Die Verhaal Van Profete en Konings

58/69

Hoofstuk 50—Esra - Priester en Skrifgeleerde

Ongeveer sewentig jaar na die terugkeer van die eerste bannelinge onder leiding van Serubbábel en Josua, het Artasasta Longimanus die troon van Medo-Persië bestyg. Die naam van hierdie koning word aan die heilige geskiedenis, deur ‘n reeks merkwaardige voorsienings gekoppel. Dit was tydens sy regering wat Esra en Nehemia geleef en gewerk het. Hy is die een wat in 457 vC die derde en laaste dekreet vir die herstel van Jerusalem uitgevaardig het. Onder sy bewind het ‘n groep Jode onder Esra teruggekeer; is die mure van Jerusalem deur Nehemia en sy medewerkers voltooi en is die groot geestelike hervormings deur Esra en Nehemia ingestel. Gedurende sy lang bewind het hy dikwels guns aan God se volk betoon en in sy vertroude en geliefde Joodse vriende, Esra en Nehemia, het hy manne herken wat deur God aangestel is om ‘n spesiale taak uit te voer. DVvPEk 473.1

Die ondervinding van Esra terwyl hy tussen die Jode in Babilon agtergebly het was so ongewoon, dat dit die gunstige aandag van Koning Artasasta getrek het, met wie hy vrylik oor die mag van die God van die hemel gepraat het en die Goddelike doel om die Jode in Jerusalem te herstel. DVvPEk 473.2

Gebore uit die seuns van Aaron, het Esra priesterlike opleiding ontvang; daarbenewens het hy vertroud geraak met die geskrifte van towenaars, die astroloë en die wyse manne van die Medo-Persiese ryk. Maar hy was nie tevrede met sy geestelike toestand nie. Hy het daarna gesmag om in volle harmonie met God te wees; hy het verlang na wysheid om die Goddelike wil uit te voer. Gevolglik het hy “...sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag.” (Esra 7:10) Dit het daartoe gelei dat hy hom ywerig aan die studie van die geskiedenis van God se volk, soos in die skrifte van die profete en konings opgeteken is, toegewy het. Hy het die historiese en poëtiese boeke van die Bybel bestudeer om vas te stel waarom die HERE toegelaat het dat Jerusalem vernietig word en sy inwoners as gevangenes na ‘n heidense land weggevoer is. DVvPEk 473.3

Esra het spesiale aandag aan Israel se ervarings vanaf die tyd wat die beloftes aan Abraham gemaak is, geskenk. Hy het die opdragte wat by die berg Sinai en gedurende die lang swerftog in die wildernis gegee is, bestudeer. Namate hy meer en meer aangaande God se omgang met sy kinders geleer het en die heiligheid van die wet wat by Sinai aan hulle gegee is begryp het, was Esra se hart aangeraak. Hy het ‘n nuwe en deeglike bekering ondergaan en was vasbeslote om die verslae van die heilige geskiedenis te bemeester, sodat hy hierdie kennis kon gebruik om seën en lig vir sy mense te bring. DVvPEk 474.1

Esra het gepoog om sy hart voor te berei vir die werk wat hy geglo het voor hom was. Hy het in alle erns na God gesoek ten einde ‘n wyse leermeester in Israel te wees. Soos wat hy geleer het om sy verstand en wil aan Goddelike beheer oor te gee, het die beginsels van opregte heiligmaking in sy lewe ingekom, wat later jare ‘n vormende invloed, nie net op die jeug wat sy leiding verlang het nie, maar op almal wat met hom in aanraking gekom het, gehad het. DVvPEk 474.2

God het Esra gekies om ‘n instrument ten goede van Israel te wees, om eer aan die priesterlike amp, wat tydens die ballingskap grootliks verduister is, te bring. Esra het ontwikkel tot ‘n man met buitengewone geleerdheid en “...vaardig in die wet van Moses.” (Vers 6) Hierdie kwalifikasies het van hom ‘n vooraanstaande man in die Medo-Persiese koninkryk gemaak. DVvPEk 474.3

Esra het ‘n spreekbuis vir God geword en diegene om hom in die beginsels wat die hemel bestuur, onderrig. Gedurende sy oorblywende jare, of dit naby die hof van die koning van Medo- Persië, of in Jerusalem was, was sy vernaamste werk die van ‘n leraar. Soos hy die waarhede wat hy geleer het aan andere deurgegee het, het sy kapasiteit vir arbeid toegeneem. Hy het 'n man van vroomheid en ywer geword. Hy was God se getuie aan die wêreld oor die mag van Bybelse waarheid om die daaglikse lewe te veredel. DVvPEk 474.4

Esra se pogings om belangstelling in die studie van die Skrif te laat herleef, is deur sy moeitevolle, lewenslange werk om die Heilige Skrifte te bewaar en te vermeerder, verstewig. Hy het al die afskrifte van die wet wat hy kon vind versamel en laat transkribeer en versprei. Die suiwer woord wat op hierdie wyse vermeerder en in die hande van baie mense geplaas is, het kennis wat van onskatbare waarde was verskaf. DVvPEk 475.1

Esra se geloof dat God ‘n magtige werk vir Sy volk sou doen, het hom genoop om vir Artasasta te vertel van sy begeerte om na Jerusalem terug te keer, om ‘n belangstelling in die studie van God se woord te laat herleef en om sy broers te help om die Heilige Stad herbou. Esra se verklaring dat hy volkome vertroue in die God van Israel, wat oorvloediglik in staat is om Sy volk te beskerm en te versorg, het die koning diep beïndruk. DVvPEk 475.2

Hy het deeglik besef dat die Israeliete na Jerusalem sou terugkeer sodat hulle Jehova kon dien; tog was die koning se vertroue in Esra se integriteit so groot, dat hy aan hom spesiale guns betoon het, sy versoek toegestaan en duur geskenke vir die tempeldiens aan hom gegee het. Hy het hom ‘n spesiale verteenwoordiger van die Medo-Persiese koninkryk gemaak en aan hom uitgebreide magte vir die uitvoering van die doelwitte wat in sy hart was, verleen. DVvPEk 475.3

Die dekreet van Artasasta Longimanus vir die herstel en bou van Jerusalem, die derde wat sedert die einde van die sewentig jaar van ballingskap uitgereik is, was merkwaardig ten opsigte van sy uitlatings oor die God van die Hemel, vir die erkenning van die prestasies van Esra en vir die vrygewigheid van die geskenke wat aan die oorblyfsel volk van God gegee is. Artasasta verwys na Esra as “...die priester-skrifgeleerde, wat skrifgeleerd was in die woorde van die gebooie en insettinge van die HERE oor Israel...” die “...skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel.” “Die koning en sy raadsmanne [het] vrywillig [ge]gee aan die God van Israel wie se woning in Jerusalem is;” en daarbenewens het hy voorsiening gemaak vir baie groot uitgawes, deur te beveel dat dit betaal moet word “...uit die skathuis van die koning. (Verse 11, 12, 15, 20) DVvPEk 475.4

“Omdat jy vanweë die koning en sy sewe raadsmanne gestuur is om oor Juda en in Jerusalem ondersoek te doen volgens die wet van jou God wat in jou hand is...” het Artasasta aan Esra verklaar, daarom “...Alles wat volgens die bevel van die God van die hemel is, moet stiptelik uitgevoer word vir die huis van die God van die hemel; want waarom sou daar ‘n toorn kom oor die koninkryk van die koning en sy seuns?” (Verse 14, 23) DVvPEk 476.1

Met die toestemming aan die Israeliete om terug te keer, het Artasasta gereël vir die herinstelling van die lede van die priesterdom tot hul vorige rituele en voorregte. “En ons maak julle bekend...” het hy verklaar, “dat wat betref al die priesters en Leviete, sangers, poortwagters, tempel bediendes of dienaars van hierdie huis van God, niemand gemagtig is om hulle belasting, opbrings of tol op te lê nie.” Hy het ook gereël dat burgerlike offisiere aangestel word om die volk regverdig volgens die Joodse wetgewing te bestuur. “En jy, Esra, volgens die wysheid van jou God wat jy besit, stel owerhede en regters aan om vir die hele volk wat wes van die Eufraat is, reg te spreek, almal wat die wette van jou God ken; en wie dit nie ken nie, moet julle dit leer. En elkeen wat die wet van jou God en die wet van die koning nie doen nie, teen hom moet geregtelik opgetree word, hetsy ter dood of tot verbanning of geldboete of gevangenisstraf.” (Verse 24-26) DVvPEk 476.2

Dus, “...omdat die goeie hand van sy God oor hom was... ” het Esra die koning oorreed om oorvloediglik voorsiening te maak vir die terugkeer van al die mense van Israel en die priesters en die Leviete in die Medo-Persiese koninkryk, wat “...gewillig is om na Jerusalem te trek.” (Verse 9,13) So het die verspreide kinders weer die geleentheid gekry om na die land, die besitneming waarvan gekoppel was aan die beloftes aan die huis van Israel, terug te keer. Hierdie dekreet het groot vreugde vir diegene wat met Esra verenig het in die studie aangaande God se doel vir sy volk gebring. “Geloofd sy die HERE, die God van ons vaders...” het Esra uitgeroep, “...wat so iets in die hart van die koning gegee het, om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te versier; en wat my guns laat vind het voor die koning en sy raadsmanne en voor al die magtige vorste van die koning.” (Verse 27,28) DVvPEk 476.3

In die uitreiking van hierdie dekreet deur Artasasta, was God se voorsienigheid duidelik te sien. Sommige het dit onderskei en met blymoedigheid die geleentheid benut om onder sulke gunstige omstandighede terug te keer. ‘n Algemene vergaderplek is aangewys en op die vasgestelde tyd, het diegene wat na Jerusalem wou terugkeer, vir die lang reis byeengekom. “En ek het hulle versamel by die rivier wat na Ahawa loop en ons het daar drie dae laer opgeslaan.” (Esra 8:1) DVvPEk 477.1

Esra het verwag dat ‘n groot aantal na Jerusalem sou terugkeer, maar die getal wat op die oproep reageer het, was teleurstellend. Baie wat huise en grond bekom het, het geen begeerte gehad om hierdie besittings op te offer nie. Hulle het van die gerief en gemak gehou en was tevrede om te bly. Hulle voorbeeld was ‘n struikelblok vir diegene wat andersins sou verkies het om in geloof hul lot by diegene wat vooruitgegaan het te werp. DVvPEk 477.2

Toe Esra na die versamelde groep kyk, was hy verbaas om nie een van die seuns van Levi te sien nie. Waar was die lede van die stam wat afgesonder was vir die heilige dienste van die tempel? Op die oproep: Wie is aan die HERE se kant? moes die Leviete die eerste gewees het om te reageer. Gedurende die ballingskap en daarna, is baie voorregte aan hulle toegestaan. DVvPEk 477.3

Hulle het die grootste vryheid geniet om in die geestelike behoeftes van hul broers in ballingskap te voorsien. Daar is sinagoges gebou waarin die priesters die aanbidding van God waargeneem en die volk onderrig het. Die onderhouding van die Sabbat en die uitvoering van die heilige rituele wat eie aan die Joodse geloof was, is vrylik toegelaat. DVvPEk 477.4

Maar met die verstryking van die jare tot die einde van die ballingskap, het die toestande verander en baie nuwe verantwoordelikhede het op die Joodse leiers in Israel gerus. Die tempel in Jerusalem is herstel en toegewy en meer priesters was nodig om die dienste te verrig. Daar was ‘n dringende behoefte aan manne van God om as leraars van die volk op te tree. En buitendien het die Jode wat in Babilon agtergebly het, die gevaar geloop dat hul godsdiensvryheid ingeperk sou word. Deur die profeet Sagaria, sowel as hul onlangse ondervinding gedurende die moeilike tye van Ester en Mordegai, is die Jode in Medo-Persië uitdruklik gewaarsku om na hul eie land terug te keer. Die tyd het aangebreek dat dit gevaarlik begin word het om langer te midde van die heidense invloede te woon. In die lig van hierdie veranderde omstandighede, moes die priesters in Babilon onmiddellik, met die uitreiking van die dekreet, die spesiale oproep aan hulle om na Jerusalem terug te keer, onderskei het. DVvPEk 478.1

Die koning en sy vorste het meer as hul deel gedoen om die weg vir die terugkeer te open. Hulle het oorvloedige middele voorsien, maar waar was die manne? Die seuns van Levi het, op ‘n tydstip toe die invloed van ‘n besluit om hul broers te vergesel ander kon gelei het om hul voorbeeld te volg, kennelik misluk. Hierdie vreemde onverskilligheid was ‘n hartseer openbaring van die houding van die Israeliete in Babilon teenoor God se voorneme met Sy volk. DVvPEk 478.2

Weereens het Esra ‘n beroep op die Leviete gedoen en aan hulle ‘n dringende uitnodiging gestuur om by sy geselskap aan te sluit. Om die belangrikheid van haastige optrede te beklemtoon het hy, saam met sy geskrewe pleidooi, verskeie van sy “hoofde” en “leraars” (Esra 7:28;8:16) saamgestuur. DVvPEk 478.3

Terwyl die reisigers saam met Esra vertoef het, het hierdie betroubare boodskappers met die pleidooi gehaas “...dat hulle vir ons dienaars vir die huis van onse God moes bring.” (Esra 8:17) Daar is gehoor gegee aan die versoek; sommige wat getwyfel het, het finaal besluit om terug te keer. Altesaam is ongeveer veertig priesters en tweehonderd-en-twintig tempeldienaars — manne op wie Esra kon staatmaak as wyse predikers en goeie leraars —na die kamp gebring. DVvPEk 479.1

Alles was nou in gereedheid vir die vertrek. Voor hulle was ‘n reis wat etlike maande sou duur. Die mans het hul vrouens en kinders, asook hulle besittings saamgeneem, tesame met groot skatte vir die tempel en die dienste daarvan. Esra was bewus daarvan dat vyande hulle langs die pad sou inwag om hom en sy geselskap te beroof en te vernietig; tog het hy geen gewapende mag vir beskerming van die koning gevra nie. “Want ek was skaam...” was sy verweer, “...om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar Sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat.” (Vers 22) DVvPEk 479.2

In hierdie saak het Esra en sy geselskap die geleentheid gesien om die naam van God voor die heidene te verhoog. Geloof in die mag van die lewende God sou gesterk word as die Israeliete self nou implisiete geloof in hul Goddelike Leier toon. Daarom het hulle besluit om volkome op Hom te vertrou. Hulle sou geen soldate-wag aanvra nie. Hulle sou nie aan die heidene enige geleentheid bied om die eer wat God alleen toekom, aan die krag van die mens toe te ken nie. Hulle kon dit nie bekostig om twyfel oor die opregtheid van hul afhanklikheid van God as Sy volk, by hul heidense vriende te kweek nie. Krag sou verkry word, nie deur rykdom, of deur mag en invloed van afgodedienaars nie, maar deur die guns van God. Slegs deur die wet van die HERE aan hulle voor te hou en daarna te streef om dit te gehoorsaam, sou hulle beskerm word. DVvPEk 479.3

Hierdie besef van die voorwaardes waaronder hulle die voorspoedige hand van God sou bly geniet, het meer as gewone plegtigheid aan die toewydingsdiens wat Esra en sy getroue geselskap net voor hul vertrek gehou het, verleen. “Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed.” “So het ons dan gevas en onse God dit gevra en Hy het ons verhoor.” (Verse 21, 23) DVvPEk 480.1

Die seën van God het egter nie die uitoefening van omsigtigheid en voorsorg onnodig gemaak nie. As ‘n spesiale voorsorgmaatreël vir die beskerming van die skatte, het Esra “...die priesterowerstes twaalf [in getal] afgesonder” ... manne wie se getrouheid en lojaliteit bewys is. “En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die offergawe aan die huis van onse God wat die koning en sy raadsmanne en sy vorste en die hele Israel wat aanwesig was, aangebied het.” Hierdie manne is plegtig aangesê om as waaksame rentmeesters oor die skatte wat aan hul sorg toevertrou is, op te tree. “Julle is heilig aan die HERE...” het Esra gesê, “...en die voorwerpe is heilig en die silwer en die goud is ‘n vrywillige gawe aan die HERE, die God van julle vaders. Waak daaroor en bewaar dit, totdat julle dit afweeg voor die owerstes van die priesters en die Leviete en die familie-owerstes van Israel in Jerusalem, in die vertrekke van die huis van die HERE.” (Verse 24,25,28,29) DVvPEk 480.2

Die voorsorg wat Esra vir die vervoer en veilige bewaring van die HERE se skatte getref het, is ‘n les wat deurdagte studie waardig is. Slegs diegene wie se betroubaarheid bewys was, is gekies en aan hulle is uitdruklike opdrag gegee oor die verantwoordelikheid wat op hulle rus. In die aanstelling van getroue amptenare om as rentmeesters oor die HERE se besittings te waak, het Esra die noodsaaklikheid en waarde van orde en organisasie aangaande die werk van God beklemtoon. DVvPEk 480.3

Gedurende die paar dae wat die Israeliete by die rivier vertoef het, is alle voorsorg vir die lang reis voltooi. “Daarna het ons...” het Esra geskryf, “...weggetrek van die rivier Ahawa af op die twaalfde van die eerste maand, om na Jerusalem te gaan; en die hand van onse God was oor ons, sodat Hy ons gered het uit die hand van die vyand en die wat ons voorlê op die pad.” (Vers 31) Die reis het ongeveer vier maande geduur, want die menigtes wat Esra vergesel het, etlike duisende in getal, het ook vrouens en kinders ingesluit, wat die vordering vertraag het. Maar almal is veilig bewaar. Hul vyande is daarvan weerhou om hulle leed aan te doen. Hulle reis was voorspoedig en op die eerste dag van die vyfde maand, in die sewende jaar van Artasasta, het hulle Jerusalem bereik. DVvPEk 481.1