Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 43—Die Onsigbare Toeskouer *
Teen die einde van Daniël se lewe het groot veranderinge in die land waarheen hy en sy vriende sestig jaar tevore gevange geneem is, plaasgevind. Nebukadnesar is oorlede en Babilon, eens ‘n “...voorwerp van verbasing ... onder die nasies...”, (Jeremia 51:41), is aan die dwase bewind van sy opvolgers oorgelewer en die gevolg was geleidelike maar seker ontbinding. DVvPEk 407.1
Deur die dwaasheid en swakheid van Belsasar, die kleinseun van Nebukadnesar, sou die trotse Babilon spoedig tot ‘n val kom. In sy jeug was hy toegelaat om te deel in die koninklike gesag en Belsasar het in sy mag geroem en sy hart teen die God van die hemel verhef. Hy het vele geleenthede gehad om die Goddelike wil te ken en sy verantwoordelikheid om daaraan gehoorsaam te wees, te verstaan. Hy het geweet van sy oupa se verbanning uit die samelewing, deur die dekreet van God; en hy was vertroud met Nebukadnesar se bekering en wonderbaarlike herstel. Maar Belsasar het toegelaat dat sy liefde vir plesier en selfverheerliking die lesse, wat hy nooit moes vergeet nie, uitwis. Hy het die geleenthede wat genadiglik aan hom gegun is, verbeur en nagelaat om die middele binne sy bereik te gebruik om meer vertroud met die waarheid te raak. Dit wat Nebukadnesar uiteindelik, ten koste van ongekende lyding en vernedering verkry het, het Belsasar met onverskilligheid oor die hoof gesien. DVvPEk 407.2
Dit was nie lank voor agteruitgang ingetree het nie. Babilon is deur Kores, ‘n neef van Darius die Meder en bevelvoerder van die gesamentlike magte van die Meders en Perse, beleër. Maar binne die skynbaar oninneembare vesting, met sy massiewe mure en sy hekke van koper, beskerm deur die rivier Eufraat en met proviand gevul, het die wellustige monarg veilig gevoel en sy tyd met plesier en onthaal verkwis. DVvPEk 407.3
In sy trots en arrogansie, met ‘n roekelose gevoel van veiligheid, het Belsasar “...'n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers en in teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.” Al die aantreklikhede wat rykdom en mag kon vermag, het glans aan die toneel verleen. Beeldskone vroue met hul betowering, was onder die gaste wat die koninklike banket bygewoon het. Manne met geniale begaafdheid en opvoeding was ook teenwoordig. Prinse en staatsmanne het wyn soos water gedrink en het hulle in die waansinnige invloed daarvan verlustig. DVvPEk 408.1
Met die rede deur skaamtelose bedwelming onttroon en laer impulse en hartstogte aan die toeneem, het die koning die leiding in die oproerige orgie geneem. Namate die fees gevorder het, het hy beveel dat “...die goue voorwerpe gebring [word] wat ... uit die huis van God in Jerusalem weggevoer was en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue het daaruit gedrink.” Die koning wou bewys dat niks te heilig vir sy hande was nie. “Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.” DVvPEk 408.2
Min het Belsasar gedink dat daar ‘n hemelse Getuie by sy afgodiese swelgery teenwoordig was; dat ‘n Goddelike Opsigter, ongemerk, neergekyk het op die toneel van ontheiliging, die onheilige joligheid gehoor en die afgodery aanskou het. Maar gou het die ongenooide Gas Sy teenwoordigheid laat geld. Toe die jolyt sy hoogtepunt bereik het, het ‘n bloedlose hand te voorskyn gekom en met karakters wat soos vuur geglim het, op die paleis se mure geskryf — woorde wat, alhoewel onbekend aan die groot menigte, ‘n voorbode van verdoemenis vir die nou gewete-geteisterde koning en sy gaste ingehou het. DVvPEk 408.3
Die uitbundige vreugde was gedemp, terwyl manne en vroue met naamlose vrees, toegekyk het hoe die hand die geheimsinnige karakters stadig neergeskryf het. Die dade van hul bose lewens het in ‘n panoramiese toneel voor hulle afgespeel; dit was asof hulle voor die beskuldigde bank van die ewige God, Wie se mag hulle so pas uitgedaag het, tereggestaan het. Waar ‘n paar oomblikke tevore skreeusnaakse en godslasterlike kwinkslae was, was daar nou net bleek gesigte en uitroepe van vrees. Wanneer God vrees by die mens inboesem, kan die intensiteit daarvan nie verberg word nie. DVvPEk 408.4
Belsasar was die mees vreesbevange van hulle almal. Dit was immers hy wat vir die opstand teen God, wat daardie nag sy hoogtepunt in die Babiloniese koninkryk bereik het, verantwoordelik was. In die teenwoordigheid van die onsigbare Getuie, die verteenwoordiger van Hom Wie se mag uitgedaag is en Wie se naam gelaster is, was die koning verlam van vrees. DVvPEk 409.1
Sy gewete is aangewakker. “Die gewrigte van sy heupe het losgeraak en sy knieë het teen mekaar geslaan.” Belsasar het homself goddelooslik teen die God van die hemel verhef en op sy eie mag vertrou en het nie gedink dat iemand sou durf vra: “Waarom maak u so?” nie, maar nou het hy besef dat hy rekenskap sou moes gee van die rentmeesterskap wat aan hom toevertrou is en dat hy vir sy verspilde geleenthede en sy uitdagende houding geen verskoning kon bied nie. DVvPEk 409.2
Die koning het tevergeefs probeer om die vurige letters te ontsyfer, maar hier was ‘n geheim wat hy nie kon peil nie, ‘n krag wat hy nie kon verstaan of weerspreek nie. In sy vertwyfeling het hy hom na die wyse manne van sy ryk om hulp gewend. Sy wilde geroep het deur die byeenkoms weerklink, soos hy na die astroloë, die Chaldeërs en die waarsêers geroep het om die skrif te lees: “Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee...” het hy beloof, “...hy sal met purper beklee word en ‘n goue ketting sal om sy hals wees en as derde in rang sal hy in die koninkryk heers.” Maar sy oproep op sy betroubare adviseurs, met aanbiedings van ryk belonings, het niks gebaat nie. Hemelse wysheid kan nie gekoop of verkoop word nie. “Al die wyse manne ... was nie in staat om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie.” Hulle was net so min in staat om die misterieuse karakters te ontsyfer as wat die wyse manne van ‘n voormalige geslag was om die drome van Nebukadnesar te vertolk. DVvPEk 409.3
Toe onthou die koninginmoeder van Daniël wat meer as ‘n halwe eeu tevore aan Koning Nebukadnesar die droom van die groot beeld en die interpretasie daarvan bekend gemaak het. “Mag die koning in ewigheid lewe!” het sy gesê. “Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie verander nie. Daar is ‘n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel — u vader, o koning! — omdat in hom ‘n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak — in Daniël aan wie die koning die naam van Béltsasar gegee het; laat Daniël nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee.” DVvPEk 410.1
“Toe is Daniël voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Is jy Daniël wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my vader, uit Juda gebring het? Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word. Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie. Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak; as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met purper beklee word en ‘n goue ketting sal daar om jou hals wees en jy sal as derde in rang in die koninkryk heers.” Voor daardie vreesbevange gehoor het Daniël, onaangeraak deur die beloftes van die koning, in die stille waardigheid van ‘n dienskneg van die Allerhoogste gestaan, om nie met vleiende woorde te spreek nie, maar om ‘n boodskap van verdoemenis te interpreteer. “U kan u gawes maar vir uself hou...” het hy gesê, “...en u geskenke aan ‘n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak.” DVvPEk 410.2
Die profeet het Belsasar eers aan aangeleenthede herinner waarmee hy vertroud was, maar wat hom nie die les van nederigheid, wat hom sou kon red, geleer het nie. Hy het van die sonde en val van Nebukadnesar gepraat en van die HERE se omgang met hom —die heerskappy en die heerlikheid wat aan hom verleen is, die Goddelike oordeel oor sy trots en sy daaropvolgende erkenning van die mag en genade van die God van Israel; en toe, met onwrikbare en nadruklike woorde, het hy Belsasar vanweë sy groot boosheid bestraf. Hy het die koning se sonde aan hom voorgehou en die lesse wat hy daaruit moes, maar nie geleer het nie. Belsasar het nie uit sy oupa se ervarings geleer nie en het ook nie op die waarskuwings van gebeure wat so belangrik vir hom was, ag geslaan nie. Die geleentheid om die ware God te leer ken en te gehoorsaam, het hy nie ter harte geneem nie en hy was op die punt om die gevolge van sy rebellie te oes. DVvPEk 411.1
“Maar u, Bélsasar...” het die profeet verklaar, “...het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles weet; maar u het u verhef teen die HERE van die hemel en die voorwerpe van Sy huis het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in Wie se hand u asem en voor Wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie. Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe.” DVvPEk 411.2
En, terwyl hy na die boodskap uit die hemel draai, lees die profeet: “Mené, mené, tekél ufarsin.” Die hand wat die karakters geskryf het, was nie langer sigbaar nie, maar hierdie vier woorde het steeds met vreesaanjaende helderheid geglim; en nou, met ingehoue asem, het die mense geluister terwyl die bejaarde profeet verklaar het: DVvPEk 411.3
“Dit is die uitleg van die woord: Mené — God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak; tekél — u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés — u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.” DVvPEk 412.1
In daardie laaste nag van malse dwaasheid, het Belsasar en sy vorste die maatbeker van sy skuld en die van die Chaldeërs gevul. Die weerhoudende hand van God kon nie langer die naderende euwel afweer nie. Deur veelvuldige bewyse het God probeer om hulle eerbied vir Sy wet te leer. “Ons het aan Babel medisyne gegee...” het Hy van diegene wie se oordeel nou tot aan die hemele gereik het verklaar, “...maar hy het nie gesond geword nie.” (Jer 51:9). As gevolg van die vreemde perversiteit van die menslike hart, het God dit uiteindelik nodig geag om die onherroeplike vonnis te vel. Belsasar sou sterf en sy koninkryk sou in ander hande oorgaan. DVvPEk 412.2
Nadat die profeet klaar gepraat het, het die koning beveel dat hy die beloofde eerbewyse moet ontvang; en ooreenstemmend, het hulle “...Daniël met purper beklee, met ‘n goue ketting om sy hals en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in rang in die koninkryk sou heers.” DVvPEk 412.3
Meer as ‘n eeu vroeër het inspirasie voorspel dat die “...skemeraand wat ek liefhet...” waartydens koning en raadgewers sou wedywer in Godslastering, skielik sou verander in ‘n tyd van vrees en vernietiging. En nou, spoedig opeenvolgend, het belangrike gebeure, presies soos in die profetiese skrifte uiteengesit is, jare voordat die hoofkarakters in die drama gebore was, mekaar opgevolg. DVvPEk 412.4
Terwyl hulle nog in die feessaal aanwesig was, omring deur diegene wie se lot reeds verseël was, is die koning deur ‘n boodskapper in kennis gestel dat “...sy stad van alkante ingeneem is...” deur die vyand teen wie se planne hy so veilig gevoel het; “...en dat die driwwe beset is ... en die krygsmanne verskrik is.” (Jer 51:31,32) Terwyl hy en sy edeles uit die heilige voorwerpe van die HERE gedrink het en hulle gode van silwer en goud geloof het, het die Meders en die Perse die Eufraatrivier uit sy kanaal weggelei en tot in die hart van die onbewaakte stad marsjeer. Die leër van Kores het nou onder die mure van die paleis gestaan; die stad was gevul met die soldate van die vyand, “...soos sprinkane...” (vers 14); en hulle triomfantlike uitroepe kon bo die wanhopige angskrete van die verdwaasde feesgangers gehoor word. DVvPEk 412.5
“In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood...” en ‘n uitheemse koning het die troon beset. DVvPEk 413.1
Die Hebreeuse profete het duidelik gespreek van die wyse waarop Babilon sou val. Soos in ‘n visioen het God die gebeure van die toekoms aan hulle geopenbaar en hulle het uitgeroep: “Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel ‘n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!” “Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword ‘n voorwerp van verbasing onder die nasies!” “Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde en geskreeu word onder die nasies gehoor.” DVvPEk 413.2
“Skielik het Babel geval en is verbreek.” “Want ‘n verwoester oorval hom, oorval Babel en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want ‘n God van vergelding is die HERE; Hy sal gewis vergelde. En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap ‘n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.” DVvPEk 413.3
“Ek het vir jou ‘n strik gespan en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die HERE in die stryd begeef het. Die HERE het Sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van Sy grimmigheid uitgebring; want ‘n werk is dit wat die Here HERE van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.” DVvPEk 413.4
“So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek. Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring.” (Jer 51:41;50:23,46;51:8,56,57;50:24,25,33,34) DVvPEk 414.1
So is “...die breë muur van Babel ... tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte ... met vuur verbrand”. So het Jehova van die leërskare “...die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.” So het “...dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs...” geword soos “...Sodom en Gomorra...” — ‘n plek, vir ewig vervloek. “Mense sal daar in ewigheid nie woon nie en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie. Maar daar sal boskatte lê en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou en veldduiwels daar rondspring. En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in die vreugdepaleise.” “En Ek sal dit ‘n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare.” (Jer 51:58;Jes13:11,19-22;14:23) DVvPEk 414.2
Aan die laaste heerser van Babilon, soos ‘n tipe van die eerste, was die oordeel van die Goddelike Wag: “Koning, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem...” (Dan 4:31). DVvPEk 414.3
“Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel!
Sit op die grond sonder troon ...
Sit doodstil,
En gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word gebiedster van
die koninkryke nie.”
“Ek was toornig op my volk,
Ek het My erfdeel ontheilig
en hulle in jou hand oorgegee:
jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie,...”
Jy het gesê: “Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir
altyd;
jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie,
aan die einde daarvan nie gedink nie.”
“Hoor dan nou dit,
wellustige wat so veilig sit,
wat in jou hart sê:
Dit is ek en niemand anders nie!
Ek sal nie as weduwee sit
Of kinderloosheidken nie.”
“Hierdie twee dinge sal dan in ‘n oomblik,
Op een dag, oor jou kom:
Kinderloosheid en weduweeskap;
In volle maat sal hulle jou oorval,
Ondanks die veelheid van jou towerye,
Ondanks die groot menigte van jou besweringe.
En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê:
Niemand sien my nie!”
“Jou wysheid en jou kennis het jou verlei,
sodat jy in jou hart gesê het:
Ek is dit en niemand anders nie!
Daarom oorval ‘n onheil jou
Wat jy nie sal weet om te besweer nie;
En ‘n onheil val op jou
Wat jy nie kan versoen nie,
En skielik oorval jou ‘n verwoesting
Sonder dat jy dit weet.”
DVvPEk 414.4
“Tree tog op met jou besweringe en met
Die menigte van jou towerye waarmee jy
Jou vermoei het van jou jeug af;
Miskien kan jy iets uitrig,
Miskien kan jy skrik aanjaag!”
“Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne;
Laat hulle tog optree en jou red — die wat die hemel
indeel,
Die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom.
Kyk, hulle het geword soos stoppels, ...
Hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie...
Niemand is daar wat jou red nie.”
DVvPEk 416.1
(Jesaja 47:1-15)
Elke nasie wat op die toneel verskyn het, is toegelaat om sy plek op aarde in te neem sodat daar vasgestel kon word of hulle die doeleindes van die Opsiener en die Heilige Een sou vervul. Profesie het die opkoms en vooruitgang van die wêreld se groot ryke nagespeur — Babilon, Mede-Persië, Griekeland en Rome. DVvPEk 416.2
Met elkeen van hulle, soos met die nasies met geringer mag, het die geskiedenis homself herhaal. Elk het sy toetsperiode gehad; elkeen het misluk, hul glorie het vervaag en hul mag het verdwyn. DVvPEk 416.3
Terwyl nasies God se beginsels verwerp en daardeur hul eie ondergang bewerk het, was daar tog ‘n Goddelike, oorheersende doel deur die eeue aan die werk. Dit is wat die profeet Esegiël in die wonderbaarlike uitbeelding gesien het tydens sy ballingskap in die land van die Chaldeërs toe, voor sy verbaasde blik, die simbole uitgebeeld is wat ‘n oorheersende Mag aangaande die sake van die aardse heersers openbaar het. DVvPEk 416.4
Op die oewer van die Kebarrivier, het Esegiël ‘n stormwind wat skynbaar uit die noorde kom, gewaar, “...'n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.” 'n Aantal wiele, wat binne mekaar draai, is deur vier lewende wesens aangedryf. Hoog bo hierdie “...was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het.” “En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ‘n mens se hand onder hulle vlerke.” (Eseg 1:426;10:8) Die wiele was so ingewikkeld opgestel, dat dit op die oog af verwarrend voorgekom het; tog het hulle in perfekte harmonie beweeg. Hemelse wesens, ondersteun en gelei deur die hand onder die vlerke van die gerubs, het die wiele aangedryf; bokant hulle, op ‘n troon van saffier, was die Ewige Een; en rondom die troon was ‘n reënboog, die embleem van Goddelike genade. DVvPEk 416.5
Soos die wielagtige komplikasies slegs onder die leiding van die hand onder die vlerke van die gerubs was, so is die ingewikkelde spel van menslike gebeure ook onder Goddelike beheer. Te midde van die stryd en oproer van die nasies, lei Hy wat bo die gerubs sit, nog steeds die sake van hierdie aarde. DVvPEk 417.1
Die geskiedenis van nasies spreek vandag tot ons. Aan elke volk en aan elke individu het God ‘n plek in sy groot plan toegeken. Vandag word mense en nasies getoets deur die dieplood in die hand van Hom wat geen fout begaan nie. Almal besluit volgens hul eie keuse oor hulle lot en God oorheers alles vir die vervulling van Sy doelwitte. DVvPEk 417.2
Die profesieë wat die groot EK IS in sy woord gegee het, wat skakel na skakel in die ketting van gebeure saambind, vanaf die ewigheid van die verlede tot die ewigheid van die toekoms, vertel ons waar ons ons vandag in die verloop van die eeue bevind en wat in die toekoms verwag kan word. Alles wat die profesieë voorspel het van wat tot op hede sou gebeur, kan in die bladsye van die geskiedenis nagespeur word en ons kan verseker wees dat alles wat nog moet gebeur, in presiese volgorde sal plaasvind. DVvPEk 417.3
Die tekens van die tyd verklaar vandag dat ons op die drumpel van groot en plegtige gebeure staan. Alles in ons wêreld is in beroering. Voor ons oë word die Verlosser se profesieë oor die gebeure wat Sy wederkoms voorafgaan, vervul: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë ... Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.” (Matt 24:6,7) DVvPEk 417.4
Die hede is ‘n tyd van oorweldigende belang vir almal wat lewe. Heersers en staatsmanne, mense wat posisies van vertroue en gesag beklee, intellektuele manne en vroue van alle klasse, vestig hul aandag op die gebeure rondom ons. Hulle hou die verhoudings wat tussen nasies bestaan dop. Hulle neem die intensiteit van elke aardse element waar en besef dat iets groots en beslissend gaan plaasvind — dat die wêreld op die drumpel van ‘n geweldige krisis staan. DVvPEk 418.1
Die Bybel en slegs die Bybel, gee ons die korrekte siening van hierdie dinge. Daarin word die groot finale tonele in die geskiedenis van ons wêreld geopenbaar, gebeure wat reeds hul skadu werp, die klank waarvan die naderende koms daarvan maak dat die aarde sidder en mense se harte van vrees beswyk. DVvPEk 418.2
“Kyk, die HERE maak die aarde leeg en verwoes dit en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners ... want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ‘n gloed verteer en bly daar min mense oor.” (Jes 24:1-6) DVvPEk 418.3
“Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE en hy kom soos ‘n verwoesting van die Almagtige ... Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor. Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet.” “Die wingerdstok het verdor en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af.” (Joël 1:15-18,12) DVvPEk 418.4
“My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu! Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes” (Jer 4:19,20) DVvPEk 419.1
“Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” (Jer 30:7) DVvPEk 419.2
“Want U, HERE, is my toevlug.
Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
Geen onheil sal jou tref
En geen plaag naby jou tent kom nie.”
DVvPEk 419.3
(Psalm 91:9,10)
“O dogter van Sion, ... die HERE [sal] jou verlos uit die hand van jou vyande. En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion. Maar hulle ken nie die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie Sy besluit nie.” (Miga 4:10-12) God sal nie Sy kerk in die uur van sy grootste gevaar in die steek laat nie. Hy het verlossing belowe. “So sê die HERE: Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob en sal My oor sy wonings ontferm.” (Jer 30:18) DVvPEk 419.4
Dan sal die doel van God vervul word; die beginsels van Sy koninkryk sal deur almal onder die son geëer word. DVvPEk 419.5