Die Verhaal Van Profete en Konings

44/69

Hoofstuk 38—Lig Deur die Duisternis

Die donker jare van vernietiging en dood wat die einde van die koninkryk van Juda gekenmerk het, sou die dapperste hart wanhopig gemaak het, was dit nie vir die bemoedigende profetiese uitsprake van die boodskappers van God nie. Deur Jeremia in Jerusalem, Daniël in die hof van Babilon en Esegiël op die oewer van die Kebarrivier, het die HERE in genade Sy ewige doel duidelik gemaak en die versekering gegee dat Hy bereid was om die beloftes wat in die geskrifte van Moses opgeteken is, aan Sy uitverkore volk te vervul. Dit wat Hy gesê het Hy vir diegene wat getrou aan Hom was sou doen, sou Hy sekerlik volbring. “Die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” (1Pet 1:23) DVvPEk 361.1

In die dae van rondswerf in die wildernis, het die Here oorvloediglik voorsiening vir Sy kinders om die woorde van Sy wet te onthou, gemaak. Nadat hulle hul in Kanaän gevestig het, moes die Goddelike voorskrifte daagliks in elke huis herhaal word; dit moes duidelik op die deurposte, poorte en gedenkstene aangebring word. Dit moes getoonset word en deur jonk en oud gesing word. Priesters moes hierdie heilige voorskrifte in openbare vergaderings leer en die owerstes van die land moes dit hul daaglikse studie maak. “Bepeins dit dag en nag...” het die HERE vir Josua aangaande die boek van die wet beveel, “...sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (Jos 1:8) DVvPEk 361.2

Die geskrifte van Moses is deur Josua aan die hele Israel geleer. “Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie.” (Jos 8:35) Dit was ooreenkomstig die uitdruklike opdrag van Jehova wat voorsiening gemaak het vir die openbare herhaling van die woorde van die wetboek, elke sewe jaar, tydens die Loofhuttefees. “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.” (Deut 31:12,13) DVvPEk 361.3

Indien hierdie raad deur die daaropvolgende eeue gevolg was, hoe anders sou die geskiedenis van Israel nie gewees het nie! Slegs as eerbied in die harte van mense vir God se Heilige Woord gekoester is, kon hulle hoop op die verwesenliking van die Goddelike doel. Dit was agting vir die wet van God wat aan Israel krag verleen het tydens die bewind van Dawid en die vroeëre jare van Salomo se heerskappy; dit was deur geloof in die lewende woord dat hervorming in die dae van Elia en Josia plaasgevind het. En dit was hierdie selfde Skrif van waarheid, Israel se kosbaarste erfenis, waarop Jeremia hom op hervorming beroep het. Waar hy ook al bedien het, het hy mense met die ernstige pleidooi ontmoet: “Hoor julle die woorde van hierdie verbond...”, woorde wat aan hulle ‘n volle begrip van die doel van God, om ‘n kennis van reddende waarheid na alle lande uit te brei, sou gee. (Jer 11:2) DVvPEk 362.1

In die sluitingsjare van Juda se afvalligheid, was die aanmanings van die profete skynbaar van min nut; en toe die leërs van die Chaldeërs vir die derde en laaste keer gekom het om Jerusalem te beleër, het die hoop uit elke hart gevlug. Jeremia het totale ondergang voorspel; en dit was as gevolg van sy aandrang op onderdanigheid dat hy in die tronk gesit is. Maar God het nie die gelowige oorblyfsel wat nog in die stad was aan totale wanhoop oorgelaat nie. Selfs terwyl Jeremia noukeurig deur diegene wat sy boodskappe verag het dopgehou is, het daar nuwe openbarings van die Hemel se bereidwilligheid om te vergewe en te red tot hom gekom, wat tot op hede, ‘n onfeilbare bron van vertroosting vir die kerk van God was. DVvPEk 362.2

Deur aan die beloftes van God vas te hou, het Jeremia, by wyse van die opvoer van ‘n gelykenis voor die inwoners van die gedoemde stad, sy onwankelbare geloof in die uiteindelike vervulling van God se doel vir Sy volk geïllustreer. In die teenwoordigheid van getuies en met sorgvuldige nakoming van alle nodige regsaspekte, het hy vir sewentien sikkels silwer ‘n voorvaderlike stuk grond in die naburige dorp, Anatot, aangekoop. DVvPEk 363.1

Uit elke menslike oogpunt beskou was die aankoop van grond in ‘n gebied wat alreeds onder die beheer van die Babiloniërs was, oënskynlik dwaasheid. Die profeet self het die vernietiging van Jerusalem, die verwoesting van Juda en die totale ondergang van die koninkryk voorspel. Hy het van ‘n lang tydperk van ballingskap in die verre Babilon geprofeteer. Reeds ver gevorder in jare, kon hy nooit hoop om persoonlik uit sy aankoop voordeel te trek nie. Maar sy studie van die profesieë soos in die Skrifte opgeteken, het die ferm oortuiging in sy hart geskep, dat die HERE van plan was om hul eertydse besit van die Beloofde Land weer aan die kinders in ballingskap te herstel. Met die oog van geloof het Jeremia die bannelinge aan die einde van die jare van ellende sien terugkeer na die land van hulle vaders om dit weer te bewoon. Met die aankoop van die grond by Anatot, sou hy doen wat hy kon om ander met dieselfde hoop, wat soveel vertroosting in sy eie hart gebring het, te inspireer. DVvPEk 363.2

Nadat hy die transportaktes onderteken en die handtekeninge van getuies verkry het, het Jeremia Barug, sy sekretaris, soos volg versoek: “Neem hierdie briewe, hierdie koopbrief, die verseëlde een sowel as hierdie oop brief en sit hulle in ‘n erdepot, dat hulle baie dae kan bly bestaan. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word.” (Jer 32:14,15) DVvPEk 363.3

So ontmoedigend was die vooruitsigte vir Juda tydens hierdie buitengewone transaksie dat, onmiddellik nadat die besonderhede gefinaliseer en die veilige bewaring van die dokumente gereël was, is Jeremia se geloof, onwankelbaar soos dit was, swaar beproef. Het hy, in sy ywer om Juda te bemoedig, vermetel opgetree? Het hy, in sy begeerte om vertroue in die beloftes van God te herstel, grond vir vals hoop gegee? Diegene wat ‘n verbondsverhouding met God aangegaan het, het lank tevore reeds die voorsiening wat namens hulle gemaak is, verag. Kon die beloftes aan die uitverkore volk ooit volkome vervul word? DVvPEk 364.1

Verward van gees, neergebuig van smart oor die lyding van diegene wat geweier het om van hul sondes te bekeer, het die profeet ‘n beroep op God gedoen vir verdere lig aangaande die Goddelike doel vir die mensdom. DVvPEk 364.2

“Ag, HERE HERE...” het hy gebid, “...kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur U grote krag en deur U uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie. U wat guns bewys aan duisende en die ongeregtigheid van die vaders vergeld in die skoot van hulle kinders ná hulle; die grote, die geweldige God, Wie se Naam is HERE van die leërskare, groot van raad en magtig van daad, Wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders om aan elkeen te gee volgens sy weë en die vrug van sy handelinge; wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag is en U volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur ‘n groot verskrikking en aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning; en hulle het gekom en dit in besit geneem, maar nie na U stem geluister en in U wet nie gewandel nie; alles wat U hulle beveel het om te doen, het hulle nie gedoen nie. Daarom het U al hierdie onheil oor hulle laat kom.” (Verse 17-23) DVvPEk 364.3

Die leërs van Nebukadnesar was op die punt om die mure van Sion te bestorm. Duisende het in ‘n laaste desperate poging om die stad te verdedig, gesneuwel. Duisende meer het van honger en siekte omgekom. Die lot van Jerusalem was reeds verseël. Die belegwalle van die vyandelike magte het reeds die bopunt van die mure gereik. “Kyk...” het die profeet in sy gebed tot God voortgegaan, “...die walle het gekom tot by die stad, om dit in te neem; en die stad is oorgegee in die hand van die Chaldeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard en die hongersnood en die pes. Ja, wat U gespreek het, het gebeur; en kyk, U sien dit! En tog het U, HERE HERE, self aan my gesê: Koop vir jou die stuk grond vir geld en neem getuies, terwyl die stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee is!” (Verse 24,25) DVvPEk 365.1

Die profeet se gebed is genadiglik beantwoord: “Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom... ” in daardie uur van benoudheid, toe die geloof van die boodskapper van waarheid beproef is, soos met vuur: “...en gesê: Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?” (Verse 26,27) Die stad sou binnekort in die hande van die Chaldeërs val; sy poorte en paleise sou deur vuur vernietig word; maar nieteenstaande die feit dat die vernietiging op hande was en die inwoners van Jerusalem in ballingskap weggevoer sou word, sou die ewige doel van Jehova vir Israel steeds vervul word. In verdere antwoord op die gebed van Sy dienskneg, het die HERE aangaande diegene op wie Sy tugtigings gekom het, verklaar: DVvPEk 365.2

“Kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in My toorn en in My grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon. En hulle sal vir My ‘n volk wees en Ek sal vir hulle ‘n God wees. En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle. En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal My vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie. En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met My hele hart en met My hele siel.” DVvPEk 365.3

“Want so sê die HERE: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek. En daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: Dit is ‘n wildernis, sonder mens of dier; dit is in die hand van die Chaldeërs oorgegee. Gronde sal hulle vir geld koop en die briewe onderteken en verseël en getuies neem, in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Gebergte en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland; want Ek sal hulle lot verander, spreek die HERE.” (Verse 37-44) DVvPEk 366.1

Ter bevestiging van hierdie versekerings van verlossing en herstel, “...het die woord van die HERE vir die tweede keer tot Jeremia gekom, terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking en gesê: DVvPEk 366.2

“So spreek die HERE wat dit doen, die HERE wat dit formeer om dit te bevestig, HERE is sy Naam: Roep My aan en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie. Want so sê die HERE, die God van Israel, met betrekking tot die huise van hierdie stad en die huise van die konings van Juda wat omgegooi is as verdediging teen die walle en die swaard ... Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede. En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het. En die stad sal vir My wees ‘n vreugdevolle roem, ‘n lof en ‘n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys.” DVvPEk 366.3

“So spreek die HERE: In hierdie plek waarvan julle sê: Dit is woes, sonder mens en sonder dier — in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem ... sal weer gehoor word die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: Loof die HERE van die leërskare, want die HERE is goed, want Sy goedertierenheid is in ewigheid! — van die wat ‘n lofoffer bring in die huis van die HERE; want Ek sal die lot van die land verander soos tevore, sê die HERE.” DVvPEk 367.1

“So spreek die HERE van die leërskare: In hierdie plek wat woes is, sonder mens of dier en in al die stede daarvan sal weer ‘n weiveld vir die herders wees wat troppe kleinvee laat lê en rus. In die stede van die Gebergte, in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland en in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die HERE.” DVvPEk 367.2

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda.” (Jer 33:1-14) DVvPEk 367.3

So is die kerk van God, tydens een van sy donkerste ure van sy lang konflik met die magte van die bose, getroos. Satan het oënskynlik in sy pogings om Israel te vernietig getriomfeer; maar die HERE het die huidige gebeure oorheers en gedurende die jare wat sou volg, sou Sy volk die geleentheid gegun word om die verlede te herwin. Sy boodskap aan die kerk was: DVvPEk 367.4

“Wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob ... en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak. Want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou te verlos.” “Want Ek sal genesing vir jou tot stand laat kom en jou van jou wonde gesond maak.” (Jer 30:10,11,17) DVvPEk 367.5

In die blye dag van herstel sal die stamme van die verdeelde Israel as een volk herenig word. Die HERE sal as heerser erken word oor “...al die geslagte van Israel ... en hulle sal vir My ‘n volk wees...” het Hy verklaar. “Jubel oor Jakob van vreugde en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o HERE, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes ... Hulle sal kom met geween en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ‘n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel ‘n Vader en Efraim is my eersgeborene.” (Jer 31:1,7-9) DVvPEk 368.1

Voor die nasies verneder moes hulle, wat voorheen bo alle ander nasies as die begunstigdes van die Hemel erken is, in ballingskap die les van gehoorsaamheid leer wat so noodsaaklik vir toekomstige geluk was. Totdat hulle hierdie les geleer het, kon God nie alles wat Hy wou vir hulle vermag nie. “Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.” Hy het ter verduideliking verklaar dat Sy doel vir hul kastyding, vir hul geestelike beswil was. (Jer 30:11) Tog is diegene wat die voorwerp van Sy deernisvolle liefde was, nie vir ewig versaak nie; voor al die nasies van die aarde sou Hy Sy plan om oorwinning uit die oënskynlike nederlaag te bewerkstellig, demonstreer, om te red eerder as om te vernietig. Aan die profeet is die boodskap gegee: DVvPEk 368.2

“Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder Sy kudde. Want die HERE het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die HERE, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ‘n welbesproeide tuin en hulle sal verder nie meer kwyn nie ... En Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer. En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die HERE.” DVvPEk 368.3

“So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die HERE jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg! En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek. Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.” DVvPEk 369.1

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — My verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee My wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer 31:10¬14,23-25,31-34) DVvPEk 369.2