Die Verhaal Van Profete en Konings

34/69

Hoofstuk 29—Die Ambassadeurs Uit Babilon

Te midde van sy voorspoedige regering, is Koning Hiskia skielik met ‘n dodelike siekte getref. “Dodelik siek... ” was sy toestand, buite die mag van menslike hulp. En die laaste sweem van hoop het verdwyn toe die profeet Jesaja met die volgende boodskap voor hom verskyn het: “So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.” (Jes 38:1) DVvPEk 262.1

Die vooruitsigte het donker gelyk; tog kon die koning steeds tot die Een bid wat tot nog toe sy “...toevlug en sterkte [was]; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” (Ps 46:1). Daarom het hy “...sy gesig na die muur [gedraai] en hy het gebid tot die HERE en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor U aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in U oë. En Hiskia het bitterlik geween.” (2 Kon 20:2,3) DVvPEk 262.2

Sedert die dae van Dawid was daar geen koning wat in ‘n tyd van afvalligheid en ontmoediging, so kragtig gewerk het vir die opbou van die koninkryk van God soos Hiskia nie. Die sterwende monarg het sy God getrou gedien en het die volk se vertroue in Jehova as Opperheerser versterk. En soos Dawid kon hy nou pleit: DVvPEk 262.3

“Laat my gebed voor U aangesig kom,
Neig U oor tot my smeking.
Want my siel is sat van teëspoede,
En my lewe raak aan die doderyk.”
DVvPEk 262.4

(Psalm 88:2,3).

Want U is my verwagting, Here HERE,
My vertroue van my jeug af.
Op U het ek gesteun.”
“Verlaat my nie as my krag gedaan is nie.”
“O God, wees nie ver van my af nie;
DVvPEk 262.5

My God, maak tog gou om my te help!”
“O God, verlaat my nie,
Totdat ek aan die volgende geslag U arm verkondig,
aan almal wat sal kom, U mag.”
DVvPEk 263.1

(Psalm 71:5,6,9,12,18)

Hy wie se “...barmhartighede geen ... einde” het nie, het die gebed van Sy kneg verhoor. (Klaagl 3:22) “En Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Draai om en sê vir Hiskia, die vors van my volk: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die HERE. En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad beskut ter wille van My en my kneg Dawid.” (2 Kon 20:4-6) DVvPEk 263.2

Met blydskap het die profeet met die woorde van versekering en hoop teruggekeer. Met die opdrag dat ‘n vyekoek op die geaffekteerde plek geplaas word, het Jesaja die boodskap van God se genade en beskermende sorg aan die koning oorgedra. DVvPEk 263.3

Soos Moses in die land van Midian, soos Gideon in die teenwoordigheid van die hemelse boodskapper, soos Elisa net voor die Hemelvaart van sy meester, het Hiskia gepleit vir ‘n teken wat bevestig dat die boodskap vanuit die hemel afkomstig is. “Hiskia het vir Jesaja gevra: Wat is die teken dat die HERE my gesond sal maak en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die HERE?” DVvPEk 263.4

“En Jesaja antwoord: Dit sal vir jou die teken van die kant van die HERE wees dat die HERE die woord sal volbring wat Hy gespreek het: Moet die skaduwee tien grade vooruit gaan, of moet dit tien grade agteruit gaan?” DVvPEk 263.5

“Toe sê : Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade te daal; nee, maar laat die skaduwee teruggaan, tien grade agteruit.” DVvPEk 264.1

Slegs deur die direkte ingryping van God kon die skaduwee op die sonwyser tien grade terugbeweeg; en dit was die teken aan Hiskia dat die HERE sy gebed verhoor het. “Die profeet, het die HERE aangeroep en Hy het die skaduwee op die grade waarlangs dit op die grade van Agas se sonnewyser gedaal het, laat teruggaan, tien grade agteruit.” (Verse 8-11) DVvPEk 264.2

Sy gewone krag herstel, het die koning van Juda Jehova se genade met ‘n loflied erken en plegtig gesweer om die res van sy jare in gewillige diens aan die Koning van konings te wy. Sy dankbare erkenning van God se deernisvolle optrede teenoor hom is ‘n inspirasie vir almal wat graag hul jare tot eer van hul Maker wil bestee. DVvPEk 264.3

“Ek het gesê:
In die bloei van my dae
Moet ek heengaan in die poorte van die doderyk;
Ek word beroof van my orige jare.

Ek het gesê:
My woning is opgebreek,
En van my af weggevoer soos ‘n herderstent;
Ek het my lewe opgerol soos ‘n wewer sy weefsel;
Hy sny my van die wewersbalk af.

Van dag tot nag gee U my prys.
bring ek myself tot bedaring tot die môre —
Soos ‘n leeu só verbreek Hy al my beendere;

Van dag tot nag gee U my prys.
Soos ‘n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep;
Ek het gekir soos ‘n duif;
My oë het dof gekyk na bo:
HERE, ek is benoud, wees U my Borg! Wat sal ek spreek?
Aangesien Hy my dit beloof het,
En Hy self dit gedoen het:
Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die
bitterheid van my siel.

HERE, by hierdie dinge leef ‘n mens,
En geheel en al is daarin die lewe van my gees:
Laat my dan gesond word en laat my lewe!

Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword;
Maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging.
Want U het al my sondes agter U rug gewerp.

Want die doderyk sal U nie loof nie,
Die dood U nie prys nie;
Die wat in die kuil neerdaal, sal op U trou nie hoop nie.

Die lewende, die lewende, dié sal U loof,
Soos ek vandag;
Die vader maak aan die kinders U trou bekend.

Die HERE staan gereed om my te verlos;
Daarom sal ons op my snaarinstrumente speel
Al die dae van ons lewe, by die huis van die HERE.”
DVvPEk 264.4

(Jesaja 38:10-20).

In die vrugbare valleie van die Tigris- en die Eufraat-riviere het ‘n antieke ras gewoon wat, hoewel hulle op daardie stadium aan die Assiriërs onderworpe was, bestem was om die wêreld te regeer. Onder hierdie mense was daar wyse manne wat baie aandag aan die studie van sterrekunde bestee het; en toe hulle agterkom dat die skaduwee op die sonwyser tien grade teruggedraai het, was hulle baie verwonderd. Hulle koning, Merodachbaladan, het van hierdie wonderwerk, as ‘n teken vir die koning van Juda dat die God van die hemel hom ‘n nuwe kans op die lewe verleen het, verneem en het ambassadeurs na Hiskia gestuur om hom geluk te wens met sy herstel en, indien moontlik, meer van hierdie God wat so ‘n wonderwerk kon verrig, te leer. DVvPEk 265.1

Die besoek van hierdie boodskappers van ‘n heerser uit ‘n vêrafgeleë land, het aan Hiskia die geleentheid gebied om die lewende God te verhoog. Hoe maklik sou dit vir hom gewees het om hulle van die lewende God te vertel, die Onderhouer van alle geskape dinge, deur Wie se guns sy eie lewe gespaar is toe alle hoop verpletter was! Watter wonderbaarlike transformasies sou kon plaasvind indien hierdie soekers na die waarheid, uit die vlaktes van Chaldea, gelei kon word om die oppermag van die lewende God te erken! DVvPEk 266.1

Maar trots en ydelheid het van Hiskia se hart besit geneem en in selfverheffing het hy die skatte, waarmee God sy volk verryk het, aan begerige oë blootgelê. Die koning het “...hulle sy skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy hele wapenhuis en alles wat te vinde was in sy skatkamers; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskia hulle nie laat sien het nie.” (Jes 39:2) Hy het dit gedoen, nie om God te verheerlik nie, maar om homself in die oë van die besoekende vorste te verhef. Hy het nie stilgestaan en daaraan gedink dat hierdie manne verteenwoordigers van ‘n magtige koninkryk was, wat nie die vrees en liefde van God in hulle hart gehad het nie en dat dit dwaas van hom was om hulle, ten opsigte van die aardse rykdom van die nasie, in sy vertroue te neem. DVvPEk 266.2

Die besoek van die ambassadeurs aan Hiskia was ‘n toets vir sy dankbaarheid en toewyding. Die rekord lui: “So ook in die geval van die gesante van die vorste van Babel — wat na hom gestuur het om ondersoek te doen na die wonderteken wat in die land gebeur het — het God hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was.” (2 Kron 32:31) Indien Hiskia van die geleentheid, wat hy gegun was om van die mag, die goedheid en die ontferming van die God van Israel te getuig gebruik gemaak het, sou die verslag van die ambassadeurs soos ‘n lig wat deur die duisternis priem, gewees het. Maar hy het homself bo die HERE van die leërskare verhef. “Maar het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword.” (Vers 25) DVvPEk 266.3

Hoe rampspoedig was die resultate wat sou volg! Aan Jesaja is onthul dat die terugkerende ambassadeurs ‘n verslag aangaande die rykdom wat hulle gesien het, saam met hulle geneem het en beplan het om hul eie land met die skatte van Jerusalem te verryk. Hiskia het grootliks gesondig “...daarom was daar ‘n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem.” (Vers 25) DVvPEk 267.1

“Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskia antwoord: Uit ‘n ver land het hulle na my gekom, uit Babel. En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskia antwoord: Hulle het alles gesien wat in my huis is; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.” DVvPEk 267.2

“Toe sê Jesaja vir Hiskia: Hoor die woord van die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel. Toe sê Hiskia vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed.” (Jes 39:3-8) DVvPEk 267.3

Gevul met berou, het “...hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van nie.” (2 Kron 32:26) Maar die bose saad is gesaai en sou mettertyd ‘n oes van verlatenheid en weë oplewer. Gedurende sy oorblywende jare, sou die koning van Juda groot voorspoed ervaar, vanweë sy standvastige doel om die foute van die verlede te herstel en die naam van die God wat hy gedien het, te vereer; tog moes sy geloof baie beproef word en hy moes leer dat slegs deur sy volle vertroue in Jehova te plaas, hy kon hoop om oor die magte van die duisternis, wat sy ondergang, asook die totale vernietiging van sy volk probeer bewerkstellig, te seëvier. DVvPEk 267.4

Die verhaal van Hiskia se mislukking om trou tydens die besoek van die ambassadeurs te bewys, is ‘n belangrike les vir almal. Veel meer as tans, moet ons van die kosbare hoofstukke van ons ervaring, van die genade en liefdevolle goedheid van God, van die onpeilbare dieptes van ons Verlosser se liefde, getuig. As verstand en hart met die liefde van God gevul is, sal dit nie moeilik wees om dit wat in die geestelike lewe ervaar word, te deel nie. Grootse gedagtes, edele aspirasies, duidelike opvattings van waarheid, onselfsugtige doelwitte, ‘n hunkering na vroomheid en heiligheid, sal uitdrukking vind in woorde wat die karakter van die skatte van die hart openbaar. DVvPEk 268.1

Diegene met wie ons daagliks omgaan het ons hulp en ons leiding nodig. Hulle verkeer miskien in ‘n gemoedstoestand wanneer die regte woord op die regte tyd, soos ‘n spyker op die regte plek mag wees. môre mag sommige van hierdie siele op ‘n plek wees waar ons hulle nooit weer kan bereik nie. Wat is ons invloed oor hierdie medereisigers? DVvPEk 268.2

Elke dag van die lewe is gevul met verantwoordelikhede wat ons moet dra. Ons woorde en dade maak elke dag ‘n indruk op diegene met wie ons verkeer. Hoe groot is die behoefte dus dat ons ‘n wag voor ons mond plaas en versigtig oor ons voetstappe waak. Een roekelose beweging, een onbesonne stap en die aanstormende golf van een of ander sterk versoeking kan ‘n siel afwaarts wegvoer. Ons kan nie die gedagtes wat ons in ander mense se gedagtes geplant het, onttrek nie. Indien hulle boos was, mag ons dalk ‘n gety van boosheid, wat ons magteloos is om te stuit, in werking gestel het. DVvPEk 268.3

Maar aan die ander kant, indien ons deur ons voorbeeld ander help om goeie beginsels te ontwikkel, bemagtig ons hulle om goed te doen. Op hul beurt kan hulle dieselfde voordelige invloed op ander uitoefen. Sodoende word honderde en duisende mense deur ons onbewuste invloed gehelp. Die ware volgeling van Christus het ‘n opbouende invloed op almal met wie hy in aanraking kom. So iemand toon aan die ongelowige, sonde-liefhebbende wêreld die krag van God se genade en die volmaaktheid van Sy karakter. DVvPEk 268.4