Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 42—Ware Grootheid *
Verhef tot die kruin van wêreldse eer en selfs deur Inspirasie as “...die koning van die konings...” erken (Eseg 26:7), het Nebukadnesar nieteenstaande soms die eer van sy koninkryk en die luister van sy bewind, aan Jehova toegeskryf. Dit was die geval na sy droom van die groot beeld. Sy gedagtes was diep deur die visioen beïnvloed, asook die gedagte dat die Babiloniese Ryk, hoewel dit universeel was, uiteindelik sou val en ander magte sou seëvier, totdat alle aardse magte uiteindelik deur ‘n koninkryk, wat deur die God van die hemel opgestel sou word en wat nooit vernietig sou word nie, vervang sou word. DVvPEk 400.1
Nebukadnesar se edele begrip van God se doel met betrekking tot die nasies, is later in sy ervaring uit die oog verloor; maar toe sy trotse gees voor die skare op die plein van Dura verneder is, het hy opnuut erken dat God se koninkryk “...'n ewige koninkryk [is] en sy heerskappy is van geslag tot geslag!” DVvPEk 400.2
'n Afgodsdienaar deur geboorte en opleiding en aan die hoof van ‘n afgodiese volk, het hy nietemin ‘n ingebore sin vir geregtigheid en reg gehad en God kon hom as instrument vir die straf van die opstandiges gebruik en vir die vervulling van die Goddelike doel. Na jare se geduld en harde werk was dit vir Nebukadnesar gegun om “...die geweldige nasies...” (Esegiël 28:7), Tirus te verower; Egipte het ook sy oorwinnende leërs ten prooi geval; en soos wat hy nasie op nasie by die Babiloniese Ryk gevoeg het, het sy roem meer en meer as die grootste maghebber van sy tyd, toegeneem. DVvPEk 400.3
Dit is geen wonder dat die suksesvolle monarg, so ambisieus en so trots, in die versoeking gekom het om van die weg van nederigheid, wat alleenlik tot ware grootsheid lei, af te wyk te nie. Gedurende die tussenposes van sy veroweringsoorloë, het hy baie aandag aan die versterking en verfraaiing van sy hoofstad geskenk, totdat die stad Babilon, uiteindelik die grootste glorie van sy koninkryk geword het, “...'n voorwerp van verbasing geword [het] onder die nasies!” (Jer 51:41) Sy passie as ‘n bouer en sy sukses wat Babilon een van die wonders van die wêreld gemaak het, het tot sy trots gedien, totdat hy gevaar geloop het om sy rekord as ‘n wyse heerser, wat God sou kon gebruik vir die uitvoering van die Goddelike doel, te skend. DVvPEk 401.1
In genade het God aan die koning nog ‘n droom gegee, om hom teen die gevaar en die strik wat vir sy ondergang gestel is, te waarsku. In ‘n naggesig het Nebukadnesar ‘n groot boom sien opgroei in die middel van die aarde, waarvan die top na die hemel toe gereik het en sy takke tot by die eindes van die aarde gestrek het. Kuddes en troppe uit die berge en heuwels het skuiling in sy skaduwee skuiling gevind en die voëls in die lug het hul neste in sy takke gebou. “Sy blare was mooi en sy vrugte baie en aan hom was vir alles voedsel ... ja, alle vlees is daardeur gevoed.” DVvPEk 401.2
Terwyl die koning na die hoë boom kyk, sien hy “...'n bode, naamlik ‘n heilige...” wat die boom nader en met ‘n harde stem uitroep:” DVvPEk 401.3
“Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke. Maar laat sy penwortel in die aarde staan en dit met ‘n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde. Laat sy hart anders word as dié van ‘n mens en ‘n dierehart aan hom gegee word en laat sewe tydperke oor hom heengaan. Op ‘n besluit van die bodes berus die bevel en ‘n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil en die nederige onder die mense daaroor aanstel.” DVvPEk 401.4
Grootliks deur die droom gekwel, wat skynbaar ‘n voorspelling van teëspoed was, het die koning dit aan die “...geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers... ” herhaal, maar hoewel die droom baie duidelik was, kon geen een van die wyse manne dit uitlê nie. DVvPEk 402.1
Weereens moes daar aan hierdie afgodiese volk getuig word dat slegs diegene wat God liefhet en vrees, die verborgenhede van die koninkryk van die hemele kan verstaan. Die koning het in sy benoudheid sy kneg Daniël laat roep, ‘n man wat geag was vir sy onkreukbaarheid en bestendigheid en sy ongeëwenaarde wysheid. DVvPEk 402.2
Toe Daniël, in reaksie op die koninklike dagvaarding voor die koning staan, het Nebukadnesar gesê: “Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.” Nadat hy die droom aan hom meegedeel het, sê Nebukadnesar: “Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.” DVvPEk 402.3
Vir Daniël was die betekenis van die droom duidelik en die betekenis het hom verskrik. Hy het “...'n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie.” DVvPEk 402.4
“My heer...” het Daniël geantwoord, “...mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom.” Die profeet het besef dat God aan hom die plegtige taak opgelê het om aan Nebukadnesar bekend te maak dat, as gevolg van sy trotsheid en arrogansie, hy geoordeel sou word. Daniël moes die droom aan die koning uitlê in ‘n taal wat die koning sou kon verstaan; en alhoewel die aaklige betekenis daarvan hom in stom verbasing laat huiwer het, moes hy die waarheid vertel, ongeag die gevolge vir homself. DVvPEk 402.5
Toe maak Daniël die mandaat van die Almagtige bekend. “Die boom wat u gesien het — wat groot en sterk geword het en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het — dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.” DVvPEk 403.1
“En dat die koning ‘n bode, naamlik ‘n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan en dit met ‘n band van yster en koper in die groen gras van die veld en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het — dit is die uitlegging, o koning en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom: Hulle sal u uit die mensdom verstoot en u woning sal saam met die diere van die veld wees en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan — u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.” DVvPEk 403.2
Nadat hy die droom getrou uitgelê het, het Daniël die trotse heerser dringend versoek om tot inkeer te kom en hom tot God te wend, sodat hy die bedreigde ramp kon afweer deur te doen wat reg is. “Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.” DVvPEk 403.3
Vir ‘n tyd lank het die profeet se waarskuwing en raad ‘n sterk invloed op Nebukadnesar gehad; maar die hart wat nie deur die genade van God verander word nie, verloor gou die indrukke van die Heilige Gees. Selfbevrediging en ambisie was nog nie uit die hart van die koning uitgeroei nie en later het hierdie eienskappe weer vorendag gekom. Ondanks die opdrag wat so genadiglik aan hom gegee is en die waarskuwings van vorige ervarings, het Nebukadnesar weer toegelaat dat ‘n gees van jaloesie teenoor die koninkryke wat hom sou opvolg, hom beheer. Sy heerskappy wat tot dusver tot ‘n groot mate regverdig en genadig was, het onderdrukkend geword. Hy het sy hart verhard en sy Godgegewe talente gebruik om homself te verheerlik en homself bo die God wat aan hom lewe en mag gegee het, te verhef. DVvPEk 404.1
Vir maande het die oordeel van God getalm. Maar in plaas daarvan om deur hierdie verdraagsaamheid tot bekering gelei te word, het die koning aan sy trots toegegee totdat hy vertroue in die vertolking van die droom verloor het en die spot met sy vroeëre vrese gedryf het. DVvPEk 404.2
'n Jaar nadat hy die waarskuwing ontvang het, het Nebukadnesar, terwyl hy in sy paleis geloop en met trots gedink het aan sy mag as heerser en sy sukses as bouer, uitgeroep: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?” DVvPEk 404.3
Terwyl die trotse gespog nog op die koning se lippe was, het ‘n stem uit die hemel aangekondig dat die bestemde tyd van oordeel aangebreek het. Die mandaat van Jehova het op sy ore geval: “Koning Nebukadnésar, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.” DVvPEk 404.4
Binne ‘n oomblik het die rede wat God aan hom gegee het, hom verlaat; die oordeel wat die koning as volmaak geag het, die wysheid waarop hy so trots was, is van hom weggeneem en die eens magtige heerser was ‘n besetene. Sy hand kon nie langer die septer swaai nie. Aan die boodskappe van waarskuwing is nie gehoor gegee nie; en nou, gestroop van die mag wat sy Skepper aan hom gegee het en uit die samelewing verdryf, het Nebukadnesar “...plante geëet soos die beeste en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende en sy naels soos dié van voëls.” DVvPEk 405.1
Sewe jaar lank was Nebukadnesar ‘n verbasing vir al sy onderdane; sewe jaar lank is hy voor die wêreld verneder. Toe sy rede herstel is en terwyl hy nederig na die God van die hemel opgekyk het, het hy die Goddelike hand in sy tugtiging herken. DVvPEk 405.2
In ‘n openbare proklamasie het hy sy skuld en die groot genade van God in sy herstel erken. “En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het in my teruggekeer en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, Wie se heerskappy ‘n ewige mag en Wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie en na Sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde en daar is niemand wat Sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” DVvPEk 405.3
“In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref — my majesteit en my glans het in my teruggekeer en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel en buitengewone grootheid is my toegevoeg.” DVvPEk 405.4
Die eens trotse monarg het ‘n nederige kind van God geword; die tiranniese, hoogmoedige heerser het ‘n wyse en deernisvolle koning geword. Hy wat die God van die hemel uitgedaag en gelaster het, het nou die mag van die Allerhoogste erken en gepoog om die vrees vir Jehova en die geluk van sy onderdane te bevorder. Onder die teregwysing van Hom wat Koning van konings en HERE van die here is, het Nebukadnesar uiteindelik die les geleer wat alle heersers moet leer - dat ware grootheid uit ware goedheid bestaan. Hy het Jehova as die lewende God erken en gesê: “Nou prys ek, Nebukadnésar en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.” DVvPEk 406.1
God se doel dat die grootste koninkryk in die wêreld aan Hom lof moet betoon, is nou vervul. Hierdie openbare verklaring, waarin Nebukadnesar die barmhartigheid, goedheid en gesag van God erken het, was die laaste daad van sy lewe wat in die heilige geskiedenis opgeteken is. DVvPEk 406.2