Die Verhaal Van Profete en Konings

41/69

Hoofstuk 35—Naderende Onheil

Die eerste jare van Jojakim se bewind was gevul met waarskuwings van naderende onheil. Die woord van die HERE wat deur die profete gespreek is, sou binnekort vervul word. Die Assiriese mag in die noorde, vir lank die oppergesag, sou nie langer oor die nasies heers nie. Egipte in die suide, in wie se mag die koning van Juda tevergeefs sy vertroue gestel het, sou binnekort besliste weerstand ervaar. Onverwags het ‘n nuwe wêreldmag, die Babiloniese Ryk wat vanuit die ooste opgekom het, spoedig alle ander nasies oorskadu. DVvPEk 327.1

Binnekort sal die koning van Babilon as die instrument van God se toorn teen die onboetvaardige Juda aangewend word. Keer op keer sal Jerusalem deur die leërmagte van Nebukadnesar binnegedring en beleër word; groep na groep - aanvanklik net ‘n paar, maar later duisende en tienduisende - sal na die land Sinar weggevoer word om daar in ballingskap te gaan woon. Jojakim, Jojagin, Sedekia — al hierdie Joodse konings sal onderdane van die Babiloniese heerser word en hulle sal weer op hulle beurt, in opstand kom. Die bestraffings sal swaarder en swaarder oor die opstandige nasie kom, totdat die hele land aan verlatenheid oorgelaat is; Jerusalem verwoes en met vuur verbrand; die tempel wat Salomo gebou het, vernietig; en die koninkryk van Juda tot ‘n val kom om nooit weer sy voormalige posisie onder die nasies van die aarde in te neem nie. DVvPEk 327.2

Daardie tye van verandering, so vol gevaar vir die Israelitiese nasie, was gekenmerk deur vele boodskappe vanuit die Hemel deur Jeremia. So het die HERE aan die kinders van Juda oorvloedige geleentheid gegee om hulself van die verstrengelende bondgenootskappe met Egipte te bevry en om ‘n stryd met die heersers van Babilon te voorkom. Namate die dreigende gevaar nader gekom het, het hy die volk by wyse van 'n reeks gedramatiseerde gelykenisse geleer, in die hoop dat hulle sodoende tot ‘n sin van hul verantwoordelikheid teenoor God aangespoor sal word en ook om hulle aan te moedig om vriendelike betrekkinge met die Babiloniese regering te handhaaf. DVvPEk 327.3

Om die belangrikheid van implisiete gehoorsaamheid aan die vereistes van God te illustreer, het Jeremia ‘n aantal Regabiete in een van die vertrekke van die tempel bymekaar laat kom, wyn voor hulle neergesit en hulle genooi om te drink. Soos te wagte was, het hy protes en volstrekte weiering teëgekom. “Maar hulle het geantwoord: Ons sal geen wyn drink nie, want Jónadab, die seun van Regab, ons vader, het ons beveel en gesê: Julle mag geen wyn drink, julle en julle kinders, tot in ewigheid nie.” DVvPEk 328.1

“Toe kom die woord van die HERE tot Jeremia en sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie? spreek die HERE. Die woorde van Jónadab, die seun van Regab, wat hy sy kinders beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou; want hulle het geen wyn gedrink tot vandag toe nie, maar het geluister na die gebod van hulle vader.” (Jer 35:6,12¬14) DVvPEk 328.2

God het op hierdie wyse gepoog om die skerp kontras tussen die gehoorsaamheid van die Regabiete en die ongehoorsaamheid en opstand van Sy eie volk te toon. Die Regabiete het die opdrag van hul vader gehoorsaam en nou geweier om uitgelok te word om te oortree. Maar die manne van Juda het nie na die woorde van die HERE geluister nie en sou gevolglik Sy strengste oordele moes verduur DVvPEk 328.3

“En Ék het met julle gespreek, vroeg en laat...” het die HERE verklaar, “...maar julle het na My nie geluister nie. En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en maak julle handelinge goed en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien nie; dan sal julle bly in die land wat Ek aan julle en julle vaders gegee het. Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie. Ja, die kinders van Jónadab, die seun van Regab, het die gebod van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het; maar hierdie volk luister nie na My nie. Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die onheil wat Ek teen hulle gespreek het; omdat Ek met hulle gespreek, maar hulle nie geluister en Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie.” (Verse 14-17) DVvPEk 328.4

Wanneer mense se harte versag en gedemp word deur die beperkende invloed van die Heilige Gees, sal hulle ag slaan op raad; maar wanneer hulle van vermaning wegdraai totdat hul harte verhard word, laat die HERE toe dat hulle deur ander invloede gelei word. Deur die waarheid te versmaai, neem hulle valshede aan, wat ‘n strik vir hul eie vernietiging word. DVvPEk 329.1

God het met Juda gepleit om Hom nie te vertoorn nie, maar hulle het nie aan sy versoek gehoor gegee nie. Uiteindelik is die vonnis oor hulle gevel. Hulle sou as bannelinge na Babilon weggevoer word. Die Chaldeërs sou dien as die instrument waarmee God sy ongehoorsame volk sou tugtig. Die lyding van die mense van Juda sou in verhouding wees met die lig wat hulle ontvang en die waarskuwings wat hulle verwerp het. God het sy oordele lank vertraag, maar nou sou Hy hulle met Sy misnoeë besoek, as ‘n laaste poging om hulle in hul bose weë te stuit. DVvPEk 329.2

Oor die huis van die Regabiete is ‘n voortdurende seën uitgespreek. Die profeet het verklaar: “Omdat julle geluister het na die gebod van julle vader Jónadab en al sy gebooie gehou en gedoen het net soos hy julle beveel het, daarom, so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal vir Jónadab, die seun van Regab, nooit ‘n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie.” (Verse 18, 19) Sodoende het God Sy volk geleer dat getrouheid en gehoorsaamheid in seëninge in Juda gereflekteer sou word, net soos die Regabiete vir gehoorsaamheid aan hulle vader se bevel geseën is. DVvPEk 329.3

Hierdie les geld ook vir ons. As die voorskrifte van ‘n goeie en verstandige vader, wat die beste en doeltreffendste maatreëls geneem het om sy nageslag teen die euwels van onbeheerstheid te verseker, streng gehoorsaamheid waardig is, moet God se gesag sekerlik soveel meer, as wat Hy heiliger as die mens is eerbiedig word. Ons Skepper en Bevelvoerder, oneindig magtig, vreeslik in die oordeel, poog op elke wyse om die mens te kry om sy sonde in te sien en hom daarvan te bekeer. Deur die mond van Sy dienaars voorspel Hy die gevare van ongehoorsaamheid; Hy gee die noot van waarskuwing en bestraf getrou die sonde. Sy volk geniet voorspoed slegs deur Sy genade, onder die waaksame oog van Sy gekose instrumente. Hy kan nie ‘n volk wat Sy raad verwerp en Sy teregwysings verag onderhou en bewaar nie. Hy sal vir ‘n geruime tyd Sy vergeldende oordele weerhou, maar kan nie altyd Sy hand terughou nie. DVvPEk 330.1

Die kinders van Juda het onder diegene getel van wie God verklaar het: “Júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Ex 19:6) Nooit het Jeremia in sy bediening, die essensiële belangrikheid van heiligheid van hart in die uiteenlopende verhoudings van die lewe, veral in die diens van die allerhoogste God, uit die oog verloor nie. Hy het duidelik die val van die koninkryk en die verspreiding van die inwoners van Juda onder die nasies vooruitgesien; maar met die oog van geloof het hy verby dit alles na die tye van herstel gekyk. Die Goddelike belofte het in sy ore gelui: “En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig ... Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In Sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is Sy naam waarmee Hy genoem sal word: Die HERE ons Geregtigheid.” (Jer 23:3-6) DVvPEk 330.2

So is profesieë van die komende oordeel met beloftes van finale en heerlike bevryding vermeng. Diegene wat sou kies om vrede met God te sluit en heilige lewens te midde van heersende afvalligheid te lei, sou krag vir elke beproewing ontvang en in staat wees om kragtig vir Hom te getuig. En in die toekomstige eeue sou die bevryding wat namens die kinders van Israel bewerkstellig is, die roem van die uittog uit Egipte oortref. Die tyd sou kom, het die HERE deur sy profeet verklaar, wanneer “...hulle nie meer sal sê: So waar as die HERE leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie, maar: So waar as die HERE leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.” (Verse 7,8) Dit was die wonderlike profesieë wat deur Jeremia gedurende die finale jare van die geskiedenis van die koninkryk van Juda geuiter is, toe die Babiloniërs besig was om ‘n wêreldmag te word en hulle leërmagte toe reeds tot teen die mure van Sion gebring het. DVvPEk 331.1

Soos die soetste musiek, het hierdie beloftes van bevryding op die ore van diegene wat standvastig in hul aanbidding van Jehova was, geval. In die wonings van die hoëlui en die nederiges, waar die raadgewinge van ‘n verbond-houdende God steeds eerbiedig is, is die woorde van die profeet oor en oor herhaal. Selfs die kinders was diep ontroer en blywende indrukke is op hul jong en ontvanklike gees gemaak. DVvPEk 331.2

Dit was hul getroue nakoming van die opdragte van die Heilige Skrif wat, in die dae van Jeremia se bediening, aan Daniël en sy vriende die geleentheid gebied het om die ware God voor die nasies van die aarde te verhef. Die onderrig wat hierdie Hebreeuse kinders in hul ouerhuise ontvang het, het hulle sterk in geloof en standvastig in hul diens van die lewende God, die Skepper van hemel en aarde, gemaak. Toe Nebukadnesar, vroeg in die bewind van Jojakim, Jerusalem die eerste keer beleër en oorwin het en Daniël en sy metgeselle, saam met ander, wat spesiaal vir diens in die paleis van Babilon gekies was, weggevoer het, is die geloof van hierdie Hebreeuse gevangenis tot die uiterste beproef. Maar hulle, wat geleer het om hul vertroue in die beloftes van God te plaas, het ondervind dat dit voldoende was om elke ervaring wat tydens hul verblyf in ‘n vreemde land oor hulle pad sou kom, te oorkom. Die Skrifte was hul gids en hul steun. DVvPEk 331.3

As ‘n vertolker van die betekenis van die oordele wat Juda begin oorval het, het Jeremia edelmoedig as verdediger van die geregtigheid van God en Sy genadige bedoelings vasgestaan, selfs te midde van die ergste beproewings. Die profeet het onvermoeid gearbei. Met die begeerte om alle klasse te bereik, het hy die sfeer van sy invloed buite Jerusalem na die omliggende streke uitgebrei, deur gereelde besoeke aan verskillende dele van die koninkryk. DVvPEk 332.1

In sy getuienisse aan die kerk, het Jeremia voortdurend na die leringe van die boek van die wet, wat gedurende Josía se bewind so hoog geëer en verhoog was, verwys. Hy het opnuut die belangrikheid van ‘n verbondsverhouding met die barmhartige en deernisvolle Wese wat op die hoogtes van Sinaï die voorskrifte van die Dekaloog verkondig het, beklemtoon. Jeremia se woorde van waarskuwing en smeking het elke deel van die koninkryk bereik en almal het die geleentheid gehad om die wil van God aangaande die nasie te ken. DVvPEk 332.2

Die profeet het die feit duidelik gestel dat ons Hemelse Vader toelaat dat sy oordele val “...dat hulle erken dat hulle net mense is!” (Ps 9:20 NV) “As julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie ...sal Ek ... julle onder die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word.” (Lev 26:21,28,31) DVvPEk 332.3

Op dieselfde tyd wat die boodskappe van dreigende verdoemenis oor die vorste en die volk uitgespreek is, het hul heerser, Jojakim, wat veronderstel was om ‘n wyse geestelike leier te wees, veral met die belydenis van sonde, hervorming en goeie werke, sy tyd met selfsugtige plesier verwyl. “Ek sal vir my ‘n groot huis bou en ruim dakkamers...” het hy voorgestel. Hierdie huis sou “...hy oordek ... met sederhout en bestryk ... met rooiminie...” (Jer 22:14) en is met geld en arbeid wat deur bedrog en verdrukking bekom is, gebou. DVvPEk 332.4

Die profeet se toorn het ontvlam en hy is geïnspireer om ‘n oordeel oor die ongelowige regeerder uit te spreek: “Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie”... “Is jy ‘n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan. Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die HERE. Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer.” DVvPEk 333.1

“ Daarom sê die HERE so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of ag, suster! nie. Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of — ag, majesteit! nie. Met ‘n eselsbegrafnis sal hy begrawe word — weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af.” (Verse 13,15-19) DVvPEk 333.2

Binne ‘n paar jaar sou hierdie vreeslike oordeel aan Jojakim besoek word; maar die HERE het in Sy genade eers Sy doel met betrekking tot die onboetvaardige volk meegedeel. In die vierde jaar van Jojakim se bewind het “...die profeet Jeremia die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem toegespreek en gesê het: Vanaf die dertiende jaar van Josía, ... tot op hierdie dag...” het hy van God se begeerte om te red getuig, maar sy boodskappe was verag. (Jer 25:2, 3) En nou was die HERE se woorde aan hulle: DVvPEk 333.3

“Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na My woorde nie geluister het nie, laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope. En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp. En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.” (Verse 8-11) DVvPEk 334.1

Alhoewel die vonnis van verdoemenis duidelik uitgespreek was, kon min van die ontsagwekkende belang daarvan deur die menigtes begryp word. Ten einde ‘n dieper indruk te maak, het die HERE gepoog om die betekenis van die gesproke woorde te illustreer. Hy het Jeremia gebied om die lot van die nasie te vergelyk met die lediging van ‘n beker gevul met die wyn van Goddelike toorn. Van die eerstes om uit hierdie beker van weë te drink, sou “...Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste...” wees. Ander sou uit dieselfde beker drink: “Farao, die koning van Egipte en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk...” en baie ander nasies van die aarde — totdat God se doel volbring was. (Sien Jeremia 25) DVvPEk 334.2

Om die aard van die vinnig-naderende oordele verder te illustreer, is die profeet gebied: “Gaan koop vir jou ‘n pottebakkerskruik, saam met oudstes uit die volk en oudstes uit die priesters. En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom...” en daar, na ‘n oorsig oor die afvalligheid van Juda, moes hy die pottebakkerskruik aan skerwe gooi en namens Jehova, wie se dienaar hy is, verklaar: “Ek [sal] hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos ‘n mens ‘n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie.” (Jer 19:1,2,11) DVvPEk 334.3

Die profeet het gedoen soos hy beveel is. Daarna het hy na die stad teruggekeer en in die tempelhof gaan staan en voor die hele volk verklaar: “So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie.” (Vers 19) DVvPEk 335.1

In stede daarvan dat dit tot belydenis en berou gelei het, het die woorde van die profeet die woede van die hoogmoediges laat ontvlam en Jeremia is gevolglik van sy vryheid ontneem. In die gevangenis en in blokke, het die profeet nietemin voortgegaan om die boodskappe vanuit die Hemel aan diegene wat bygestaan het, te verkondig. Sy stem kon nie deur vervolging stilgemaak word nie. Die woord van waarheid het hy verklaar, “...word ... in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.” (Jer 20:9) DVvPEk 335.2

Dit was ongeveer hierdie tyd dat die HERE Jeremia beveel het om hom te wy aan die neerskryf van die boodskappe wat Hy aan diegene, na wie se verlossing Sy hart van ontferming voortdurend gesmag het, wou oordra. “Neem vir jou ‘n boekrol...” het die HERE sy kneg gebied “...en skrywe daarop al die woorde wat Ek met jou gespreek het oor Israel en Juda en oor al die nasies, van die dag af dat Ek met jou gespreek het, van die dae van Josia af, tot vandag toe. Miskien sal die huis van Juda luister na al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg en Ek hulle ongeregtigheid en hulle sonde vergewe.” (Jer 36;2,3) DVvPEk 335.3

In gehoorsaamheid aan hierdie opdrag, het Jeremia ‘n getroue vriend, Barug, die skriba, se hulp ontbied en aan hom “...al die woorde van die HERE wat Hy met hom gespreek het...” gedikteer. (Vers 4) Dit is noukeurig op ‘n perkamentrol neergeskryf en het ‘n plegtige teregwysing teen sonde, ‘n waarskuwing van die sekere gevolge van volgehoue afvalligheid en ‘n ernstige beroep op die verloëning van alle boosheid vervat. DVvPEk 335.4

Nadat die skryfwerk voltooi was, het Jeremia, wat steeds ‘n gevangene was, vir Barug “...in die vyfde jaar van Jójakim, die seun van Josia, die koning van Juda, in die negende maand... ” gestuur, om die rol aan die menigte wat in die tempel vir ‘n nasionale vasdag byeengekom het, voor te lees.” “Miskien... ” het die profeet gesê, “...sal hulle smeking voor die aangesig van die HERE kom en sal hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg; want groot is die toorn en die grimmigheid wat die HERE teen hierdie volk uitgespreek het.” (Verse 9,7) DVvPEk 336.1

Barug het gehoorsaam en die boekrol is aan die hele volk van Juda voorgelees. Daarna is die skriba voor die owerstes ontbied om die woorde aan hulle voor te lees. Hulle het met groot belangstelling geluister en belowe om die koning oor alles wat hulle gehoor het in te lig, maar die skriba was aangeraai om homself te versteek, aangesien hulle gevrees het dat die koning die getuienis sou verwerp en sou poog om die skrywer en draer van die boodskap om die lewe te bring. DVvPEk 336.2

Toe Koning Jojakim deur die vorste meegedeel is wat Barug gelees het, het hy onmiddellik beveel dat die boekrol na hom gebring en aan hom voorgelees word. Een van die koninklike dienaars, Jehudi, het die rol gaan haal en die woorde van teregwysing en waarskuwing aan die koning voorgelees. Dit was winter en die koning, saam met sy staatsamptenare , die vorste van Juda, het om ‘n oop vuur verkeer. Slegs ‘n kort gedeelte is gelees toe die koning, sonder enige vrees vir die gevaar wat oor homself en sy mense hang, woedend “...dit met die mes van ‘n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.” (Vers 23) DVvPEk 336.3

Nie die koning, of sy vorste was bevrees en het nie “...hulle klere nie geskeur nie... ” alhoewel sommige van die vorste “...by die koning ... aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.” Nadat die skrif vernietig was, het die toorn van die goddelose koning teen Jeremia en Barug opgevlam en hy het dadelik gestuur om hulle gevange te neem; “maar die HERE het hulle verberg.” (Verse 24-26) DVvPEk 336.4

Deur die skriftelike vermanings wat in die geïnspireerde boekrol bevat is onder die aandag van die aanbidders in die tempel, die vorste en die koning te bring, het God genadiglik gepoog om die mense van Juda ten goede te waarsku. “Miskien...” het Hy gesê, “...sal die huis van Juda luister na al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg en Ek hulle ongeregtigheid en hulle sonde vergewe.” (Vers 3) God bejammer mense wat in die blindheid van perversiteit struikel; Hy poog om die verduisterde begrip te verlig, deur teregwysings en dreigemente wat daarop gemik is om die invloedrykes hul onkunde te laat besef en hul foute te betreur. Hy streef daarna om die selfvoldanes te help om onvergenoeg met hul eie prestasies te raak en om deur ‘n noue verbinding met die hemel, na geestelike seëning te soek. DVvPEk 337.1

God se plan is nie om boodskappers te stuur wat sondaars sal behaag en vlei nie; Hy lewer nie boodskappe van vrede om die onheiliges in vleeslike sekuriteit te sus nie. Inteendeel, Hy lê swaar laste op die gewete van die oortreder en deurpriem sy siel met skerp pyle van oortuiging. Dienende engele toon die vreesaanjaende oordele van God aan hom, om die besef van sy nood te verdiep en hom aan te spoor tot die angsvolle uitroep: “Wat moet ek doen om gered te word?” (Hand 16:30 Maar die Hand wat tot in die stof verneder, die sonde bestraf en trots en ambisie beskaam, is die Hand wat die boetvaardige, geteisterde mens ophef. Met diepe meegevoel vra Hy wat die straf toelaat: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” (Matt 10:51) DVvPEk 337.2

Wanneer die mens teen ‘n heilige en barmhartige God gesondig het, kan hy geen edeler weg volg as om met opregte berou, sy foute met trane en bitterheid van siel te bely nie. Dit is wat God van hom vereis; Hy aanvaar niks minder as ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees nie. Maar Koning Jojakim en sy gevolg het in hul hoogmoed en trots geweier om God se uitnodiging te aanvaar. Hulle het nie op die waarskuwing ag geslaan en hulle bekeer nie. Die genadige geleentheid wat aan hulle, tydens die verbranding van die boekrol gebied was, was hul laaste kans. God het verklaar dat indien hulle sou weier om na Sy stem te luister, Hy hulle met ‘n vreesaanjaende oordeel sou vergeld. Hulle het geweier om gehoor te gee en Hy het Sy finale oordele oor Juda uitgespreek; en Hy sou die man wat homself met trots teen die Almagtige God verhef het, met spesiale toorn besoek. DVvPEk 337.3

“So spreek die HERE aangaande Jójakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue. En Ek sal aan hom en sy geslag en sy dienaars hulle ongeregtigheid besoek; en Ek sal oor hulle en die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda al die onheil bring wat Ek teen hulle gespreek het sonder dat hulle geluister het.” (Jer 36:30,31) DVvPEk 338.1

Die brand van die boekrol was nie die einde van die saak nie. Dit was makliker om van die geskrewe woorde ontslae te raak as van die teregwysing en waarskuwing wat daarin vervat was en van die spoedige straf wat God teen die opstandige Israel uitgespreek het. Maar selfs die geskrewe boekrol is gereproduseer. “Neem vir jou weer ‘n ander rol...” het die HERE sy kneg beveel, “...en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jójakim, die koning van Juda, verbrand het.” Die rekord van die profesieë rakende Juda en Jerusalem is tot as gereduseer, maar die woorde het nog soos ‘n brandende vuur in die hart van Jeremia geleef en die profeet is toegelaat om dit wat die toorn van die mens wou vernietig het, weer te gee. DVvPEk 338.2

Jeremia het ‘n ander rol geneem en dit aan Barug oorhandig “...en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jójakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg.” (Verse 28,32) Die toorn van die mens het probeer om die werk van die profeet van God te verhinder; maar Jojakim se pogings om die invloed van die dienaar van Jehova te beperk, het ‘n verdere geleentheid gebied om die Goddelike vereistes meer duidelik te maak. DVvPEk 338.3

Die gesindheid van teëkanting teen teregwysing wat gelei het tot die vervolging en gevangenskap van Jeremia, heers steeds vandag. Baie weier om op herhaalde waarskuwings te let en verkies om eerder na valse leraars te luister wat hulle ydelheid vly en hul bose dade oorsien. In die dag van benoudheid sal sulke mense geen veilige toevlug hê nie, geen hulp uit die hemel nie. God se gekose diensknegte moet met moed en geduld die beproewinge en lyding wat oor hulle kom as gevolg van smaad, verwaarlosing en wanvoorstelling, tegemoetgaan. Hulle moet voortgaan om die werk wat God aan hulle toevertrou het, getrou uit te voer en altyd in gedagte hou dat die profete van ouds, asook die Verlosser van die mensdom en Sy apostels, ook mishandeling en vervolging ter wille van die Woord verduur het. DVvPEk 339.1

Dit was God se bedoeling dat Jojakim na die raad van Jeremia moes luister en sodoende guns in die oë van Nebukadnesar wen en homself baie smart spaar. Die jeugdige koning het trou aan die Babiloniese heerser gesweer en as hy getrou aan sy belofte gebly het, sou hy die heiden se respek afgedwing het en dit sou tot kosbare geleenthede vir die bekering van siele gelei het. DVvPEk 339.2

Die koning van Juda het die besondere voorregte wat aan hom verleen is verag en het moedswillig sy eie wil gevolg. Hy het sy woord van eer aan die Babiloniese heerser geskend en in opstand gekom. Dit het hom en sy koninkryk in ‘n baie ‘n netelige posisie geplaas. “Toe stuur die HERE die bendes van die Chaldeërs teen hom en die bendes van die Arameërs en die bendes van die Moabiete en die bendes van die kinders van Ammon...” en hy was magteloos om te verhoed dat die land deur hierdie plunderaars oorrompel word. (2 Kon 24:2) Binne ‘n paar jaar is sy bewind oneervol beëindig, is hy deur die hemel verwerp, onbemind deur sy volk en deur die heerser van Babilon, wie se vertroue hy verraai het, verag - en dit alles as gevolg van sy noodlottige fout deur weg te draai van die doel van God soos deur Sy gekose boodskapper geopenbaar. DVvPEk 339.3

Jojagin (ook bekend as Jóahas), Jojakim se seun, het die troon slegs vir drie maande en tien dae beset, toe hy hom aan die Chaldese leërs oorgegee het wat, as gevolg van die rebellie van die heerser van Juda, weer die gedoemde stad beleër het. DVvPEk 340.1

By hierdie geleentheid het Nebukadnesar “...Jójagin in ballingskap weggevoer na Babel en ook die moeder van die koning en die vroue van die koning en sy hofdienaars; ook die magtiges van die land... ” ‘n paar duisend in totaal, tesame met “...die smede en die slotmakers, duisend.” Hiermee saam het die koning van Babilon die “...skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning... ” weggevoer. (2 Kon 24:15,16,13). DVvPEk 340.2

Die koninkryk van Juda, sy mag verbreek en van sy krag en beide mense en skatte beroof, was nietemin steeds toegelaat om as ‘n aparte regering te bestaan. Aan die hoof het Nebukadnesar vir Mattanja geplaas, ‘n jonger seun van Josia en sy naam na Sedekia verander. DVvPEk 340.3