Die Verhaal Van Profete en Konings

53/69

Hoofstuk 45—Terugkeer van die Bannelinge

Die aankoms van die leër van Kores voor die mure van Babilon was ‘n teken vir die Jode dat hul bevryding uit ballingskap aangebreek het. Meer as ‘n eeu voor die geboorte van Kores, het inspirasie hom by name genoem en die werk wat hy sou doen om die stad Babilon onverhoeds in te neem en die weg vir die vrylating van die kinders van die ballingskap voor te berei, laat opteken. Deur Jesaja is die volgende woorde gespreek: DVvPEk 429.1

“So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, ... om voor hom deure oop te maak en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel.” (Jes. 45:1-3) DVvPEk 429.2

Met die onverwagse inval van die leër van die Persiese veroweraar deur die kanaal van die rivier waarvan die waters weggelei is en deur die binne-poorte wat in sorgelose veiligheid oop en onbeskermd gelaat is, tot in die hart van die Babiloniese hoofstad, het die Jode oorvloedige bewyse gehad van die letterlike vervulling van Jesaja se profesie aangaande die skielike omverwerping van hul onderdrukkers. En dit moes vir hulle ‘n onmiskenbare teken wees dat God die sake van die nasies namens hulle rig; want onafskeidbaar verbonde aan die profesie wat die wyse van die inname en val van Babilon uiteengesit het, was die woorde: DVvPEk 429.3

“Kores ... Hy is my herder en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word en die tempel moet gegrond word.” “Ek het hom verwek in geregtigheid en al sy weë sal Ek gelykmaak; hy sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die HERE van die leërskare.” (Jes. 44:28;45:13) DVvPEk 429.4

Dit was ook nie die enigste profesieë wat aan die bannelinge gegun was vir hoop op ‘n spoedige bevryding nie. Die geskrifte van Jeremia was binne hul bereik en daarin is die tydsduur voor die herstel van Israel uit Babilon uiteengesit: “En as sewentig jaar vol is...” het die HERE deur Sy boodskapper voorspel, “...sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek en oor die land van die Chaldeërs en sal dit ewige wildernisse maak.” (Jer 25:12) Guns sou aan die oorblyfsel van Juda, in antwoord op vurige gebed, getoon word. “Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.” (Jer. 29:14) DVvPEk 430.1

Daniël en sy vriende het dikwels deur hierdie en soortgelyke profesieë gegaan, wat die doel van God vir sy volk uiteengesit het. En nou, terwyl die spoedige verloop van sake die magtige hand van God wat onder die nasies aan die werk was aangedui het, het Daniël spesiale aandag aan die beloftes wat aan Israel gemaak is, geskenk. Sy geloof in die profetiese woord het hom gelei om die ervarings wat deur die heilige skrywers voorspel was te beleef. “As eers sewentig jaar vir Babel verby is...” het die HERE verklaar, “...sal Ek op julle ag gee en aan julle My goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Verse 10¬13) DVvPEk 430.2

Kort voor die val van Babilon, toe Daniël oor hierdie profesieë nagedink en God versoek het vir ‘n begrip van die tye, is ‘n reeks visioene aangaande die opkoms en val van koninkryke aan hom gegee. In die eerste visioen, soos in hoofstuk sewe van die boek Daniël opgeteken, is ‘n vertolking gegee; maar nie alles is aan die profeet duidelik gemaak nie. “My gedagtes het my baie verskrik...” het hy oor sy ervaring op daardie stadium geskryf, “...en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.” (Dan 7:28) DVvPEk 431.1

Deur ‘n verdere visioen is meer lig op die gebeure van die toekoms gewerp; en aan die einde van hierdie gesig het Daniël gehoor... “Toe hoor ek ‘n heilige spreek; en ‘n ander heilige het aan die een wat spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur?” (Dan 8:13) Die antwoord wat gegee is, “Twee duisend drie honderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word...” het hom met verwarring gevul. Hy het ernstig na die betekenis van die visioen gesoek. Hy kon nie die verband tussen die sewentig jaar van ballingskap, soos deur Jeremia voorspel en die tweeduisend driehonderd jaar wat sou verloop voor die reiniging van God se heiligdom, wat hy die hemelse besoeker in die visioen hoor verklaar het, verstaan nie. Die engel Gabriël het hom ‘n gedeeltelike interpretasie gegee; maar toe die profeet hoor: “...dit sien op ‘n verre toekoms...” het hy flou geword. “En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.” (Verse 26, 27) DVvPEk 431.2

Steeds met ‘n las vir Israel, het Daniël die profesieë van Jeremia opnuut bestudeer. Hulle was baie eenvoudig — so duidelik dat hy uit die getuienisse wat in die boeke opgeteken is, begryp het “...dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem sewentig volle jare was.” (Dan 9:2) DVvPEk 431.3

Met geloof, gegrond op die vaste woord van profesie, het Daniël by die HERE vir die spoedige vervulling van hierdie beloftes gepleit. Hy het gepleit dat die eer van God behoue moes bly. In sy pleidooi het hy homself ten volle met diegene vereenselwig wat te kort geskiet het aan die Goddelike doel en het hulle sondes as sy eie bely. DVvPEk 432.1

“En ek het my aangesig tot die HERE God gerig...” het die profeet verklaar, “...om met vas en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.” (Verse 3,4) Alhoewel Daniël lank reeds in diens van God was en deur die hemel as “...die geliefde man...” verwys is, het hy nou voor God as sondaar verskyn en vir die groot behoefte van die mense wat hy liefgehad het gepleit. Sy gebed was welsprekend in sy eenvoud, met ernstige intensiteit. Hoor hoe hy gesmeek het: DVvPEk 432.2

“Ag, HERE, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en Sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van U gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na U knegte, die profete, wat in U Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie.” DVvPEk 432.3

“Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het...” DVvPEk 432.4

“By die HERE onse god is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan.” “o HERE, laat tog volgens al U geregtigheid U toorn en U grimmigheid van U stad Jerusalem, DVvPEk 432.5

U heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en U volk ‘n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.” DVvPEk 432.6

“Hoor dan nou, onse God, na die gebed van U kneg en na sy smekinge en laat ter wille van die HERE U aangesig skyn oor U heiligdom wat woes lê. Neig U oor, my God en hoor, open U oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar U Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor U aangesig neer nie, maar op grond van U grote barmhartigheid.” DVvPEk 433.1

“HERE, hoor! HERE, vergeef! HERE, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want U Naam is oor U stad en U volk uitgeroep” (Verse 4-9;16-19). DVvPEk 433.2

Die hemel het laag gebuig om aan die ernstige smekinge van die profeet gehoor te gee. Nog voordat hy sy pleidooi vir vergifnis en herstel voltooi het, het die magtige Gabriël weer aan hom verskyn en sy aandag op die visioen, wat hy voor die val van Babilon en die dood van Belsasar gesien het, gevestig. En toe het die engel die tydperk van die sewentig weke wat sou begin “...van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou...” (vers 25), breedvoerig voor hom uiteengesit. DVvPEk 433.3

Daniël se gebed het “...in die eerste jaar van Darius...” (vers 1), die Meedse monarg wie se generaal, Kores, die septer van universele heerskappy van Babilon afgeneem het, plaasgevind. Darius se bewind is deur God geëer. Die engel Gabriël is na hom gestuur, “...as ‘n versterking en beskutting vir hóm...” (Dan 11:1). Na die dood van Darius, binne ongeveer twee jaar na die val van Babilon, het Kores die troon bestyg en die begin van sy bewind was die voltooiing van die sewentig jaar sedert die eerste Hebreeuse bannelinge deur Nebukadnesar vanaf Juda na Babilon weggevoer is. DVvPEk 433.4

Die bevryding van Daniël uit die leeukuil is deur God aangewend om ‘n gunstige indruk op die gemoed van Kores die Grote te maak. Die uitmuntende eienskappe van die man van God, as ‘n staatsman met vêrsiende vermoëns, het daartoe gelei dat die Persiese heerser besondere respek vir hom gehad het en sy oordeel eerbiedig het. En nou, op die presiese tyd wat God gesê het Hy sou toesien dat Sy tempel in Jerusalem herbou moes word, het Hy Kores as Sy agent beweeg om die profesieë aangaande homself, waarmee Daniël so vertroud was, te onderskei en aan die Joodse volk hul vryheid te gee. DVvPEk 433.5

Toe die koning die woorde, wat meer as ‘n honderd jaar voor sy geboorte voorspel is gesien het en die wyse waarop Babilon ingeneem sou word; toe hy die boodskap wat deur die Heerser van die heelal aan hom gerig is; “Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie;” toe hy met sy eie oë die verklaring van die ewige God aanskou het; “...ter wille van Jakob, My kneg en Israel, My uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie;” toe hy die geïnspireerde rekords nagespeur het; “Ek het hom verwek in geregtigheid en al sy weë sal Ek gelykmaak; hy sal My stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk...”, is sy hart diep geraak en het hy onderneem om sy Goddelik-aangestelde missie uit te voer. (Jes 45:5,6,4,13) Hy sou die Joodse gevangenes vrylaat; en hy sou hulle help om Jehova se tempel te herstel. DVvPEk 434.1

In ‘n geskrewe proklamasie wat oor sy hele koninkryk uitgevaardig is, het Kores sy begeerte om voorsiening te maak vir die terugkeer van die Hebreërs en vir die herbou van hul tempel bekend gemaak. “Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee...” het die koning met dankbaarheid erken, “...en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God met hom wees en laat hom optrek na Jerusalem ... en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is. En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef — hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee en met die vrywillige gawes.” (Esra 1:1-4) DVvPEk 434.2

Hy het verdere opdrag aangaande die struktuur van die tempel gegee, dat... “Die Godshuis... moet gebou word as ‘n plek waar hulle offers bring en sy fondamente moet gelê word; sy hoogte moet sestig el, sy breedte sestig el wees; met drie lae groot klippe en een laag nuwe hout; en die onkoste sal deur die huis van die koning gedra word. En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en na Babel gebring het, moet hulle teruggee, dat dit in die tempel in Jerusalem op hulle plek kan kom en jy moet dit in die Godshuis sit.” (Esra 6:3-5) DVvPEk 435.1

Die tyding van hierdie dekreet het die verste provinsies van die koning se ryk bereik en oral onder die verspreide kinders van Israel was daar groot vreugde. Baie het, soos Daniël, die profesieë bestudeer en het na God gekyk vir Sy beloofde ingryping namens Sion. En nou is hul gebede verhoor en kon hulle met innige vreugde in hulle hart saam sing: DVvPEk 435.2

“Toe die HERE die lot van Sion verander het,
Was ons soos die wat droom.
Toe is ons mond gevul met gelag
En ons tong met gejubel;
Toe het hulle onder die heidene gesê:
Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.
Die HERE het groot dinge aan ons gedoen:
Ons was bly!”
DVvPEk 435.3

(Psalm 126:1-3)

“Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak en die priesters en die Leviete — elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek...” Dit was die goeie oorblyfsel, ongeveer vyftigduisend in getal, onder die Jode in die lande van ballingskap, wat besluit het om die wonderlike geleentheid wat hulle aangebied is, te benut “...om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te bou.” Hulle vriende het nie toegelaat dat hulle met leë hande weg te gaan nie. “En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het.” En by hierdie en vele ander vrywillige offers is “...die voorwerpe van die huis van die HERE uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer..” het, deur “...Kores, die koning van Persië ... uitgelewer onder toesig van Mitredat, die skatmeester ... vyf duisend vier honderd...” in getal, vir gebruik in die tempel wat herbou sou word. (Esra 1:5-11) DVvPEk 435.4

Kores het op Serubbábel (ook bekend as Sesbassar), ‘n afstammeling van Koning Dawid, die verantwoordelikheid as goewerneur van die geselskap wat na Juda sou terugkeer geplaas; en Josua, die hoëpriester, het hom vergesel. Die lang reis deur die verlatenheid van die woestyn is met veiligheid afgelê en die gelukkige geselskap, dankbaar teenoor God vir al Sy genade, het dadelik begin met die werk om dit wat afgebreek en vernietig was, te herstel. “Van die familiehoofde...” is gelei om vrywillige bydraes te maak ten einde behulpsaam te wees met die herbou van die tempel en die volk wat hulle voorbeeld gevolg het, het ook vrylik van hulle skamele voorraad opgeoffer. (Sien Esra 2:64-70). DVvPEk 436.1

'n Altaar is so spoedig moontlik op die plek van die antieke altaar in die tempelhof opgerig. Deur die gebruike wat aan die toewyding van hierdie altaar gekoppel was, het “...die volk soos een man in Jerusalem byeengekom...” en daar het hulle verenig in die hervestiging van die heilige dienste wat tydens die vernietiging van Jerusalem deur Nebukadnesar onderbreek is. Voordat hulle na hul wonings teruggekeer het om dit te herstel, het hulle gepoog om die “huttefees” weer in te stel. (Esra3:1-6) DVvPEk 436.2

Die oprigting van die altaar vir die daaglikse brandoffers het die getroue oorblyfsel grootliks verheug. Hulle het van harte die voorbereidings wat nodig was vir die herbou van die tempel getref en is bemoedig deur die voorbereidings wat maand na maand gevorder het. Hulle was jare lank ontneem van die sigbare tekens van God se teenwoordigheid. En nou, omring met die tragiese oorblyfsels van die afvalligheid van hul vaders, het hulle gesmag na ‘n ander blywende teken van Goddelike vergifnis en guns. Bo die herwinning van persoonlike eiendom en eertydse voorregte, het hulle na die goedkeuring van God gehunker. Hy het wonderbaarlik namens hulle opgetree en hulle kon die versekering van Sy teenwoordigheid aanvoel; maar hulle het na steeds meer seën gesmag. Met vreugdevolle afwagting het hulle uitgesien na die tyd wanneer, met die tempel herbou, hulle weer die glans van Sy heerlikheid daarin sou kon aanskou. DVvPEk 436.3

Die werksmense wat besig was met die voorbereiding van die boumateriaal, het sommige van die reuse stene wat in die dae van Salomo na die tempel-gebied gebring is, tussen die ruïnes gevind. Dit is gereed gemaak vir gebruik en baie nuwe materiaal is voorsien; en gou is met die werk gevorder tot op die punt waar die hoeksteen gelê moes word. Dit was in die teenwoordigheid van baie duisende wat vergader het om die vordering van die werk te aanskou en om uiting aan hulle vreugde om deel daarvan te wees, te gee verrig. Terwyl die hoeksteen in posisie geplaas is het die volk, begelei deur die trompette van die priesters en simbale van die seuns van Asaf, “...aangehef met lof en dank aan die HERE, want Hy is goed, want Sy goedertierenheid oor Israel is vir ewig! (Vers 11) DVvPEk 437.1

Die huis wat herbou sou word, was die onderwerp van baie profesieë oor die guns wat God begeer het om aan Sion te betoon; en almal wat by die hoeksteenlegging aanwesig was, moes van harte in die gees van die geleentheid opgeneem gewees het. Maar tog, gemeng met die musiek en die lofbetuigings wat op daardie blye dag gehoor is, was daar ‘n vals noot. “Maar baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is.” (Vers 12) DVvPEk 437.2

Dit was natuurlik dat hartseer die harte van daardie oues van dae gevul het, soos hulle oor die gevolge van hul lank- voortgesette onboetvaardigheid gepeins het. As hulle en hul geslag aan God gehoorsaam was en Sy doel vir Israel uitgevoer het, sou die tempel wat Salomo gebou het nie vernietig gewees het nie en sou die ballingskap onnodig gewees het. Maar vanweë ondankbaarheid en ontrouheid, is hulle onder die heidene versprei. DVvPEk 438.1

Omstandighede was nou anders. Met tere genade het die HERE weer Sy volk besoek en hulle toegelaat om na hul eie land terug te keer. Hartseer weens die foute van die verlede, moes plek maak vir groot vreugde. God het die hart van Kores beweeg om hulle met die herbou van die tempel by te staan en dit moes uitdrukkings van diepe dankbaarheid ontlok het. Maar sommige was nie in staat om God se aanvanklike voorsienings te onderskei nie. In plaas daarvan om hulle te verbly, het hulle gedagtes van ontevredenheid en moedeloosheid gekoester. Hulle het net die prag van Salomo se tempel gesien en het die minderwaardige gebou wat tans besig was om opgerig te word, betreur. DVvPEk 438.2

Die murmurerings en klagtes en die ongunstige vergelykings wat gemaak is, het ‘n neerdrukkende invloed op die gemoedere van baie gehad en die bouers se hande verswak. Dit het daartoe gelei dat die werkers begin bevraagteken het of hulle enigsins moes voortgaan met die oprigting van ‘n gebou wat uit die staanspoor so vryelik gekritiseer en die oorsaak van soveel klagtes was. DVvPEk 438.3

Daar was egter baie in die gemeente wie se groter geloof en breër visie hulle nie daartoe verleen het om hierdie geringer glorie met sulke ontevredenheid te beskou nie. “Baie [het] met gejuig, met blydskap die stem verhef. En die volk kon die geluid van blye gejuig nie onderskei van die geluid van gehuil van die volk nie, want die volk het gejuig met groot gejuig, sodat die geluid tot ver weg gehoor is.” (Verse 12,13) DVvPEk 438.4

Indien diegene wat gefaal het om in die hoeksteenlegging van die tempel te jubel, die resultate van hul gebrek aan geloof op daardie dag vooruit kon sien, sou hulle verstom gestaan het. Min het hulle die gewig van hul woorde van afkeur en teleurstelling besef; min het hulle geweet tot watter mate hul uitgesproke ongelukkigheid die voltooiing van die huis van die HERE sou vertraag. DVvPEk 439.1

Voor hul ballingskap, was die prag van die eerste tempel en die imposante rituele van sy godsdienstige dienste ‘n bron van trots vir Israel; maar dit het hulle dikwels in hul aanbidding aan dit wat God as die belangrikste eienskappe beskou het ontbreek. Die glorie van die eerste tempel en die prag van sy dienste, kon hulle nie by God aanbeveel nie; want alleen dit wat van waarde in Sy oë was, het hulle nie aangebied nie. Hulle het nie aan Hom die offer van ‘n nederige en verslae gees gebring nie. DVvPEk 439.2

Dit is wanneer die belangrike beginsels van die koninkryk van God uit die oog verloor word, dat die seremonies veelvuldig en uitspattig raak. Dit is wanneer die bou van karakter verwaarloos word, die versiering van die siel ontbreek, wanneer die eenvoud van godsaligheid geminag word, dat trots en liefde vir vertoon imposante geboue, met pragtige versierings en imposante seremonies vereis. Maar in al hierdie dinge word God nie geëer nie. Hy waardeer Sy kerk, nie vir die uiterlike voordele nie, maar vir die opregte vroomheid wat dit van die wêreld onderskei. Hy evalueer dit volgens die groei in die kennis van Christus in sy lidmate en volgens hul vooruitgang in geestelike ervaring. Hy begeer die beginsels van liefde en goedheid. Nie al die skoonheid van kuns kan met die skoonheid van temperament en karakter wat by diegene voorkom wat Christus se verteenwoordigers is, vergelyk word nie. DVvPEk 439.3

'n Gemeente mag miskien die armste in die land wees. Dit mag sonder die aantreklikhede van enige uiterlike vertoon wees; maar as die lidmate die beginsels van die karakter van Christus besit, sal engele met hulle in aanbidding verenig. Die lof en danksegging uit dankbare harte sal na God as ‘n lieflike spysoffer opstyg. DVvPEk 439.4

Loof die HERE, want Hy is goed,
Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
Dit moet die verlostes van die HERE sê,
Wat Hy uit die nood verlos het.

Sing, psalmsing tot Sy eer,
Spreek van al Sy wonders.
Beroem julle in Sy heilige Naam;
Laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.

Want Hy het die dorstige siel versadig
En die hongerige siel met die goeie vervul.
DVvPEk 440.1

(Psalms 107:1,2;105:2,3;107:9)