Die Verhaal Van Profete en Konings

55/69

Hoofstuk 47— Josua en die Engel

Die bestendige vooruitgang van die werkers aan die tempel, het die bose skare ontwrig en ontstel. Satan het met meer vasberadenheid toegeslaan om God se volk te verswak en te ontmoedig, deur die onvolmaaktheid van hul karakter aan hulle voor te hou. Indien diegene, wat lank as gevolg van oortreding gely het, weer oorgehaal kon word om God se gebooie te verontagsaam, sou hulle weereens onder die slawerny van sonde gebring word. DVvPEk 454.1

Omdat Israel gekies was om die kennis van God op aarde te bewaar, was hulle voortdurend die spesiale voorwerpe van Satan se vyandigheid; hy was vasberade om hulle vernietiging te veroorsaak. Terwyl hulle gehoorsaam was, kon hy hulle geen kwaad aandoen nie; daarom het hy al sy mag en slinksheid ingespan om hulle tot sonde te verlei. Verstrik in sy versoekings, het hulle die wet van God oortree en is hulle oorgelaat om die prooi van hul vyande te word. DVvPEk 454.2

Maar tog, al was hulle as gevangenes na Babilon weggevoer, het God hulle nie verlaat nie. Hy het Sy profete met teregwysings en waarskuwings na hulle gestuur en hulle so probeer opwek om hul skuld raak te sien. Toe hulle hulself voor God verootmoedig en met ware berou na Hom teruggekeer het, het Hy boodskappe van bemoediging gestuur wat verklaar het dat Hy hulle uit hul gevangenskap sou verlos, hulle in Sy guns sal herstel en hulle weer in hul eie land sou hervestig. En noudat hierdie herstelwerk begin het en ‘n oorblyfsel reeds na Juda teruggekeer het, was Satan vasbeslote om die uitvoering van die Goddelike doel te frustreer en met hierdie doel voor oë, het hy gepoog om heidennasies te beweeg om hulle volkome te vernietig. DVvPEk 454.3

Maar tydens hierdie krisis het die HERE sy volk versterk met “...goeie woorde, troosvolle woorde.” (Sag 1:13) Deur ‘n indrukwekkende illustrasie van die werk van Satan en die werk van Christus, het Hy die mag van hul Middelaar om die beskuldiger van Sy volk te oorwin, getoon. DVvPEk 455.1

In visioen het die profeet aanskou hoedat “...Josua, die hoëpriester... ” “...beklee met vuil klere... ” (Sag 3:1,3) voor die Engel van die HERE staan en God namens sy geteisterde volk om genade smeek. Terwyl hy om die vervulling van God se beloftes gepleit het, het Satan met vrypostigheid opgestaan om hom te teë te gaan. Hy het die oortredings van Israel uitgewys as die rede waarom hulle nie weer in die guns van God herstel moet word nie. Hy het hulle as sy prooi opgeëis en dat hulle in sy hande oorgegee moet word. DVvPEk 455.2

Die hoëpriester kon nie homself of sy volk teen Satan se beskuldigings verdedig nie. Hy het nie beweer dat Israel vry van skuld is nie. In vuil klere geklee, wat hy, as hul verteenwoordiger wat die sonde van die volk simboliseer dra, het hy voor die Engel gestaan en hul skuld bely, maar het egter na hul berou en vernedering verwys en op die genade van ‘n sonde-vergewende Verlosser staatgemaak. In geloof het hy aanspraak op die beloftes van God gemaak. DVvPEk 455.3

Toe het die Engel, wat Christus self was, die Verlosser van sondaars, die beskuldiger stilgemaak: “Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” (Vers 2) Vir lank was Israel in die oond van ellende. As gevolg van hulle sondes was hulle baie naby om in die vuur wat Satan en sy trawante vir hulle vernietiging aangesteek het verteer te word, maar nou God het sy hand uitgesteek om hulle daaruit te bring. DVvPEk 455.4

Toe die voorbidding van Josua aanvaar is, is die opdrag gegee: “Neem die vuil klere van hom weg.” En aan Josua het aan die Engel gesê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem en Ek beklee jou met feesklere.” “En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek.” (Verse 4,5) Sy eie sonde, asook die van sy volk, is vergewe. Israel was beklee met “feesklere”— die Geregtigheid van Christus is aan hulle toegereken. Die tulband wat op Josua se hoof geplaas is, was soortgelyk aan die wat die priesters gedra het, met die opskrif: “Heilig aan die HERE”, wat aangedui het dat, ongeag sy vorige oortredings, hy nou bekwaam was om voor God in Sy heiligdom te dien. DVvPEk 455.5

Toe het die Engel aan Josua verklaar: “So sê die HERE van die leërskare: As jy in My weë wandel en as jy My verordening onderhou, dan sal jy My huis bestuur sowel as My voorhowe bewaak en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.” (Sag 3:7) Indien hy sou gehoorsaam, sou hy as die regter, of heerser oor die tempel en al sy dienste, vereer word; hy sou tussen dienende engele wandel, selfs in hierdie lewe; en uiteindelik sou hy by die verheerlikte skare rondom die troon van God aansluit. DVvPEk 456.1

“Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor jou sit — ja, wondertekens is hulle. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!” (Vers 8) In hierdie Spruit, die Verlosser wat sou kom, het die hoop van Israel gelê. Dit was deur geloof in die komende Verlosser wat Josua en sy volk vergifnis ontvang het. Deur geloof in Christus is hulle in God se guns herstel. Op grond van Sy verdienste, indien hulle in Sy weë wandel en Sy insettinge nakom, sou hulle “wondertekens” wees, wat as uitverkorenes van die Hemel onder die nasies van die aarde vereer sou word. DVvPEk 456.2

Soos Satan Josua en sy volk beskuldig het, so beskuldig hy deur al die eeue heen, diegene wat na die genade en guns van God soek. Hy is “...die aanklaer van ons broers ... hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” (Op 12:10) Vir elke siel wat uit die mag van die bose gered word en wie se naam in die boek van lewe van die Lam opgeteken is, word die stryd herhaal. Niemand word in die familie van God opgeneem sonder om die vasberade weerstand van die vyand op te wek nie. Maar Hy wat destyds die hoop van Israel was, hul verdediging, hul regverdigmaking en verlossing, is steeds vandag die hoop van die kerk. DVvPEk 456.3

Satan se beskuldigings teen diegene wat die HERE soek, is nie as gevolg van misnoeë oor hulle sondes nie. Hy verheug hom in hul gebrekkige karakters; want hy weet dat hy slegs deur hulle oortreding van die wet van God, mag oor hulle kan verkry. Sy beskuldigings spruit uitsluitlik uit sy vyandskap teen Christus. Deur die verlossingsplan verbreek Jesus die houvas van Satan op die mensdom en red siele uit sy mag. Al die haat en boosheid van die aartsrebel word opgewek as hy bewyse van Christus se oppermag aanskou; en met bose mag en sluheid werk hy om die mensekinders wat verlossing aanvaar het, uit Sy greep te ruk. Hy lei mense tot skeptisisme en veroorsaak dat hulle vertroue in God verloor en van Sy liefde geskei word; hy versoek hulle om die wet te oortree en eis hulle dan as sy gevangenes op en betwis Christus se reg om hulle van hom af te neem. DVvPEk 457.1

Satan weet dat diegene wat God om vergifnis en genade vra, dit sal ontvang; daarom stel hy hulle sondes voor hulle om hulle te ontmoedig. Hy soek voortdurend na ‘n rede om diegene wat poog om God te gehoorsaam, aan te kla. Selfs hul beste en mees aanvaarbare diens wil hy korrup laat voorkom. Met talryke, mees subtiele en wreedste middels, poog hy om hulle veroordeling te verseker. DVvPEk 457.2

In eie krag kan die mens nie die aanklagte van die vyand beveg nie. Beklee in sonde-gevlekte klere, staan hy voor God terwyl hy sy skuld bely. Maar Jesus, ons Voorspraak, bied ‘n effektiewe pleidooi ten behoewe van almal wat met berou en in geloof hulle siele aan Hom toegewy het. Hy pleit vir hulle saak en deur die magtige argumente van Golgota, oorwin Hy hul aanklaer. Sy volmaakte gehoorsaamheid aan God se wet het Hom alle mag in die hemel en op die aarde gegee en Hy eis van Sy Vader barmhartigheid en versoening vir die skuldige mens. Aan die beskuldiger van sy volk verklaar Hy: DVvPEk 457.3

“Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” En aan diegene wat in geloof op Hom staat maak, gee Hy die versekering: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem en Ek beklee jou met feesklere.” (Sag 3:2,4) DVvPEk 458.1

Almal wat die kleed van Christus se geregtigheid aangetrek het, sal voor Hom, as uitverkore, getrou en waaragtig staan. Satan het geen mag om hulle uit die hand van die Verlosser te ruk nie. Christus sal nie een siel wat in berou en geloof Sy beskerming opgeëis het, toelaat om in die mag van die vyand te beland nie. Sy woord is gegee: “Hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.” (Jes 27:5) Die belofte wat aan Joshua gegee is, geld vir almal: “As jy in My weë wandel ... sal [Ek] jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.” (Sag 3:7) Engele van God sal aan weerskante van hulle wandel, selfs in hierdie wêreld en hulle sal uiteindelik tussen die engele wat die troon van God omring, staan. DVvPEk 458.2

Sagaria se visioen van Josua en die Engel is met besondere mag van toepassing op die ervaring van God se volk in die slottonele van die Groot Versoendag. Die Oorblyfselkerk sal dan in groot beproewing en nood gebring word. Diegene wat die gebooie van God en die geloof van Jesus onderhou, sal die woede van die draak en sy leërskare ervaar. Satan beskou die wêreld as sy onderdane; hy het selfs beheer oor baie belydende Christene verkry. Maar daar is ‘n geringe groep wat sy heerskappy weerstaan. As hy hulle van die aarde kon verdelg, sou sy triomf volkome wees. Soos wat hy die heidense nasies beïnvloed het om Israel te vernietig, sal hy die goddelose magte van die aarde opwek om die volk van God te vernietig. Daar sal van mense vereis word om menslike voorskrifte, in stryd met die Goddelike wet, te gehoorsaam. DVvPEk 458.3

Diegene wat aan God getrou is, sal gedreig, veroordeel en verban word. Hulle sal “...oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende en hulle sal van julle doodmaak.” (Luk 21:16) Hulle enigste hoop is op die genade van God; hul enigste verdediging is gebed. Soos Josua voor die Engel gepleit het, so sal die oorblyfselkerk met gebrokenheid van hart en onwankelbare geloof pleit vir vergifnis en verlossing deur Jesus, hul Voorspraak. Hulle is ten volle bewus van die sondigheid van hul lewens en hulle sien hul swakhede en onwaardigheid; en is gereed om te wanhoop. DVvPEk 459.1

Die verleier staan by om hulle te beskuldig, soos wat hy bygestaan het om Josua te weerstaan. Hy wys op hul vuil klere, hul gebrekkige karakters. Hy wys hulle swakhede en dwaasheid uit, hul sonde van ondankbaarheid, hul onchristelikheid, wat hul Verlosser oneer aangedoen het. Hy poog om hulle te verskrik met die gedagte dat hul saak hopeloos is, dat die vlek van hul besoedeling nooit weggespoel kan word nie. Hy hoop om hulle geloof te vernietig sodat hulle aan sy versoekings sal toegee en wegdraai van hul trou aan God. DVvPEk 459.2

Satan het ‘n akkurate kennis van die sondes wat hy die volk van God versoek het om te pleeg en dring aan op sy beskuldigings teen hulle en verklaar dat hulle, as gevolg van hulle sondes, die Goddelike beskerming verbeur het en dat hy die reg het om hulle te vernietig. Hy lewer die uitspraak dat hulle net so onverdienstelik van God se guns soos hyself is: “Is dit die mense wat my en my engele-gevolg se plekke in die hemel gaan inneem? Hulle beweer dat hulle God se gebooie onderhou, maar het hulle inderdaad? Was hulle nie meer liefhebbers van self as van God nie? Het hulle nie hul belange bo God s'n geplaas nie? Was hulle nie versot op die dinge van die wêreld nie? Kyk na die sondes wat hul lewens kenmerk. Aanskou hulle selfsug, hulle boosaardigheid, hul haat vir mekaar. Gaan God my en my engele uit sy teenwoordigheid verban, maar hulle, wat soortgelyke oortredings gepleeg het, beloon? U kan dit, in die naam van geregtigheid, nie doen nie. Geregtigheid vereis dat hulle dieselfde vonnis kry.” DVvPEk 459.3

Maar hoewel die volgelinge van Christus gesondig het, het hulle hulself nie oorgegee om deur Sataniese agentskappe beheer te word nie. Hulle het berou oor hul sondes gehad en na die HERE in nederigheid en met berou gesoek en die Goddelike Voorspraak het namens hulle gepleit. Hy wat die meeste deur hul ondankbaarheid mishandel was, wat hulle sonde en ook hul berou geken het, verklaar: “Mag die HERE jou bestraf, o Satan. Ek het My lewe vir hierdie siele gegee. Hulle is in My handpalms gegraveer. Hulle karakters mag gebrekkig wees; hulle mag in hul voornemens gefaal het, maar berou gehad en Ek het hulle vergewe en aangeneem.” DVvPEk 460.1

Die aanvalle van Satan is hewig; hy val met mening aan; sy dwalings subtiel; maar die HERE se oog is op sy volk. Hulle ellende is groot; dit lyk of die vlamme van die vuuroond hulle gaan verteer; maar Jesus sal hulle daaruit bring soos goud wat in die vuur getoets is. Hulle wêreldsheid sal verwyder word, sodat die beeld van Christus volmaak deur hulle geopenbaar kan word. DVvPEk 460.2

Soms wil dit voorkom of die HERE die gevare van Sy kerk en die letsels wat haar vyande haar aangedoen het, vergeet het. Maar God het nie vergeet nie. Niks in hierdie wêreld is nader aan Sy hart as Sy kerk nie. Dit is nie Sy wil dat wêreldse beleid die kerk se rekord bederf nie. Hy laat nie sy volk alleen om Satan se versoekings te oorkom nie. Hy sal diegene wat Hom verkeerd voorstel straf, maar sal genadig teenoor almal wees wat opreg berou het. Aan diegene wat Hom vir krag vir die ontwikkeling van ‘n Christelike karakter vra, sal Hy alle nodige hulp verleen. DVvPEk 460.3

Aan die einde van tyd sal die volk van God sug en ween oor die gruwels wat in die land gepleeg word. Met trane sal hulle die goddeloses teen die gevaar verbonde aan die vertrapping van die Goddelike wet waarsku en met onuitspreeklike droefheid sal hulle hul in nederigheid voor die HERE verootmoedig. Die goddelose sal hul droefheid bespot en hul plegtige pleidooie belaglik maak. Maar die angs en vernedering van God se volk sal ‘n onmiskenbare bewys wees dat hulle die krag en edelheid van karakter wat hulle as gevolg van sonde verloor het, herwin het. Omdat hulle nader aan Christus kom en hulle oë op Sy volmaakte reinheid gerig is, sal hulle die afskuwelike sondigheid van sonde duidelik raaksien. Sagmoedigheid en nederigheid is die voorwaardes van sukses en oorwinning. ‘n Kroon van heerlikheid wag op diegene wat aan die voet van die kruis neerbuig. DVvPEk 460.4

God se getroue, biddende volk is as’t ware in Hom geborge. Hulle is self nie bewus van hoe seker hulle beskerm word nie. Aangehits deur Satan, streef die heersers van hierdie wêreld om hulle te vernietig; maar sou die oë van God se kinders, soos die oë van Elisa se dienaar in Dotan geopen kon word, sou hulle sien dat engele van God rondom hulle saamgetrek is en die leërskare van die duisternis in toom hou. DVvPEk 461.1

Terwyl die volk van God hulle sieleleed voor Hom uitstort, en pleit vir reinheid van hart, word die opdrag gegee: “Neem die vuil klere van hom weg...” en die bemoedigende woorde word uitgespreek: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem en Ek beklee jou met feesklere.” (Sag 3:4) Die vlekkelose kleed van Christus word op die beproefde, versoekte, getroue kinders van God geplaas. Die veragte oorblyfsel word in glorieryke klere geklee, wat nooit weer deur die korrupsie van die wêreld besoedel sal word nie. Hulle name, wat saam met die getroues van alle eeue in die boek van die lewe van die Lam opgeteken is, bly behoue. Hulle het die listigheid van die verleier weerstaan; hulle het nie as gevolg van die gebrul van die draak van hul trou weggedraai nie. Nou is hulle verewig veilig teen die bose se lis. Hul sondes word op die vader van sonde oorgeplaas. ‘n “...rein tulband” word op hul hoofde geplaas. DVvPEk 461.2

Terwyl Satan sy beskuldigings geopper het, het heilige engele, ongesiens, heen en weer beweeg en die seël van die lewende God op die gelowiges geplaas. Dit is hulle wat saam met die Lam op die berg Sion staan, met die naam van die Vader op hulle voorhoofde geskryf. Hulle sing ‘n nuwe lied voor die troon, die lied wat niemand behalwe die honderd-vier-en- veertigduisend wat uit die wêreld verlos is, kan leer nie. “Dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” (Op 14:4,5) DVvPEk 462.1

Nou is die volkome vervulling van die woorde van die Engel bereik: “Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor jou sit — ja, wondertekens is hulle. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!” (Sag 3:8) Christus word as die Verlosser en Redder van sy volk openbaar. Nou is dit inderdaad die oorblyfsel wat as “wondertekens” beskou word, terwyl die trane en vernedering van hul pelgrimstog plek maak vir vreugde en eer in die teenwoordigheid van God en die Lam. “In dié dag sal die Spruit van die HERE wees tot sieraad en heerlikheid en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel. En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem.” (Jes 4:2,3) DVvPEk 462.2