Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 48—“Nie Deur Krag of Deur Geweld Nie”
Onmiddellik na Sagaria se visioen van Josua en die Engel, het die profeet ‘n boodskap aangaande die werk van Serubbábel ontvang: “En die engel wat met my gespreek het...” het Sagaria verklaar, “...het teruggekom en my gewek soos ‘n man wat uit die slaap opgewek word. En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar ‘n kandelaar, heeltemal van goud en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.” DVvPEk 463.1
“Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? ... Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” DVvPEk 463.2
“Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? ... En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die HERE van die ganse aarde staan.” (Sag 4:1-6,11-14) DVvPEk 463.3
In hierdie visioen word die twee olyfbome wat voor God staan, verteenwoordig dat hulle die goue olie uit hulself deur goue buise in die bak van die kandelaar uitstort. Hierdeur word die lampe van die heiligdom gevoed, sodat dit ‘n helder, deurlopende lig kan gee. So sal die gesalfdes wat in God se teenwoordigheid staan, die volheid van Goddelike lig, liefde en krag aan Sy volk verleen, sodat hulle weer lig, vreugde en verkwikking aan ander kan verleen. Diegene wat op hierdie wyse verryk word, moet ander met die skat van God se liefde verryk. DVvPEk 463.4
Met die heropbou van die huis van die HERE het Serubbábel te midde van veelvuldige probleme gewerk. Uit die staanspoor het teëstanders “...die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie...” “...en hulle met geweld en mag laat ophou.” (Esra 4:4, 23) Maar die HERE het namens die bouers ingetree en het nou deur Sy profeet tot Serubbábel gespreek en gesê: “Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!” (Sag 4:7) DVvPEk 464.1
Regdeur deur die geskiedenis van God se volk het groot berge moeilikheid, skynbaar onoorkomelik, voor diegene wat probeer het om die oogmerke van die Hemel uit te voer, opgedoem. Sulke struikelblokke word deur die HERE as ‘n toets van geloof toegelaat. Wanneer ons van alle kante omsluit word, is dit die aangewese tyd om op God en in die krag van Sy Gees te vertrou. Die uitoefening van ‘n lewende geloof beteken ‘n toename in geestelike krag en die ontwikkeling van ‘n onwankelbare vertroue. Dit is hoe die siel ‘n oorwinnende mag word. Voor die eis van geloof sal die struikelblokke wat Satan in die Christen se weg plaas, verdwyn; want die magte van die hemel sal hom te hulp kom. “Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Matt 17:20) DVvPEk 464.2
Die weg van die wêreld is om met prag en praal te begin. God se weg is om van ‘n dag van klein dingetjies, die begin van glorieryke oorwinnings, waarheid en geregtigheid te maak. Soms lei Hy sy werkers op deur teleurstelling en oënskynlike mislukking oor hulle te bring. Sy doel is dat hulle sal leer om probleme te bemeester. DVvPEk 464.3
Mense word dikwels in die versoeking gebring om voor probleme en struikelblokke wat hulle mag teëkom, te wankel. Maar as hulle uit die staanspoor tot aan die einde met vertroue onwrikbaar bly, sal God die weg duidelik maak. Sukses sal volg soos hulle met probleme worstel. Met die onverskrokke gesindheid en onwankelbare geloof van ‘n Serubbábel, sal groot berge van moeilikhede ‘n vlakte word; en Hy wie se hande die fondasie gelê het, dieselfde “...hande sal dit voltooi.” “Hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!” (Sag 4:9,7) DVvPEk 464.4
Menslike krag en mag het nie die kerk van God gestig nie en hulle kan dit ook nie vernietig nie. Nie op die rots van menslike krag nie, maar op Christus Jesus, die Rots van die Eeue, is die kerk gegrondves en “...die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt 16:18) Die teenwoordigheid van God gee stabiliteit aan Sy saak. “Vertrou nie op prinse, op die mensekind nie...” is die woord aan ons gegee. (Ps 146:3) “In stil wees en vertroue bestaan julle krag.” (Jes 30:15) God se glorieryke werk, gegrond op die ewige beginsels van reg, sal nooit tot niks kom nie. Dit sal van krag tot krag gaan: “...nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees sê die HERE van die leërskare.” (Jes 4:6) DVvPEk 465.1
Die belofte: “Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê en sy hande sal dit voltooi...” was letterlik vervul (Vers 9). “En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Hággai en Sagaria, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Darius en Artasásta, koning van Persië. En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Darius.” (Esra 6:14,15) DVvPEk 465.2
Kort daarna is die gerestoureerde tempel ingewy: “En die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier... En ... Pasga gehou op die veertiende van die eerste maand.” (Verse 16,19) DVvPEk 465.3
Die tweede tempel was nie in glorie gelykstaande aan die eerste nie en dit is ook nie deur die sigbare tekens van die Goddelike teenwoordigheid geheilig soos wat op die eerste tempel van toepassing was nie. Daar was geen manifestasie van Bonatuurlike Mag om die toewyding daarvan aan te dui nie. Geen vuur uit die hemel het die offer op die altaar verteer nie. Die Shekinah was nie langer tussen die twee gerubs in die allerheiligste teenwoordig nie; die ark, die versoendeksel en die tafels met die gebooie, was nie daar nie. Geen tekens uit die hemel het die wil van Jehova aan die ondersoekende priester bekend gemaak nie. DVvPEk 465.4
En tog was dit die gebou waarvan die HERE deur die profeet Haggai gesê het: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre.” “Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul.” (Hag 2:9,7).Eeue lank het geleerde mense probeer om aan te dui hoe die belofte van God wat aan Haggai gegee is, vervul is; tog, met die koms van Jesus van Nasaret, die Begeerte van alle nasies, wat deur Sy persoonlike teenwoordigheid die gebied van die tempel geheilig het, het baie onwrikbaar geweier om enige spesiale betekenis daarin te sien. Trots en ongeloof het hul gedagtes vir die ware betekenis van die profeet se woorde verblind. DVvPEk 466.1
Die tweede tempel is nie met die wolk van Jehova se heerlikheid vereer nie, maar met die teenwoordigheid van die Een in wie “...al die volheid van die Godheid liggaamlik...” woon, naamlik God Homself “...geopenbaar in die vlees.” (Kol 2:9;1 Tim 3:16) Deur die persoonlike teenwoordigheid van Christus tydens sy aardse bediening en alleenlik hierin, het die tweede tempel die eerste in glorie oortref. Die Begeerte van alle nasies het inderdaad na Sy tempel gekom toe die Man van Nasaret in die heilige howe kom leer en genees het. DVvPEk 466.2