Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 37—As Gevangenes Weggevoer na Babilon
In die negende jaar van Sedekia se bewind het “...Nebukadnésar, die koning van Babel, gekom, hy en sy hele leër, teen Jerusalem en daarteen laer opgeslaan en daarteen skanse rondom gebou.” (2 Kon 25:1) Die vooruitsig vir Juda was hopeloos. “So spreek die HERE: Kyk, Ek het dit teen jou...” het die HERE deur Esegiël verklaar en “...Ek, die HERE, [wat] my swaard uit sy skede getrek het; dit sal nie meer daarin terugkeer nie ... elke hart sal versmelt en al die hande sal slap word en elke gees sal verstomp en al die knieë sal wegvloei soos water.” “En Ek sal oor jou My toorn uitgiet; Ek sal op jou blaas met die vuur van my grimmigheid en jou oorgee in die hand van barbare, mense wat verderf smee.” (Eseg 21:3,5-7,31) DVvPEk 351.1
Die Egiptenare het gepoog om die beleërde stad te red; en die Chaldeërs, om hulle terug te hou, het hul beleg teen die hoofstad van Juda ‘n tyd lank laat vaar. Hoop het in die hart van Sedekia ontvlam en hy het ‘n boodskapper na Jeremia gestuur en hom versoek om namens die Hebreeuse volk tot God te bid. DVvPEk 351.2
Die vreesaanjaende antwoord van die profeet was dat die Chaldeërs na die stad sou terugkeer en dit vernietig. Die dekreet was uitgereik; die onboetvaardige nasie kon die Goddelike oordele nie meer ontvlug nie. “Bedrieg julleself nie...” het die HERE sy volk gewaarsku, “...die Chaldeërs sal sekerlik ... nie wegtrek nie. Want al sou julle die hele leër van die Chaldeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, sodat daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, dan sou hulle elkeen in sy tent opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.” (Jer 37:9,10) Die oorblyfsel in Juda, sou in ballingskap gaan en deur teëspoed die lesse leer wat hulle geweier het om onder gunstiger omstandighede te leer. Teen hierdie dekreet van die heilige Wagter kon geen appel aangeteken word nie. DVvPEk 351.3
Van die regverdiges wat nog in Jerusalem was, aan wie die Goddelike doel duidelik gemaak is, het sommige besluit om die heilige ark, wat die kliptafels waarop die voorskrifte van die Dekaloog geskryf is bevat, buite die bereik van roekelose hande te plaas. Dit het hulle gedoen. Met roubeklag en hartseer het hulle die ark in ‘n grot versteek, waar dit van die volk van Israel en Juda, as gevolg van hulle sondes, verskuil gebly het en dit sou nie weer aan hulle terugbesorg word nie. Die heilige ark is tot vandag toe nog versteek. Dit is, sedert dit versteek is, nooit weer versteur nie. DVvPEk 352.1
Vir baie jare het Jeremia, as getroue getuie vir God, voor die volk gestaan; en nou, terwyl die noodlottige stad op die punt was om in die hande van die heidene te beland, het hy sy werk as afgehandel beskou en ‘n poging aangewend om weg te gaan, maar hy is deur ‘n seun van een van die valse profete verhinder, wat berig het dat Jeremia op die punt was om by die Babiloniërs, aan wie hy die mense van Juda herhaaldelik versoek het om onderdanig te wees, aan te sluit. Die profeet het die leuenklag ontken, maar nietemin “...[het] die vorste vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit.” (Vers 15) DVvPEk 352.2
Die hoop wat in die harte van die vorste en die volk opgevlam het, toe die leërs van Nebukadnesar na die suide omgedraai het om die Egiptenare tegemoet te gaan, het spoedig verdwyn. Die woord van die HERE was: “Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte.” Die mag van Egipte was maar soos ‘n geknakte riet. “Al die inwoners van Egipte sal weet dat Ek die HERE is, omdat hulle vir die huis van Israel ‘n rietstok is.” DVvPEk 352.3
“Ja, Ek sal die arms van die koning van Babel versterk, maar Farao se arms sal afval; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek My swaard in die hand van die koning van Babel gee, dat hy dit kan uitstrek oor Egipteland.” (Eseg 29:3,6;30:25,26) DVvPEk 352.4
Terwyl die vorste van Juda steeds tevergeefs na Egipte opgesien het vir hulp, het Koning Sedekia met ‘n angstige voorgevoel aan die profeet van God, wat in die tronk gewerp is gedink. Na verloop van baie dae het die koning hom laat roep en in die geheim gevra: “Is daar ‘n woord van die HERE? Toe antwoord Jeremia: Ja. Ook sê hy: U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.” DVvPEk 352.5
“Verder het Jeremia aan koning Sedekía gesê: Wat het ek teen u of teen u dienaars of teen hierdie volk gesondig, dat julle my in die gevangenis gesit het? En waar is julle profete wat vir julle geprofeteer het met die woorde: Die koning van Babel sal nie teen julle of teen hierdie land kom nie? Luister dan nou tog, my heer die koning! Laat tog my smeking voor u kom en laat my nie terugbring in die huis van die skrywer Jónatan, dat ek daar nie sterwe nie.” (Jer 37:17-20) DVvPEk 353.1
Toe gee Sedekia bevel dat hulle “...Jeremia onder toesig moet hou in die voorhof van bewaking en aan hom daagliks ‘n skyf brood uit die Bakkerstraat moet gee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia dan in die voorhof van bewaking gebly.” (Vers 21) DVvPEk 353.2
Die koning het dit nie durf waag om openlik enige geloof in Jeremia te toon nie. Alhoewel sy angs hom daartoe gedryf het om privaat inligting van hom te bekom, was hy te swak om die afkeur van sy vorste of die volk te verduur, deur hom aan die wil van God, soos deur die profeet verklaar, te onderwerp. DVvPEk 353.3
Vanuit die voorhof van die gevangenis het Jeremia voortgegaan om onderdanigheid aan die Babiloniese bewind te verkondig. Om weerstand te bied sou verseker die dood tot gevolg hê. Die boodskap van die HERE aan Juda was: “Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe en sy siel sal vir hom ‘n buit wees en hy sal lewe.” Die woorde was eenvoudig en positief. In die naam van die HERE het die profeet met vrymoedigheid verklaar: “Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die mag van die leër van die koning van Babel en hy sal dit inneem.” (Jer 38:2,3) DVvPEk 353.4
Uiteindelik het die vorste, woedend oor die herhaalde raad van Jeremia, wat teenstrydig met hul vasberade beleid van verset was, hewige protes by die koning aangeteken waarin hulle aangedring het dat die profeet ‘n vyand van die nasie was, dat sy woorde die hande van die volk verslap het en ongeluk oor hulle gebring het; en daarom moes hy gedood word. DVvPEk 354.1
Die lafhartige koning het geweet dat die aanklagte vals was; maar om diegene wat hoë en invloedryke posisies in die land beklee het te paai, het hy voorgegee om hul leuens te glo en Jeremia in hulle hande oorgegee om met hom te doen net soos hulle wou. “Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkia, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak.” (vers 6) Maar God het vir hom vriende opgeroep wat by die koning namens hom gaan pleit het en hy is weer na die voorhof van gevangenis verskuif. DVvPEk 354.2
Die koning het Jeremia weereens in privaatheid laat haal en hom gebied om getrou die voorneme van God teenoor Jerusalem weer te gee. In antwoord daarop het Jeremia gevra: “As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie. Toe sweer koning Sedekia vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die HERE leef wat aan ons hierdie lewe verleen het — ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!” (Verse 15,16) DVvPEk 354.3
Daar was nog geleentheid vir die koning om sy bereidwilligheid te toon om die waarskuwings van Jehova te gehoorsaam en sodoende die oordele wat selfs toe reeds oor die stad en die volk gekom het, met genade te temper. “As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis. Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vry raak nie.” DVvPEk 354.4
Hierop het die koning geantwoord: “Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe. Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe.” (Verse 17-20) DVvPEk 355.1
So het God, selfs tot op die laaste uur, Sy bereidwilligheid duidelik getoon om barmhartigheid aan diegene wat gekies het om hulself aan Sy regverdige vereistes te onderwerp, te betoon. Indien die koning besluit het om gehoorsaam te wees, sou die lewens van die volk gespaar gewees het en die stad van verwoesting met vuur gered word; maar hy het gedink dat hy te ver gegaan het om op sy spoor terug te gaan. Hy was bang vir die Jode, bang vir bespotting, bang vir sy lewe. Na jare van opstand teen God, was dit vir Sedekia te vernederend om aan die volk te sê: Ek aanvaar die woord van die HERE soos deur die profeet Jeremia gepreek; ek durf nie waag om in die lig van al hierdie waarskuwings, teen die vyand in opstand te kom nie. DVvPEk 355.2
Met trane het Jeremia Sedekia gesmeek om homself en sy mense te red. In siele-angs het hy hom die versekering gegee dat, tensy hy na die raad van God luister, hy nie met sy lewe sou wegkom nie en dat al sy besittings in die hande van die Babiloniërs sou val. Maar die koning het ‘n verkeerde koers ingeslaan en wou nie op sy spoor teruggaan nie. Hy het besluit om die raad van die valse profete en die manne wat hy heimlik verag het omdat hulle hom oor sy swakheid om so maklik aan hulle wense toe te gee bespot het, te volg. Hy het die edele vryheid van sy manlikheid opgeoffer en ‘n kruiperige slaaf van openbare mening geword. Met geen vaste voorneme om onreg te pleeg nie, was hy ook besluiteloos om met vrymoedigheid te staan vir wat reg is. Hoewel hy oortuig was van die waarde van die raad wat Jeremia hom gegee het, het hy nie die morele stamina om te gehoorsaam gehad nie; en gevolglik het hy geleidelik in die verkeerde rigting voortgegaan. DVvPEk 355.3
Die koning was selfs te veel van ‘n swakkeling om bereid te wees dat sy howelinge en volk moes weet dat hy ‘n onderhoud met Jeremia gevoer het, so volkome het vrees vir die mens sy siel in besit geneem. Indien Sedekia met dapperheid opgestaan en verklaar het dat hy die woorde van die profeet, wat alreeds halfpad vervul was, geglo het, watter moontlike verwoesting sou vermy gewees het! Hy moes gesê het: Ek sal die HERE gehoorsaam en die stad van algehele verwoesting red. Ek durf nie die opdragte van God verontagsaam, as gevolg van vrees of guns van die mens nie. Ek het die waarheid lief en haat sonde en ek sal die raad van die Magtige Een van Israel volg. DVvPEk 356.1
Dan sou die volk sy moedige gees eerbiedig het en diegene wat tussen geloof en ongeloof geweifel het, sou ‘n vaste standpunt vir wat reg was ingeneem het. Die vreesloosheid en geregtigheid van sodanige optrede sou sy onderdane met bewondering en lojaliteit geïnspireer het. Hy sou volop ondersteuning gehad het en Juda sou die onuitgesproke ellende van ‘n bloedbad, hongersnood en vuur gespaar gewees het. DVvPEk 356.2
Sedekia se swakheid was ‘n sonde waarvoor hy ‘n verskriklike boete betaal het. Die vyand het soos ‘n onkeerbare grondstorting op hulle neergeswiep en die stad verwoes. Die Hebreeuse leërs is in verwarring afgeweer. Die nasie is verower. Sedekia is gevange geneem en sy seuns is voor sy oë gedood.Die koning is as gevangene uit Jerusalem weggelei, sy oë is uitgesteek en na sy aankoms in Babilon, het hy in ellende omgekom. Die Chaldeërs het die pragtige tempel, wat vir meer as vier eeue op die kruin van die berg Sion uitgetroon het, nie gespaar nie. “Hulle het die huis van God verbrand en die muur van Jerusalem omgegooi en al die paleise daarvan met vuur verbrand, sodat al die kosbare voorwerpe daarvan vernietig is.” (2 Kron 36:19) DVvPEk 356.3
Ten tye van die finale omverwerping van Jerusalem deur Nebukadnesar, het baie mense die verskrikkinge van die lang beleg vrygespring, net om deur die swaard om te kom. Van diegene wat nog oorleef het, veral die opperhoof van die priesters, amptenare en vorste van die koninkryk, is na Babilon weggevoer waar hulle as verraaiers tereggestel is. Ander is in ballingskap weggevoer om in die diens van Nebukadnesar en sy seuns te lewe “...totdat die koninkryk van Persië tot heerskappy gekom het, sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremia vervul sou word.” (Verse 20,21) DVvPEk 357.1
Van Jeremia is die volgende opgeteken: “Nebukadrésar, die koning van Babel, [het] bevel gegee deur middel van Nebusarádan, die owerste van die lyfwag en gesê: Neem hom en hou jou oë oor hom en doen hom geen kwaad nie; maar doen met hom soos hy jou sal sê.” (Jer 39:11,12) DVvPEk 357.2
Nadat hy deur die Babiloniese offisiere uit die gevangenis vrygelaat is, het Jeremia gekies om sy lot by die verswakte oorblyfsel te werp, “...die armes van die land...” wat die Chaldeërs “...as wynboere en as landbouers..” agtergelaat het. Die Babiloniërs het Gedalja as goewerneur oor hulle aangestel. Slegs ‘n paar maande het verloop toe die nuut aangestelde goewerneur verraderlik om die lewe gebring is. Nadat die arm mense baie beproewings moes verduur, is hulle uiteindelik deur hul leiers oorreed om hul toevlug in die land van Egipte te neem. Jeremia het sy stem in protes verhef: “Trek nie na Egipte nie!” het hy gepleit. Maar hierdie geïnspireerde raad is versmaai en “...die hele oorblyfsel van Juda ... die manne en die vroue en die kinders...” het na Egipte gevlug. “Hulle het nie geluister na die stem van die HERE nie. En hulle het tot by Tagpánhes gekom.” (Jer 43:5-7) DVvPEk 357.3
Die profesieë van verdoemenis wat deur Jeremia uitgespreek is oor die oorblyfsel wat teen Nebukadnesar rebelleer het deur na Egipte te vlug, was met beloftes van vergifnis aan diegene wat hulle van hul dwaasheid sou bekeer en gereed sou wees om terug te keer, vermeng. Terwyl die HERE diegene wat van Sy raad na die verleidende invloede van Egiptiese afgodery weggedraai het, nie sou spaar nie, sou Hy genade aan diegene wat lojaal en getrou was, betoon. “Maar die wat van die swaard vry raak, sal uit Egipteland terugkom in die land Juda, min in getal...” het Hy verklaar; en “...so sal dan die hele oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef, weet wie se woord sal bestaan, Myne of hulle s'n.” (Jer 44:28) DVvPEk 357.4
Die hartseer van die profeet oor die algehele perversiteit van diegene wat die geestelike lig van die wêreld moes wees, sy smart oor die lot van Sion en die mense wat in ballingskap na Babilon weggevoer is, word in die klaagliedere geopenbaar wat hy op rekord, as herinnering aan die dwaasheid om van die raad van Jehova na menslike wysheid weg te draai, nagelaat het. Te midde van die verwoesting wat teweeggebring is, kon Jeremia nog steeds verklaar: “Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie...” en sy voortdurende gebed was: “Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer.” (Klaagl 3:22,40) Terwyl Juda nog ‘n koninkryk onder die nasies was, het hy by sy God navraag gedoen: “Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het U siel ‘n afsku van Sion?” en het hy gewaag om te pleit: “Verwerp ons nie ter wille van U Naam.” (Jer 14:19,21) Die profeet se absolute vertroue in God se ewige doel, om orde uit verwarring te skep en om aan die nasies van die aarde en die ganse heelal Sy eienskappe van geregtigheid en liefde te demonstreer, het hom nou met vertroue laat pleit namens diegene wat hulle van afvalligheid tot geregtigheid mag bekeer. DVvPEk 358.1
Maar nou was Sion geheel en al vernietig en God se volk was in ballingskap. Oorweldig deur hartseer het die profeet uitgeroep: “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword. Bitterlik ween sy snags — haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.” DVvPEk 358.2
“Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om ‘n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef en sy self het dit bitter. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.” DVvPEk 359.1
“Ag, hoe het die HERE in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek! Hy het die sieraad van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp en nie gedink aan die voetbank van Sy voete op die dag van sy toorn nie. Die HERE het al die woonplekke van Jakob sonder verskoning verslind; in Sy grimmigheid het Hy die vestings van die dogter van Juda verwoes, op die grond gewerp, die koninkryk en sy vorste ontheilig. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het Sy regterhand teruggetrek voor die vyand en in Jakob het Hy gebrand soos ‘n vuurvlam wat rondom verteer. Hy het Sy boog gespan soos ‘n vyand, Hom opgestel met Sy regterhand soos ‘n teëstander en gedood alles wat ‘n lus was vir die oog in die tent van die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur.” DVvPEk 359.2
“ Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk, dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos, jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokkenheid is so groot soos die see — wie kan jou gesond maak?” DVvPEk 359.3
“Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders. Ons het wese geword, sonder ‘n vader, ons moeders is soos weduwees ... Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie en óns dra hulle ongeregtighede. Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie ... Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister.” DVvPEk 359.4
“U, HERE, sit vir ewig, U troon is van geslag tot geslag. Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae? Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.” (Klaagl 1:1-5;2:1-4,13; 5:1-3,7,8,17,19-21) DVvPEk 360.1