Die Verhaal Van Profete en Konings

60/69

Hoofstuk 52—'n Man vir die Geleentheid*

Nehemia, een van die Hebreeuse bannelinge, het ‘n posisie van invloed en eer in die Persiese hof beklee. As skinker vir die koning, het hy vrye toegang tot die koninklike teenwoordigheid gehad. As gevolg van sy posisie en sy vermoëns en getrouheid, het hy die monarg se vriend en raadgewer geword. Die ontvanger van koninklike guns, hoewel deur prag en praal omring, het egter nie sy God en sy mense vergeet nie. Met diepe belangstelling het sy hart na Jerusalem gedraai; sy hoop en vreugde was verbind tot die stad se voorspoed. Deur hierdie man, wat deur sy verblyf in die Persiese hof vir die werk waartoe hy geroep was voorberei was, was dit God se doel om Sy volk in die land van hul vaders te seën. DVvPEk 491.1

Deur middel van boodskappers uit Judea het die Hebreeuse patriot verneem dat dae van beproewing na Jerusalem, die uitverkore stad, gekom het. Die bannelinge wat teruggekeer het, het beproewing en smaad verduur. Die tempel en dele van die stad is herbou; maar die restourasiewerk is belemmer, die tempeldienste versteur en die mense het voortdurend in vrees geleef omdat die mure van die stad nog grotendeels in puin gelê het. DVvPEk 491.2

Oorstelp van droefheid, kon Nehemia nie eet of drink nie; hy ”,,,het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid.” In sy droefheid het hy hom na die Goddelike Helper gewend: “Ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel.” (Neh 1:4) Getrou het hy sy sonde en die sonde van sy volk bely. Hy het gepleit dat God die saak van Israel sal ondersteun, hul moed en krag sal herstel en hulle sal help om die puinhope van Juda op te bou. DVvPEk 491.3

Terwyl Nehemia gebid het, het sy geloof en moed toegeneem. Sy mond was met heilige argumente gevul. Hy het na die oneer wat op God gewerp sou word verwys, as Sy volk, noudat hulle na Hom teruggekeer het aan swakheid en onderdrukking oorgelaat was; en hy het by die HERE aangedring om sy belofte na te kom: “Maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen — al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.” (Neh 1:9) (Sien ook Deuteronomium 4:29-31). Hierdie belofte is deur Moses aan Israel gegee voordat hulle Kanaän binnegegaan het en deur die eeue het dit onveranderd gestaan. God se volk het nou in berou en geloof na Hom teruggekeer en Sy belofte sou hulle nie faal nie. DVvPEk 492.1

Nehemia het dikwels sy siel ten behoewe van sy volk uitgestort. Maar nou, terwyl hy gebid het, het ‘n heilige doel in sy gedagtes ontstaan. Hy het hom voorgeneem dat indien hy die toestemming van die koning en die nodige hulp met die verkryging van werktuie en materiaal sou kon bekom, hy self die taak, om die mure van Jerusalem te herbou om Israel se nasionale mag te herstel, sou onderneem. En hy het die HERE gevra om aan hom guns in die oë van die koning te verleen, sodat hierdie plan deurgevoer kon word: “Ag, HERE, laat U oor tog opmerksaam wees op die gebed van U kneg en op die gebed van U knegte wat verlang om U Naam te vrees; en laat dit tog vandag U kneg geluk en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man.” (Vers 11) DVvPEk 492.2

Vier maande lank het Nehemia gewag op ‘n gunstige geleentheid om sy versoek aan die koning voor te lê. Gedurende hierdie tyd, hoewel sy hart swaar van droefheid was, het hy probeer om homself met vrolikheid in die koninklike teenwoordigheid te gedra. In daardie sale van weelde en prag moes almal opgeruimd en vrolik voorkom. Ongelukkigheid mag geen skaduwee oor die voorkoms van enige dienaar in die koninklike teenwoordigheid gewerp het nie. Maar in Nehemia se tye van privaatheid, was daar baie gebede, belydenisse en trane, wat God en die engele gehoor het en getuienisse van was. DVvPEk 492.3

Uiteindelik kon die hartseer wat die patriot se hart belas het, nie langer verberg word nie. Slapelose nagte en dae van besorgdheid het die spore op sy gesig gelaat. Die koning, jaloers vir sy eie veiligheid, was daaraan gewoond om gelaatstrekke te lees en deur vermommings te dring en het gesien dat een of ander geheime kwelling sy skinker geteister het. “Waarom is jou aangesig so bedroef; jy is tog nie siek nie? Dit is niks anders as hartseer nie.” (Neh 2:2) DVvPEk 493.1

Die vraag het Nehemia met angs gevul. Sal die koning nie ontstoke wees om te hoor dat die hofdienaar se gedagtes ver weg by sy geteisterde volk was nie? Sou die oortreder nie sy lewe verbeur nie? Sou sy gekoesterde planne vir die verstewiging van Jerusalem omvergewerp word? Toe het hy geskryf: “En ek het baie bevrees geword...” Met bewende lippe en traan-gevulde oë het hy die oorsaak van sy droefheid bely: “Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?” (Verse 2, 3) DVvPEk 493.2

Die voorlegging van die toestand van Jerusalem het die monarg met meegevoel gevul, sonder dat sy vooroordele gewek is. ‘n Ander vraag het die geleentheid waarop Nehemia lank gewag het, gebied: “Wat is dan jou begeerte?” Maar die man van God het nie gewaag om te antwoord voordat hy aanwysings van die Een hoër as Artasasta gesoek het nie. Hy het ‘n heilige vertroue gehad om te vervul, waarin hy die koning se hulp benodig het; en hy het besef dat baie daarvan afgehang het dat hy die saak op ‘n wyse aanbied wat sy goedkeuring sou verkry en sy hulp sou bekom. “En ek het tot die God van die hemel gebid...”het hy gesê. In daardie kort gebed het Nehemia in die teenwoordigheid van die Koning van konings gekom en ‘n Mag aan sy kant gekry wat die harte kan laat draai soos die waters van die riviere draai. DVvPEk 493.3

Om te bid soos Nehemia in sy uur van nood gebid het, is ‘n hulpbron wat tot die beskikking van elke Christen is onder omstandighede wanneer ander vorme van gebed onmoontlik is. Werkers in die besige verloop van die lewe, wat oorvol en byna deur verwardheid oorweldig is, kan ‘n versoek tot God vir Goddelike leiding rig. Reisigers per see en land kan, as hulle deur die een of ander groot gevaar bedreig word, hulle aldus aan die hemel se beskerming verbind. In tye van skielike probleme of gevaar, kan die hart ‘n hulproep opstuur na Hom wat Homself verbind het om sy getroue gelowiges te hulp te kom wanneer hulle Hom aanroep. Onder elke omstandigheid en in elke toestand, het die siel wat met droefheid en sorg gevul is, of wat heftig deur versoeking geteister word, die versekering, ondersteuning en hulp van die onfeilbare liefde en krag van ‘n verbond-houdende God nodig. DVvPEk 494.1

Nehemia het in daardie kort oomblik van gebed tot die Koning van die konings, moed bymekaar geskraap om Artasasta te vertel van sy begeerte om ‘n tyd lank van sy pligte by die hof vrygestel te word en hy het gevra vir gesag om die puinhope van Jerusalem op te bou en dit weer ‘n sterk en verdedigde stad te maak. Belangrike gevolge vir die Joodse nasie het van hierdie versoek afgehang. “En...” het Nehemia verklaar, “...die koning het my dit toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.” DVvPEk 494.2

Nadat Nehemia die hulp wat hy gesoek het ontvang het, het hy met omsigtigheid en voorbedagtheid die nodige reëlings getref om die sukses van die onderneming te verseker. Hy het geen voorsorgmaatreëls vir die uitvoering daarvan ontsien nie. Nie eers aan sy eie landgenote het hy sy doel geopenbaar nie. Terwyl hy besef het dat baie mense oor sy sukses sou juig, was hy bang dat sommige, deur onoordeelkundigheid, die jaloesie van hul vyande sou wek en moontlik die nederlaag van die onderneming sou veroorsaak. DVvPEk 494.3

Sy versoek aan die koning was so gunstig ontvang, dat Nehemia aangemoedig was om nog verdere hulp aan te vra. Om waardigheid en gesag aan sy onderneming te verleen, asook om beskerming op die reis te bied, het hy om militêre begeleiding en beveiliging gevra. Hy het koninklike briewe verkry wat aan die goewerneurs van die provinsies oorkant die Eufraat gerig was, die gebied waardeur hy moes reis op pad na Judea; en hy het ook ‘n brief aan die bewaarder van die koning se bos in die berge van Libanon bekom, waarin hy opdrag gegee is om hout wat benodig sou word te voorsien. Sodat daar geen geleentheid vir klagtes sou wees dat Nehemia sy opdrag oorskry het nie, was hy versigtig om die gesag en voorregte aan hom toegestaan, duidelik te omskryf. DVvPEk 495.1

Hierdie voorbeeld van vooruitskouing en besliste optrede, behoort vir alle Christene ‘n les te wees. God se kinders moet nie net in geloof bid nie, maar ook met ywer en sorgsaamheid werk. Hulle ondervind baie probleme en belemmer dikwels die werk van die Voorsienigheid namens hulle, want hulle beskou versigtigheid en noukeurige inspanning as min te make met godsdiens. Nehemia het nie sy taak as afgehandel beskou toe hy voor die HERE geween en gebid het nie. Hy het sy versoeke met heilige strewe verenig en ernstige, biddende pogings vir die sukses van die onderneming waarmee hy besig was aangewend. Noukeurige oorweging en weldeurdagte planne is vandag net so noodsaaklik vir die uitvoering van heilige ondernemings, soos in die tyd van die herbou Jerusalem se mure. DVvPEk 495.2

Nehemia het nie op onsekerheid staatgemaak nie. Die middele wat hy ontbreek het, het hy van diegene wat in staat was om dit te skenk, gevra. En die HERE is steeds bereid om die harte van diegene wat oor Sy goedere beskik, ten bate van die saak van waarheid te beweeg. Diegene wat vir Hom arbei, moet gebruik maak van die hulp wat Hy mense aanmoedig om te skenk. Hierdie geskenke kan paaie open waardeur die lig van die waarheid na baie benarde lande kan gaan. Die donateurs mag dalk geen vertroue in Christus hê nie en ook geen kennis van Sy woord dra nie; maar hulle geskenke mag nie om hierdie rede geweier word nie. DVvPEk 495.3