Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 30—Bevryding Uit Die Hand Van Assirië
Ten tye van ernstige nasionale gevaar, toe die leërskare van Assirië die land van Juda binnegedring het en dit wou voorkom asof niks Jerusalem van volkome vernietiging sou kon red nie, het Hiskia die magte van sy koninkryk byeengebring om hul heidense teëstanders met onwrikbare moed te weerstaan en om op die krag van Jehova om hulle te verlos, te vertrou. “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie...” het Hiskia sy manne vermaan, “...want by ons is meer as by hom. By hom is ‘n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer!” (2 Kron 32:7,8) DVvPEk 270.1
Dit was nie sonder rede dat Hiskia met soveel sekerheid oor die uitslag kon praat nie. Die grootpraterige Assiriër, alhoewel hy ‘n tyd lank deur God as ‘n roede van Sy toorn vir die straf van die nasies gebruik is, sou nie altyd seëvier nie. (Sien Jesaja 10:5). “Wees nie bevrees vir Assur [nie]...” was die HERE se boodskap ‘n paar jaar tevore deur Jesaja aan diegene wat in Sion gewoon het, “...want nog ‘n baie kort rukkie, ... dan [sal] die HERE van die leërskare ... oor hom die gésel swaai soos Midian verslaan is by die rots Oreb; en Sy staf sal wees oor die see en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte. En in dié dag sal Sy las afgly van jou skouer en Sy juk van jou nek en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.” (Jes 10:24-27) DVvPEk 270.2
In ‘n ander profetiese boodskap wat “...in die sterfjaar van koning Agas...” aan die profeet gegee is, het die profeet verklaar: “Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand: om Assur te verbreek in My land en op My berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk. Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies; want die HERE van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En Sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer? (Jes 14:28,24-27) DVvPEk 270.3
Die mag van die verdrukker moes verbreek word. Hiskia het steeds, in die vroeëre jare van sy bewind, ‘n heffing aan Assirië betaal, in ooreenstemming met ‘n ooreenkoms wat hy met Agas aangegaan het. Intussen het die koning “...raad gehou met sy owerstes en sy helde...” en alles moontlik gedoen vir die verdediging van sy koninkryk. Hy het gesorg vir ‘n oorvloedige watertoevoer binne die mure van Jerusalem, terwyl daar buite die stad ‘n skaarste was. “En hy het moed geskep en die hele muur opgetrek wat afgebreek was en daar torings op gebou, ook die ander muur buitekant het hy gebou; en hy het Millo in die stad van Dawid versterk en werpspiese en skilde in menigte laat maak. En hy het krygsowerstes oor die manskappe aangestel.” (2 Kron 32:3,5,6) Niks wat ter voorbereiding van die beleg gedoen kon word was ongedaan gelaat nie. DVvPEk 271.1
Ten tye van die toetrede van Hiskia tot die troon van Juda, het die Assiriërs reeds ‘n groot aantal van die kinders van die Israeliete uit die noordelike koninkryk gevange geneem; ‘n paar jaar na die aanvang van sy bewind, terwyl hy nog besig was om die verdediging van Jerusalem op te bou, het die Assiriërs Samaria beleër en gevange geneem en die tien stamme onder die vele provinsies van die Assiriese gebied versprei. Die grense van Juda was slegs enkele kilometers daarvandaan, met Jerusalem minder as tagtig kilometer verder; en die ryk buit in die tempel was vir die vyand ‘n versoeking om terug te keer. DVvPEk 271.2
Maar die koning van Juda het vas besluit om sy deel te doen, ter voorbereiding om die vyand te weerstaan; en nadat hy alles gedoen het wat menslike vindingrykheid en energie kon vermag, het hy sy magte versamel en hulle vermaan om goeie moed aan die dag te lê. “Die Heilige van Israel is groot in julle midde...” was die boodskap van die profeet Jesaja aan Juda; en die koning, met onwankelbare geloof, het verklaar: “By ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer!” (Jes 12:6;2 Kron 32:8) DVvPEk 271.3
Niks inspireer geloof meer as die uitoefening daarvan nie. Die koning van Juda het hom vir die komende storm voorberei; en nou, vol vertroue dat die profesie teen die Assiriërs vervul sou word, het sy siel op God gesteun. “En die manskappe het gesteun op die woorde van ...” (2Kron 32:8) Maar wat as die leërs van die Assiriërs, vars van die verowering oor die grootste nasies op aarde en triomferend oor Samaria in Israel, nou hulle magte teen Juda draai? Wat as hulle sou spog: “Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaria, sou ek nie, soos ek aan Samaria en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?” (Jes 10:10,11) Juda het niks gehad om te vrees nie, want hulle vertroue was op Jehova. DVvPEk 272.1
Die langverwagte krisis het uiteindelik aangebreek. Die onoorwonne magte van Assirië, wat oorwinning op oorwinning behaal het, het in Juda opgedaag. Seker van ‘n oorwinning, het die leiers hulle leërs in twee verdeel, waarvan een die Egiptiese leër in die suide sou ontmoet, terwyl die ander Jerusalem sou beleër. DVvPEk 272.2
Juda se enigste hoop was nou in God. Alle moontlike hulp van Egipte is afgesny en geen ander nasie was byderhand om ‘n helpende hand te verleen nie. DVvPEk 272.3
Die Assiriese offisiere, verseker van die krag van hul gedissiplineerde magte, het gereël vir ‘n ontmoeting met die hoofmanne van Juda, waartydens hulle onregmatiglik die oorgawe van die stad geëis het. Hierdie eis het gepaardgegaan met godslasterlike uitlatings teen die God van die Hebreërs. As gevolg van die swakheid en die afvalligheid van Israel en Juda, is die naam van God nie meer onder die nasies gevrees nie, maar het dit ‘n onderwerp van voortdurende smaad geword. (Sien Jesaja 52:5) DVvPEk 272.4
“Sê tog vir Hiskía...” het die rabsake, een van Sanherib se hoofoffisiere, gesê “...so spreek die groot koning, die koning van Assirië! Wat is dit vir ‘n vertroue wat jy koester? Dink jy dat net lippetaal raad en dapperheid vir die oorlog is? Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?” (2 Kon 18:19,20) DVvPEk 273.1
Die offisiere het buite die poorte van die stad beraadslaag, maar binne hoorafstand van die wagte op die muur; en terwyl die verteenwoordigers van die Assiriese koning luidkeels aangedring het op hul voorstelle aan die hoofmanne van Juda, is hulle versoek om eerder die Siriese taal in stede van die Joodse taal te praat, sodat diegene op die muur nie kennis sou dra van die verrigtinge van die vergadering nie. Die rabsake het egter hierdie versoek verontagsaam, sy stem verhef en voortgegaan in die Joodse taal: DVvPEk 273.2
“Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie. En Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red; hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.” DVvPEk 273.3
“Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put, totdat ek kom en julle meeneem na ‘n land soos julle land, ‘n land van koring en mos, ‘n land van brood en wingerde.” DVvPEk 273.4
“Laat Hiskía julle nie verlei nie deur te sê: Die HERE sal ons red! Het die gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het hulle miskien Samaria gered uit my hand? Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?” (Jes 36:13-20) DVvPEk 273.5
Op hierdie uitdagings het die kinders van Israel nie ‘n woord geuiter nie. Die vergadering is beëindig. “Toe het Éljakim, die seun van Hilkia, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskia gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.” (Jes 36:22) Toe die koning leer van godslasterlike uitdagings, het “...hy sy klere geskeur en hom met ‘n roukleed bedek en in die huis van die HERE gegaan.” (2 Kon 19:1) DVvPEk 274.1
'n Boodskapper is na Jesaja gestuur om hom aangaande die uitkoms van die vergadering in te lig. “En hulle sê vir hom: So sê Hiskia: Vandag is ‘n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie. Miskien sal die HERE u God al die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad en sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan ‘n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.” (Verse 3,4) DVvPEk 274.2
“Maar toe [het] koning en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep.” (2 Kron 32:20) DVvPEk 274.3
God het sy diensknegte se gebede beantwoord. Aan Jesaja is die volgende boodskap vir gegee: “So moet julle jul heer antwoord: So spreek die HERE: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie. Kyk, Ek sal ‘n gees in hom gee, dat hy ‘n gerug hoor en na sy land terugtrek en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.” (2 Kon 19:6,7) DVvPEk 274.4
Nadat die Assiriese verteenwoordigers die hoofmanne van Juda verlaat het, het hulle direk met hul koning, wat by die leër was wat teen die opmars van die Egiptiese magte gewaak het, gekommunikeer. Toe Sanherib die verslag aanhoor, het hy “...'n brief geskrywe om die HERE, die God van Israel, te smaad en teen Hom te spreek deur te sê: Soos die gode van die nasies van die lande wat hulle volk uit my hand nie gered het nie, so sal die God van sy volk uit my hand nie red nie.” (2 Kron 32:17) DVvPEk 274.5
Hierdie arrogante dreigement het gepaardgegaan met die volgende boodskap: “Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie. Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref en sou u gered word? Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was? Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?” (2 Kon 19:10¬13) DVvPEk 275.1
Toe die koning van Juda hierdie uittartende brief ontvang, het hy dit na die tempel geneem en “...dit voor die aangesig van die HERE uitgesprei...” en vol geloof het hy om hemelse hulp gebid sodat die nasies van die aarde kon weet dat die God van die Hebreërs nog leef en regeer. (Vers 14) Die eer van Jehova was op die spel; Hy alleen kon bevryding bring. DVvPEk 275.2
“HERE, God van Israel, wat op die gérubs troon...” het Hiskia gepleit, “... U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak! o HERE, neig U oor en luister. Open U oë, HERE en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad! Waarlik, HERE, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip; daarom kon hulle dit vernietig. Verlos ons dan nou tog uit sy hand, HERE onse God, dat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, HERE, alleen God is.” (2 Kon 19:15-19) DVvPEk 275.3
“O Herder van Israel, hoor tog;
U wat Josef soos skape lei, Wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!
Wek U mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse,
En kom ons te hulp!
O God, herstel ons,
En laat U aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
O HERE, God van die leërskare,
Hoe lank nog rook U toorn by die gebed van u volk?
U het hulle tranebrood laat eet,
Hulle oorvloedig trane laat drink.
U het ons ‘n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure,
En ons vyande drywe die spot.
O God van die leërskare, herstel ons,
En laat U aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
'n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte;
U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.
U het voor hom plek gemaak en hy het wortels geskiet
en die land vervul.
Die berge was oordek met sy skaduwee,
En met sy ranke die seders van God.
Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see
En sy lote na die Rivier toe.
Waarom het U sy mure stukkend gebreek,
Sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaal pluk?
Die wildevark uit die bos eet hom op,
En wat roer op die veld, wei hom af.
O God van die leërskare, kom tog terug;
Aanskou uit die hemel en kyk en gee ag op hierdie
wingerdstok;
En wees ‘n beskerming vir wat U regterhand geplant
het,
En oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het...
Hou ons in die lewe, dan sal ons U Naam aanroep.
o HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat U aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!”
DVvPEk 275.4
(Psalm 80)
Hiskia se pleidooi namens Juda en die eer van hul Opperheerser, was in harmonie met die wil van God. Salomo in sy toewydingsgebed tydens die inwyding van die tempel, het gebid dat “...Hy reg kan verskaf aan Sy kneg en aan Sy volk Israel na die eis van elke dag; sodat al die volke van die aarde kan weet dat die HERE God is, niemand meer nie.” (1 Kon 8:59,60) Die HERE het veral Sy guns teenoor die hoofmanne van Israel betoon, wanneer hulle, in tye van oorlog of onderdrukking deur ‘n leër, in die huis van gebed vir bevryding gepleit het. (Sien verse 33,34) DVvPEk 277.1
Hiskia is nie sonder hoop gelaat nie. Jesaja het na hom gestuur en gesê: “So spreek die HERE, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het insake Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor. Dit is die woord wat die HERE oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.” DVvPEk 277.2
“Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel! Deur jou boodskappers het jy die HERE gesmaad en gesê: Met die menigte van my waens het ék die hoogte van die berge opgeklim, die uithoeke van die Libanon en ek het sy statige seders, die keur van sy sipresse, omgekap en deurgedring tot in sy diepste skuilhoeke, sy bos wat is soos ‘n tuin. Ék het gegrawe en vreemde waters gedrink en met my voetsole laat ek al die Nylstrome van Egipte opdroog.” DVvPEk 277.3
“Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit gereedgemaak, van die dae van die voortyd af beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede kon verwoes tot puinhope.” DVvPEk 277.4
“En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras op die dakke en brandkoring voordat dit are skiet.” DVvPEk 277.5
“Maar Ek ken jou sit en jou uitgaan en jou ingaan en hoe jy teen My raas. Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.” (2 Kon 19:20-28) DVvPEk 278.1
Die land Juda is deur die besettingsleër woes gelaat, maar God het belowe om wonderbaarlik in die behoeftes van Sy volk te voorsien. Die volgende boodskap het tot Hiskia gekom: “En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes en plant wingerde en eet die vrugte daarvan. Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe. Want uit Jerusalem sal ‘n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” DVvPEk 278.2
“Daarom, so sê die HERE aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opgooi nie. Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die HERE. En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid.” (Verse 29-34) DVvPEk 278.3
Dieselfde nag het bevryding gekom. “Die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd vyf en tagtig duisend verslaan.” “Al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië [was]verdelg.” (2 Kron 32:21) DVvPEk 278.4
Tyding van hierdie verskriklike oordeel oor die leër wat gestuur is om Jerusalem in te neem, het Sánherib spoedig bereik, waar hy steeds gewaak het teen ‘n opmars van Egipte na Juda. Vreesbevange het die koning van Assirië haastig vertrek “...en met ‘n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan.” (Vers 21). Maar hy sou nie vir lank meer regeer nie. In harmonie met die profesie wat oor sy skielike einde uitgespreek is, is hy deur sy eie mense vermoor “...en sy seun Esar-Haddon het koning geword in sy plek.” (Jes 37:38) DVvPEk 278.5
Die God van die Hebreërs het oor die trotse Assiriërs geseëvier. Die eer van Jehova is in die oë van die omliggende nasies hervestig. In Jerusalem is die harte van die volk met heilige vreugde gevul. Hul ernstige pleidooie vir verlossing het met beleidenis van sonde en baie trane gepaard gegaan. In hul groot behoefte het hulle volkome op die krag van God om te red vertrou en Hy het hulle nie in die steek gelaat nie. Nou het die tempelhowe met lofsang weergalm. DVvPEk 279.1
“God is bekend in Juda,
Sy Naam is groot in Israel.
Ook het in Salem Sy tent verrys
En in Sion Sy woning.
Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek,
Skild en swaard en oorlog.
Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap
gesluimer,
En geeneen van die dapper manne het hulle hande
gevind nie.
Deur U dreiging, o God van Jakob,
Het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
U, vreeslik is U,
En wie kan voor U aangesig bestaan as U toorn
uitgebreek het?
Uit die hemel het U ‘n oordeel laat hoor;
Die aarde het gevrees en stil geword, Toe God opgestaan het vir die gerig,
Om al die ootmoediges van die land te verlos.
Want die grimmigheid van die mens moet U loof;
Met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God!
Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan
die Vreeslike,
Wat die trots van die vorste wegsny,
Vreeslik is vir die konings van die aarde.
DVvPEk 279.2
(Psalm 76)
Die opkoms en val van die Assiriese Ryk is vandag ryk aan lesse vir die nasies van die aarde. Inspirasie het die glorie van Assirië op die hoogtepunt van voorspoed vergelyk met ‘n edele boom in die tuin van God wat bo die omliggende bome uittroon. DVvPEk 280.1
“Kyk, Assur was ‘n seder op die Líbanon, skoon van takke en ‘n skaduryke bos en hoog van groei; en sy top was tussen die wolke ... En allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit. En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was. Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie ... Sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.” (Eseg 31:3-9) DVvPEk 280.2
Maar die heersers van Assirië het, in plaas van hul buitengewone seëninge tot voordeel van die mensdom te gebruik, eerder die teistering van baie lande geword. Genadeloos, sonder ‘n gedagte aan God of hul medemens, het hulle die vaste beleid gevolg om alle nasies te dwing om die oppermag van die gode van Nineve, wat hulle bo die Allerhoogste verhef het, te erken. God het Jona na hulle gestuur met ‘n boodskap van waarskuwing en hulle het hulself ‘n tyd lank voor die HERE van die leërskare verootmoedig en om vergifnis gesmeek. Maar kort voor lank het hulle weer na afgodedienste en die verowering van die wêreld teruggekeer. DVvPEk 280.3
Die profeet Nahum het in sy veroordeling oor die boosdoeners in Nineve uitgeroep: DVvPEk 281.1
“Wee die bloedstad
Wat louter bedrog, vol geweld is,
Terwyl rowery nie ophou nie!
Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele!
En perde wat jaag en waens wat stamp!
Ruiters op ‘n galop en geglinster van swaarde
En geblits van spiese!
En ‘n menigte wat verslaan is
Kyk, Ek het dit teen jou,
Spreek die HERE van die leërskare.”
DVvPEk 281.2
(Nahum 3:1-5)
Met onfeilbare akkuraatheid hou die Oneindige tred met die nasies. Terwyl Hy barmhartigheid toon, met oproepe tot berou, bly hierdie rekening oop; maar wanneer die syfers ‘n sekere perk wat God bepaal het bereik, begin die bediening van toorn. DVvPEk 281.3
Die rekening word afgesluit. Goddelike genade word gestaak. Genade pleit nie meer namens hulle nie. DVvPEk 281.4
“Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm en wolke is die stof van Sy voete. Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg en die groenigheid van die Libanon verwelk. Die berge bewe voor Hom en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor Sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon. Wie sal standhou voor Sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van Sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur en die rotse word stukkend geruk voor Hom.” (Nahum 1:3-6) DVvPEk 281.5
So was Nineve, “...die uitgelate stad wat so veilig gewoon het, wat in sy hart gesê het: Dit is ek en niemand anders nie! DVvPEk 281.6
Hoe het dit ‘n verwoesting geword?” “Leegheid, ontlediging, vernieling...” “...die lêplek van die leeus, wat die voedingsplek was van die jong leeus? Waar die leeu, die leeuin, die klein leeutjie rondgeloop het sonder dat iemand hulle skrikmaak?” (Sef 2:15; Nahum 2:10,11) DVvPEk 282.1
Met ‘n vooruitskouing na die tyd wanneer die trots van Assirië tot ‘n val gebring sou word, het Sefanja oor Nineve geprofeteer: “En binne-in die stad sal troppe vee lê en allerhande gediertes by troppe, die pelikaan sowel as die krimpvarkie op sy kapitele vernag; hoor! daar word gesing in die venster; verwoesting sit op die drumpel, want hulle het die sederwerk afgeruk.” (Sef 2:14) DVvPEk 282.2
Groot was die glorie van die Assiriese Ryk; en groot was die val daarvan. Die profeet Esegiël, wat die beeld van ‘n edele sederboom verder uitgedra het, het die val van Assirië, vanweë hulle trots en wreedheid, duidelik voorspel. Hy het verklaar: DVvPEk 282.3
“So het die Here HERE gesê: ... hy [het] sy top tussen die wolke verhef ... en hoogmoedig geword het oor sy hoogte, sal Ek hom oorgee in die hand van die magtige onder die nasies; dié sal sekerlik met hom handel; vanweë sy goddeloosheid het Ek hom uitgedrywe. Vreemdes, die geweldigste nasies, het hom afgekap en hom neergewerp; op die berge en in al die dale het sy takke geval en sy takkies is stukkend gebreek in al die klowe van die land; en al die volke van die aarde het uit sy skaduwee weggegaan en hom so laat lê. Al die voëls van die hemel het gaan sit op sy omgevalle stam en al die wilde diere van die veld was op sy takkies; sodat al die bome wat by water staan, nie hoog sou groei [nie].” DVvPEk 282.4
“So sê die Here HERE: Op die dag toe hy na die doderyk neergedaal het, het Ek laat treur: ... en al die bome van die veld het gesmag om sy ontwil. Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe. (Eseg 31:15,16) DVvPEk 282.5
Die trots van Assirië en die val daarvan moet as ‘n objekles dien tot aan die einde van tyd. Van die nasies op aarde wat vandag in hoogmoed en trots teen God in opstand kom, vra God: “Na wie lyk jy so in heerlikheid en grootheid onder die bome van Eden? En tog sal jy neergewerp word saam met die bome van Eden na die onderste van die aarde.” (Vers 18) DVvPEk 283.1
“Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid en Hy ken die wat by Hom skuil. Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan... ” almal wat poog om hulleself bo die Allerhoogste te verhef. (Nahum 1:7,8) DVvPEk 283.2
“Die trotsheid van Assírië [sal] neergewerp word en die septer van Egipteland wyk” (Sag 10:11) Dit geld nie slegs vir die nasies wat hulself in die antieke tyd teen God opgeruk het nie, maar ook vir die nasies van vandag wat nie daarna strewe om die Goddelike doel te bereik nie. Op die dag van finale afrekening, wanneer die regverdige Regter van die hele aarde sal kom “...om die nasies te sif...” (Jes 30:28) en diegene wat die waarheid bewaar het, toegelaat word om die Stad van God binne te gaan, sal die gewelf van die hemel weergalm met die triomfantlike liedere van die verlostes. “Die lied sal by julle wees...” verklaar die profeet, “...soos in die nag as die fees gevier word en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die HERE, na die Steenrots van Israel. En die HERE sal Sy stem vol majesteit laat hoor ... Want vir die stem van die HERE sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die HERE op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek.” (Verse 29-32) DVvPEk 283.3