Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 46—“Profete van God wat Hulle Gehelp Het”
Digby die Israeliete wat die taak op hulle geneem het om die tempel te herbou, het die Samaritane gewoon, ‘n gemengde ras wat ontstaan het deur ondertrouery tussen heidense koloniste uit die provinsies van Assirië en die oorblyfsel van die tien stamme wat in Samaria en Galilea agtergebly het. In later jare het die Samaritane beweer dat hulle die ware God aanbid, maar in hart en praktyk was hulle afgodedienaars. Dit is so dat hulle van mening was dat hul afgode hulle maar net aan die lewende God, die Heerser van die heelal, herinner het; desnieteenstaande, was die mense geneig om gesnede beelde te eerbiedig. DVvPEk 441.1
Gedurende die restourasie-periode het hierdie Samaritane bekend geword het as die “...teëstanders van Juda en Benjamin.” “Toe hulle ... hoor dat die ballinge ‘n tempel bou vir die HERE, die God van Israel, het hulle aangekom na Serubbábel en na die familiehoofde en aan hulle gesê: Laat ons saam met julle bou, want net soos julle soek ons julle God en aan Hom offer ons van die dae van Esar-Haddon af, die koning van Assirië, wat ons hierheen laat optrek het.” Maar hierdie voorreg is hulle geweier. “Dit sal nie gaan dat julle saam met ons ‘n huis vir onse God bou nie...” het die leiers aangevoer, “...maar óns alleen sal vir die HERE, die God van Israel, dit bou soos koning Kores, die koning van Persië, ons beveel het.” (Esra 4:1-3) DVvPEk 441.2
Slegs ‘n oorblyfsel het gekies om uit Babilon terug te keer; en nou, terwyl hulle ‘n taak onderneem het wat blykbaar te groot vir hulle was, het hul naaste bure hulle hulp aangebied. Die Samaritane het na hul aanbidding van die ware God verwys en hul begeerte om in die voorregte en seëninge verbonde aan die tempeldienste te deel, uitgespreek. “Want net soos julle soek ons julle God...” het hulle verklaar. “Laat ons saam met julle bou.” Maar as die Joodse leiers die aanbod van hulp aanvaar het, sou hulle die deur vir die insypeling van afgodery oopgemaak het. Hulle het die onopregtheid van die Samaritane raakgesien. Hulle het besef dat die hulp wat deur ‘n bondgenootskap met hierdie mense verkry sou word, niks sou wees in vergelyking met die seëninge wat hulle kon verwag deur die duidelike opdragte van Jehova te gehoorsaam nie. DVvPEk 441.3
Aangaande die verhouding wat Israel met die omliggende volke moes handhaaf, het die HERE deur middel van Moses verklaar: “Jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie ... want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.” “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God en jou het die HERE uitverkies om Sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.” (Deut 7:2-4;14:2) DVvPEk 442.1
Die gevolge van ‘n verbondsverhouding met die omliggende nasies is duidelik voorspel: “Die HERE sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde...” het Moses verklaar “...en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie. En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die HERE sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die môre sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar môre! — vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp en vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.” (Deut 28:64-67) “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deut 4:29) was die belofte. DVvPEk 442.2
Serubbábel en sy medewerkers was vertroud met hierdie en baie soortgelyke geskrifte; en in die onlangse ballingskap het hulle bewys op bewys van die vervulling daarvan gehad. En nou, nadat hulle berou gehad het oor die onheil wat oor hulle en hul vaders gekom het, die oordele wat so duidelik deur Moses voorspel is; noudat hulle hul van harte tot God gewend het en hulle verbond met Hom hernu het, is hulle toegelaat om na Juda terug te keer sodat hulle dit wat vernietig was kon herstel. Moes hulle dan, heel aan die begin van hierdie onderneming ‘n verbond met afgodedienaars sluit? DVvPEk 442.3
“Jy mag geen verbond met hulle maak ... nie,” het God gesê; en diegene wat hulself onlangs aan die HERE, by die altaar wat voor die ruïnes van Sy tempel opgerig is toegewy het, het besef dat die skeidslyn tussen Sy volk en die wêreld vir ewig onmiskenbaar onderskei moes word. Hulle het geweier om ‘n bondgenootskap met diegene aan te gaan wat, hoewel hulle vertroud met die vereistes van God se wet was, nie aan die aansprake daarvan sou toegee nie DVvPEk 443.1
Die beginsels wat in Deuteronomium vir die onderrig van Israel uiteengesit is, moet tot aan die einde van tyd deur die volk van God gevolg word. Ware voorspoed is van ons verbondsverhouding met God afhanklik. Ons kan nie bekostig om ooit beginsel te kompromitteer deur ‘n bondgenootskap met diegene wat Hom nie vrees nie, aan te gaan nie. DVvPEk 443.2
Daar bestaan ‘n voortdurende gevaar dat belydende Christene mag dink dat hulle, om ‘n invloed onder wêreldlinge te hê, tot ‘n sekere mate by die wêreld moet aanpas. Maar hoewel dit lyk asof so ‘n weg groot voordele inhou, eindig dit altyd in geestelike verlies. God se volk moet streng waak teen die subtiele invloed wat deur middel van die vleiende lokmiddels van die vyand van die waarheid, op hulle uitgeoefen word. Hulle is pelgrims en vreemdelinge in hierdie wêreld wat op ‘n pad vol gevare reis. Aan die vernuftige onderduimsheid en aanloklike verleidings wat voorgehou word om hulle van getrouheid weg te lei, moet hulle geen aandag skenk nie. DVvPEk 443.3
Dit is nie die openlike en erkende vyande van God se saak wat die meeste gevrees moet word nie. Diegene wat, soos die teëstanders van Juda en Benjamin, met gladde woorde en regverdige toesprake kom, wat oënskynlik vriendelike alliansies met God se kinders najaag, het groter mag om te mislei. Teen sulke mense moet elke siel waaksaam wees, sodat niemand met ‘n versigtig-verskuilde en ‘n meesterlike lokval hom onverhoeds oorval nie. En veral vandag, terwyl die sluiting van die aarde se geskiedenis op hande is, vereis die HERE van sy kinders ‘n waaksaamheid wat geen verslapping toelaat nie. Maar hoewel dit ‘n voortdurende konflik is, hoef niemand die stryd alleen te voer nie. Engele help en beskerm diegene wat nederig voor God wandel. Die HERE sal nooit iemand wat op Hom vertrou verraai nie. Terwyl Sy kinders tot Hom nader vir beskerming teen die bose, verhef Hy vir hulle in jammerte en liefde, ‘n vaandel teen die vyand. Raak hulle nie aan nie, sê Hy, want hulle is Myne. Ek het hul name in My handpalms gegraveer. DVvPEk 443.4
Onvermoeid in hulle opposisie, het die Samaritane “...die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie. En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Darius, die koning van Persië.” (Esra 4:4,5) Deur vals berigte het hulle agterdog in die gedagtes van diegene wat agterdogtig van aard was gewek. Maar die magte van die bose is vir baie jare in toom gehou en het die mense van Juda die vryheid geniet om met hulle werk voort te gaan. DVvPEk 444.1
Terwyl Satan gestreef het om die hoogste magte in die koninkryk van Medo-Persië te beïnvloed om onguns aan God se volk te betoon, het engele ten behoewe van die bannelinge gewerk. Die stryd was een waarin die ganse hemel belang gestel het. Deur die profeet Daniël kry ons ‘n blik op hierdie magtige stryd tussen die magte van goed en kwaad. Gabriël het drie weke lank met die magte van die duisternis geworstel en probeer om die invloede op die gees van Kores teë te werk; en voordat die stryd voleindig is, het Christus self tot Gabriël se hulp gekom: “...maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.” (Dan 10:13) Alles wat die hemel ten behoewe van die volk van God kon doen, is gedoen. Die oorwinning is uiteindelik behaal; die magte van die vyand is al die dae van Kores en sy seun, Cambyses, wat sewe en ‘n half jaar regeer het, in bedwang gehou. DVvPEk 444.2
Dit was ‘n tyd van wonderlike geleenthede vir die Jode. Die hoogste agentskappe van die hemel het in die harte van konings gewerk en dit was vir die volk van God ‘n geleentheid om met hart en siel te werk om die dekreet van Kores uit te voer. Hulle moes geen moeite ontsien om die tempel en sy dienste te herstel en hulself weer in hul Judaïese huise te vestig nie. Maar in die tyd van God se mag het baie hulself onwillig bewys. Die teëstand van hul vyande was sterk en doelgerig en gaandeweg het die bouers moed verloor. Sommige kon die toneel met die hoeksteenlegging, toe baie mense uiting aan hul gebrek aan vertroue in die onderneming gegee het nie vergeet nie. En namate die Samaritane meer waaghalsig geword het, het baie van die Jode hulself afgevra of dit wel die tyd was om weer op te bou. Hierdie gevoel het vinnig versprei. Baie van die werksmense was ontmoedig en het mismoedig na hul wonings teruggekeer om die gewone stryd van die lewe aan te pak. DVvPEk 445.1
Gedurende die bewind van Cambyses, Kores se seun, het die werk aan die tempel stadig gevorder. En tydens die bewind van die valse Smerdis (ook Artasasta genoem in Esra 4:7) het die Samaritane die gewetenlose bedrieër beïnvloed om ‘n dekreet uit te reik wat die Jode verbied om hul tempel en stad te herbou. DVvPEk 445.2
Die tempel was vir meer as ‘n jaar lank verwaarloos en byna verlate. Die mense het in hul huise gewoon en na tydelike voorspoed gestreef, maar hul situasie was betreurenswaardig. Ongeag hul harde werk, was hulle nie voorspoedig nie. Dit het voorgekom asof die elemente van die natuur teen hulle saamgespan het. Omdat hulle die tempel in puin laat lê het, het die HERE ‘n uitmergelende droogte gestuur. God het aan hulle die vrugte van die veld en die tuin, die koring, die wyn en die olie as teken van Sy guns gegee; maar omdat hulle hierdie oorvloedige gawes op ‘n so selfsugtige wyse aangewend het, is hierdie seëninge hulle ontneem. DVvPEk 445.3
Dit was die toestande wat gedurende die vroeëre deel van die regering van Darius geheers het. In geestelike, sowel as verganklike dinge, was die Israeliete in ‘n jammerlike toestand. Hulle het so lank gemurmureer en getwyfel; vir so lank het hulle gekies om hul persoonlike belange eerste te plaas, terwyl hulle die puin van die HERE se tempel met onbetrokkenheid aanskou het, dat hulle God se doel om hulle in Juda te hervestig, uit die oog verloor en gesê het: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie.” (Hag 1:2) DVvPEk 446.1
Maar selfs hierdie donker uur was nie sonder hoop vir diegene wat op God vertrou het nie. Die profete Haggai en Sagaria is opgewek om hierdie krisis die hoof te bied. Met aangrypende getuienisse het hierdie aangestelde boodskappers die oorsaak van hul probleme aan die volk bekend gemaak. Die gebrek aan materiële voorspoed was die gevolg van versuim om God se belange eerste te stel, het die profete verklaar. Indien die Israeliete God geëer het, aan Hom die nodige respek en hoflikheid betoon het, deur die bou van Sy huis eerste te stel, sou hulle Sy teenwoordigheid en seën ervaar het. DVvPEk 446.2
Aan diegene wat moedeloos geraak het, het Haggai die ondersoekende vraag gerig: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het.” Hoekom het julle so min uitgerig? Waarom is julle besorg oor julle eie geboue en nie oor die HERE se gebou nie? Waar is die ywer wat julle eens vir die herstel van die HERE se huis gehad het? Wat het julle bereik deur julself te dien? Die begeerte om armoede te vermy, het daartoe gelei dat julle die tempel verwaarloos het, maar hierdie verwaarlosing het dit wat julle gevrees het, oor julle gebring. “Julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek.” (Verse 4-6) DVvPEk 446.3
En toe, met woorde wat hulle nie kon misverstaan nie, het die HERE aan hulle die oorsaak van hul armoede geopenbaar: “Julle het uitgesien na baie en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.” (Verse 9-11) DVvPEk 447.1
“Gee ag op wat julle wedervaar het!” het die HERE gemaan. “Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n welgevalle daaraan hê en My verheerlik.” (Verse 7, 8) DVvPEk 447.2
Die leiers en volk van Israel het die boodskap van raad en teregwysing deur Haggai ter harte geneem. Hulle het besef dat God dit ernstig met hulle bedoel het. Hulle het nie durf waag om die herhaalde opdrag te verontagsaam nie en dat hulle voorspoed, tydelik en geestelik, afhanklik van getroue gehoorsaamheid aan God se opdragte was. Aangewakker deur die waarskuwings van die profeet het Serubbábel en Josua “...en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die HERE hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet.” (Vers 12) DVvPEk 447.3
Nadat Israel besluit het om te gehoorsaam, is die woorde van berisping opgevolg met ‘n boodskap van bemoediging: “Daarop het Haggai ... met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE. En die HERE het die gees van Serubbábel ... en die gees van Josua ... en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God.” (Verse 13,14) DVvPEk 447.4
Binne minder as ‘n maand nadat die werk aan die tempel hervat is, het die bouers weer ‘n vertroostende boodskap ontvang: “Nou dan, skep moed, Serubbábel...” het die HERE Self deur Sy profeet gemaan “...en skep moed, Josua, ... en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag 2:4) DVvPEk 448.1
Die Here het destyds aan Israel, wat voor die berg Sinai gekamp het, verklaar: “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.” (Ex 29:45, 46) En nou, nieteenstaande die feit dat hulle herhaaldelik “wederstrewig” was en “...Sy Heilige Gees bedroef...” het, (Jes 63:10) het God weereens deur die boodskappe van Sy profete Sy hand uitgereik om te red. As erkenning van hulle samewerking met Sy doel het Hy Sy verbond hernu, sodat Sy Gees in hulle midde sou bly; en Hy het hulle gebied: “Wees nie bevrees nie.” DVvPEk 448.2
Aan Sy kinders vandag verklaar die HERE: “Skep moed ... en werk! Want Ek is met julle.” Die Christen het altyd ‘n gedugte helper in die HERE. Ons is miskien nie bewus van die wyse waarop die HERE help nie, maar dit weet ons wel: Hy sal nooit diegene wat op Hom vertrou faal nie. As Christene kon besef hoeveel keer die HERE hulle weg gerig het sodat die doel van die vyand met betrekking tot hulle nie bereik kon word nie, sou hulle nie al klaende voortgestrompel het nie. Hul geloof sou in God geanker gewees het en geen beproewing sou die krag gehad het om hulle te beweeg nie. Hulle sou Hom as hul Bron van wysheid en doeltreffendheid erken het en Hy sou dit wat Hy begeer het om deur hulle te bewerk, laat geskied. DVvPEk 448.3
Die ernstige pleidooie en bemoedigings van Haggai is deur Sagaria, wie God opgewek het om hom by te staan in die aansporing van Israel om die bevel om op te staan en te bou te gehoorsaam, aangevul en beklemtoon. Sagaria se eerste boodskap was die versekering dat God se woord nooit faal nie en ‘n belofte van seën aan diegene wat op die seker woord van profesie ag sou slaan. DVvPEk 449.1
Met die landery wat onbewerk gelê het, hul geringe voedselvoorrade wat vinnig aan die afneem was en omring deur onvriendelike nasies, het die Israeliete nietemin in geloof, in antwoord op die oproepe van God se boodskappers voortgegaan en ywerig gewerk om die verwoeste tempel te herstel. Dit was ‘n werk wat onwrikbare vertroue in God geverg het. Soos wat die volk hul deel gedoen en na ‘n vernuwing van God se genade in die hart en lewe gehunker het, is boodskap na boodskap deur Haggai en Sagaria aan hulle gegee, met die versekering dat hulle geloof ryklik beloon sou word en dat die woord van God aangaande die toekomstige glorie van die tempel, die mure waarvan hulle besig was om op te rig, nie sou faal nie. In hierdie einste gebou sou, in die volheid van die tyd, die Begeerte van alle nasies, as die Leermeester en Verlosser van die mensdom verskyn. DVvPEk 449.2
Die bouers is dus nie op hul eie gelaat om voort te sukkel nie: “...saam met hulle was die profete van God wat hulle ondersteun het...” en die HERE van die leërskare het verklaar: “Skep moed, ... en werk! Want Ek is met julle.” (Esra 5:2;Hag 2:4) DVvPEk 449.3
Met innige berou en ‘n bereidwilligheid om in geloof voort te gaan, het die belofte van tydelike voorspoed gekom: “Van hierdie dag af...” het die HERE verklaar, “...sal Ek [julle] seën.” (Vers 19) DVvPEk 449.4
Aan hul leier Serubbabel, wat deur die jare sedert hul terugkeer uit Babilon, so swaar beproef was, is ‘n kosbare boodskap gegee. Die dag sal aanbreek, het die HERE verklaar, dat al die vyande van Sy uitverkore volk neergewerp sal word. “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel ... my kneg ... en jou maak tot ‘n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare.” (Vers 23) Nou kon die goewerneur van Israel die betekenis van die voorsienigheid waarneem wat hom deur soveel moedeloosheid en verwarring gelei het; hy kon God se doel in dit alles onderskei. DVvPEk 450.1
Hierdie persoonlike woord aan Serubbábel is op rekord geplaas vir die aanmoediging van God se kinders in elke eeu. God het ‘n doel met die beproewing wat Hy oor sy kinders laat kom. Hy sal hulle nooit anders lei as wat hulle sou verkies het om gelei te word, indien hulle die einde van die begin af kon sien en die glorie van die doel wat hulle sou kon bereik, kon onderskei nie. Alles wat Hy in toetsing en beproewing oor hulle bring, kom oor hulle sodat hulle versterk kan word om vir Hom te werk en te ly. DVvPEk 450.2
Die boodskappe wat deur Haggai en Sagaria gelewer is, het die volk aangespoor om alle moontlike pogings vir die herbou van die tempel aan te wend; maar terwyl hulle gearbei het, is hulle ongelukkig deur die Samaritane en ander wat baie hindernisse bedink het, geteister. By een geleentheid het die provinsiale offisiere van die Medo-Persiese ryk Jerusalem besoek en verneem na die persoon wat die herstel van die gebou gemagtig het. Indien die Jode op daardie stadium nie op die HERE vertrou het vir leiding nie, kon hierdie ondersoek rampspoedige gevolge vir hulle gehad het. “Maar die oog van hulle God was oor die oudstes van die Jode, sodat hulle hul nie verhinder het nie, totdat die berig voor Darius sou kom.” (Esra 5:5) Die beamptes is met soveel wysheid beantwoord, dat hulle onderneem het om ‘n brief aan Darius, die destydse heerser van Medo-Persië, te skryf en sy aandag op die oorspronklike bevel van Kores te vestig, wat beveel het dat die huis van God in Jerusalem herbou moes word en dat die uitgawes hiervoor uit die skatkis van die koning betaal sou word. DVvPEk 450.3
Darius het hierdie dekreet gesoek en dit gevind; waarop hy diegene wat die ondersoek geloods het, beveel het om die herbou van die tempel te laat voortgaan: “Laat die werk aan daardie Godshuis toe; die goewerneur van die Jode en die oudstes van die Jode mag daardie huis van God op sy plek bou.” DVvPEk 451.1
“En...” het Darius vervolg, “...deur my word bevel gegee hoe julle met hierdie oudstes van die Jode moet handel om daardie huis van God te bou, naamlik: Uit die inkomste van die koning, uit die belasting van die westelike gebied van die Eufraat moet die onkoste aan daardie manne sorgvuldig vergoed word sonder vertraging. En wat nodig is, jong bulle sowel as ramme en lammers vir brandoffers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie moet aan hulle volgens opgawe van die priesters in Jerusalem sonder versuim dag vir dag gelewer word, dat hulle welgevallige offers kan bring aan die God van die hemel en kan bid vir die lewe van die koning en van sy seuns” (Esra 6:7-10) DVvPEk 451.2
Die koning het verder bepaal dat ernstige boetes op diegene wat die besluit op enige wyse sou verander, gelê word; en hy het met die merkwaardige stelling afgesluit: “En mag God wat Sy Naam daar laat woon het, elke koning en volk neerwerp wat sy hand uitsteek om dit te oortree, om naamlik hierdie Godshuis in Jerusalem te verwoes. Ek, Darius, gee bevel; sorgvuldig moet dit uitgevoer word.” (Vers 12) So het die HERE die weg vir die voltooiing van die tempel voorberei. DVvPEk 451.3
Maande voordat hierdie dekreet uitgevaardig is, het die Israeliete in geloof met die werk voortgegaan en die profete van God het hulle steeds deur middel van tydige boodskappe, waardeur die Goddelike doel vir Israel aan die werkers voorgehou is, ondersteun. Twee maande nadat Haggai se laaste opgetekende boodskap gelewer is, het Sagaria ‘n reeks visioene aangaande die werk van God op aarde gehad. Hierdie boodskappe wat in die vorm van gelykenisse en simbole gegee is, het gekom in ‘n tyd van groot onsekerheid en angs en was van besondere betekenis vir die manne wat in die Naam van die God van Israel voortgegaan het. Dit het vir die leiers voorgekom asof die magtiging wat aan die Jode gegee is om te herbou teruggetrek sou word; die toekoms het taamlik donker gelyk. God het gesien dat Sy volk ‘n behoefte aan ondersteuning en bemoediging gehad het deur ‘n openbaring van Sy oneindige medelye en liefde. DVvPEk 451.4
In die visioen het Sagaria die engel van die HERE hoor vra: “HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was? Toe antwoord die HERE die engel wat met my gespreek het...” het Sagaria verklaar, “...goeie woorde, troosvolle woorde.” DVvPEk 452.1
“Daarop sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met ‘n groot ywer; maar Ek is grootliks vertoornd oor die sorglose nasies wat, terwyl Ek ‘n weinig vertoornd was, die onheil aangehelp het. Daarom, so sê die HERE: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal daarin gebou word ... en ‘n meetsnoer oor Jerusalem gespan word.” (Sag 1:12-16) DVvPEk 452.2
Daarop is die profeet beveel om te voorspel: “So spreek die 581 HERE van die leërskare: My stede sal weer oorstroom wees van goeie dinge en die HERE sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies.” (Vers 17) DVvPEk 452.3
Sagaria het toe die magte gesien wat “...Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het...” gesimboliseer deur vier horings. Onmiddellik daarna het hy vier skrynwerkers gesien wat die agentskappe verteenwoordig wat deur die HERE gebruik was om Sy volk en die huis van Sy aanbidding te herstel. (Verse 18¬21). DVvPEk 452.4
“En ek het my oë opgehef...” het Sagaria gesê, “...en gekyk — daar was ‘n man met ‘n meetsnoer in sy hand. Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is. En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en ‘n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet, aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos ‘n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in. En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.” (Sag 2:1-5) DVvPEk 453.1
God het beveel dat Jerusalem herbou moet word; die visioen van die meet van die stad was ‘n versekering dat Hy vertroosting en krag aan Sy geteisterdes sou gee en die vervulling van Sy ewige verbond met hulle sou nakom. Sy beskermende sorg, het Hy verklaar, sou wees soos “...'n vurige muur rondom... ” en deur hulle sou Sy heerlikheid aan al die mensekinders openbaar word. Dit wat Hy vir sy volk sou bereik, sou oor die hele aarde bekend gemaak word. “Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.” (Jes 12:6) DVvPEk 453.2