Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 33—Die Wetboek
Die stil, dog kragtige invloede wat deur die boodskappe van die profete oor die Babiloniese ballingskap in werking gestel is, het baie gedoen om die weg vir die hervorming wat in die agtiende jaar van Josía se regering plaasgevind het, voor te berei. Hierdie hervormingsbeweging, waardeur dreigende oordele ‘n tyd lank afgeweer is, is op ‘n heel onverwagse wyse bewerkstellig deur die ontdekking en bestudering van ‘n gedeelte van die Heilige Skrif wat vir baie jare op vreemde wyse misplaas en verlore geraak het. DVvPEk 304.1
Bykans ‘n eeu tevore, tydens die eerste Pasga wat deur Hiskia gevier is, is voorsiening gemaak vir die daaglikse openbare voorlesing uit die wetboek aan die volk, deur die priesters wat onderrig het. Dit was die onderhouding van die verordeninge wat deur Moses opgeteken is, veral die wat in die boek van die verbond gegee is, wat ‘n deel van Deuteronomium uitmaak en wat die bewind van Hiskia so voorspoedig gemaak het. Maar Manasse het dit gewaag om hierdie insettinge te verontagsaam; en gedurende sy bewind het die tempel-afskrif van hierdie wetboek as gevolg van nalatigheid verlore geraak. Dus was die volk oor die algemeen vir baie jare van die opdragte daarin ontneem. DVvPEk 304.2
Die lank-verlore manuskrip is deur Hilkia, die hoëpriester, in die tempel gevind, terwyl die gebou uitgebreide herstelwerk, in ooreenstemming met koning Josía se plan vir die behoud van die heilige struktuur, ondergaan het. Die hoëpriester het die kosbare volume aan Safan, ‘n geleerde skrywer, oorhandig, wat dit gelees en na die koning geneem het, saam met die verhaal van die ontdekking daarvan. DVvPEk 304.3
Josía was diep geroer toe hy vir die eerste keer die vermanings en waarskuwings wat in hierdie antieke manuskrip opgeteken was, gehoor het. Nog nooit vantevore het hy so ten volle die eenvoud besef van hoe God aan Israel “...die lewe en die dood, die seën en die vloek...” voorgehou het nie (Deut 30:19); en hoe herhaaldelik hulle aangemoedig was om die weg van die lewe te kies, sodat hulle ‘n lof op aarde, ‘n seën vir alle nasies kon word. “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie... ” is Israel deur Moses gemaan, “...want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.” (Deut 31:6) DVvPEk 304.4
Die boek was vol bevestigings van God se bereidwilligheid om tot die uiterste, diegene wat hulle vertroue ten volle in Hom gestel het, te red. Soos Hy hul verlossing uit Egiptiese slawerny bewerk het, so sou Hy ook kragtig werk om hulle in die Beloofde Land te vestig en hulle aan die hoof van die nasies van die aarde te plaas. DVvPEk 305.1
Die aanmoedigings wat as beloning vir gehoorsaamheid aangebied was, het gepaard gegaan met profesieë van oordele oor die ongehoorsames; en toe die koning die geïnspireerde woorde gehoor het, het hy, in die prentjie wat aan hom voorgehou is, toestande wat ooreenstem met dié wat in sy koninkryk bestaan, herken. In verband met hierdie profetiese uitbeeldings van die onttrekking van God, was hy geskok om duidelike stellings dat die dag van rampspoed vinnig sou volg en dat daar geen teenmiddel sou wees nie, te vind. Die taal was eenvoudig; die betekenis van die woorde kon nie verkeerd vertolk word nie. En aan die einde van die volume, in ‘n opsomming van God se omgang met Israel en ‘n herhaling van die gebeure van die toekoms, is hierdie sake dubbel duidelik gemaak. Ten aanhore van die hele Israel het Moses verklaar: DVvPEk 305.2
Luister, o hemele, dat ek kan spreek,
En laat die aarde hoor die woorde van my mond.
Laat my leer drup soos die reën,
My woord vloei soos die dou,
Soos reëndruppels op die grasspruitjies Want die Naam van die HERE roep ek uit:
Gee grootheid aan onse God!
Die Rots — volkome is Sy werk;
Want al Sy weë is strafgerigte;
'n God van trou en sonder onreg;
Regverdig en reg is Hy.
DVvPEk 305.3
(Deuteronomium 32:1-4).
Dink aan die dae van die ou tyd,
Let op die jare, van geslag tot geslag;
Vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak;
Die ou mense, dat hulle jou dit sê.
Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het,
Toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het,
Het Hy die grense van die volke vasgestel
Volgens die getal van die kinders van Israel.
Want die HERE se deel is Sy volk,
Jakob is sy afgemete erfdeel.
Hy het hom gevind in ‘n woestynland
En in ‘n woeste wêreld,
Vol gehuil van die wildernis;
Hy het hom omring, op hom ag gegee,
Hom bewaak soos Sy oogappel.
DVvPEk 306.1
(Verse 7-10).
Maar Israel “...het God verwerp wat hom gemaak het,
En die steenrots van sy heil geminag.
My geterg deur hulle nietige afgode.
Hulle het deur vreemde gode Sy ywer gewek;
Deur gruwels Hom geterg.
Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is,
Gode wat aan hulle nie bekend was nie;
Nuwes wat kort gelede opgekom het,
Vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam;
En jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
DVvPEk 306.2
Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp,
Uit ergernis oor sy seuns en dogters.
En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg,
Ek wil sien wat hulle einde sal wees;
Want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle,
Kinders in wie geen trou is nie.
My geterg deur hulle nietige afgode.
Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is,
Deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg.
Ek sal onheile op hulle ophoop;
My pyle sal Ek op hulle wegskiet.
As hulle uitgeput is van honger en verteer deur
koorsgloed
En dodelike siekte,
Want ‘n nasie van verlore raadsplanne is hulle,
En daar is geen verstand in hulle nie.
Was hulle wys, hulle sou dit insien,
Hulle sou op hulle einde let.
Hoe kan een dan duisend agtervolg
En twee tien duisend op die vlug jaag,
Was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop
En die HERE hulle oorgelewer het nie!
Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie —
Ja, ons vyande self is skeidsregters!
Is dit nie by My opgegaar,
In My skatkamers verseël nie?
My kom die wraak toe en die vergelding,
Op die tyd as hulle voet sal wankel;
Want die dag van hulle ondergang is naby,
En wat oor hulle beskik is, kom gou.”
DVvPEk 307.1
(Verse 15-21,23,24,28-31, 34, 35)
Hierdie en soortgelyke gedeeltes het God se liefde vir sy volk en sy afkeer van sonde aan Josia geopenbaar. Toe die koning die profesieë van spoedige oordeel oor diegene wat in opstand sou volhard, gelees het, het hy vir die toekoms gesidder. Die perversiteit van Juda was groot; wat sou die gevolge van hul volgehoue afvalligheid wees? DVvPEk 307.2
Die koning het nie in die vorige jare onverskillig teenoor die heersende afgodediens gestaan nie. “En in die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was...” het hy homself ten volle aan die diens van God gewy. Vier jaar later, op die ouderdom van twintig, het hy ‘n ernstige poging aangewend om versoeking van sy onderdane te verwyder en begin om “...Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde. En hulle het voor sy oë die altare van die Baals omgegooi; en die sonpilare wat daar bo-op was, het hy stukkend gekap en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde verbreek en vermaal en dit oor die grafte gestrooi van die wat aan hulle geoffer het. En die beendere van die priesters het hy op hulle altare verbrand en Juda en Jerusalem gereinig.” (2 Kron 34:3-5) DVvPEk 308.1
Die jeugdige heerser was nie slegs tevrede met hierdie deeglike werk in die land van Juda nie, maar het sy pogings na gedeeltes van Palestina uitgebrei, wat voorheen deur die tien stamme van Israel beset was, waarvan slegs ‘n oorblyfsel nog oorgebly het. So het hy ook in “... die stede van Manasse en Efraim en Simeon en tot by Náftali...” gedoen, lees die verslag. Nie voordat hy die lengte en breedte van hierdie streek deurtrek het en “...die altare omgegooi en die heilige boomstamme en gesnede beelde het hy tot stof vergruis en al die sonpilare in die hele land van Israel het hy omgekap...” het hy na Jerusalem teruggekeer nie. (Verse 6,7) DVvPEk 308.2
So het Josia dus, reeds van sy vroegste volwasse jare, gepoog om die voordeel van sy posisie as koning aan te wend om die beginsels van God se heilige wet te verhef. En nou, terwyl Safan vir hom uit die wetboek voorgelees het, het die koning in hierdie boek ‘n skat van kennis, ‘n kragtige bondgenoot in die hervormingswerk wat hy so graag in die land wou bewerkstellig, herken. Hy het besluit om in die lig van die voorskrifte daarvan te wandel en ook om alles in sy vermoë te doen, om sy mense met die leringe daarvan vertroud te maak en om by hulle, indien moontlik, eerbied en liefde vir die wet van die hemel te kweek. DVvPEk 308.3
Maar sou dit moontlik wees om hierdie noodsaaklike hervorming teweeg te bring? Israel het byna die grens van Goddelike verdraagsaamheid bereik; God sou binnekort opstaan om diegene, wat Sy Naam oneer aangedoen het, te straf. Die toorn van die HERE het alreeds teen die mense ontvlam. Oorweldig deur hartseer en ontsteltenis, het Josía sy klere geskeur en in geesteswroeging voor God gebuig, op soek na vergifnis vir die sondes van ‘n onboetvaardige nasie. DVvPEk 309.1
Gedurende daardie tydperk, het die profetes Hulda, in Jerusalem naby die tempel gewoon. Die gedagtes van die koning was gevul met ‘n angstige voorbode en hy het besluit om hom na haar te wend en die HERE deur hierdie gekose boodskapper te raadpleeg om, indien moontlik, te leer of hy, op enige manier binne sy mag, Juda, wat nou op die rand van ondergang was, kon red. DVvPEk 309.2
Die erns van die situasie en die respek wat hy vir die profetes gehad het, het hom genoop om die invloedrykste manne van die koninkryk as sy boodskappers na haar te stuur. “Gaan raadpleeg die HERE vir my...” het hy hulle beveel “...en vir die volk en vir die hele Juda oor die woorde van hierdie boek wat gevind is; want die grimmigheid van die HERE is groot wat teen ons ontvlam het, omdat ons vaders nie geluister het na die woorde van hierdie boek om te handel volgens alles wat ons voorgeskrywe is nie.” (2 Kon 22:13) DVvPEk 309.3
Deur Hulda het die HERE vir Josía ‘n boodskap gestuur dat Jerusalem se val nie verhoed kon word nie. Al sou die mense hulleself nou voor God verootmoedig, kon hulle nie die straf vryspring nie. Vir so lank was hulle sintuie deur hul wandade verdoof, dat indien die oordeel nie oor hulle kom nie, hulle spoedig terug in dieselfde sondige lewenswyse sou verval. “Sê aan die man wat julle na my gestuur het...” het die profetes verklaar, “...so spreek die HERE: Kyk, Ek bring ‘n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die woorde van die boek wat die koning van Juda gelees het; omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My met al hul handewerk te terg; daarom sal my grimmigheid ontvlam teen hierdie plek en nie uitgeblus word nie.” (Verse 15-17) DVvPEk 309.4
Maar omdat die koning sy hart voor God verootmoedig het, het die HERE erkenning aan sy haas om na vergifnis en genade te soek gegee. Die volgende boodskap is aan hom gestuur: “Omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van die HERE verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gespreek het, dat hulle ‘n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word en omdat jy jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ék ook verhoor, spreek die HERE. Daarom, kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel en jy sal met vrede in jou graf versamel word en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring.” (Verse 19,20) DVvPEk 310.1
Die koning moes die gebeure van die toekoms aan God oorlaat; Hy kon nie die ewige dekrete van Jehova verander nie. Maar, die HERE het nie die geleentheid tot bekering en hervorming tydens die aankondiging van die vergeldende oordele van die Hemel onttrek nie; en Josia, wat hierin ‘n gewilligheid van God om Sy oordele met genade te temper onderskei het, was vasbeslote om alles in sy vermoë te doen om besliste hervormings teweeg te bring. Hy het dadelik ‘n groot samekoms gereël, waarheen die oudstes en landdroste in Jerusalem en Juda, saam met die gewone volk uitgenooi is. Hulle het saam met die priesters en die Leviete die koning in die voorhof van die tempel ontmoet. DVvPEk 310.2
Die koning het self aan hierdie groot vergadering “...al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die HERE gevind is...” voorgelees. (2 Kon 23:2). Die koninklike leser was diep geraak en het sy boodskap met die patos van ‘n gebroke hart gelewer. Sy hoorders was ook diep ontroer. Die intensiteit van die gevoel op die koning se gelaat , die plegtigheid van die boodskap self, die waarskuwing van naderende oordeel — dit alles het ‘n effek gehad en baie het besluit om saam met die koning om vergifnis te soek. DVvPEk 311.1
Josía het nou voorgestel dat diegene in die hoogste gesagsposisies, saam met die volk ‘n plegtige gelofte voor God aflê om saam te werk om die voorgenome veranderings aan te bring. “En die koning het op die verhoog gaan staan en die verbond voor die aangesig van die HERE gesluit om die HERE te volg en Sy gebooie en Sy getuienisse en Sy insettinge met die hele hart en met die hele siel te onderhou, om die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te bevestig.” Die reaksie was meer opreg as waarvoor die koning gehoop het, want, “Die hele volk het toegetree tot die verbond.” (Vers 3) DVvPEk 311.2
In die hervorming wat daarop gevolg het, het die koning sy aandag aan die vernietiging van elke oorblyfsel van afgodery geskenk. Die inwoners van die land het vir so lank die gewoontes van die omliggende nasies nagevolg, deur hulle voor die beelde van hout en klip neer te buig, dat dit amper buite die mag van die mens was om alle spore van hierdie euwels te verwyder. Maar Josía het in sy pogings om die land te reinig volhard. Hy het streng teen afgodery opgetree deur “...al die priesters van die hoogtes wat daar was... “ “...diedodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkía in die huis van die HERE gekry het.” (Verse 20,24) DVvPEk 311.3
Eeue tevore, tydens die verdeling van die koninkryk, toe Jerobeam die seun van Nebat, met vermetele uittarting teenoor die God wat Israel gedien het, probeer het om die harte van die volk van die tempel in Jerusalem weg te lei na nuwe vorme van aanbidding, het hy ‘n onheilige altaar in Bet-El opgerig. Tydens die toewyding van hierdie altaar, waar baie in die komende jare tot afgodiese praktyke verlei is, het daar skielik ‘n man van God uit Juda opgedaag met woorde van veroordeling oor hierdie onheilige verrigtinge. Hy het “...uitgeroep teen die altaar ... en gesê: DVvPEk 312.1
“Altaar, altaar, so spreek die HERE: Kyk, ‘n seun sal gebore word vir die huis van Dawid met die naam van Josia en hy sal op jou slag die priesters van die hoogtes wat op jou offerrook laat opgaan en op jou sal mensbene verbrand word.” (1 Kon 13:2) Hierdie aankondiging het gepaard gegaan met ‘n teken wat aangedui het dat die woord wat gespreek was van die HERE was. DVvPEk 312.2
Drie eeue het verbygegaan. Gedurende die hervorming wat deur Josia teweeggebring is, het die koning homself in Bet-El bevind waar hierdie antieke altaar gestaan het. Die profesie wat soveel jare tevore uitgespreek is, sou nou letterlik vervul word. DVvPEk 312.3
“En ook die altaar wat in Bet-el was, die hoogte wat Jeróbeam, die seun van Nebat, gebou het, wat Israel laat sondig het, ook daardie altaar en die hoogte het hy afgebreek en die hoogte verbrand; hy het dit tot stof vermaal en die heilige boomstam verbrand.” DVvPEk 312.4
“En toe Josia hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die HERE wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het.” DVvPEk 312.5
“Toe sê hy: Wat is dit vir ‘n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat teen die altaar van Bet-el gedoen het. Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaria gekom het, met rus gelaat.” (2 Kon 23:15-18) DVvPEk 312.6
Teen die suidelike hange van die Olyfberg, oorkant die pragtige tempel van Jehova op die Berg Moria, was die heiligdomme en beelde wat Salomo daar geplaas het om sy afgodiese vroue te behaag. (Sien 1 Konings 11:6-8) Vir meer as drie eeue het hierdie groot, misvormde beelde op die “Berg van Aanstoot” gestaan as stom getuies van die afvalligheid van Israel se wysste koning. Hulle is ook deur Josia verwyder en vernietig. DVvPEk 313.1
Die koning het verder gepoog om die geloof van Juda in die God van hulle vaders te vestig deur ‘n groot Pasgafees te hou, in ooreenstemming met die bepalings in die wetboek. Voorbereiding is deur diegene wat in beheer van die heilige dienste was, getref en op die groot dag van die fees is daar vrylik offers gebring. “Want soos hierdie Pasga is daar nie een gehou van die dae van die Rigters af wat Israel gerig het en gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie.” (2 Kon 23:22). Maar die ywer van Josia, alhoewel vir God aanvaarbaar, kon nie versoening vir die sondes van die vorige geslagte doen nie; ook kon die vroomheid wat deur die koning se volgelinge getoon is, nie die harte van baie mense wat hardnekkig geweier het om van afgodery weg te draai na die aanbidding van die ware God, verander nie. DVvPEk 313.2
Josia het vir meer as ‘n dekade na die viering van die Pasga, nog regeer. Op die ouderdom van nege-en-dertig het hy sy dood in ‘n stryd met die magte van Egipte tegemoet gegaan “...en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josia gerou het. En Jeremia het ‘n klaaglied op Josia gedig en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josia gespreek tot vandag toe en dit tot ‘n insetting in Israel gemaak; en kyk, dit is beskrywe in die Klaagliedere.” (2 Kron 35:24,25) Voor Josía “...was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie. Nogtans het die HERE Hom nie afgewend van sy groot toorngloed ... oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie.” (2 Kon 23:25,26) Die tyd het vinnig nader gekom dat Jerusalem heeltemal vernietig sou word en die inwoners van die land as bannelinge na Babilon weggevoer sou word; om daar die lesse te leer wat hulle onder gunstiger omstandighede geweier het om te leer. DVvPEk 313.3