Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 3—Die Trots van Voorspoed
Terwyl Salomo die wet van die hemel hoog gehou het, was God met hom en wysheid is aan hom geskenk om onpartydig en met genade oor Israel te regeer. Aanvanklik, het hy, met die rykdom en die roem wat hy ontvang het, nederig gebly en die omvang van sy invloed was groot. “Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte.” “Hy het ... vrede gehad aan alle kante rondom; sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom ... al die dae van Salomo.” (1 Kon 4:21,24,25) DVvPEk 30.1
Maar na ‘n aanvanklike begin wat groot belofte ingehou het, is sy lewe verduister deur afvalligheid. Geskiedenis teken die treurige feit aan dat hy, wat eens Jedidja, “...ter wille van die HERE...” (2 Sam 12:25) genoem is, hy wat deur God met tekens van Goddelike guns vereer is, wie se wysheid en opregtheid aan hom wêreldwye roem verwerf het, hy wat ander gelei het om die eer aan die God van Israel toe te skryf, het van die aanbidding van God af weggedraai om voor die afgode van die heidene te buig. DVvPEk 30.2
Honderde jare voor Salomo die troon bestyg het, het die HERE die gevare wat diegene wat as regeerders van Israel gekies is sou omring, vooruitgesien en aan Moses opdragte vir hulle beskerming gegee. Opdrag is gegee dat hy wat op die troon van Israel sou sit, “...vir hom ‘n afskrif van hierdie wet [van Jehova] in ‘n boek [moes] skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.” (Deut 17:18-20) DVvPEk 30.3
In verband met hierdie opdragte het die HERE spesifiek gewaarsku dat hy, wat as koning gesalf word “...nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.” (Vers 17) DVvPEk 31.1
Salomo was goed met hierdie waarskuwings vertroud en het ‘n tyd lank daarop ag geslaan. Sy grootste begeerte was om volgens die verordeninge wat by Sinai aangekondig is, te lewe.Die wyse waarop hy sy koninkryk se sake behartig het was opvallend teenstrydig met die gebruike van die nasies van sy tyd — die nasies wat God nie gevrees het nie en wat sy heilige wet vertrap het. DVvPEk 31.2
Toe Salomo sy verhouding met die magtige koninkryk suid van Israel wou verstewig, het hy verbode terrein betree. Satan het geweet wat die gevolge van ongehoorsaamheid sou meebring en het reeds gedurende die vroeë jare van Salomo se bewind — glorieryk vanweë die wysheid, die goedhartigheid en opregtheid van die koning — gepoog om invloede daar te stel wat Salomo se lojaliteit aan beginsel verraderlik sou ondermyn en tot gevolg sou hê dat hy van God sou wegdraai. Dat die vyand geslaag het in sy pogings lees ons in 1 Konings 3:1: “En Salomo het hom verswaer met Farao, die koning van Egipte; hy het naamlik die dogter van Farao geneem en haar in die stad van Dawid ingebring.” DVvPEk 31.3
Uit ‘n menslike oogpunt gesien het hierdie huwelik, alhoewel teenstrydig met die leringe van God se wet, ‘n seën blyk te gewees het, want Salomo se heidense vrou het tot bekering gekom en het saam met hom die ware God aanbid. Verder het Farao oënskynlike diens aan Israel verrig deur Geser in te neem “...en die Kanaäniete wat in die stad gewoon het, gedood en dit as ‘n trougeskenk aan sy dogter, die vrou van Salomo, gegee.”(1 Kon 9:16) Salomo het hierdie stad herbou en sodoende oënskynlik sy koninkryk aan die Middellandse seekus versterk. Maar deur ‘n bondgenootskap met ‘n heidense nasie aan te gaan en dit deur middel van ‘n huwelik met ‘n heidense prinses te bekragtig, het Salomo op onbesonne wyse, die wyse voorsiening wat God vir die reinheid van sy volk daargestel het, geminag. Die hoop dat sy Egiptiese vrou dalk bekeer kon word, was ‘n flou verskoning vir die sonde. DVvPEk 31.4
'n Tyd lank het God in Sy deernisvolle genade, hierdie verskriklike fout kragteloos gemaak en sou die koning, ten minste tot ‘n groot mate, met wyse optrede, moontlik die bose magte wat deur sy onverstandigheid aan die gang gesit is, kon beteuel. Maar Salomo het egter begin om die Bron van sy mag en glorie uit die oog te verloor. Soos wat neiging oor rede toegeneem het, het sy selfvertroue toegeneem en het hy gepoog om sy Godgegewe taak op sy eie wyse uit te voer. Hy het gereken dat sy politieke- en handelsooreenkomste met die buurlande, aan hierdie nasies ‘n kennis aangaande die ware God sou bring; gevolglik het hy met die een nasie na die ander bondgenootskappe gesmee. Hierdie ooreenkomste is dikwels met die huwelik van heidense prinsesse verseël. God se bevele is eenkant geskuif om plek te maak vir die gebruike van die omliggende volke. DVvPEk 32.1
Salomo het homself gevlei dat sy wysheid en die mag van sy voorbeeld sy vrouens van afgodediens tot die aanbidding van die ware God sou lei en dat die bondgenootskappe wat aldus gesmee is, die omliggende nasies in noue aanraking met Israel sou bring. Ydele hoop! Salomo se fout, deur te dink dat hy sterk genoeg was om die invloed van sy heidense bondgenote te weerstaan, was vir hom fataal. Net so noodlottig was die misleiding wat hom laat hoop het dat, nieteenstaande sy eie minagting van God se wet, ander gelei sou word om op die heilige voorskrifte ag te slaan en te gehoorsaam. DVvPEk 32.2
Die koning se bondgenootskappe en handelsverhoudinge met heidense nasies het beroemdheid, eer en wêreldse rykdom aan hom besorg. Hy was in staat om goud van Ofir te bekom en ‘n oorvloed silwer uit Tarsis. “Die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe en die seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.” (2 Kron 1:15) Rykdom, met al die meegaande versoekings, het in Salomo se tyd ‘n toenemende aantal mense te beurt geval; maar die fyn goud van die karakter was verdof en geskend. DVvPEk 32.3
Salomo se afvalligheid was so geleidelik dat, voordat hy dit besef het, hy ver van God afgedwaal het. Bykans onopmerklik het hy algaande minder en minder op Goddelike leiding en seën vertrou en vertroue in sy eie vermoëns in die plek daarvan gestel. Bietjie vir bietjie het hy daardie onbuigsame gehoorsaamheid aan God, wat van Israel ‘n besonderse volk moes gemaak het, weerhou en het hy al hoe meer gelykvormig geword met die gebruike van die omliggende volke. Deur toe te gee aan die versoekings wat gepaard gegaan het met sy sukses en geëerde posisie, het hy die Bron van sy voorspoed vergeet. Sy ambisie om magtiger en vernamer as die ander nasies te wees, het daartoe gelei dat hy die hemelse gawes, wat tot op hede aangewend was om God te vereer, vir selfsugtige redes misbruik het. Fondse wat in heilige vertroue tot voordeel van verdienstelike behoeftiges en vir die uitbreiding van beginsels vir ‘n heilige leefwyse oor die hele wêreld bewaar moes word, is selfsugtig aangewend vir ambisieuse projekte. DVvPEk 33.1
Verdiep in ‘n oorheersende begeerte om die ander nasies in uiterlike vertoon te oortref, het die koning die noodsaaklikheid vir die verkryging van skoonheid en volmaaktheid van karakter, oor die hoof gesien. Deurdat hy homself voor die wêreld wou verhef, het hy sy eerbaarheid en integriteit verpand. Die reuse inkomste wat deur handel met ander lande verkry is, is met swaar belastings aangevul. Sodoende het trots, ambisie, verkwisting en selfbevrediging die vrugte van wreedheid en afpersing voortgebring. Die toegewyde en bedagsame gesindheid wat sy omgang met mense gedurende die vroeëre deel van sy bewind gekenmerk het, het verander. Van die wysste en genadigste van heersers het hy ontaard in ‘n tiran. Eens ‘n deernisvolle, Godvresende bewaarder van die volk, het hy onderdrukkend en heerssugtig geword. Belasting op belasting is op die volk gehef om die luukse leefstyl van die koning te befonds. DVvPEk 33.2
Die volk het begin kla. Die respek en bewondering wat hulle eers vir hul koning gehad het, het verander in ontevredenheid en weersin. DVvPEk 34.1
As beskerming teen afhanklikheid van ‘n mens, het die HERE diegene wat oor Israel sou regeer, gemaan om nie vir hulself ‘n menigte perde te bekom nie. Maar met uiterste miskenning van hierdie bevel het “...die uitvoer van perde vir Salomo ... plaasgevind uit Egipte en uit Kwé.” “En hulle het vir Salomo perde uit Egipte en uit al die lande uitgevoer.” “Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertien honderd waens en twaalf duisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.” (2 Kron 1:16;9:28; 1 Kon 10:26) DVvPEk 34.2
Die koning het luuksheid, selfbevrediging en wêreldse guns al hoe meer as tekens van [ware] grootheid beskou. Beeldskone en aantreklike vrouens is uit Egipte, Fenisië, Edom, Moab en baie ander plekke gebring. Hierdie vrouens het in hul honderde getel. Hul godsdiens het bestaan uit afgodediens en hulle was geleer om wrede en verlagende rituele te beoefen. Betower deur hul skoonheid, het die koning sy pligte teenoor God en sy koninkryk afgeskeep. DVvPEk 34.3
Sy vrouens het ‘n sterk invloed oor hom uitgeoefen en het hom mettertyd oorreed om met hulle te verenig in hul afgodery. Salomo het God se opdragte, wat as ‘n skans teen afvalligheid moes dien, verontagsaam en nou het hy hom oorgegee aan die aanbidding van afgode. “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie. En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop.” (1 Kon 11:4,5) DVvPEk 34.4
Op die suidelike hoogte van die Olyfberg, oorkant die berg Moria waar die pragtige tempel van Jehova gestaan het, het Salomo ‘n indrukwekkende aantal geboue opgerig vir gebruik as afgode-tempels. Om sy vroue te behaag, het hy reuse afgode, misvormde beelde van hout en klip, te midde van die mirte- en olyfboorde geplaas. Hier, voor die altare van heidense gode, “...Kamos, die verfoeisel van die Moabiete...” en “...Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon...” is die mees verlagende rituele van die heidendom beoefen. (Vers 7) DVvPEk 35.1
Salomo se weg het gewisse straf meegebring. Sy verwydering van God, vanweë sy verbintenis met afgodsdienaars, was die oorsaak van sy val. Soos wat hy sy lojaliteit aan God prysgegee het, het hy beheer oor homself verloor. Sy morele krag het verdwyn. Sy fyn ingesteldheid het afgestomp geraak en sy gewete verskroei. Hy, wat aan die begin van sy bewind soveel wysheid en simpatie aan die dag gelê het toe hy die hulpelose baba aan sy ongelukkige moeder terugbesorg het (1 Kon 3:16¬28), het so laag gedaal dat hy goedkeuring verleen het vir die bou van ‘n afgod aan wie lewendige kinders geoffer is. Hy wat in sy jeug begunstig was met goeie oordeel en begrip en wat in sy sterk manlikheid geïnspireer was om te skryf, “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood”(Spr 14:12), het in later jare so ver van reinheid afgewyk, dat hy losbandige, weersinwekkende rituele van Kallus en Astarte toegelaat het. Hy, wat met die inwyding van die tempel aan sy mense gesê het: “Laat julle hart dan volkome met die HERE onse God wees” (1 Kon 8:61), het self ‘n oortreder geword, deur in hart en lewenswyse sy eie woorde te ontken. Hy het losbandigheid met vryheid verwar. Hy het probeer — maar teen watter prys — om lig met donker, goed met kwaad, reinheid met onreinheid, Christus met Belial te verenig. DVvPEk 35.2
Van een van die grootste konings wat ooit die septer geswaai het, het Salomo ‘n losbandige verkwister en ‘n werktuig en slaaf van ander geword. Sy karakter, wat eens op ‘n tyd so edel en manlik was, het verswak en verwyfd geraak. Sy geloof in die lewende God het plek gemaak vir ateïstiese twyfel. Ongeloof het sy geluk geskend, sy beginsels verswak en sy lewe gedegradeer. Die geregtigheid en grootmoedigheid tydens die eerste deel van sy bewind, het verander in despotisme en tirannie. Armsalige, swak menslike natuur! God kan min doen vir mense wat hul sin vir afhanklikheid van Hom verloor het. DVvPEk 36.1
Gedurende hierdie jare van afvalligheid het die geestelike verval van Israel geleidelik toegeneem. Hoe kon dit anders, as hul koning sy belange met dié van sataniese werktuie verenig het?Deur hierdie werktuie het die vyand gewerk om die denke van die Israeliete aangaande ware en valse godsdiens te verwar en hulle het maklike slagoffers geword. Handel met ander nasies het hulle in noue verbinding met diegene wat geen liefde vir God gehad het nie gebring en hul eie liefde vir God het grootliks afgeneem. Hul skerpsinnigheid ten opsigte van die hoë, heilige karakter van God is uitgedoof. Deur te weier om die weg van gehoorsaamheid te volg, het hulle hul trou op die vyand van geregtigheid oorgeplaas. Dit het algemene praktyk geword om met afgodedienaars te trou en die Israeliete het spoedig hul weersin in afgodediens verloor. Veelwywery is aangemoedig. Afgodiese moeders het hul kinders opgevoed om heidense rituele waar te neem. In sommige se lewens is die suiwer godsdiens wat God ingestel het, vervang met afgodediens van die ergste graad. DVvPEk 36.2
Christene moet hulleself afsonderlik en apart van die wêreld, sy gees en invloede hou. God is heeltemal daartoe in staat om ons in die wêreld te bewaar, maar ons moenie van die wêreld wees nie. Sy liefde is nie onseker of wisselvallig nie. Immer waak Hy oor sy kinders met oneindige sorg. Maar Hy verlang onverdeelde lojaliteit. “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt 6:24) DVvPEk 36.3
Salomo was met wonderlike wysheid toegerus, maar die wêreld het hom van God af weggelok. Mense is vandag niks sterker as hy nie; hulle is net so geneig om toe te gee aan die invloede wat sy val tot gevolg gehad het. Net soos God vir Salomo teen gevaar gewaarsku het, so waarsku Hy vandag sy kinders om nie hul siele in gevaar te stel deur verwantskap met die wêreld nie. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die HERE; en raak nie aan wat onrein is nie en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die HERE, die Almagtige.” (2 Kor 6:17,18) DVvPEk 37.1
Te midde van voorspoed skuil gevaar. Deur die eeue heen het rykdom en eer altyd ‘n gevaar vir nederigheid en geestelikheid ingehou. Dit is nie die leë koppie wat moeilik is om te dra nie, dit is die koppie wat tot op die rand gevul is, wat versigtig gebalanseer moet word. Swaarkry en teëspoed mag smart veroorsaak, maar dit is voorspoed wat die gevaarlikste vir die geestelike lewe is. Tensy die mens homself voortdurend aan die wil van God onderwerp, tensy hy deur die waarheid geheilig is, sal voorspoed sekerlik die natuurlike neiging tot verwaandheid aanwakker. DVvPEk 37.2
In die vallei van vernedering, waar mense van God afhanklik is om hulle elke tree te lei, is daar ‘n mate van veiligheid. Maar die mense wat egter op verhewe pieke staan en wie, as gevolg van hul posisie veronderstel is om oor groot wysheid te beskik, verkeer in die grootste gevaar. Tensy sulke mense van God afhanklik word, gaan hulle beslis val. DVvPEk 37.3
Telkens wanneer trots en ambisie gekoester word, word die lewe bederf, want trots, wat geen behoefte [aan God] het nie, sluit die hart teen die oneindige seëninge van die Hemel. Hy wat selfverheerliking vir homself ten doel stel, sal vind dat hy sonder God se genade, deur Wie se doeltreffendheid die ware rykdom en mees bevredigende vreugdes verkry word is. Maar hy wat alles vir Christus gee en doen, sal die vervulling van die volgende belofte ken: “Die seën van die HERE — dit maak ryk en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” (Spr 10:22) Met die sagte aanraking van genade, verban die Heiland die onrus en onheilige ambisie en verander vyandigheid in liefde en ongeloof in vertroue. Wanneer Hy tot die siel spreek en sê: “Volg My”, is die betowering van die wêreld se bekoorlikhede verbreek. By die aanhoor van Sy stem vlug die gees van gierigheid en ambisie uit die hart en die mens staan op, bevry, om Hom te volg. DVvPEk 37.4