Die Verhaal Van Profete en Konings

38/69

Hoofstuk 32—Manasse en Josía

Die koninkryk van Juda, wat voorspoedig gedurende die bewind van Hiskia was, is weereens laag afgebring tydens die lang jare van die goddelose regering van Manasse, toe heidenisme herleef het en baie van die mense in afgodery gelei is. “Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.” (2 Kron 33:9) Die glorieryke lig van die vorige geslagte is opgevolg deur die duisternis van bygeloof en dwaling. Gruwelike euwels het plaasgevind en gefloreer — tirannie, verdrukking, haat vir alles wat goed is. Geregtigheid is verdraai; geweld het geheers. DVvPEk 295.1

Tog was daardie bose tye nie sonder getuies vir God en die reg nie. Die moeilike ervarings waardeur Juda veilig gedurende Hiskia se bewind gegaan het, het in baie harte ‘n standvastige karakter ontwikkel wat nou gedien het as ‘n skans teen die heersende ongeregtigheid. Hulle getuienis vir waarheid en geregtigheid het die toorn van Manasse en sy medewerkers, wat gepoog het om hulself in goddeloosheid te vestig deur elke stem van teregwysing stil te maak, ontketen. “Manasse het ook vreeslik baie onskuldige bloed vergiet totdat hy Jerusalem van end tot end daarmee gevul het.” (2 Kon 21:16) DVvPEk 295.2

Een van die eerstes wat geval het, was Jesaja, wat meer as ‘n halwe eeu voor Juda gestaan het as die aangestelde boodskapper van Jehova. “Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — die wêreld was hulle nie werd nie — hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.” (Heb 11:36-38) DVvPEk 295.3

Aan sommige van diegene wat tydens die regering van Manasse onder vervolging gely het, is opdrag gegee om spesiale boodskappe van teregwysing en oordeel oor te dra. Die profete het verklaar dat die koning van Juda het “...hierdie gruwels gedoen ... erger as ... [die] wat voor hom was.” As gevolg van hierdie boosheid, het sy koninkryk ‘n krisis genader; spoedig sou die inwoners van die land na Babilon weggevoer word, “...sodat hulle vir al hul vyande ‘n buit en ‘n plundering sal word.” (2 Kon 21:11,14) Maar die HERE sou diegene wat Hom as hul Heerser in ‘n vreemde land erken, nie heeltemal versaak nie; hulle sou groot verdrukking ervaar, maar tog sou Hy op Sy bepaalde tyd en wyse, verlossing bring. Diegene wat hul vertroue volkome in Hom sou plaas, sou ‘n seker toevlug vind. DVvPEk 296.1

Die profete het getrou voortgegaan met waarskuwings en vermanings; vreesloos het hulle Manasse en sy mense aangespreek; maar die boodskappe is verag; afvallige Juda sou nie gehoor gee nie. As ‘n ernstige waarskuwing van wat die volk sou tref indien hulle onboetvaardig voortgaan, het die HERE toegelaat dat hul koning deur ‘n bende Assiriese soldate gevange geneem word, “...dié het Manasse met hake gevang en hom met koper kettings geboei en hom na Babel vervoer.” Hierdie beproewing het die koning tot sy sinne gebring en “...in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is.” (2 Kron 33:11-13) Maar hierdie berou, opvallend soos dit was, het te laat gekom om sy koninkryk van die verdorwenheid van jare se afgodiese praktyke te red. Baie het gestruikel en geval om nooit weer op te staan nie. DVvPEk 296.2

Onder diegene wie se lewenservaring deur die noodlottige afvalligheid van Manasse onomkeerbaar gevorm was, was sy eie seun, wat op twee-en-twintigjarige ouderdom die troon bestyg het. Van Koning Amon staan geskrywe: “Hy het geheel en al gewandel in die weg wat sy vader bewandel het en die drekgode gedien wat sy vader gedien het ... En hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat.” (2 Kron 21:21,22) “Hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van die HERE soos sy vader Manasse hom verootmoedig het nie; maar hy, Amon, het die skuld vermeerder.” Die bose koning was nie vir lank toegelaat om te regeer nie. Te midde van sy uitdagende goddeloosheid, na slegs twee jaar op die troon, is hy deur sy eie dienaars in die paleis, om die lewe gebring. “Die volk van die land het sy seun Josía in sy plek koning gemaak.” (2 Kron 33:23,25) DVvPEk 296.3

Met die toetreding van Josía tot die troon, waar hy een-en- dertig jaar sou regeer, het diegene wat die reinheid van hul geloof gehandhaaf het, gehoop dat die afwaartse neiging van die koninkryk gestuit sou word; want die nuwe koning, hoewel hy slegs agt jaar oud was, het God gevrees en uit die staanspoor “...gedoen wat reg was in die oë van die HERE en geheel en al in die weg van sy vader Dawid gewandel en nie regs of links afgewyk nie.” (2 Kon 22:2) ‘n Nakomeling van ‘n bose koning, met versoekings om in sy vader se voetstappe te volg en met weinig raadsmanne om hom in die regte rigting aan te moedig, was Josía nietemin getrou aan die God van Israel. Gewaarsku deur die foute van die vorige geslagte, het Josía verkies om reg te doen, in stede daarvan om te daal tot die lae vlak van sonde en agteruitgang waarin sy vader en oupa verval het. Hy het “...nie regs of links afgewyk nie.” Soos iemand wat ‘n vertrouensposisie sou inneem, het hy hom voorgeneem om die opdrag vir leiding wat aan Israel se heersers gegee is, te gehoorsaam en sy gehoorsaamheid het dit vir God moontlik gemaak om hom as ‘n werktuig tot Sy eer te gebruik. DVvPEk 297.1

Met die aanvang van Josía se bewind en vir baie jare voor dit, het die opregtes van hart in Juda, bevraagteken of God se beloftes aan antieke Israel ooit tot vervulling sou kom. Vanuit ‘n menslike oogpunt gesien, het die verwesenliking van die Goddelike doel vir die uitverkore volk byna onmoontlik geblyk te wees. Die afvalligheid van vorige eeue het met die verbygaande jare sterk toegeneem; tien van die stamme was reeds onder die heidene versprei; slegs die stamme van Juda en Benjamin het oorgebly en selfs hierdie stamme het nou op die rand van morele en nasionale verval gehuiwer. Die profete het begin om die vernietiging van hul mooi stad, waar die tempel wat deur Salomo gebou was gestaan het en waarop al hul aardse hoop vir nasionale grootheid gesentreer was, te voorspel. Kon dit wees dat God op die punt gestaan het om van Sy beloofde doel, om bevryding aan diegene wat op Hom vertrou te bring, weg te draai? Sou diegene wat aan God getrou gebly het, in die lig van die langdurige vervolging van die regverdiges en die skynbare voorspoed van die goddeloses, kon hoop op beter dae? DVvPEk 297.2

Hierdie angstige vrae is deur die profeet Habakuk geopper. Toe hy die situasie van die getroues van sy dag in oënskou neem, het hy die las van sy hart soos volg uitgedruk: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie. Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn” (Hab 1:2-4) DVvPEk 298.1

God het die oproep van Sy lojale kinders beantwoord. Deur Sy gekose mondstuk het Hy Sy beslissing om kastyding oor die nasie te bring wat van Hom weggedraai het om die gode van die heidene te dien, geopenbaar. Binne die leeftyd van sommiges wat selfs toe al navraag oor die toekoms gedoen het, sou Hy die sake van die heersende nasies op aarde op ‘n wonderbaarlike wyse vorm en die Babiloniërs die heerskappy laat voer. Die Chaldeërs, “...vreeslik en gedug... ” sou die land van Juda skielik binneval, soos ‘n Goddelik-aangestelde teistering. (Vers 7) Die vorste van Juda en die room van die volk sou na Babel gevange geneem word; die Judese stede en dorpe en bewerkte lande sou verwoes word; niks sou gespaar word nie. DVvPEk 298.2

Met vertroue dat selfs in hierdie oordeel, die doel van God vir Sy volk steeds op een of ander wyse vervul sou word, het Habakkuk nederig neergebuig en homself aan die geopenbaarde wil van Jehova onderwerp. “Is U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige?” het hy uitgeroep. En toe, met sy geloof wat verby die onheilspellende vooruitsig van die onmiddellike toekoms gestrek het en wat vasgehou het aan die liefde wat God teenoor sy vertrouende kinders openbaar, het die profeet bygevoeg: “Ons sal nie sterwe nie.” (Vers 12) Met hierdie geloofsverklaring het hy sy saak en dié van elke gelowige Israeliet in God se deernisvolle hande toevertrou. DVvPEk 299.1

Hierdie was nie Habakuk se enigste ondervinding in die uitoefening van ‘n sterk geloof nie. By een geleentheid, terwyl hy oor die toekoms gepeins het, het hy gesê: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek.” In genade het die HERE hom geantwoord: “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe .” (Hab 2:1-4) DVvPEk 299.2

Die geloof wat Habakuk en al die heiliges en regverdiges gedurende daardie dae van diepe beproewing versterk het, is dieselfde geloof wat God se volk vandag onderhou. In die donkerste ure, in die uiterste omstandighede, kan die Christen- gelowige steun op die Bron van alle lig en krag. Dag na dag, deur geloof in God, kan hoop en moed vernuwe word. “Die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” In diens van God hoef daar geen moedeloosheid, aarseling, of vrees te wees nie. Die HERE sal meer as voldoen aan die hoogste verwagtinge van diegene wat op Hom vertrou. Hy sal aan hulle die wysheid wat hulle vir hul verskillende behoeftes benodig, skenk. DVvPEk 299.3

Die apostel Paulus lewer welsprekende getuienis van die oorvloedige voorsiening wat vir elke soekende siel gemaak is. Die Goddelike versekering is aan hom gegee: “My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.” (2 Kor 12:9,10) DVvPEk 300.1

Ons moet die geloof waarvan die profete en die apostels getuig het, kweek en koester, geloof wat aan die beloftes van God vashou en wag vir verlossing op die tyd en wyse wat Hy bepaal het. Die seker woord van profesie sal finale vervulling in die heerlike koms van ons HERE en Verlosser, Jesus Christus, as Koning van die konings en HERE van die here vind. Die wagtydperk mag dalk lank blyk te wees; die siel mag bedruk word deur ontmoedigende omstandighede; baie in wie vertroue geplaas is, mag die pad byster raak; maar ons kan, saam met die profeet wat gepoog het om Juda in ‘n tyd van ongeëwenaarde afvalligheid te bemoedig, met vertroue verklaar: “Die HERE is in Sy heilige tempel — swyg voor Hom, o ganse aarde!” (Hab 2:20). Laat ons die bemoedigende boodskap onthou: “Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie ... Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” (Verse 3, 4) DVvPEk 300.2

“HERE, roep u werk in die lewe in die midde van die jare;
In die midde van die jare laat dit bekend word.
In toorn, dink aan ontferming.

God kom van Teman
En die Heilige van die berg Paran. Sy majesteit bedek die hemel,
En die aarde is vol van Sy lof.
En glans soos sonlig is daar,
Ligstrale aan Sy sy;
En dáár is die omhulsel van Sy krag.
Voor Hom uit loop die pes,
En ‘n koorsgloed trek uit agter Hom aan.
Hy tree op en laat die aarde wankel,
Hy kyk en laat nasies opskrik;
Verpletterd lê die ewige berge,
En neergesink die ou, ou heuwels
Paaie van die ou tyd vir Hom.

U trek uit tot redding van u volk,
Tot redding van u Gesalfde.

Alhoewel die vyeboom nie sal bloei
>En aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie,
Die drag van die olyfboom sal teleurstel
En die saailande geen voedsel oplewer nie,
Die kleinvee uit die kraal verdwyn
En geen beeste in die stalle sal wees nie
Nogtans sal ek jubel in die HERE,
Ek sal juig in die God van my heil.
Die HERE HERE is my sterkte.”
DVvPEk 300.3

(Habakuk 3:2-6,13,17-19)

Habakuk was nie die enigste wat ‘n boodskap van blye hoop en ‘n toekomstige oorwinning, sowel as die huidige oordeel ontvang het nie. Gedurende die regering van Josia, het die woord van die HERE tot Sefanja gekom, wat die gevolge van voortgesette afvalligheid duidelik uiteengesit het en die aandag van die kerk op die heerlike vooruitsig wat daarop volg, gevestig het. Sy profesieë oor die naderende oordeel oor Juda, is met net soveel krag van toepassing op die oordele wat ‘n onboetvaardige wêreld sal oorval met die wederkoms van Christus: DVvPEk 301.1

“Naby is die groot dag van die HERE,
Naby en baie haastig.
Hoor! die dag van die HERE!
Bitterlik skreeu die held daar.

Dié dag is ‘n dag van grimmigheid,
'n Dag van benoudheid en angs,
'n Dag van woestheid en verwoesting,
'n Dag van duisternis en donkerheid,

'n Dag van wolke en wolkenag,
'n Dag van basuingeklank en krygsgeskreeu
Teen die versterkte stede
En teen die hoë hoekvestings.
DVvPEk 302.1

(Sefanja 1:14-16)

“En Ek sal die mense in benoudheid bring en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof... Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van Sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ‘n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.” (Verse 17,18) DVvPEk 302.2

“Kom tot julleself, ja, kom tot inkeer,
O nasie wat nie skaam word nie!
Voordat die besluit baar
Soos kaf gaan die dag verby
Voordat daar oor julle kom die toorngloed van die
HERE,
Voordat oor julle kom die dag van die toorn van die
HERE.

Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land,
Wat sy ordening onderhou;
Soek geregtigheid,
Soek ootmoedigheid Miskien sal julle verborge bly
Op die dag van die toorn van die HERE.”
DVvPEk 302.3

(Sefanja 2:1-3)

“Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot ‘n lof en tot ‘n roem wie se skande oor die hele aarde was. In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot ‘n roem en tot ‘n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE” (Sefanja 3:19, 20) DVvPEk 303.1

“Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel!
Verheug jou en jubel van ganser harte,
O dogter van Jerusalem!
Die HERE het jou oordele opgehef,
Jou vyand weggeveeg;
Die koning van Israel,
Die HERE is by jou,
Jy sal geen kwaad meer vrees nie.

In dié dag sal aan Jerusalem gesê word:
Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie!
Die HERE jou God is by jou,
'n Held wat verlossing skenk.
Hy verheug Hom oor jou met blydskap;
Hy swyg in Sy liefde;
Hy juig oor jou met gejubel.
DVvPEk 303.2

(Verse 14-17)