Die Verhaal Van Profete en Konings

48/69

Hoofstuk 41—Die Brandende Vuuroond *

Die droom van die groot beeld, waarin aan Nebukadnesar die gebeure wat tot aan die einde van tyd sou strek getoon is, is aan hom gegee sodat hy sy aandeel in die wêreldgeskiedenis en die verhouding wat sy koninkryk met die koninkryk van die hemel moes handhaaf kon verstaan. In die vertolking van die droom is hy duidelik ingelig oor die vestiging van God se ewige koninkryk. “Maar in die dae van dié konings...” het Daniël verklaar, “...sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — Die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (Dan 2:44,45) DVvPEk 391.1

Die koning het die mag van God erken en vir Daniël gesê: “Waarlik, julle God is die God van die gode ... en die Openbaarder van geheimenisse.” (Vers 47) Vir ‘n tydperk daarna was Nebukadnesar met die vrees van God beïnvloed; maar sy hart was nog nie van wêreldse ambisie en ‘n begeerte na selfverheffing gereinig nie. Die voorspoed wat met sy bewind gepaard gegaan het, het hom met trots gevul. Mettertyd het hy opgehou om God te eer en het sy aanbidding van afgode met ywer en dweepsug hervat. DVvPEk 391.2

Die woorde: “...U is die hoof van goud...,” het ‘n reuse indruk op die maghebber se verstand gemaak (Dan 2:38). Die wyse manne van sy ryk wat voordeel hieruit en ook uit sy terugkeer na afgodery wou trek, het voorgestel dat hy ‘n beeld maak soos die een wat in sy droom gesien is en dit oprig waar almal die DVvPEk 391.3

hoof van goud, wat as verteenwoordigend van sy koninkryk vertolk is, kon aanskou. DVvPEk 392.1

Hierdie vleiende voorstel het hom geval en hy het onderneem om dit uit te voer en selfs verder te gaan. In stede daarvan om die beeld weer te gee soos hy dit gesien het, sou hy die oorspronklike oortref. Sy beeld moes nie in waarde van die hoof na die voete verminder nie, maar moes ten volle van goud wees — simbolies regdeur, van Babilon wat ‘n ewige, onvernietigbare, magtige koninkryk sou wees, wat alle ander koninkryke in stukke sou breek en vir ewig bly staan. DVvPEk 392.2

Die gedagte om die ryk te vestig en ‘n vorstehuis wat vir ewig sou bestaan, het ‘n sterk beroep op die magtige heerser, voor wie se mag die nasies van die aarde nie staande kon bly nie, gedoen. Met entoesiasme wat uit grenslose ambisie en selfsugtige trots gebore is, het hy met sy wyse manne beraadslaag oor hoe om dit te bewerkstellig. Vergete van die merkwaardige voorsiening wat verband gehou het met die droom van die reuse beeld; en ook vergete dat die God van Israel deur sy kneg Daniël, die betekenis van die beeld duidelik geopenbaar het en dat die invloedryke manne van die koninkryk van ‘n oneervolle dood deur hierdie interpretasie gered was; was die koning en sy staatsraadgewers vasbeslote om met elke middel tot hul beskikking, te poog om Babilon as oppergesag en waardig van universele trou, op te hef. DVvPEk 392.3

Die simboliese voorstelling waarmee God Sy doel vir die nasies van die aarde aan die koning en sy volk geopenbaar het, sou nou dien tot die verheerliking van menslike mag. Daniël se vertolking sou verwerp en vergeet word; waarheid sou verkeerd vertolk en verkeerd aangewend word. Die simbool wat deur die Hemel ontwerp is om belangrike gebeurtenisse in die toekoms aan die mense te openbaar, sou aangewend word om die verspreiding van die kennis wat God wou hê die wêreld moes ontvang, te belemmer. Sodoende, het die Satan gepoog om die Goddelike doel vir die mensdom te stuit. Die vyand van die mensdom het geweet dat waarheid wat nie met leuens vermeng is nie, magtig is om te red; maar dat dit ‘n krag vir die bose word wanneer dit aangewend word om self te verhef en die projekte van mense te bevorder. DVvPEk 392.4

Vanuit sy ryk skatkis het Nebukadnesar ‘n reuse goue beeld, soortgelyk aan die algemene kenmerke van dit wat hy in die visioen gesien het laat maak, met uitsondering van die spesifieke materiaal waaruit dit gevorm sou word. Gewoond aan manjifieke beelde van hul heidense gode, het die Chaldeërs egter nooit voorheen iets so indrukwekkend en majestueus opgelewer soos hierdie skitterende standbeeld nie, sestig el in hoogte en ses el breed. En dit was nie verbasend dat, in ‘n land waar die aanbidding van afgode algemeen voorgekom het, die pragtige en onskatbare beeld op die vlakte van Dura, wat die glorie van Babilon en sy grootheid en krag verteenwoordig, as ‘n voorwerp van aanbidding ingewy sou word nie. Hiervoor is daar dus ooreenstemmend voorsiening gemaak en ‘n dekreet is uitgevaardig dat op die dag van die inwyding, almal hul hoogste lojaliteit teenoor Babilon sal betoon deur voor die beeld neer te buig. DVvPEk 393.1

Op die vasgestelde dag het ‘n reuse samekoms van alle “...volke, nasies en tale...” op die vlakte van Dura vergader. In harmonie met die bevel van die koning, toe die geklank van musiek gehoor is, het die ganse skare “...neergeval en die goue beeld aanbid.” Op daardie veelbewoë dag het dit geblyk asof die magte van die duisternis die oorwinning sou behaal; die aanbidding van die goue beeld saam met die reeds gevestigde afgodediens, het geblyk ‘n permanente instelling as die staatsgodsdiens van die land, erken te word. Satan het gehoop om daarmee die doel van God om die teenwoordigheid van die gevangenes uit Israel tot seën vir al die nasies van die heidendom te maak, te stuit. DVvPEk 393.2

Maar God het anders bepaal. Nie almal het die knie voor die afgodiese simbool van menslike mag gebuig nie. Te midde van die aanbiddende skare, was daar drie manne wat vasbeslote was om nie die God van die hemel hierdeur oneer aan te doen nie. Hulle God was die Koning van die konings en Heer van die here; hulle sou voor geen ander buig nie. DVvPEk 393.3

Aan Nebukadnesar, met triomf deurweek, is berig gebring dat daar onder sy onderdane sommige was wat dit gewaag het om sy mandaat te verontagsaam. Sommige van die wyse manne wat jaloers was op die eerbewyse wat aan die getroue metgeselle van Daniël toegeken was, het nou aan die koning verslag gedoen oor hul flagrante skending van sy wense. “O koning ... Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.” DVvPEk 394.1

Die koning het beveel dat die manne voor hom gebring moes word. “Is dit met opset...” het hy gevra,” “...dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?” Hy het deur dreigemente gepoog om hulle aan te spoor om met die skare te verenig. Hy het die vuuroond aan hulle uitgewys en hulle herinner aan die straf wat op hulle gewag het indien hulle sou volhard in hul weiering om sy wil te gehoorsaam. Maar die Hebreërs het vasberade getuig van hul getrouheid aan die God van die hemel en hul geloof in Sy krag om hulle te verlos. Deur voor die beeld te buig is deur almal as ‘n daad van aanbidding verstaan. Sulke huldeblyke sou hulle slegs aan God alleen betoon. DVvPEk 394.2

Soos wat die drie Hebreërs voor die koning gestaan het, was hy oortuig daarvan dat hulle oor iets beskik wat by die ander wyse manne van sy koninkryk ontbreek het. Hulle was getrou in die uitvoering van elke taak. Hy sou hulle nog ‘n kans gee. As hulle maar net hulle bereidheid getoon het om saam met die skare te verenig om die beeld te aanbid, sou dit goed met hulle gaan, “...maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne- in die brandende vuuroond gegooi word.” En toe, met sy hand uitdagend omhoog, het hy geëis: “Wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” DVvPEk 394.3

Die koning se dreigemente was tevergeefs. Hy kon die manne nie van hul trou aan die Heerser van die heelal laat wegdraai nie. Uit die geskiedenis van hulle vaders het hulle geleer dat ongehoorsaamheid aan God oneer, rampe en dood tot gevolg het; en dat die vrees van die Here die begin van wysheid is, die grondslag van alle ware voorspoed. Kalm het hulle na die vuuroond gewys en gesê: “Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos.” Hulle geloof is versterk toe hulle verklaar dat God, deur hulle te verlos, verheerlik sou word en met ‘n triomfantlike sekerheid, gebore uit implisiete vertroue in God, het hulle bygevoeg: “Maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” DVvPEk 395.1

Die toorn van die koning het geen perke geken nie. “Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo... ” verteenwoordigers van ‘n veragtelike en gevange ras. Op bevel dat die oond sewe keer warmer gemaak moes word, het hy die magtiges van sy leër beveel om die aanbidders van Israel se God vas te bind ter voorbereiding van hul summiere teregstelling. DVvPEk 395.2

“Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand.” DVvPEk 395.3

Maar die Here het Sy eie nie vergeet nie. Toe Sy getuies in die vuuroond gegooi is, het die Verlosser Homself persoonlik aan hulle geopenbaar en saam met hulle te midde van die vuur geloop. In die teenwoordigheid van die HERE van hitte en koue, het die vlamme hul krag om te verteer verloor. DVvPEk 395.4

Vanuit sy koninklike sitplek het die koning toegekyk, met die verwagting dat die manne wat hom uitgedaag het totaal vernietig sou word. Maar sy gevoel van triomf het skielik verander. Die edeles wat daar naby gestaan het, het gesien hoe sy gelaat verbleek toe hy van die troon af opstaan en stip in die gloeiende vlamme kyk. Verskrik het hy sy vorste gevra: “Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? ... Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun.” DVvPEk 396.1

Hoe het hierdie heidense koning geweet wat die aard van die Seun van God was? Die Hebreeuse gevangenes wat posisies van vertroue in Babilon gevul het, het in hul lewe en karakter die waarheid uitgebeeld. Wanneer hulle om ‘n rede vir hul geloof uitgevra was, het hulle dit sonder huiwering gegee. Duidelik en eenvoudig het hulle die beginsels van geregtigheid voorgehou en sodoende diegene rondom hulle geleer van die God wat hulle aanbid het. Hulle het vertel van Christus, die Verlosser wat sou kom; en in die vorm van die Vierde midde in die vuur, het die koning die Seun van God herken. DVvPEk 396.2

En toe, sy grootheid en waardigheid vergete, verlaat Nebukadnesar sy troon en gaan na die mond van die oond en roep: “Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier!” DVvPEk 396.3

Daarop het Sadrag, Mesag en Abednego, ten aanskoue van die groot menigte uit die oond verskyn en getoon dat hulle ongedeerd was. Die teenwoordigheid van hul Verlosser het hulle teen leed beskerm en net hul boeie was weggebrand. “Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.” DVvPEk 396.4

Vergete was die reuse goue beeld, wat met soveel vertoon opgerig is. In die teenwoordigheid van die lewende God het mense gevrees en gesidder. “Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.” DVvPEk 397.1

Die ervarings van daardie dag het daartoe gelei dat Nebukadnesar ‘n dekreet uitgevaardig het: “...dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word. Omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie...” het hy aangevoer as rede vir die dekreet. DVvPEk 397.2

Met hierdie en soortgelyke woorde het die koning van Babilon gepoog om voor al die volke van die aarde, sy oortuiging dat die mag en gesag van die God van die Hebreërs die hoogste aanbidding waardig was, te versprei. En God was tevrede met die poging van die koning om aan Hom eerbied te betoon en die koninklike belydenis van trou so wydverspreid soos die Babiloniese ryk te maak. DVvPEk 397.3

Die koning het reg opgetree deur ‘n openbare belydenis te doen en om die God van die hemel bo alle ander gode te verhef; maar in sy poging om sy onderdane te dwing om ‘n soortgelyke geloofsbelydenis te doen en soortgelyke eerbied te toon, het Nebukadnesar sy reg as tydelike soewerein oorskry. Hy het nie meer reg, siviel of moreel, om mense met die dood te dreig as hulle God nie aanbid nie, as wat hy gehad het om die beslissing te maak om almal wat nie sy goue beeld aanbid nie, in die vlamme te gooi nie. God dwing nooit die gehoorsaamheid van die mens af nie. Hy skenk aan almal die vrye keuse om te besluit wie hulle wil dien. DVvPEk 397.4

Deur die verlossing van Sy getroue diensknegte, het die Here verklaar dat Hy vir die onderdruktes standpunt inneem en Hy bestraf alle aardse magte wat teen die gesag van die Hemel in opstand kom. Die drie Hebreërs het aan die hele nasie van Babilon hul geloof in Hom, Wie hulle aanbid het, verklaar. Hulle het op God vertrou. In die uur van hulle benoudheid het hulle die belofte onthou: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie en die vlam sal jou nie brand nie.” (Jes 43:2) En op wonderbaarlike wyse is hulle geloof in die lewende Woord, ten aanskoue van almal, geëer. Die tyding van hulle wonderbaarlike bevryding is deur baie verteenwoordigers van die verskillende lande wat Nebukadnesar na die toewyding genooi het, na baie lande versprei. Deur die getrouheid van Sy kinders, is God op die hele aarde verheerlik. DVvPEk 398.1

Belangrik is die lesse wat geleer kan word uit die ervaring van die Hebreeuse jeugdiges op die vlakte van Dura. In hierdie hedendaagse tyd sal baie van God se dienaars, hoewel hulle onskuldig aan oortredings is, oorgegee word om vernedering en mishandeling deur diegene wat, geïnspireer deur Satan, gevul is met afguns en godsdienstige bekrompenheid te ondergaan. Die mens se toorn sal veral teen diegene wat die Sabbat van die vierde gebod heilig, aangehits word; en uiteindelik sal ‘n universele dekreet wat hulle as verdienstelik van die dood veroordeel, uitgevaardig word. DVvPEk 398.2

Die seisoen van benoudheid voor God se volk sal ‘n geloof verg wat nie sal wankel nie. Sy kinders moet dit openbaar maak dat Hy die enigste voorwerp van hulle aanbidding is en dat geen oorweging, nie eers die lewe self, hulle daartoe kan lei om in die geringste aan valse aanbidding toe te gee nie. Vir die lojale hart sal die opdragte van sondige sterflike mense, vergeleke met die woord van die ewige God, in nietigheid verval. Die waarheid sal gehoorsaam word, al sou die gevolge gevangenisstraf, ballingskap of die dood wees. DVvPEk 398.3

Soos in die dae van Sadrag, Mesag en Abednego, sal die HERE tydens die periode van die afsluiting van die aarde se geskiedenis, op ‘n magtige wyse ten behoewe van diegene wat standvastig vir die reg staan, werk. Hy, wat saam met die Hebreeuse waardiges in die vuuroond gewandel het, sal saam met Sy volgelinge wees, waar hulle hul ook al mag bevind. Sy blywende teenwoordigheid sal hulle vertroos en onderskraag. Te midde van die tyd van benoudheid — benoudheid soos daar nog nie sedert die bestaan van ‘n nasie was nie — sal Sy uitverkorenes onwrikbaar bly staan. Satan, met al die leërskare van die bose, kan nie die swakste van God se heiliges vernietig nie. Magtige engele sal hulle beskerm en Jehova sal namens hulle, Homself as die “...God van die gode...” openbaar, wat in staat is om diegene wat op Hom vertrou, tot die uiterste te red. DVvPEk 399.1