Die Verhaal Van Profete en Konings

5/69

Hoofstuk 2—Die Tempel en die Inwyding daarvan

Die lank-gekoesterde plan van Dawid om ‘n tempel vir die HERE te bou, is met wysheid deur Salomo uitgevoer. Sewe jaar lank was Jerusalem gevul met besige werkers wat die gekose bouterrein gelyk gemaak het en wat besig was met die bou van reusagtige keermure, met die lê van breë fondasies, “...om groot klippe, kosbare klippe uit te breek om die fondament van die huis met gekapte klippe te lê...”, om die swaar houtbalke uit die woude van Libanon te vorm en om die manjifieke heiligdom op te rig. (1 Kon 5:17) DVvPEk 18.1

Gelyktydig met die voorbereiding van die hout en klip, ‘n taak waaraan duisende hulle energie bestee het, het die vervaardiging van ameublement vir die tempel voortgegaan onder leiding van Huram van Tirus, “...begaafd met insig en verstand ... wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word.” (2 Kron 2:13,14) DVvPEk 18.2

Terwyl die gebou op die berg Moria dus “...opgetrek [word] van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie...”, was die toerusting presies gemaak volgens die patroon wat Dawid aan sy seun oorgedra het “...al die voorwerpe gemaak wat in die huis van God was.” (1 Kon 6:7;2 Kron 4:19) Hierby ingesluit was die reukofferaltaar, die tafel vir die toonbrode, die kandelaar met sy lampe en die houers en instrumente vir die priesters se diens in die heiligdom, alles uit “...fyn goud...”, “...die suiwerste goud...” (2 Kron 4:21) Die brons ameublement, naamlik die offeraltaar, die groot waskom wat op twaalf osse gestaan het, kleiner waskomme en ‘n menigte ander voorwerpe, “...in die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Seréda, het die koning dit gegiet”. (2 Kron 4:17) Hierdie voorwerpe is oorvloediglik voorsien sodat daar geen tekort sou wees nie. DVvPEk 18.3

Hierdie paleisagtige gebou wat Salomo en sy mede-werkers vir die aanbidding van God opgerig het, was sonder weerga in prag en ongeëwenaar in skoonheid. Versier met edelgesteentes, omring met wye portale en manjifieke ingange, uitgevoer met gekerfde sederhout en gepoleerde goud, die tempel se struktuur met sy geborduurde gordyne en pragtige meublement, was ‘n geskikte embleem van die lewende kerk van God op aarde wat deur die eeue, in ooreenstemming met die Goddelike patroon, gebou is met materiaal wat vertoon het soos “...goud, silwer, kosbare stene...” “...wat uitgebeitel is na die boustyl van ‘n paleis.” (1 Kor 3:12; Ps 144:12). Hierdie geestelike tempel is gebou “...op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die Hoeksteen is, in Wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die HERE.” (Ef 2:20,21) DVvPEk 19.1

Uiteindelik is die tempel, deur Koning Dawid beplan en deur sy seun Salomo opgerig, voltooi. “Alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE ... te maak...” het hy “...voorspoedig uitgevoer.” (2 Kron 7:11). En nou, om hierdie paleis wat bo-op die hoogtes van die berg Moria uittroon, werklik ‘n blyplek “...nie vir ‘n mens ... die paleis nie, maar vir die HERE God...” (1 Kron 29:1) te maak, soos Dawid so graag begeer het, het nog net die plegtige seremonie om dit formeel aan Jehova en Sy aanbidding toe te wy, oorgebly. DVvPEk 19.2

Die plek waarop die tempel gebou is, was lank reeds as heilig beskou. Dit was hier waar Abraham, die vader van die gelowiges, sy bereidwilligheid verklaar het om sy enigste seun, in gehoorsaamheid aan Jehova se bevel, te offer. Hier het God die verbond van seën met Abraham hernu, wat die glorieryke Messiaanse belofte van verlossing aan die mens deur die offer van die Seun van die Allerhoogste ingesluit het. (Sien Genesis 22:9;16:18). Dit was hier waar Dawid brandoffers en vrede- offers geoffer het om die wraakgierige swaard van die vernietigende engel te stuit en waar God hom deur vuur uit die hemel geantwoord het. (Sien 1 Kronieke 21). En weereens was die aanbidders van Jehova hier byeen om hul God te ontmoet en hul geloftes van trou opnuut aan Hom te hernu. DVvPEk 19.3

Die tyd wat vir die inwyding bepaal is, was die mees geskikte tyd — die sewende maand, wanneer die volk, soos hul gewoonte was, uit elke uithoek van die koninkryk in Jerusalem byeengekom het om die Huttefees te vier. Hierdie fees was by uitstek ‘n geleentheid om te juig. Met die werk van die oestyd agter die rug en die take van die nuwe jaar wat nog nie ‘n aanvang geneem het nie, was die volk vry van sorge en kon hulle hulself oorgee aan die heilige vreugdevolle invloede van die uur. DVvPEk 20.1

Op die aangewese tyd het die menigte van Israel, saam met welgeklede verteenwoordigers uit die buiteland, in die tempel voorhowe byeengekom. Die toneel was een van besonderse prag en praal. Salomo, vergesel van die oudstes van Israel asook die mees invloedryke manne van die volk, het pas teruggekeer uit ‘n ander deel van die stad vanwaar hulle die Verbondsark gebring het. Vanuit die heiligdom op die hoogtes van Gibeon is “...die ark en die tent van samekoms met al die heilige voorwerpe wat in die tent was gebring.” (2 Kron 5:5) En hierdie gekoesterde herinnerings van die vroeëre wedervarings van die kinders van Israel tydens hul omswerwinge in die wildernis en hul oorname van Kanaän, het nou ‘n nuwe en permanente tuiste gevind in hierdie pragtige gebou wat in die plek van die draagbare struktuur opgerig is. DVvPEk 20.2

Deur die heilige ark, wat die twee kliptafels waarop die vinger van God die Tien Gebooie geskryf het bevat, na die tempel te bring, het Salomo sy vader Dawid se voorbeeld gevolg. Hy het elke ses tree stilgehou om te offer. Onder die klank van sang, musiek en plegtige seremonie, het “...die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring.” (Vers 7). Soos hulle uit die heiligdom gekom het, het hulle hul aangeduide plekke ingeneem. “Levitiese sangers ... in linne gekleed, met simbale en harpe en siters [wat] oostelik van die altaar staan en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas.” (Vers 12) DVvPEk 20.3

“En toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! — is die huis, die huis van die HERE, vervul met ‘n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.” (Verse 12,13) DVvPEk 21.1

Met die besef van die betekenis van hierdie wolk, het Salomo gevolglik verklaar: “Die HERE het gesê dat Hy in donkerheid wil woon. Maar ék het vir U ‘n woonhuis gebou en ‘n vaste plek vir U om ewig in te bly.” (2 Kron 6:1,2) DVvPEk 21.2

“Die HERE is Koning;
laat die volke bewe!
Hy troon op die gérubs;
laat die aarde sidder!

“Die HERE is -groot in Sion,
en verhewe is Hy bo al die volke.
Laat hulle u grote en gedugte Naam loof!
Heilig is Hy!...

“ Verhef die HERE onse God,
en buig julle neer voor die voetbank van sy voete.
Heilig is Hy!”
DVvPEk 21.3

(Psalm 99:1-5)

“Salomo het ‘n koper verhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei.” “Terwyl die hele vergadering van Israel staan...” (2 Kron 6:13,3) DVvPEk 21.4

“En hy sê: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wie se hande volbring het wat sy mond tot my vader Dawid gespreek en gesê het: ...Ek het Jerusalem verkies, dat My Naam daar sou wees.” (Verse 4 en 6). DVvPEk 22.1

Salomo het op die platform gekniel en ten aanhore van die hele vergadering ‘n gebed van toewyding opgestuur. Met sy hande na die hemel opgehef en die vergadering met hul aangesigte na die aarde toe, het die koning gepleit: “HERE, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart.” (Vers 14) DVvPEk 22.2

“Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het! Wend U dan tot die gebed van U kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat U kneg voor U aangesig bid; sodat U oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U U Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat U kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smekinge van U kneg en van U volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan...” (Verse 18-21) DVvPEk 22.3

“En as U volk Israel verslaan word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het en hulle hul bekeer en U Naam bely en bid en smeek voor U aangesig in hierdie huis, wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van U volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.” (Verse 24 en 25) DVvPEk 22.4

“As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en U Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van U knegte en van U volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op U land wat U aan U volk as ‘n erfenis gegee het.” (Verse 26 en 27) DVvPEk 22.5

“As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enige mens of U hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — wil U dan hoor uit die hemel, U vaste woonplek en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders — sodat hulle U kan vrees om te wandel in U weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.” (Verse 28-31) DVvPEk 23.1

“Ja, ook na die uitlander wat nie uit U volk Israel is nie en uit ‘n ver land kom om U grote Naam en U sterke hand en U uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid, wil U dan hoor uit die hemel, uit U vaste woonplek en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde U Naam mag ken en U vrees soos U volk Israel en mag gewaar word dat U Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.” (Verse 32-33) DVvPEk 23.2

“As U volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het en van die huis wat ek vir U Naam gebou het, wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking en aan hulle hul reg verskaf.” (Verse 34-35) DVvPEk 23.3

“As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ‘n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na ‘n land, ver of naby en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is en hulle hul bekeer en U smeek in die land van hulle gevangenskap en sê: Ons het gesondig, ons het verkeerd gehandel en ons was goddeloos — en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel in die land van hul gevangenskap, van die wat hulle weggevoer het en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het en van die stad wat U verkies het en van die huis wat ek vir U Naam gebou het, wil dan uit die hemel, uit U vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en U volk vergewe wat hulle teen U gesondig het.” (Verse 36-39) DVvPEk 23.4

“My God, mag U oë tog nou oop wees en U ore luister na die gebed van hierdie plek. Staan dan nou op na U rusplek, HERE God,U en die ark van U sterkte! Laat U priesters, HERE God, met heil bekleed wees en laat U gunsgenote hulle verheug in die goeie.HERE God, wys U gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan U kneg Dawid!” (Verse 14,15,18-21,24-42,37-42) DVvPEk 24.1

Toe Salomo sy gebed eindig, “...het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer en die heerlikheid van die HERE het die huis vervul; en die priesters kon nie in die huis van die HERE ingaan nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul. En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die HERE op die huis neerdaal, het hulle gekniel met die aangesig na die aarde toe, op die plaveisel en aanbid en die HERE geprys dat Hy goed is, dat Sy goedertierenheid tot in ewigheid is.” DVvPEk 24.2

Daarna het die koning en die volk offerandes voor die HERE geoffer “...en die koning en die hele volk het die huis van God ingewy.” (2 Kron 7:1-5). Sewe dae lank het die menigte uit elke uithoek van die koninkryk feesgevier, “...'n baie groot vergadering, van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte.” Die daaropvolgende week het die feesvierende skare die Huttefees gevier. Met die afsluiting van ‘n tyd van hernuwing en vreugde het, die volk teruggekeer na hul wonings “...verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die HERE aan Dawid en aan Salomo en aan Sy volk Israel gedoen het.” (Verse 8,10) DVvPEk 24.3

Die koning het alles in sy vermoë gedoen om die volk aan te moedig om hulleself ten volle aan God en Sy diens toe te wy en om Sy heilige Naam te verhoog. En weereens, soos by Gibeon vroeër in sy bewind, het Israel se regeerder erkenning van Goddelike aanvaarding en seën ontvang. In ‘n nag-visioen het die HERE aan hom verskyn met die boodskap: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder My volk stuur en My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en hulle hul bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal My oë oop wees en My ore luister na die gebed van hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat My Naam daar kan wees tot in ewigheid en My oë en My hart sal altyd daar wees.” (Verse 12-16) DVvPEk 25.1

Indien Israel aan God getrou gebly het, sou hierdie gebou vir altyd as ‘n ewigdurende teken van God se besondere guns vir Sy uitverkore volk bestaan het. “En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie en hulle wat vashou aan My verbond, hulle sal Ek bring na My heilige berg en Ek sal hulle vreugde laat smaak in My huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op My altaar; want My huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke.” (Jes 56:6,7) DVvPEk 25.2

Ten opsigte van hierdie versekerings van aanvaarding, het die HERE die pligte van die koning se lewenspad baie duidelik vir hom gemaak. “En wat jou betref, as jy wandel voor My aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, deur naamlik te doen net soos Ek jou beveel het en My insettinge en My verordeninge onderhou, dan sal Ek die troon van jou koningskap bevestig, soos Ek dit jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek wat in Israel sal heers nie.” (2 Kron 7:17,18) DVvPEk 25.3

Indien Salomo volgehou het om God met nederigheid te dien, sou sy ganse bewind ‘n sterk invloed ten goede op die omliggende nasies uitgeoefen het, nasies wat in die verlede so gunstig beïndruk was met die heerskappy van sy vader Dawid en ook deur sy eie woorde van wysheid en die manjifieke werke wat sy vroeëre bewind gekenmerk het. Aangesien God die versoekings wat voorspoed en wêreldse eer vergesel vooruitgesien het, het Hy Salomo gewaarsku teen die euwels van afvalligheid en die verskriklike gevolge van sonde is aan hom opgedra. Selfs hierdie pragtige tempel wat so pas ingewy is, het God gewaarsku, sou “...'n spreekwoord en ‘n spotlied ... onder al die volke...” word, indien hulle “...die God van hulle vaders verlaat ... ander gode [aanhang] en voor hulle [neerbuig] en hulle dien.” (Verse 20,22) DVvPEk 26.1

In sy hart versterk en grootliks bemoedig deur die boodskap uit die hemel dat sy gebed vir Israel gehoor is, het Salomo die roemrykste periode van sy bewind betree toe “...al die konings van die aarde...” sy aangesig gesoek het “...om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het.” (2 Kron 9:23) Baie het gekom om die wyse waarop hy regeer het waar te neem en ook om onderrig aangaande die bestuur van moeilike sake te ontvang. DVvPEk 26.2

Wanneer hierdie mense Salomo besoek het, het hy hulle van God, as die Skepper van alle dinge geleer en het hulle na hul wonings teruggekeer met ‘n duideliker begrip oor die God van Israel en sy liefde vir die menslike ras. In die werking van die natuur het hulle die uitdrukking van God se liefde en ‘n openbaring van Sy karakter waargeneem en baie is gelei om Hom as hul God te aanbid. DVvPEk 26.3

Salomo se nederigheid toe hy begin het om die laste van die 48 staat te dra en hy voor God erken het: “Ek is ‘n jong seun...” (1 Kon 3:7), is sy besondere liefde vir God geopenbaar in sy diepgaande eerbied vir Goddelike dinge, sy wantroue in homself en sy verheerliking van die oneindige Skepper van alles, karaktereienskappe, so lofwaardig van aard in die dienste wat met die voltooiing van die tempel gepaard gegaan het, toe hy met die inwydingsgebed in die nederige posisie van iemand wat smeek, neergekniel het. Christus se volgelinge moet waak teen die neiging om die gees van eerbied en Goddelike vrees te verloor. Die Skrif leer die mens hoe om tot hul Skepper te nader — met nederigheid en ontsag, deur geloof in hul Goddelike Middelaar. Die psalmis verklaar: DVvPEk 26.4

“Die HERE is ‘n grote God,
Ja, ‘n groot Koning bo al die gode...
Kom, laat ons aanbid en neerbuk;
Laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.”
DVvPEk 27.1

(Psalm 95:3,6)

Beide in openbare en persoonlike aanbidding is dit ons voorreg om, wanneer ons met ons gebede na Hom toe kom, ons knieë voor God te buig. Jesus, ons voorbeeld, het “...neergekniel en gebid.” (Luk 22:41) Van sy dissipels word geskryf: “En Petrus het ... neergekniel en gebid.” (Hand 9:40) Paulus verklaar,“...buig ek my knieë voor die Vader van onse HERE Jesus Christus.” (Ef 3:14) Toe Esra Israel se sondes voor God bely het, het hy gekniel. (Sien Esra 9:5) Daniel “...het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God.” (Dan 6:10) DVvPEk 27.2

Ware eerbied vir God word deur ‘n bewustheid van Sy oneindige grootheid en ‘n besef van Sy teenwoordigheid geïnspireer. Elke hart behoort diep beïndruk te word met hierdie bewuswording van die Onsienlike. Die uur en die plek van gebed is heilig, want God is daar. En soos wat eerbied in houding en gedrag manifesteer, sal die gevoel wat daardeur geïnspireer word, verdiep. “Sy Naam is heilig en vreeslik” sê die psalmis. (Psalm 111:9) Engele bedek hul aangesigte wanneer hulle daardie Naam uitspreek. Met hoeveel eerbied moet ons dan, gevalle en sondig, dit deur ons lippe uiter! DVvPEk 27.3

Dit sou goed wees as oud en jonk die volgende woorde uit die Skrif, wat toon hoe ‘n plek wat met God se spesiale teenwoordigheid vereer word beskou moet word, sal bepeins. “Moenie nader kom nie...” maan die HERE vir Moses by die brandende bos “...Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.” (Ex 3:5) Toe Jakob die engel in die visioen gewaar, het hy uitgeroep: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek en ék het dit nie geweet nie ... Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie en dit is hier die poort van die hemel.” (Gen 28:16,17) DVvPEk 27.4

Met dit wat tydens die inwydingseremonie gesê is, het Salomo gepoog om weg te doen met die bygelowe aangaande die Skepper, wat hul verstand verduister het. Die God van die hemel is nie, soos die gode van die heidene, beperk tot handgemaakte tempels nie; tog sou Hy, deur middel van Sy Gees, met Sy volk ontmoet wanneer hulle in die huis wat vir Sy aanbidding toegewy is, vergader. DVvPEk 28.1

Eeue later het Paulus dieselfde waarheid met die volgende woorde geleer: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat HERE van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee ... sodat hulle die HERE kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.” (Hand 17:24-28) DVvPEk 28.2

“Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is,
Die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.
Die HERE kyk van die hemel af;
Hy sien al die mensekinders.
Uit Sy woonplek aanskou Hy
al die bewoners van die aarde.”
DVvPEk 28.3

(Ps 33:12-14)

“Die HERE het Sy troon in die hemel gevestig,
en Sy koninkryk heers oor alles.”
DVvPEk 28.4

(Ps 103:19)

“O God, u weg is in heiligheid.
Wie is ‘n groot God soos God?
“U is die God wat wonders doen;
U het U sterkte onder die volke bekend gemaak.”
DVvPEk 29.1

(Ps 77: 14,15)

Alhoewel God nie in tempels wat met die hand gemaak is woon nie, vereer Hy tog die byeenkomste van Sy volk met Sy teenwoordigheid. Hy het beloof dat wanneer hulle byeenkom om na Hom te soek, om hulle sondes te bely en vir mekaar te bid, sal Hy, deur middel van Sy Gees, in hulle midde wees. Maar diegene wat saamkom om Hom te aanbid, moet elke bose ding opsysit. Tensy hulle Hom in gees en in waarheid en in die sieraad van heiligheid aanbid, sal hulle samekoms van geen nut wees nie. Van diesulkes verklaar die HERE: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt 15:8,9) Diegene wat God aanbid, moet “...in gees en waarheid aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” (Joh 4:23) DVvPEk 29.2

“Maar die HERE is in sy heilige tempel — swyg voor Hom, o ganse aarde!” (Hab 2:20). DVvPEk 29.3