Die Verhaal Van Profete en Konings

51/69

Hoofstuk 44—In die Leeukuil*

Nadat Darius, die Meder, die troon wat voorheen deur die Babiloniese heersers beset was oorgeneem het, het hy dadelik begin om die regering te herorganiseer. Hy het “...oor die koninkryk honderd en twintig landvoogde aan[ge]stel ... en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie. Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat ‘n voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele koninkryk aan te stel.” DVvPEk 420.1

Die eerbewyse aan Daniël, het die jaloesie van die leiers in die koninkryk opgewek en hulle het ‘n rede gesoek om ‘n klag teen hom te bring. Maar hulle kon niks vind nie, “...omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.” DVvPEk 420.2

Daniël se onberispelike optrede het die jaloesie van sy vyande nog meer laat ontvlam: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ‘n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.” DVvPEk 420.3

Daarop het die presidente en vorste saam beraadslaag en ‘n plan beraam waardeur hulle gehoop het om die profeet se vernietiging te bewerkstellig. Hulle het besluit om die koning te versoek om ‘n dekreet, wat deur hulle opgestel sou word, te bekragtig, wat enige persoon in die koninkryk sou verbied om vir ‘n tydperk van dertig dae enigiets van God of ‘n mens te vra, behalwe van koning Darius. Die oortreding van hierdie dekreet sou strafbaar wees deur die oortreder in ‘n leeukuil te werp. DVvPEk 420.4

Gevolglik het die vorste sodanige dekreet opgestel en dit aan Darius voorgelê vir sy handtekening. Deur ‘n beroep op sy ydelheid te doen, het hulle hom oortuig dat die uitvoering van hierdie edik grootliks tot sy eer en gesag sou bydra. Onkundig oor die subtiele doel van die vorste, het die koning nie hul vyandigheid agtergekom soos in die dekreet geopenbaar nie en hy het aan hul vleiery toegegee en dit onderteken. DVvPEk 421.1

Die vyande van Daniël het die teenwoordigheid van Darius verlaat, verheug oor die strik wat nou verseker vir die kneg van Jehova gestel is. In die sameswering wat aldus gevorm is, het Satan ‘n belangrike rol gespeel. Die profeet het hoë gesag in die koninkryk gehad en bose engele was bevrees dat sy invloed hul beheer oor die heersers daarvan sou verswak. Dit was hierdie sataniese agentskappe wat die vorste tot afguns en jaloesie opgewek het; dit was hulle wat die plan vir Daniël se vernietiging geïnspireer het; en die vorste, wat hulself as instrumente vir die bose beskikbaar gestel het, het dit in werking gestel. DVvPEk 421.2

Die profeet se vyande het op Daniël se onwankelbare nakoming van beginsel vir die sukses van hul plan staatgemaak. En hulle het nie gefouteer in hul bepaling van sy karakter nie. Hy het onmiddellik hul kwaadwillige doel hierin agtergekom, maar het nie in een enkele besonderheid van sy weg afgewyk nie. Waarom sou hy nou ophou bid, wanneer hy gebed die nodigste gehad het? Hy sou eerder van sy lewe afstand doen as van sy hoop op God. Met kalmte het hy sy pligte as hoof van die vorste uitgevoer; en toe die uur van gebed aanbreek, het hy na sy kamer gegaan, sy venster in die rigting van Jerusalem, volgens sy gebruiklike gewoonte, oopgemaak en sy versoek aan die God van die hemel gerig. Hy het nie sy daad probeer verdoesel nie. DVvPEk 421.3

Alhoewel hy ten volle bekend was met die gevolge van sy getrouheid aan God, het sy gees nie gewankel nie. Hy sou nie voor diegene wat sy vernietiging beplan het, toelaat dat dit selfs voorkom asof hy sy verbinding met die hemel verbreek het nie. Daniël sou die koning in alle opdragte waaroor hy die bevel gevoer het, gehoorsaam; maar nóg die koning, nóg sy dekreet, kon hom van sy trou aan die Koning van die konings laat afsien. DVvPEk 421.4

Op hierdie wyse het die profeet openlik, maar tog stil en nederig, verklaar dat geen mag op aarde die reg het om tussen die siel en God in te tree nie. Omring deur afgodedienaars, was hy ‘n getroue getuie van hierdie waarheid. Sy onverskrokke nakoming van dit wat reg is, was ‘n helder lig in die morele duisternis van daardie heidense hof. Daniël staan vandag voor die wêreld as ‘n waardige voorbeeld van Christelike vreesloosheid en getrouheid. DVvPEk 422.1

'n Hele dag lank het die vorste Daniël dopgehou. Drie keer het hulle hom na sy kamer sien gaan en drie keer het hulle gehoor hoe sy stem in ernstige voorbidding tot God verhef word. Die volgende oggend het hulle hul klag voor die koning gelê. Daniël, sy mees geëerde en getroue staatsman het die koninklike dekreet verontagsaam. “Het u nie ‘n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae ‘n versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moet word nie?” DVvPEk 422.2

“Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.” DVvPEk 422.3

Verheug het hulle Darius nou ingelig oor die gedrag van sy getrouste adviseur: “Daniël, een van die Joodse ballinge, het hom aan u, o koning en aan u verbod wat u geskrywe het, nie gesteur nie, maar drie maal op ‘n dag doen hy sy gebed.” DVvPEk 422.4

Toe die koning die woorde hoor, het hy dadelik besef dat ‘n lokval vir sy getroue dienaar gestel was. Hy het besef dat dit nie uit ywer vir koninklike glorie en eer was nie, maar jaloesie teen Daniël wat gelei het tot die voorstel van hierdie koninklike besluit. “Dit het hom baie mishaag en hy het planne beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om hom te red.” Die vorste, bedag op die koning se poging, het... “Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning gesê: Weet, o koning, dat dit ‘n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.” Alhoewel dit oorhaastig uitgevaardig is, was die besluit onveranderlik en moes uitgevoer word. DVvPEk 422.5

“Toe het die koning bevel gegee en hulle het Daniël gebring en in die leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy gedurigdeur vereer, jou verlos!” ‘n Klip is voor die ingang van die leeukuil gerol “...en die koning het dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met Daniël sou gebeur nie. Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die byvroue nie voor hom laat kom nie en sy slaap het van hom weggevlug.” DVvPEk 423.1

God het Daniël se vyande nie verhoed om hom in die leeukuil werp nie; Hy het bose engele en mense toegelaat om tot dusver hul doel te bereik; maar, dit was sodat die verlossing van Sy dienskneg soveel meer opmerklik en die oorwinning oor die vyande van waarheid en geregtigheid soveel meer volkome kon wees. “Want die grimmigheid van die mens moet U loof...” (Psalm 76:10), het die psalmis getuig. Deur die moed van hierdie een man wat gekies het om geregtigheid bo beleid te volg, sou Satan verslaan word en sou die naam van God verhef en geëer word. DVvPEk 423.2

Vroeg die volgende oggend het koning Darius hom na die leeukuil gehaas en “...met ‘n droewige stem na Daniël geroep.” “Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?” DVvPEk 423.3

Waarop die profeet geantwoord het: “Mag die koning vir ewig lewe! My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.” DVvPEk 423.4

“Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.” DVvPEk 424.1

“En die koning het bevel gegee en hulle het daardie manne gebring wat Daniël aangeklaag het en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi; en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle oorweldig en al hulle bene vermorsel.” DVvPEk 424.2

Weereens is ‘n proklamasie deur ‘n heidense heerser uitgereik wat die God van Daniël as die ware God verhef. “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.” DVvPEk 424.3

Die bose teëkanting teen die dienskneg van God was nou heeltemal verbreek. “Daniël was voorspoedig onder die regering van Darius en onder die regering van Kores, die Pers.” DVvPEk 424.4

En deur hul verbintenis met hom was hierdie heidense monarge gedwing om sy God te erken. “Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie.” [Dan 6:26] DVvPEk 424.5

Uit die verhaal van Daniël se bevryding kan ons leer dat in tye van beproewing en somberheid, die optrede van God se kinders dieselfde moet wees as wanneer hulle vooruitsigte hoopvol en hul omgewing gunstig is. Daniël in die leeukuil was dieselfde Daniël wat voor die koning as hoof onder die ministers van die staat gestaan het en as ‘n profeet van die Allerhoogste. Die mens wie se hart op God gerig bly, sal dieselfde in die uur van sy grootste beproewing wees, as wanneer die lig en guns van God en die mens oor hom skyn. Geloof reik uit na die onsienlike en gryp ewige werklikhede aan. DVvPEk 424.6

Die hemel is baie naby aan diegene wat ly vir geregtigheid. Christus identifiseer Sy belange met die belange van Sy getroue volk; Hy ly in die persoon van sy heiliges en enigiemand wat aan sy uitverkorenes raak, raak aan Hom. Die Mag wat naby is om van fisiese skade of angs te verlos, is ook naby om van groter euwels te red, wat dit vir die dienskneg van God moontlik maak om onder alle omstandighede sy onkreukbaarheid te handhaaf en deur Goddelike genade te seëvier. DVvPEk 425.1

Die ervaring van Daniël as staatsman in die koninkryke van Babilon en Medo-Persië, onthul die waarheid dat ‘n sakeman nie noodwendig ‘n geslepe beleidsman hoef te wees nie, maar dat hy ‘n persoon kan wees wat stap vir stap deur God onderrig word. Daniël, die eerste minister van die aarde se grootste koninkryke, was terselfdertyd ‘n profeet van God wat die lig van hemelse inspirasie ontvang het. ‘n Man met soortgelyke passies as ons, word deur die pen van inspirasie as foutloos beskryf. Daar is getoon dat sy sake-transaksies, na die deeglikste ondersoek van sy vyande, bo verdenking was. Hy was ‘n voorbeeld van wat elke sakeman kan word wanneer sy hart bekeerd en toegewyd is en sy motiewe voor God reg is. DVvPEk 425.2

Streng nakoming van die vereistes van die Hemel, bring tydelike sowel as geestelike seëninge mee. Onwankelbaar in sy getrouheid aan God, onversetlik in selfbeheersing, het Daniël deur sy edele waardigheid en onwrikbare integriteit as jeugdige, die “...guns en barmhartigheid..” van die heidense amptenaar onder wie se toesig hy geplaas was, gewen. (Dan 1:9) Dieselfde eienskappe het sy lewe daarna gekenmerk. Hy is spoedig tot die posisie van eerste minister van die koninkryk van Babilon verhef. Deur die bewind van opeenvolgende monarge, die ondergang van die nasie en die vestiging van ‘n ander wêreldryk, was sy wysheid en leierskap, sy takt, sy hoflikheid, sy opregte goedheid van hart, sy getrouheid aan beginsel, sodanig dat selfs sy vyande tot die bekentenis gedwing was dat hulle “...geen enkele grond vir ‘n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.” DVvPEk 425.3

Vereer met die verantwoordelikhede van die staat en met die geheime van koninkryke van universele belang, is Daniël deur God as Sy ambassadeur vereer en is baie onthullings oor die verborgenhede van die toekomstige eeue aan hom toevertrou. Sy wonderbaarlike profesieë, soos deur hom in hoofstukke 7 tot 12 in die boek met sy naam opgeteken, is nie eers deur die profeet self ten volle verstaan nie; maar voordat sy lewenstaak volbring was, is aan hom die geseënde versekering gegee dat “...aan die einde van die dae... ” — in die laaste periode van hierdie wêreld se geskiedenis — sou hy weer toegelaat word om sy bestemming en plek vol te staan. Dit is nie aan hom gegun om alles te begryp wat God aangaande Sy Goddelike doel openbaar het nie. “Hou die woorde geheim en verseël die boek...” was sy opdrag aangaande die profetiese geskrifte; dit sou verseël word “...tot die tyd van die einde toe.” “Gaan heen, Daniël...” het die engel weer die getroue boodskapper van Jehova gerig, “...want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe ... Gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.” (Dan 12:4,9,13) DVvPEk 426.1

Soos ons die einde van hierdie wêreld se geskiedenis nader, vereis die profesieë wat deur Daniël opgeteken is, ons spesiale aandag, want dit het betrekking op die spesifieke tydperk waarin ons leef. En die leringe van die laaste boek van die Nuwe Testament moet daaraan gekoppel word. Satan het baie gelei om te glo dat die profetiese gedeeltes van die geskrifte van Daniël en Openbaring nie verstaan kan word nie. Maar die belofte is duidelik; dat ‘n spesiale seën die studie van hierdie profesieë sal vergesel. “Die verstandiges sal verstaan...” (vers 10) is aangaande die visioene van Daniël, wat in die laaste dae ontsluit sal word, uitgespreek; en aangaande die openbaring wat Christus aan sy dienskneg Johannes gegee het om die volk van God deur al die eeue heen te lei, is die belofte: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is” (Op 1:3) DVvPEk 426.2

Uit die opkoms en val van nasies, soos duidelik in die boeke Daniël en Openbaring opgeteken is, moet ons leer hoe waardeloos blote uiterlike en wêreldse glorie is. Babilon, met al sy mag en grootsheid, soos ons wêreld nog nie weer aanskou het nie — mag en prag wat vir daardie dae se mense so stabiel en blywend voorgekom het — hoe volkome het dit gekwyn! “Soos ‘n blom van die gras [het] hy verby gegaan.” (Jak 1:10). So het die Medo-Persiese koninkryk en die koninkryke van Griekeland en Rome en Griekeland vergaan. En so vergaan alles wat nie op God se fondasie gebou is nie. Slegs dit wat met Sy doel verbind is en wat Sy karakter openbaar, kan oorleef. Sy beginsels is die enigste standvastige dinge wat ons wêreld ken. DVvPEk 427.1

'n Deeglike studie van die uitwerking van God se doel in die geskiedenis van nasies en die openbaring van toekomstige gebeure, sal ons help om dinge wat gesien kan word en ongesiene dinge na waarde te skat en te leer wat die ware doel van die lewe is. As ons dus die tydelike dinge in die lig van die ewigheid beskou, kan ons, soos Daniël en sy vriende, lewe vir dit wat waar en edel en blywend is. En as ons in hierdie lewe die beginsels van die koninkryk van ons HERE en Verlosser leer, daardie geseënde koninkryk wat vir ewig en altyd sal bestaan, kan ons voorbereid vir Sy wederkoms wees om dit saam met Hom in besit te neem. DVvPEk 427.2