls gebruik maak. DVvPEk 504.1
Satan slaan munt uit elke ongewyde element om sy doel te bereik. Onder diegene wat beweer dat hulle ondersteuners van God se saak is, is daar diegene wat met Sy vyande verenig en sodoende Sy saak oopstel vir die aanvalle van Sy bitterste vyande. Selfs sommige van die wat begeer dat die werk van God voorspoedig moet geskied, sal nogtans die hande van Sy knegte verswak deur na die beledigings, grootpratery en dreigemente van Sy teëstanders te luister, dit te rapporteer en selfs half te glo. Satan werk met wonderbaarlike sukses deur sy agente en elkeen wat onder hul invloed kom, is onderworpe aan ‘n betowerende mag wat die wysheid van die wyse en die begrip van die verstandiges vernietig. Maar soos Nehemia, moet die volk van God nie hul vyande vrees of verag nie. As hulle op God vertrou, moet hulle bestendig voortbeweeg, Sy werk met onselfsugtigheid verrig en die saak waarvoor hulle staan, aan Sy voorsienigheid oorlaat. DVvPEk 504.2
Te midde van groot moedeloosheid het Nehemia God sy vertroue gemaak, sy gewisse verdediging. En Hy wat destyds die ondersteuning van Sy dienskneg was, was die afhanklikheid van Sy mense in elke eeu. In elke krisis kan Sy volk met vertroue verklaar: “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom 8:31). Hoe listig die komplotte van Satan en sy agente ook al gesmee mag word, God kan dit bespeur en al hul planne tot niet maak. Die reaksie op geloof vandag, sal die reaksie wat Nehemia betoon het wees: “Onse God sal vir ons stry...” want God is aan die werk en niemand kan die uiteindelike sukses daarvan verhoed nie. DVvPEk 505.1