Die Verhaal Van Profete en Konings

40/69

Hoofstuk 34— Jeremia

Onder diegene wat gehoop het op ‘n permanente geestelike herlewing as gevolg van die hervorming onder Josia, was Jeremia, wat in die dertiende jaar van Josia se heerskappy, terwyl hy nog ‘n jeugdige was, deur God tot die profetiese amp geroep is. Jeremia, as lid ‘n van die Levitiese priesterorde, is van kleins af vir heilige diens opgelei. In daardie gelukkige jare van voorbereiding, het hy min besef dat hy van sy geboorte af georden was om “...'n profeet vir die nasies...” te wees en toe die Goddelike oproep kom, was hy oorweldig met ‘n gevoel van onwaardigheid. “Ag, HERE HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” (Jer 1:5,6) DVvPEk 315.1

In die jeugdige Jeremia, het God iemand gesien wat getrou aan die vertroue wat in hom gestel was sou wees en wat, ten spyte van groot teëkanting, sou staan vir wat reg was. In sy kinderjare het hy bewys dat hy vertrou kon word; en nou moes hy, soos ‘n volwaardige soldaat van die kruis, beproewinge verduur. “Moenie sê: Ek is jonk nie...” het God Sy uitverkore boodskapper gebied, “...want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red.” “Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie. Want kyk, Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad en ‘n ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land. En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.” (Verse 7,8,17-19) DVvPEk 315.2

Vir veertig jaar sou Jeremia voor die nasie as ‘n getuie vir waarheid en geregtigheid staan. In ‘n tyd van ongekende afvalligheid, moes hy in lewe en karakter die voorbeeld van ‘n aanbidder van die enigste ware God uitbeeld. Tydens die verskriklike beleg van Jerusalem, moes hy die spreekbuis van Jehova wees. Hy moes die ondergang van die huis van Dawid en die vernietiging van die pragtige tempel wat deur Salomo gebou is, voorspel. En toe hy gevange geneem is weens sy vreeslose uitsprake, moes hy nog steeds duidelike uitsprake teen sonde in hoë posisies lewer. Verag, gehaat en deur mense verwerp, moes hy uiteindelik getuig van die letterlike vervulling van sy eie profesieë van die naderende oordeel en deel in die smart en weë wat op die vernietiging van die gedoemde stad sou volg. DVvPEk 315.3

Tog, te midde van die algemene ondergang waarin die volk vinnig besig was om te verval, was Jeremia dikwels toegelaat om verby die huidige ontstellende tonele na die heerlike vooruitsigte van die toekoms, wanneer God se volk uit die land van die vyand verlos en weer in Sion gevestig sou word te kyk. Hy het vooruitgesien na die tyd wanneer die HERE Sy verbondsverhouding met hulle sou hernu. “Hulle siel sal wees soos ‘n welbesproeide tuin en hulle sal verder nie meer kwyn nie.” (Jer 31:12) DVvPEk 316.1

Aangaande sy oproep tot die profetiese sending, het 409 Jeremia self geskryf: “Toe het die HERE Sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek My woorde in jou mond. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.” (Jer 1:9,10) DVvPEk 316.2

Dank God vir die woorde: “...om te bou en te plant.” Deur hierdie woorde is Jeremia verseker van die doel van die HERE om te herstel en te genees. Streng was die boodskappe wat in die daaropvolgende jare oorgedra sou moes word. Profesieë van spoedige oordele sou vreesloos gelewer moes word. Uit die vlaktes van Sinear sou “...die onheil losbreek oor al die inwoners van die land.” “Ek sal My oordele oor hulle uitspreek, weens al hulle boosheid; dat hulle My verlaat het.” (Verse 14,16) Maar die profeet moes hierdie boodskappe met die versekering van vergifnis aan almal wat van hul bose weë sou wegdraai, vergesel. DVvPEk 316.3

As ‘n wyse meesterbouer, het Jeremia met die aanvang van sy lewenstaak gepoog om die mense van Juda aan te moedig om die fondasies van hulle geestelike lewe breed en diep te lê, deur deeglike werk van hul bekering te maak. Hulle het lank met materiaal gebou wat die apostel Paulus vergelyk het met hout, hooi en stoppels en deur Jeremia self as drek. “Hulle bly weggooi silwer; dit is wat hulle genoem word...” het hy van die onboetvaardige nasie verklaar, “...want die HERE het hulle verwerp.” (Jer 6:30) Hulle was dus nou aangespoor om met wysheid en vir die ewigheid te begin bou, die gemors van afvalligheid en ongeloof te verwerp en as fondasie-materiaal, gebruik te maak van suiwer goud, geraffineerde silwer en die kosbare stene van geloof, gehoorsaamheid en goeie werke — wat alleenlik in die aangesig van ‘n heilige God aanvaarbaar is. DVvPEk 317.1

Deur Jeremia was die woord van die HERE aan sy volk: “Keer terug, o afkerige, Israel, ... [en] Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het ... Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is Heer oor julle.” “Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie.” “Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees.” (Jer 3:12¬14,19,22) DVvPEk 317.2

En aanvullend tot hierdie wonderlike pleidooie, het die HERE aan sy dwalende volk die presiese woorde gegee waarmee hulle na Hom kon draai. Hulle moes sê: “Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God. Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil ... Ons wil neerlê in ons skande en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die HERE onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe en ons het nie geluister na die stem van die HERE onse God nie.” (Verse 22-25) DVvPEk 317.3

Die hervorming onder Josía het die land van die afgodiese heiligdomme gereinig, maar die harte van die menigte is nie getransformeer nie. Die sade van waarheid wat ontkiem en ‘n belofte van ‘n oorvloedige oes gelewer het, is deur distels verstik. Nog so ‘n terugval sou fataal wees; en die HERE het gepoog om die nasie tot ‘n besef van die gevaar waarin hulle verkeer op te wek. Slegs as hulle aan Jehova lojaal sou wees, kon hulle hoop op Goddelike guns en vooruitgang. DVvPEk 318.1

Jeremia het hulle aandag herhaaldelik op die raad wat in Deuteronomium gegee is gevestig. Meer as enige ander van die profete, het hy klem gelê op die leringe van die Mosaïese wet wat beklemtoon en gewys het hoe dit die grootste geestelike seën vir die nasie en elke individuele hart, kon bring. “Vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is en wandel daarin...” het hy gepleit, “...en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jer 6:16) DVvPEk 318.2

Tydens een geleentheid het die profeet op bevel van die HERE by een van die hoofingange na die stad stelling ingeneem en daar, die belangrikheid om die Sabbatdag heilig te hou, beklemtoon. Die inwoners van Jerusalem het gevaar geloop om die heiligheid van die Sabbat uit die oog te verloor en hulle is ernstig gewaarsku teen sekulêre gebruike op daardie dag. ‘n Seën is, op voorwaarde van gehoorsaamheid, belowe. “As julle dan aandagtig na My luister...” het die HERE verklaar, “...om geen las deur die poorte van hierdie stad op die Sabbatdag in te bring nie en om die Sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie, dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.” (Jer 17:24,25) DVvPEk 318.3

Hierdie belofte van voorspoed, as beloning vir getrouheid, het gepaard gegaan met ‘n profesie van verskriklike oordele wat oor die stad sou kom indien die inwoners daarvan ontrou aan God en Sy wet sou wees. Indien daar nie ag geslaan word op die vermanings om die HERE, die God van hulle vaders te gehoorsaam nie, sou die stad en sy paleise totaal deur vuur vernietig word. DVvPEk 318.4

Die profeet het dus vasgestaan op die gesonde beginsels van ‘n korrekte lewenswyse wat so duidelik in die boek van die wet uiteengesit is. Maar die toestande wat in die land van Juda geheers het, was sodanig dat ‘n verandering ten goede slegs met die mees vasberade maatreëls teweeggebring sou kon word. “Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie...” het hy gepleit. “Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word.” (Jer 4:3,14) DVvPEk 319.1

Maar die oproep tot berou en hervorming is deur die meeste mense verontagsaam. Sedert die afsterwe van goeie Koning Josía, was hulle wat die land regeer het ontrou aan die vertroue in hulle gestel en het baie op ‘n dwaalweg gelei. Joahas, wat deur die inmenging van die koning van Egipte onttroon is, is deur Jojakim, een van Josía se ouer seuns, opgevolg. Vanaf die begin van Jojakim se regering, het Jeremia weinig hoop gehad om sy geliefde land van vernietiging en die volk van ballingskap te red. Tog is hy nie toegelaat om te swyg terwyl algehele vernietiging die koninkryk bedreig het nie. Diegene wat aan God getrou gebly het moes aangemoedig word om te volhard om reg op te tree en sondaars moes, indien moontlik, aangespoor word om van ongeregtigheid weg te draai. DVvPEk 319.2

Die krisis het ‘n openbare en verreikende poging geverg. Jeremia is deur die HERE beveel om in die tempelhof te staan en met al die mense van Juda, wat by die tempelhof in- en uitbeweeg het, te praat. Hy moes nie ‘n enkele woord van die boodskappe wat aan hom opgedra is weglaat nie, sodat sondaars in Sion die beste moontlike geleentheid kon hê om gehoor te gee en van hulle bose weë af weg te draai. DVvPEk 319.3

Die profeet het gehoorsaam; hy het by die poort van die huis van die HERE gestaan en sy stem in waarskuwing en smeking verhef. Onder die inspirasie van die Almagtige het hy verklaar: DVvPEk 320.1

“Hoor die woord van die HERE, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie — dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.” (Jer 7:2-7) DVvPEk 320.2

Die onwilligheid van die HERE om te straf, word hier duidelik aangetoon. Hy hou Sy oordele terug, sodat Hy met die onboetvaardiges kan pleit. Hy wat “...goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen... ” smag na Sy dwalende kinders; op elke moontlike wyse poog Hy om aan hulle die weg van die ewige lewe te leer. (Jer 9:24) Hy het die Israeliete uit slawerny verlos om Hom, die enigste ware en lewende God, te dien. Al het hulle lank op die weg van afgodery gewandel en Sy waarskuwings verontagsaam, het Hy nogtans Sy bereidwilligheid om die straf uit te stel, verklaar en nog ‘n geleentheid vir bekering verleen. Hy het dit duidelik gemaak dat slegs deur die mees opregte hartsverandering kon die dreigende oordeel afgeweer word. Enige vertroue wat hulle in die tempel of sy dienste sou plaas, sou tevergeefs wees. Rituele en seremonies kon nie versoening vir sonde doen nie. Nieteenstaande hul aanspraak dat hulle die uitverkore volk van God is, kon slegs hervorming van die hart en lewenswyse hulle van die onafwendbare gevolge van voortgesette oortreding red. DVvPEk 320.3

Dus was “...in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem...” die boodskap van Jeremia aan Juda: “Hoor die woorde van hierdie verbond...” - die duidelike voorskrifte van Jehova soos in die Heilige Skrifte opgeteken - “...en doen dit.” (Jer 11:6). En dit was dieselfde boodskap wat hy aan die begin van Jojakim se bewind, toe hy in die tempelhof gestaan het, verkondig het. DVvPEk 321.1

Israel se ervarings sedert die dae van die uittog uit Egipte is kortliks saamgevat. God se verbond met hulle was: “Luister na My stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.” Hierdie verbond was blatant en herhaaldelik verbreek. Die uitverkore volk het gekies om te “...wandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.” (Jer 7:23,24) DVvPEk 321.2

“Waarom...” het die HERE gevra, “...is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met ‘n aanhoudende afkerigheid?” (Jer 8:5). In die woorde van die profeet, was dit omdat hulle nie die stem van die HERE hul God gehoorsaam het nie en geweier het om reggehelp te word. (Sien Jeremia 5:3). “...die opregtheid het verdwyn...” het hy geweeklaag “...en is uitgeroei uit hulle mond.” “Selfs ‘n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye en ‘n tortelduif en ‘n swaweltjie en ‘n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die HERE nie.” “Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou My siel hom nie wreek op ‘n nasie soos hierdie een nie?” (Jer 7:28;8:7;9:9) DVvPEk 321.3

Die tyd vir ‘n diepe ondersoek van hart het aangebreek. Terwyl Josia oor hulle geheers het, het die volk nog gronde vir hoop gehad. Maar hy kon nie langer namens hulle intree nie, aangesien hy in die geveg gesneuwel het. Die sondes van die volk was van so aard, dat die tyd vir bemiddeling bykans verstreke was. “Al staan Moses en Samuel voor My aangesig...” het die HERE verklaar, “...My siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van My aangesig af weg en laat hulle heengaan. En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die HERE: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap.” (Jer 15:1,2) DVvPEk 321.4

'n Weiering om gehoor te gee aan die genadige uitnodiging wat God nou aangebied het sou oordele, soortgelyk aan die wat die noordelike koninkryk van Israel meer as ‘n eeu tevore oorgekom het, oor die onboetvaardige volk bring. Die boodskap aan hulle was dus nou: “As julle na My nie luister nie, om in My wet te wandel wat Ek julle voorgehou het, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het, dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo en hierdie stad sal Ek maak ‘n vervloeking vir al die nasies van die aarde.” (Jer 26:4-6) DVvPEk 322.1

Diegene wat in die tempel na Jeremia se redevoering geluister het, het die verwysing na Silo en die tyd in die dae van Eli toe die Filistyne die verbondsark weggedra het, deeglik begryp. DVvPEk 322.2

Die sonde van Eli was dat hy die ongeregtigheid van sy seuns, terwyl hulle in die heilige amp was, asook die boosheid wat in die land geheers het, ligtelik oor die hoof gesien het. Sy versuim om hierdie euwels reg te stel, het ‘n vreesaanjaende ramp oor Israel gebring. Sy seuns het in die geveg gesneuwel, Eli self het sy lewe verloor, die ark van God is uit die land Israel geneem, dertigduisend van die volk is doodgemaak - en dit alles omdat sonde toegelaat is om onbestraf en sonder berisping te floreer. Israel het tevergeefs gedink dat, ondanks hul sondige praktyke, die teenwoordigheid van die ark hulle van die oorwinning oor die Filistyne sou verseker. Op dieselfde wyse, in die dae van Jeremia, was die inwoners van Juda geneig om te glo dat ‘n streng nakoming van die Goddelik ingestelde dienste van die tempel, hulle van die regverdige straf vir hulle bose weë sou bewaar. DVvPEk 322.3

Wat ‘n les is dit nie vir die mense in verantwoordelike posisies in die kerk van God van dag nie! Wat ‘n plegtige waarskuwing om getrou teen onreg, wat oneer aan die saak van waarheid bring, op te tree! Laat niemand wat beweer dat hulle bewaarders van God se Wet is, hulself flous dat die uiterlike vertoon ten opsigte van die gebooie hulle sal bewaar van die uitoefening van Goddelike geregtigheid nie. Laat niemand weier om oor boosheid berispe te word nie en laat die dienaars van God ook nie oorywerig wees in hul poging om die kamp van kwaadwilligheid te reinig nie. God wat sonde haat, doen ‘n beroep op diegene wat beweer dat hulle Sy wet onderhou, om van alle ongeregtigheid af te sien. Versuim om berou te toon, of onwilligheid om gehoorsaam te wees, sal net sulke ernstige gevolge vir vandag se manne en vroue as vir antieke Israel inhou. Daar is ‘n perk waarna die oordele van Jehova nie langer uitgestel kan word nie. Die verwoesting van Jerusalem in die dae van Jeremia, is ‘n plegtige waarskuwing aan moderne Israel, dat die raad en vermanings wat deur gekose instrumente aan hulle gegee word, nie strafloos verontagsaam kan word nie. DVvPEk 323.1

Jeremia se boodskap aan die priesters en die volk het die antagonisme van baie mense gewek. Met luide veroordeling het hulle uitgeroep: “Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer en gesê: Hierdie huis sal soos Silo word en hierdie stad sal verwoes word, sonder inwoner? En die hele volk het bymekaargekom teen Jeremia in die huis van die HERE.” (Jer 26:9) Priesters, valse profete en gewone lede van die bevolking het woedend teen hom, wat geweier het om met ‘n gladde tong te spreek of valsheid te profeteer, gedraai. So is die boodskap van God verag en Sy dienskneg met die dood gedreig. DVvPEk 323.2

Tydings van die woorde van Jeremia is aan die vorste van Juda oorgedra en hulle het van die koning se paleis na die tempel gehaas om self na die waarheid te verneem. “Die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het.” (Vers 11). Maar Jeremia het met vrymoedigheid voor die prinse en die volk gestaan en verklaar: “Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het. Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.” (Verse 12-15) DVvPEk 323.3

Indien die profeet hom deur die hooggeplaastes se dreigende houding laat intimideer het, sou sy boodskap oneffektief gewees het en sou hy sy lewe verloor het; maar die moed waarmee hy die plegtige waarskuwing gelewer het, het die respek van die volk afgedwing en die vorste van Israel in sy guns laat draai. Hulle het met die priesters en valse profete geredeneer en hulle daarop gewys hoe onverstandig die uiterste maatreëls wat hulle voorgestaan het sou wees en hulle woorde het ‘n reaksie in die gedagtes van die volk ontlok. So het God verdedigers vir sy dienskneg opgewek. DVvPEk 324.1

Die hoofde het ook saamgestaan om teen die beslissing van die priesters aangaande die lot van Jeremia om hom om die lewe te bring, te protesteer. Hulle het na die saak van Miga, wat oordele oor Jerusalem profeteer het, verwys en gesê: “Sion sal soos ‘n land omgeploeg word en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante.” En hulle het gevra: “Het Hiskia, koning van Juda en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die HERE gevrees en die HERE om genade gesmeek, sodat dit die HERE berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het nie? En ons is besig om ons siele ‘n groot onheil te berokken!” (Verse 18,19) DVvPEk 324.2

Deur die pleidooi van hierdie invloedryke mense, is die profeet se lewe gespaar, alhoewel baie van die priesters en vals profete, wat nie daartoe in staat was om die veroordelende waarhede wat hy geuiter het te duld nie, met graagte sou wou toesien dat hy op ‘n klag van aanhitsing tot oproer tot die dood veroordeel word. DVvPEk 325.1

Van die dag van sy oproep tot die einde van sy bediening, het Jeremia voor Juda gestaan as ‘n “...toetser...” en “...vesting...” waarteen die toorn van die mens nie kon seëvier nie. “Hulle sal teen jou veg...” het die HERE sy dienskneg vooraf gewaarsku, “...maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.” (Jer 6:27;15:20,21) DVvPEk 325.2

Van nature skugter en teruggetrokke van geaardheid het Jeremia verlang na vrede en ‘n stil afgesonderde lewe, waar hy nie die voortdurende onboetvaardigheid van sy geliefde volk sou moes aanskou nie. Sy hart was met wroeging gevul oor die ondergang wat deur sonde veroorsaak is. “Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk. Ag, het ek in die woestyn maar ‘n herberg vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek.” (Jer 9:1,2) DVvPEk 325.3

Wreed was die bespottings wat hy moes verduur. Sy sensitiewe siel is keer op keer met pyle van bespotting wat deur diegene wat sy boodskappe verag het en sy las vir hul bekering ligtelik afgemaak het na hom gewerp het, deurboor. “Ek het ‘n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag,” het hy gekla. “Ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my.” “Al die mense wat met my in vrede lewe, loer op my val; hulle sê: Miskien laat hy hom verlei, dan kan ons hom oorweldig en ons wraak op hom neem.” (Klaagliedere 3:14; Jer20:7,10) DVvPEk 325.4

Maar die getroue profeet is daagliks versterk om te verduur. “Die HERE is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.” “Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos.” Jer 20:11,13) DVvPEk 326.1

Die ervarings wat Jeremia in die dae van sy jeug en ook in die latere jare van sy bediening deurgemaak het, het hom geleer “...dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” Hy het geleer om te bid: “Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in U toorn, dat U my nie te klein maak nie.” (Jer 10:23,24) DVvPEk 326.2

Toe hy geroep is om die beker van beproewing en smart te drink en in sy ellende versoek was om te sê: “My roem het vergaan en my hoop op die HERE...” het hy die voorsienigheid van God namens hom onthou en triomfantlik uitgeroep: “Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want Sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; U trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.” (Klaagl 3:18,22-26) DVvPEk 326.3