Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 36—nDie Laaste Koning van Juda
Sedekia is aan die begin van sy bewind ten volle deur die koning van Babilon vertrou en het die profeet Jeremia as beproefde raadgewer gehad. Deur ‘n eerbare weg teenoor die Babiloniërs te handhaaf en op die boodskappe van die HERE deur Jeremia ag te slaan, kon hy die respek van baie gesaghebbendes behou het en sou hy geleentheid gehad het om ‘n kennis van die ware God aan hulle oor te dra. Sodoende sou die bannelinge wat reeds in Babilon gevange was, in ‘n gunstige posisie verkeer het en baie voordele geniet het; die naam van God sou ver en wyd geëer gewees het; en diegene wat in die land van Juda oorgebly het, sou die verskriklike rampe wat uiteindelik oor hulle gekom het, gespaar gewees het. DVvPEk 341.1
Deur Jeremia is Sedekia en die hele Juda, asook diegene wat na Babilon weggevoer is, aangeraai om hulle stilweg aan die tydelike bewind van hul veroweraars te onderwerp. Dit was veral belangrik dat diegene wat in ballingskap verkeer het, die vrede van die land waarheen hulle weggevoer is, moes nastreef. Dit was egter in stryd met die geneigdheid van die menslike hart; en Satan, wat voordeel uit hierdie omstandighede getrek het, het veroorsaak dat valse profete in Jerusalem en Babilon ontstaan, wat verklaar het dat die juk van slawerny binnekort verbreek sou word en dat die voormalige aansien van die volk herstel sou word. DVvPEk 341.2
Deur ag te slaan op sulke vleiende profesieë, sou noodlottige gevolge vir die koning en die ballinge ingehou het en dit sou die genadige voornemens van God, namens hulle, frustreer het. Ten einde ‘n opstand en grootskaalse lyding te verhoed, het die HERE Jeremia beveel om die krisis onverwyld af te weer deur die koning teen die besliste gevolge van ‘n opstand te waarsku. Die bannelinge is ook skriftelik gemaan om hulle nie te laat mislei en te glo dat hulle verlossing naby is nie. “Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie...” was die vermaning (Jer 29:8) In hierdie verband is melding gemaak van die doel van die HERE om Israel aan die einde van die sewentig jaar van ballingskap, wat deur sy boodskappers voorspel is, te herstel. DVvPEk 341.3
Met watter innige medelye het God sy volk in gevangenis in kennis gestel van Sy planne vir Israel! Hy het geweet dat indien hulle deur valse profete oorreed word om na ‘n spoedige bevryding uit te sien, hulle posisie in Babilon baie bemoeilik sou word. Enige betoging of opstand van hulle kant, sou die waaksaamheid en strengheid van die Chaldese owerhede ontlok en tot verdere beperkinge van hul vryhede lei. Lyding en rampspoed sou die gevolg wees. Dit was Sy begeerte dat hulle hul rustig aan hulle lot moes onderwerp en hul serwituut so aangenaam as moontlik maak; en Sy raad aan hulle was: “Bou huise en woon en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; ... soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” (Verse 5-7) DVvPEk 342.1
Onder die valse leraars in Babilon was daar twee mans wat beweer het dat hulle heilig was, maar hulle lewens was korrup. Jeremia het die bose aard van hierdie mans veroordeel en het hulle teen die gevaar waarin hulle verkeer het gewaarsku. Vertoornd deur die teregwysing, het hulle gepoog om die werk van die ware profeet teen te staan, deur die mense aan te hits om Jeremia se woorde te diskrediteer en om, teenstrydig met die raad van God aangaande hul onderwerping aan die koning van Babel op te tree. Die HERE het deur Jeremia getuig dat hierdie valse profete in die hande van Nebukadnesar oorgelewer sou word en voor sy oë gedood sou word. Hierdie voorspelling is nie lank daarna nie, letterlik vervul. DVvPEk 342.2
Tot aan die einde van tyd sal mense opstaan, om onder diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle verteenwoordigers van die ware God is, verwarring en opstand te skep. Diegene wat leuens profeteer, sal mense aanmoedig om sonde ligtelik af te maak. Wanneer die verskriklike gevolge van hul bose dade openbaar word, sal hulle, indien moontlik, poog om dié een wat hulle getrou gewaarsku het, verantwoordelik vir hul probleme te hou, net soos die Jode Jeremia vir hul bose lotgevalle verantwoordelik gehou het. Maar, net soos die woorde van Jehova deur sy profeet van ouds geregverdig is, so sekerlik sal die sekerheid van sy boodskappe vandag bevestig word. DVvPEk 342.3
Vanuit die staanspoor het Jeremia volgehou met raadgewing van onderdanigheid aan die Babiloniërs. Hierdie raad is nie slegs aan Juda gegee nie, maar ook aan baie van die omliggende nasies. Vroeg in Sedekia se bewind, het ambassadeurs van die heersers van Edom, Moab, Tire en ander nasies, die koning van Juda besoek om te verneem of die tyd, volgens sy oordeel, geskik was vir ‘n gesamentlike opstand en of hy by hulle sou aansluit in ‘n geveg teen die koning van Babilon. Terwyl hierdie ambassadeurs op ‘n antwoord gewag het, het die woord van die HERE tot Jeremia gekom: “Maak vir jou stroppe en jukke en sit dit op jou nek; en stuur dit na die koning van Edom en na die koning van Moab en na die koning van die kinders van Ammon en na die koning van Tirus en na die koning van Sidon deur middel van die gesante wat in Jerusalem gekom het na Sedekia, die koning van Juda.” (Jer 27:2,3) DVvPEk 343.1
Jeremia is beveel om die ambassadeurs opdrag te gee om hul heersers in te lig dat God hulle almal in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilon, oorgegee het “...en al die nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sy land ook kom.” (Vers 7) DVvPEk 343.2
Die ambassadeurs is verdere opdrag gegee om aan hul heersers te verklaar dat indien hulle sou weier om die Babiloniese koning te dien, hulle gestraf sal word: “Oor daardie nasie sal Ek, spreek die HERE, besoeking doen met die swaard en die hongersnood en die pes...” totdat hulle vernietig is. Hulle moes veral van die leringe van valse profete, wie se raad verskil het, wegdraai. “Júlle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie. Want hulle profeteer leuens vir julle om julle ver te laat wees uit julle land, sodat Ek julle verdrywe en julle omkom. Maar die nasie wat sy nek sal bring onder die juk van die koning van Babel en hom sal dien, dié sal Ek in sy land laat bly, spreek die HERE en hulle sal dit bewerk en daarin woon” (Verse 8-11) Onderwerping aan die heerskappy van Babilon, was die ligste straf wat ‘n genadige God oor so ‘n rebelse volk kon bring, maar indien hulle teen hierdie dekreet van serwituut in verset sou kom, sou hulle die volle omvang van Sy straf ervaar. DVvPEk 343.3
Die verbasing van die saamgestelde raad van nasies, het geen perke geken toe Jeremia die juk van onderdanigheid om sy nek gedra en aan hulle die wil van God bekend gemaak het nie. DVvPEk 344.1
Jeremia het vas vir die beleid van onderdanigheid teen onwrikbare weerstand gestaan. Prominent onder diegene wat hulle aangematig het om die raad van die HERE te weerlê, was Hananiah, een van die valse profete teen wie die volk gewaarsku is. Met die gedagte om die guns van die koning en die koninklike hof te wen, het hy sy stem in protes verhef en verklaar dat God aan hom woorde van bemoediging vir die Jode gegee het. Hy het gesê: “So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het die juk van die koning van Babel verbreek. In nog twee jaar bring Ek in hierdie plek terug al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnésar, die koning van Babel, uit hierdie plek weggeneem en na Babel gebring het. Ook Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, bring Ek in hierdie plek terug, spreek die HERE; want Ek sal die juk van die koning van Babel verbreek.” (Jer 28:2-4) DVvPEk 344.2
Jeremia het, in die teenwoordigheid van die priesters en die volk, ernstig by hulle gepleit om vir die tydperk wat die HERE vasgestel het, hulself te onderwerp aan die koning van Babilon. DVvPEk 345.1
Hy het die profesieë van Hosea, Habakuk, Sefanja en andere, se boodskappe van berisping en waarskuwing, soortgelyk aan syne, vir die mense van Juda aangehaal. Hy het hulle verwys na gebeure wat plaasgevind het, ter vervulling van die profesieë van vergelding vir onboetvaardige sonde. In die verlede is die oordele van God op die onboetvaardiges besoek in presiese vervulling van Sy doel, soos deur sy boodskappers geopenbaar. DVvPEk 345.2
“Die profeet wat profeteer van vrede...” het Jeremia ter afsluiting voorgestel, “...as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die HERE waarlik gestuur het.” (Vers 9) Indien Israel sou kies om die risiko te loop, sou toekomstige verwikkelinge effektief aandui wie die ware profeet was. DVvPEk 345.3
Die woorde van Jeremia se raadgewing van onderdanigheid, het Hananja opgewek tot ‘n waaghalsige uitdaging van die betroubaarheid van die boodskap wat gelewer is. Hy het die simboliese juk van Jeremia se nek afgehaal, dit gebreek en gesê: “So spreek die HERE: So sal Ek verbreek die juk van Nebukadnésar, die koning van Babel, in nog twee jaar, van die nek van al die nasies.” DVvPEk 345.4
“En die profeet Jeremia het weggegaan” (Vers 11) Klaarblyklik kon hy niks verder doen as om van die toneel van konflik te onttrek nie. Maar aan Jeremia is ‘n ander boodskap gegee: “Gaan spreek met Hanánja en sê: So spreek die HERE: Houtjukke het jy verbreek, maar jy moet in die plek daarvan ysterjukke maak. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het ‘n ysterjuk gelê op die nek van al hierdie nasies om Nebukadnésar, die koning van Babel, te dien en hulle sal hom dien...” DVvPEk 345.5
“En die profeet Jeremia het aan die profeet Hanánja gesê: Luister tog, Hanánja! Die HERE het jou nie gestuur nie, maar jy het hierdie volk op leuens laat vertrou. Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek werp jou van die aarde af weg; hierdie jaar sal jy sterwe, omdat jy afval van die HERE verkondig het. En die profeet Hanánja het in dié jaar, in die sewende maand, gesterwe.” (Verse 13-17) DVvPEk 346.1
Die valse profeet het die ongeloof van die volk in Jeremia en sy boodskap verstewig. Hy het homself valslik as die HERE se boodskapper verklaar en het gevolglik die dood tegemoetgegaan. In die vyfde maand het Jeremia die dood van Hananja voorspel en in die vervulling daarvan, is sy woorde waar bewys. DVvPEk 346.2
Die onrus wat deur die wanvoorstellings van die valse profete veroorsaak is, het Sedekia onder verdenking van hoogverraad geplaas en slegs deur vinnige en beslissende optrede van sy kant, was hy toegelaat om voort te gaan om as ‘n onderdaan te regeer. Geleentheid vir so ‘n daad is kort na die besoek van ambassadeurs uit Jerusalem na die omliggende nasies benut, toe die koning van Juda vir Seraja, “...'n laerkommandant... ” op ‘n belangrike sending na Babilonië vergesel het. (Jer 51:59). Tydens hierdie besoek aan die Chaldese hof, het Sedekia sy eed van trou aan Nebukadnesar hernu. DVvPEk 346.3
Deur Daniël en van die ander Hebreeuse bannelinge, is die Babiloniese monarg met die mag en die hoogste gesag van die ware God vertroud gemaak; en toe Sedekia weer plegtig belowe het om lojaal te bly, het Nebukadnesar vereis dat hy hierdie belofte met ‘n eed in die naam van die HERE, die God van Israel, bevestig. Indien Sedekia hierdie hernuwing van sy verbondseed eerbiedig het, sou sy lojaliteit ‘n diepgaande invloed op baie mense, wat gelet het op die optrede van diegene wat beweer het dat hulle die naam van die God van die Hebreërs eerbiedig, gehad het. DVvPEk 346.4
Maar die koning van Juda het hierdie groot voorreg, om die naam van die lewende God te eer, uit die oog verloor. Van Sedekia is dit opgeteken: “Hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE sy God; hy het hom nie verootmoedig nie voor Jeremia, die profeet, wat gespreek het uit die mond van die HERE. En hy het ook gerebelleer teen koning Nebukadnésar wat hom by God laat sweer het; maar hy was hardnekkig en het sy hart verhard, sodat hy hom nie tot die HERE, die God van Israel, bekeer het nie.” (2 Kron 36:12,13) DVvPEk 347.1
Terwyl Jeremia voortgegaan het om sy getuienis in die land van Juda te lewer, is die profeet Esegiël uit die bannelinge in Babilon opgeroep om die bannelinge te waarsku en te vertroos en ook om die woord van die HERE wat deur Jeremia gespreek is, te bevestig. Gedurende die jare wat nog van die regering van Sedekia oorgebly het, het Esegiël die dwaasheid van vertroue op die valse voorspellings van diegene wat die gevangenes op ‘n vroeë terugkeer na Jerusalem laat hoop het, baie duidelik gemaak. Hy is ook opdrag gegee om, deur middel van ‘n verskeidenheid van simbole en plegtige boodskappe, die beleg en vernietiging van Jerusalem te voorspel. DVvPEk 347.2
In die sesde jaar van die regering van Sedekia, het die HERE in ‘n visioen aan Esegiël, sommige van die gruwels wat in Jerusalem en binne die poorte van die huis van die HERE en selfs in die binnehof beoefen is, geopenbaar. Die vertrekke met “...allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere en allerhande drekgode van die huis van Israel...” het alles in spoedige opeenvolging, voor die verstomde profeet se blik verbygeflits. (Eseg 8:10) DVvPEk 347.3
Van diegene wat geestelike leiers onder die volk moes wees, “...die oudstes van die huis van Israel..” was ongeveer sewentig van hulle gesien wat wierook voor die beelde van afgode, wat in die verborge kamers binne die heilige gebied van die tempelhof ingebring is, offer. “Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat...” het hulle godslasterlik verklaar. (Verse 11,12) DVvPEk 347.4
“Nog ander groot gruwels...” is aan die profeet getoon. By ‘n poort wat van die buite- na die binnehof gelei het, is aan hom getoon: “...daar het die vroue gesit wat Tammus beween...” en in “...die binneste voorhof van die huis van die HERE ... by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste.” (Verse 13-16) DVvPEk 348.1
En nou het die glorieryke Wese wat Esegiël regdeur hierdie verstommende visie van boosheid in hoë posisies in die land van Juda, vergesel het, hom gevra: “Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; My oog sal nie verskoon nie en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor My ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.” (Verse 17,18) DVvPEk 348.2
Deur Jeremia het die HERE aangaande die bose manne wat met vermetelheid gewaag het om in Sy naam voor die volk te staan, verklaar: “Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE” (Jer 23:11) In die ontsettende beskuldiging teen Juda, soos in die slotverhaal van die kronieke van Sedekia se bewind, opgeteken is, is hierdie klag van die skending van die heiligheid van die tempel herhaal: “Ook al die owerstes van die priesters en die volk het baie ontrou gehandel, volgens al die gruwels van die heidene en die huis van die HERE wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig.” (2 Kron 36:14) DVvPEk 348.3
Die dag van verdoemenis vir die koninkryk van Juda het spoedig nader gekom. Die HERE kon nie langer die hoop aan hulle voorhou dat die hewigste van Sy oordele afgewend sal word nie. “En sal júlle heeltemal ongestraf bly?” het Hy gevra. “Julle sal nie ongestraf bly nie.” (Jer 25:29) DVvPEk 348.4
Selfs hierdie woorde is met bespotting bejeën: “Die dae gaan voort en van al die gesigte kom niks nie...” het die onboetvaardiges verklaar. Maar deur Esegiël is hierdie ontkenning van die sekerheid van die profetiese woorde streng bestraf: “Sê vir hulle...” het die HERE verklaar, “...Ek maak ‘n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby en die woord van elke gesig. Want daar sal geen bedrieglike gesig of vleiende waarsêery in die huis van Israel meer wees nie. Want Ek, die HERE, Ek sal spreek — wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur; dit sal nie meer uitgestel word nie. Want in julle dae, o wederstrewige huis, sal Ek ‘n woord spreek en dit uitvoer ook, spreek die HERE HERE.” DVvPEk 349.1
“Verder...” het Esegiël getuig, “...het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, kyk, die huis van Israel sê: Die gesig wat hy sien, is vir baie dae en hy profeteer van tye wat ver is. Daarom, sê vir hulle: So spreek die HERE HERE: Geeneen van My woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur, spreek die HERE HERE” (Eseg 12:22-28) DVvPEk 349.2
Aan die voortou van diegene wat die nasie tot spoedige ondergang gelei het, was Sedekia, hulle koning. Deur die raad van die HERE, soos deur die profete gegee, heeltemal te versaak, van die dank wat hy aan Nebukadnesar verskuldig was te vergeet en sy plegtige eed van trou wat hy in die naam van die HERE, die God van Israel afgelê het, het Juda se koning teen die profete, sy weldoener en God in opstand gekom. In die nietigheid van sy eie wysheid het hy by die ou vyand tydens Israel se voorspoed, gaan hulp soek. “Hy het ... sy gesante na Egipte [gestuur], dat hulle hom perde en baie manskappe sou gee.” DVvPEk 349.3
“Sal hy voorspoedig wees?” het die HERE aangaande die een wat elke heilige vertroue geskend het, verneem. “Sal hy ontvlug wat sulke dinge doen? Sal hy die verbond verbreek en tog ontvlug? So waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, gewis, in die plek waar die koning woon wat hom koning gemaak het, wie se eed hy geminag en wie se verbond hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterwe. Ook sal Farao nie met hom saamspan in die oorlog met ‘n groot leër en met baie mense nie ... Want hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug nie.” (Eseg 17:15-18) DVvPEk 350.1
Die dag van “...uiteindelike afrekening...” het vir die “...onheilige, goddelose, vors van Israel...” aangebreek. “Die tulband moet weg en die kroon moet af!” het die HERE verklaar. Nie voordat Christus self Sy koninkryk sou oprig, sou Juda weer toegelaat word om ‘n koning te hê nie. “Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie — totdat Hy kom wat daarop reg het en aan Hom sal Ek dit gee...” was die Goddelike verordening aangaande die troon van die huis van Dawid. (Eseg 21:25-27) DVvPEk 350.2