Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 49—In die Dae van Koningin Ester
Deur die guns wat Kores aan hulle bewys het, het byna vyftigduisend van die kinders van die ballingskap voordeel uit die bevel om terug te keer getrek. Dit was egter net ‘n oorblyfsel in vergelyking met die honderdduisende wat oor die provinsies van Medo-Persië verspreid was. Die oorgrote meerderheid van die Israeliete het gekies om in die land van hul ballingskap agter te bly, eerder as om die ontberinge van die terugreis en die hervestiging van hul verlate stede en huise te ervaar. DVvPEk 467.1
Sowat twintig jaar of langer het verloop toe Darius, die monarg wat toe geheers het, ‘n tweede dekreet net so gunstig soos die eerste, uitgevaardig het. So het God in genade, nog ‘n geleentheid aan die Jode in die Medo-Persiese ryk gebied om na die land van hul vaders terug te keer. Die HERE het die moeilike tye wat tydens die regering van Xerxes, (Ahasveros in die boek Ester) sou volg, voorsien en Hy het nie net ‘n verandering van gesindheid in die harte van mense met gesag bewerk nie, maar ook vir Sagaria geïnspireer om by die ballinge te pleit om terug te keer. DVvPEk 467.2
“Op, op, vlug uit die Noordland...” was die boodskap aan die verspreide stamme van Israel wat gevestig geraak het in baie lande, ver van hul vorige tuiste. “Want Ek het julle na die vier windstreke van die hemel verstrooi, spreek die HERE. Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel! Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel aan. Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ‘n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.” (Sag 2:6-9) DVvPEk 467.3
Dit was steeds die bedoeling van die HERE, soos dit van die begin af was, dat Sy volk ‘n lof op aarde sou wees tot eer van Sy Naam. Gedurende die lang jare van hul ballingskap het Hy aan hulle baie geleenthede gebied om terug te keer na hul trou aan Hom. Sommige het gekies om te luister en te leer; sommige het verlossing te midde van beproewing ervaar. Baie van hulle kon onder diegene wat as ‘n oorblyfsel teruggekeer het getel word. Hulle is deur Inspirasie vergelyk met “...die verhewe top van die seder...” wat geplant is “...op ‘n hoë en verhewe berg ... die hoë berg van Israel.” (Es. 17:22,23) DVvPEk 468.1
Dit was diegene “...wie se gees God opgewek het...” (Esra 1:5), wat onder die dekreet van Kores teruggekeer het. Maar God het nie opgehou om met hulle, wat uit vrye wil in die land van hul ballingskap agtergebly het, te pleit nie en deur menige agentskappe, het Hy het dit ook vir hulle moontlik gemaak om terug te keer. Die groot aantal van diegene, wat egter nie op die bevel van Kores gereageer het nie, kon nie deur latere invloede beïndruk word nie; en selfs nadat Sagaria hulle gemaan het om sonder verwyl uit Babilon te vlug, het hulle nie gehoor aan die uitnodiging gegee nie. DVvPEk 468.2
Intussen het die omstandighede in die Medo-Persiese Ryk spoedig verander. Darius, onder wie se heerskappy daar merkbare guns aan die Jode betoon was, is deur Ahasveros die Grote opgevolg. Dit was tydens sy bewind dat die Jode, wat nie aan die boodskap om te vlug gehoor gegee het nie, ‘n ernstige krisis in die gesig gestaar het. Omdat hulle geweier het om die ontsnaproete wat God voorsien het te benut, is hulle nou van aangesig tot aangesig met die dood gebring. DVvPEk 468.3
Satan het in hierdie tyd deur Haman, die Agagiet, ‘n gewetenlose man met hoë gesag in Medo-Persië, gewerk om die voornemens van God teë te werk. Haman het bittere kwaadwilligheid teenoor Mordegai die Jood, gekoester. Mordegai het Haman geen kwaad aangedoen nie, maar het eenvoudig geweier om aan hom aanbiddende eerbetoon te bewys. Met veragting wou hy nie net “...die hand aan Mórdegai alleen ... slaan...” nie, maar ook om “...al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasvéros was, die volk van Mórdegai, te verdelg.” (Est 3:6) DVvPEk 468.4
Ahasveros is deur die valse verklarings van Haman mislei om ‘n bevel uit te vaardig wat voorsiening gemaak het vir die slagting van al die Jode “...wat verstrooid en afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies...” van die koninkryk. (Vers 8) ‘n Sekere dag is bepaal waarop alle Jode gedood en beslag op hul eiendom gelê sou word. Die koning het nie die verreikende gevolge besef wat die volledige uitvoering van hierdie besluit sou vergesel nie. Satan self, die verskuilde opstoker agter hierdie plan, het gepoog om die aarde te bevry van diegene wat die kennis van die ware God bewaar het. DVvPEk 469.1
“In al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom, was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en as onder hulle uitgesprei.” (Est 4:3) Die dekreet van die Meders en Perse kon nie herroep word nie; daar was blykbaar geen hoop nie; al die Israeliete was gedoem tot vernietiging. DVvPEk 469.2
Maar die komplotte van die vyand is deur ‘n Mag wat onder die mensekinders heers, verslaan. In die voorsienigheid van God is Ester, ‘n Jodin wat die Allerhoogste gevrees het, koningin van die Medo-Persiese ryk gemaak. Mordegai was ‘n nabye familielid van haar. In hul uiterste nood het hulle besluit om, ten behoewe van hul volk, by Ahasveros te pleit. Ester sou as middelaar, dit in sy teenwoordigheid waag. “Wie weet...” het Mordegai gesê, “...of jy nie met die oog op ‘n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?” (Vers 14) DVvPEk 469.3
Die krisis waarvoor Ester te staan gekom het, het vinnige en ernstige optrede geverg; maar beide sy en Mordegai het besef dat, tensy God op ‘n kragtige wyse vir hulle werk, hul eie pogings nutteloos sou wees. Ester het dus tyd geneem vir gemeenskap met God, die Bron van haar krag. “Gaan heen...” het sy aan Mordegai gesê, “...versamel al die Jode wat in Susan te vinde is en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie en as ek omkom, dan kom ek om.” (Vers 16) DVvPEk 469.4
Die gebeure wat vinnig opmekaar gevolg het, naamlik die verskyning van Ester voor die koning, die opvallende guns wat aan haar betoon is, die bankette van die koning en die koningin met Haman as enigste gas, die onrustige slaap van die koning, die openbare eer wat aan Mordegai betoon is en die vernedering en val van Haman na die ontdekking van sy bose komplot, dit alles is deel van ‘n bekende verhaal. God het wonderbaarlik vir Sy boetvaardige volk gewerk; en ‘n teenbevel wat deur die koning uitgevaardig is, wat hulle toegelaat het om vir hul lewens te veg, is spoedig deur die berede boodskappers na alle dele van die koninkryk gebring. “In al die provinsies en in al die stede waar die bevel van die koning en sy wet ook al aangekom het, was daar vrolikheid en vreugde by die Jode, maaltyd en feesdag; en baie uit die volke van die land het Jode geword, want die skrik vir die Jode het op hulle geval.” (Est 8:17) DVvPEk 470.1
Op die dag wat vir hul vernietiging bestem is, “...het die Jode saamgekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasvéros om die hand te slaan aan die wat hulle onheil gesoek het; en niemand het voor hulle standgehou nie, want die skrik vir hulle het op al die volke geval.” (Ester 9:2) Magtige engele is deur God opdrag gegee om Sy volk te beskerm terwyl hulle hulself verdedig. DVvPEk 470.2
Mordegai is in die ere-posisie wat voorheen deur Haman beklee was, aangestel. Hy “...was die tweede in rang onder koning Ahasvéros; en hy was groot by die Jode en ‘n liefling by die menigte van sy broers...” (Est 10:3) en hy het hom beywer vir die welvaart van Israel. So het God Sy uitverkore volk weer in guns by die Medo-Persiese hof gebring en dit moontlik gemaak om Sy doel om hulle in hul eie land te hervestig, uit te voer. Maar dit was eers ‘n klompie jare later, in die sewende jaar van Artasasta I, die opvolger van Ahasveros die Grote, wat ‘n aansienlike aantal mense, onder leiding van Esra na Jerusalem teruggekeer het. DVvPEk 470.3
Die beproewende ervarings wat in die dae van Ester oor God se volk gekom het, is nie sonderling aan daardie tyd alleen nie. Die openbaarder, wat deur die eeue heen tot aan die einde van tyd gekyk het, het verklaar: “En die draak was vertoornd op die vrou en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” (Op 12:17) Sommige wat vandag op die aarde lewe, sal die vervulling van hierdie woorde sien. Dieselfde gees wat mense in die vorige eeue gelei het om die ware kerk te vervolg, sal in die toekoms weer lei na ‘n soortgelyke weg teenoor diegene wat hul lojaliteit aan God handhaaf. Selfs nou word voorbereidings vir hierdie laaste stryd getref. DVvPEk 471.1
Die dekreet wat uiteindelik teen die oorblyfsel-volk van God uitgereik sal word, sal baie ooreenstem met dit wat Ahasveros teen die Jode uitgevaardig het. Vandag sien die vyande van die ware kerk, in die klein groepie wat die Sabbatsgebod hou, ‘n Mordegai by die hek. Die eerbied van God se volk vir Sy wet is ‘n voortdurende teregwysing aan diegene wat die vrees van die HERE versmaai het en Sy Sabbat vertrap. DVvPEk 471.2
Satan sal verontwaardiging opwek teen die minderheid wat weier om populêre gebruike en tradisies te aanvaar. Mense met gesag en invloed sal saam met die wetteloses en veragtelikes raad hou teen die volk van God. Rykdom, genialiteit en opvoeding, sal saamspan om hulle met minagting te oordek. Heersers wat vervolg, predikante en gemeentelede sal teen hulle saamsweer. Met stem en pen, deur grootpratery, dreigemente en bespotting, sal hulle poog om hul geloof omver te werp. Deur valse voorstellings en heftige vertoë, sal die hartstogte van mense opgewek word. Omdat hulle nie ‘n “So sê die Skrifte” het om teen die voorstanders van die Bybelse Sabbat te bring nie, sal hulle onderdrukkende maatreëls beoefen om die gebrek aan te vul. Om gewildheid en ondersteuning te bekom, sal wetgewers toegee aan die versoek vir Sondag wetgewing. Maar diegene wat God vrees kan nie ‘n instelling aanvaar wat die voorskrifte van die dekaloog oortree nie. Op hierdie slagveld sal die laaste groot stryd in die omstredenheid tussen waarheid en dwaling gevoer word. Ons word nie in twyfel oor hierdie kwessie gelaat nie. Vandag, net soos in die dae van Ester en Mordegai, sal die HERE Sy waarheid en Sy volk regverdig. DVvPEk 471.3