Die Verhaal Van Profete en Konings

59/69

Hoofstuk 51—'n Geestelike Herlewing

Esra se aankoms was betyds. Daar was ‘n groot behoefte aan die invloed van sy teenwoordigheid. Sy koms het moed en hoop gebring in die harte van baie wat vir lank onder moeilike omstandighede gearbei het. Sedert die terugkeer van die eerste groep bannelinge onder leiding van Serubbábel en Josua, meer as sewe jaar tevore, is baie vermag. Die tempel is voltooi en die stadsmure was gedeeltelik herstel. Tog het baie ongedaan gebly. DVvPEk 482.1

Onder diegene wat vroeër na Jerusalem teruggekeer het, was daar baie wat aan God getrou gebly het vir solank as wat hulle gelewe het; maar ‘n aansienlike aantal van die kinders en kinders se kinders, het die heiligheid van God se wet uit die oog verloor. Selfs sommige van die manne wat met verantwoordelikhede toevertrou was, het openlik in sonde gelewe. Hulle optrede het grootliks die pogings van diegene wat die saak van God bevorder het, geneutraliseer; want vir so lank as wat blatante oortreding van die wet toegelaat was om onbestraf voort te gaan, kon die seëninge van die hemel nie op die volk rus nie. DVvPEk 482.2

Dit was deur die voorsienigheid van God wat diegene wat saam met Esra teruggekeer het, spesiale tye gehad het om die HERE op te soek. Deur die ervarings wat hulle gedurende die reis vanaf Babilon opgedoen het, onbeskermd deur enige menslike mag, het hulle ryk geestelike lesse geleer. Baie se geloof het versterk; en soos hulle met die moedeloses en onverskilliges in Jerusalem gemeng het, was hul invloed ‘n kragtige faktor in die hervorming wat spoedig daarna ingestel is. DVvPEk 482.3

Op die vierde dag na hul aankoms, is die skatte van silwer en goud, saam met die voorwerpe vir diens in die heiligdom, deur die tesouriers in die hande van die offisiere van die tempel, in die teenwoordigheid van getuies en met die grootste akkuraatheid, oorgelewer. Elke artikel is “...volgens getal en gewig... ” ondersoek. (Esra 8:34) DVvPEk 482.4

Die kinders van die ballingskap wat saam met Esra terugkeer het, het “...brandoffers gebring aan die God van Israel...” vir ‘n sondoffer en as teken van hul dankbaarheid en dankbetuiging vir die beskerming van heilige engele tydens die reis. “En hulle het die bevelskrifte van die koning gegee aan die landvoogde van die koning en die goewerneurs wes van die Eufraat en dié het die volk en die huis van God ondersteun.” (Verse 35,36) DVvPEk 483.1

Kort daarna het ‘n paar van die hoofmanne van Israel Esra met ‘n ernstige klagte genader. Sommige van “...die volk van Israel en die priesters en die Leviete...” het Jehova se heilige voorskrifte sodanig verontagsaam, dat hulle met die omliggende volke ondertrou het. Aan Esra is gesê dat “...hulle het van húlle dogters vir hulleself en vir hul seuns geneem, sodat die heilige geslag hom met die volke...” van heiden lande “...vermeng het; en die owerstes en die leiers het in hierdie ontrou eerste die hand gehad.” (Esra 9:1,2) DVvPEk 483.2

In sy bestudering van die oorsake wat tot die Babiloniese ballingskap gelei het, het Esra geleer dat Israel se afvalligheid grotendeels na hul vermenging met heidense nasies teruggevoer kon word. Hy het opgemerk dat indien hulle gehoor gegee het aan God se opdrag om afgesonder te bly van die nasies wat hulle omring, hulle baie hartseer en vernederende ervarings gespaar sou gewees het. Toe hy dus nou verneem dat, ondanks die lesse van die verlede, prominente mense dit gewaag het om die wette wat as beskerming aan hulle gegee is te oortree, is sy hart in hom geroer. Hy het aan God se goedheid gedink om weer aan Sy volk ‘n vastrapplek in hul geboorteland te gee en hy was oorweldig met geregverdigde verontwaardiging en hartseer oor hul ondankbaarheid. “En toe ek dit hoor...” het hy gesê, “...het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit.” DVvPEk 483.3

“En by my het byeengekom almal wat gebeef het vir die woorde van die God van Israel, oor die ontrou van die ballinge; maar ek het verslae bly sit tot die aandoffer toe.” (Verse 3,4) DVvPEk 484.1

Ten tye van die aandoffer het Esra opgestaan en weer sy kleed en mantel geskeur, op sy knieë neergeval en sy siel in smeekbede voor die hemel uitgestort. Met sy hande na die HERE uitgesteek, het hy uitgeroep: “My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei en ons skuld is hemelhoog.” DVvPEk 484.2

“Van die dae van ons vaders af tot vandag toe,” is die smeekbede voortgesit, “is ons in ‘n groot skuld en oor ons ongeregtighede is ons self, ons konings, ons priesters oorgegee in die hand van die konings van die lande, aan die swaard, aan gevangenskap en aan plundering en beskaming van die aangesig soos dit vandag is. En nou was daar vir ‘n klein oomblik genade van die kant van die HERE onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ‘n pen te gee in sy heilige plek, sodat onse God ons oë verhelder het en ons ‘n bietjie verademing geskenk het in ons diensbaarheid. Want slawe is ons; in ons slawerny egter het onse God ons nie verlaat nie, maar Hy het ons guns laat vind voor die konings van Persië, sodat hulle ons verademing geskenk het om die huis van onse God weer op te rig en sy puinhope te herstel en ons ‘n muur te gee in Juda en Jerusalem.” DVvPEk 484.3

“En wat sal ons nou ná hierdie dinge sê, onse God? Want ons het u gebooie verlaat wat U deur u knegte, die profete beveel het ... En ná alles wat oor ons gekom het vanweë ons slegte dade en ons groot skuld — want U, onse God, het ons minder toegereken as wat ons ongeregtighede verdien het en aan ons nog soveel vrygeraaktes gegee — sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke? Sal U nie op ons vertoorn wees, totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie? HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.” (Verse 6-15) DVvPEk 484.4

Die droefheid van Esra en sy medewerkers oor die boosheid wat op so ‘n slinkse wyse in die hart van die werk van die HERE ingesluip het, het berou meegebring. Baie van diegene wat gesondig het, was diep geraak. “Die volk het geween met ‘n groot geween.” (Esra 10:1) In ‘n beperkte mate, het hulle die afskuwelikheid van sonde en die afsku waarmee God dit aanskou, begin besef. Hulle het die heiligheid van die wet wat by Sinai verkondig is, raakgesien en baie het gesidder vanweë hul oortredings. DVvPEk 485.1

Een van die aanwesiges, met die naam van Seganja, het al die woorde wat Esra gespreek het, as waar erken: “Ons het ontrou gehandel teen onse God...” het hy bely, “...dat ons vreemde vroue uit die volke van die land getrou het; maar tog is daar nog hoop vir Israel in hierdie saak.” Seganja het voorgestel dat almal wat oortree het, ‘n verbond met God moet sluit dat hulle hul sonde sal versaak en “...volgens die wet...” gestraf word. “Staan op...” het hy Esra gebied, “...want die saak rus op u en ons staan by u; wees sterk en handel!” “Toe het Esra opgestaan en hy het die owerstes van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer om volgens hierdie woord te handel; en hulle het gesweer.” (Verse 2-5) DVvPEk 485.2

Dit was die begin van ‘n wonderbaarlike hervorming. Met oneindige geduld en takt en met noukeurige oorweging van die regte en welsyn van elke betrokke individu, het Esra en sy medewerkers daarna gestreef om die boetvaardiges van Israel op die regte pad te lei. Bowenal was Esra ‘n wetgeleerde; en terwyl hy sy persoonlike aandag aan die ondersoek van elke saak gegee het, het hy probeer om die volk te beïndruk met die heiligheid van hierdie wet en die seëninge wat deur gehoorsaamheid daaraan verkry sou word. DVvPEk 485.3

Waar Esra ook al gearbei het, was daar ‘n herlewing in die studie van die Heilige Skrif. Onderwysers is aangestel om die volk te onderrig; die wet van die HERE is verhoog en eerbaar gemaak. Die boeke van die profete is ondersoek en die gedeeltes wat die koms van die Messias voorspel het, het hoop en vertroosting aan menige seer en vermoeide hart gebring. DVvPEk 486.1

Meer as tweeduisend jaar het verloop sedert Esra “...sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag...” (Esra 7:10); tog het die tydsverloop die invloed van sy vroom voorbeeld nie laat afneem nie. Deur die eeue heen het die verslag van sy toegewyde lewe baie met vasberadenheid geïnspireer om “...die wet van die HERE te ondersoek en te betrag.” [Volgens die KJV: “...and to do it.”] DVvPEk 486.2

Esra se motiewe was hoogs heilig; in alles wat hy gedoen het, was hy deur ‘n innige liefde vir siele aangespoor. Die medelye en deernis wat hy teenoor diegene wat gesondig het openbaar het, hetsy opsetlik of deur onkunde, behoort ‘n objekles vir almal wat hervormings wil bewerkstellig, te wees. Die diensknegte van God moet rotsvas staan wanneer regte beginsels ter sprake is; en tog, in dit alles, moet hulle simpatie en verdraagsaamheid openbaar. Soos Esra, moet hulle oortreders ‘n lewenswyse leer wat beginsels nastreef wat die grondslag van alle regskapenheid is. DVvPEk 486.3

In hierdie tyd van die wêreld se geskiedenis, wanneer Satan deur middel van veelvuldige agentskappe probeer om die oë van manne en vroue vir die bindende aansprake van die wet van God te verblind, is daar ‘n behoefte aan mense wat vir baie ‘n “...[ge]beef vir die gebod van onse God...” kan veroorsaak. (Esra 10:3) Daar is ‘n behoefte aan ware hervormers wat oortreders na die groot Wetgewer sal verwys en hulle sal leer dat “...die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel.” (Ps.19:7). Daar is ‘n behoefte aan mense wat magtig in die Skrifte is, mense wie se woorde en dade die insettinge van Jehova verhef, mense wat daarna streef om geloof te versterk. Onderwysers is nodig, o, soveel, wat harte met eerbied en liefde vir die Skrif sal inspireer. DVvPEk 486.4

Die wydverspreide ongeregtigheid wat vandag heers, kan tot ‘n groot mate aan die gebrek om die Skrif te bestudeer en te gehoorsaam toegeskryf word, want wanneer die woord van God ter syde gestel word, word die mag daarvan om die bose hartstogte van die natuurlike hart te beteuel, verwerp. Die mens saai na die vlees en oes korrupsie na die vlees. DVvPEk 487.1

Met die tersydestelling van die Bybel, het die wegdraai van God se wet gekom. Die leerstelling dat mense vrygestel word van gehoorsaamheid aan Goddelike voorskrifte, het die mag van morele verpligtinge verswak en die sluise van ongeregtigheid oor die wêreld geopen. Wetteloosheid, losbandigheid en korrupsie het soos ‘n oorweldigende vloed ingesypel. Oral word afguns, kwaadwilligheid, skynheiligheid, vervreemding, wedywering, stryd, verraad van heilige vertroue en oorgawe aan wellus, waargeneem. Die hele stelsel van godsdienstige beginsels en leerstellings, wat die grondslag en raamwerk van die samelewing moet vorm, blyk ‘n wankelende massa te wees, gereed om in duie te stort. DVvPEk 487.2

In die laaste dae van die aarde se geskiedenis verklaar die Stem wat vanaf Sinai gespreek het: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” (Ex 20:3) Die mens het sy wil teen God se wil ingestel, maar hy kan die opdrag nie stilmaak nie. Die menslike verstand kan nie sy verpligting teenoor ‘n Hoër Mag ontduik nie. Teorieë en bespiegeling mag volop wees; mense kan probeer om die wetenskap in teenstelling met openbaring te stel en om sodoende die wet van God uit die weg te ruim; maar die opdrag kom steeds sterker en sterker: “Die HERE jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Matt 4:10) DVvPEk 487.3

Daar bestaan nie so iets soos die afwatering of versterking van die wet van Jehova nie. Soos dit was, so is dit. Dit was nog altyd en sal altyd heilig, regverdig en goed wees, op sigself volledig. Dit kan nie herroep of gewysig word nie. Om dit te “eer” of “onteer” is slegs die woorde van mense. DVvPEk 488.1

Die laaste groot stryd tussen waarheid en dwaling sal tussen die wet van mense en die voorskrifte van Jehova ontstaan. Ons betree nou daardie stryd — nie ‘n stryd tussen mededingende kerke wat vir oppergesag meeding nie, maar tussen die godsdiens van die Bybel en die godsdienste van fabel en tradisie. Die agentskappe wat teen die waarheid verenig het, is reeds aktief aan die werk. God se Heilige Woord, wat ten koste van soveel lyding en bloedvergieting aan ons oorhandig is, word min gewaardeer. Daar is min wat dit regtig as die reël van die lewe aanvaar. Ontrouheid heers in ‘n kommerwekkende mate, nie slegs in die wêreld nie, maar ook in die kerk. Baie het leerstellings wat die kern van die Christelike geloof is, ontken. Die groot feite aangaande die skepping, soos deur geïnspireerde skrywers aan ons gebring, die sondeval, die versoening, die ewigheid van die wet — dit word deur ‘n groot deel van die beweerde Christen-wêreld verwerp. Duisende wat oor hulle kennis roem, beskou dit as ‘n bewys van swakheid om implisiete vertroue in die Bybel te plaas en as ‘n bewys van geleerdheid om hare te kloof oor die Skrifte en te vergeestelik en die belangrikste waarhede weg te redeneer. DVvPEk 488.2

Christene moet hulle voorberei vir wat spoedig as ‘n oorweldigende verrassing oor die wêreld gaan kom en hierdie voorbereiding moet deur die deeglike studie van God se woord geskied en ‘n strewe om hul lewens in ooreenstemming met die voorskrifte daarvan te bring. Die geweldige kwessies van die ewigheid vereis van ons meer as net ‘n denkbeeldige godsdiens, ‘n godsdiens van woorde en vorms, waar die waarheid in die buitenste hof bewaar word. God doen ‘n beroep vir herlewing en hervorming. Die woorde van die Bybel en die Bybel alleen, moet vanaf die kansel gehoor word. Maar die Bybel is van sy mag beroof en die resultaat word in die verlaging van die toon van die geestelike lewe gesien. In baie preke van vandag ontbreek die Goddelike manifestasie wat die gewete wek en lewe aan die siel skenk. Die hoorders kan nie sê: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Luk 24:32) DVvPEk 488.3

Daar is baie wat die lewende God aanroep en smag na die Goddelike teenwoordigheid. Laat die woord van God tot die hart spreek. Laat diegene wat slegs tradisie en menslike teorieë en spreekwoorde gehoor het, die stem van Hom hoor wat die siel tot die ewige lewe kan vernuwe. DVvPEk 489.1

Groot lig het uit die patriarge en profete voortgekom. Glorieryke dinge is van Sion, die stad van God gesê. So beplan die HERE dat Sy lig vandag deur sy volgelinge sal skyn. As die heiliges van die Ou Testament so ‘n helder getuienis van lojaliteit getoon het, behoort diegene op wie die versamelde lig van die eeue skyn, nie nog meer getuienis van die krag van die waarheid te lewer nie? Die heerlikheid van die profesieë werp hul lig op ons pad. Tipe het antitipe in die dood van God se seun ontmoet. Christus het uit die dood opgestaan en aangaande die leë graf geproklameer: “Ek is die opstanding en die lewe.” (Joh 11:25) Hy het sy Gees na die wêreld gestuur om ons aan alle dinge te herinner. Deur wonderwerkende krag het Hy sy geskrewe woord deur die eeue bewaar. DVvPEk 489.2

Die Hervormers wie se protes aan ons die naam van Protestante gegee het, het gevoel dat God hulle geroep het om die lig van die evangelie aan die wêreld te bring; en in hul poging om dit te vermag, was hulle bereid om hul besittings, hul vryheid en selfs hul lewe op te offer. Te midde van vervolging en dood is die evangelie naby en ver verkondig. Die woord van God is aan mense oorgedra; en alle klasse, hoog en laag, ryk en arm, geleerd en onkundig, het dit gretiglik vir hulself bestudeer. Is ons, in die laaste konflik van die groot stryd, so getrou aan ons vertroue soos die vroeë Hervormers aan hulle vertroue was? DVvPEk 489.3

“Blaas die basuin op Sion, heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders ... Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?” “Bekeer julle tot My met julle hele hart en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seën sal agterlaat.” (Joël 2:15-17;12-14) DVvPEk 490.1