Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 31—Hoop vir die Heidene
Regdeur sy bediening het Jesaja eenvoudige getuienis oor God se doel vir die heidene gelewer. Ander profete het melding van die Goddelike plan gemaak, maar hul uitsprake was nie altyd verstaanbaar nie. Aan Jesaja is gegee om baie duidelik aan Juda te stel, dat mense wat nie na die vlees afstammelinge van Abraham was nie, ook onder die Israel van God getel sou word. Hierdie lering was nie in ooreenstemming met die teologie van sy dag nie, maar nogtans het hy die boodskappe, deur God aan hom gegee, vreesloos verkondig en hoop aan baie harte wat gesmag het na die geestelike seëninge wat aan die nageslag van Abraham belowe is, gebring. DVvPEk 284.1
Die apostel vir die Heidene, het in sy brief aan die gelowiges in Rome, die aandag op hierdie kenmerk van die leer van Jesaja gevestig. “En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.” (Rom 10:20) DVvPEk 284.2
Dikwels wou dit voorkom asof die Israeliete onwillig of nie by magte was om God se doel vir die heidene te verstaan nie. Tog was dit juis vir hierdie doel waarom hulle as ‘n afsonderlike volk onder die nasies van die aarde gevestig is. Abraham, hulle vader, aan wie die verbondsbelofte aanvanklik gegee is, is uit sy familie weggeroep om na ander streke te gaan waar hy ‘n ligdraer onder die heidene kon wees. Alhoewel die belofte ‘n nageslag so talryk soos die sand van die see ingesluit het, sou hy nie vir enige selfsugtige doelwit die stigter van ‘n groot volk in Kanaän word nie. God se verbond met hom het al die nasies van die aarde omvou. “Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees...” het Jehova verklaar. “En Ek sal seën diegene wat jou seën en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:2,3). DVvPEk 284.3
Met die hernuwing van die verbond, kort voor die geboorte van Isak, is God se doel vir die mensdom weer duidelik gemaak. Die versekering aangaande die kind van die belofte was dat, “...al die nasies van die aarde in hom geseën sal word.” (Gen 18:18) En later het die hemelse besoeker weer verklaar: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” (Gen 22:18) DVvPEk 285.1
Die allesomvattende bepalings van hierdie verbond, was aan Abraham en aan sy kinders bekend. Dit was om die Israeliete tot seën vir die nasies te maak en dat God se naam “...op die hele aarde verkondig...” (Ex 9:16) sou word, dat hulle van Egiptiese slawerny verlos is. Indien hulle gehoorsaam aan Sy vereistes was, sou hulle ver bo ander mense in wysheid en begrip uitstyg; maar hierdie voorreg sou slegs bekom en gehandhaaf kon word, sodat die doel van God vir “...al die nasies op aarde...” deur hulle vervul kon word. DVvPEk 285.2
Die wonderlike voorsienings wat aan Israel se bevryding vandie Egiptiese slawerny en hul besetting van die Beloofde land gekoppel was, het daartoe gelei dat baie van die heidene die God van Israel as die Opperheerser erken het. “Dan sal die Egiptenaars weet...” was die belofte, “...dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.” (Ex 7:5) Selfs die trotse Farao was genoodsaak om Jehova se mag te erken. “Gaan dien die HERE...” het hy by Moses en Aaron aangedring “...en seën my ook.” (Ex 12:31,32) DVvPEk 285.3
Die voortbewegende leërskare van Israel, het gevind dat kennis van die magtige werking van die God van die Hebreërs hulle vooruitgegaan het en dat sommige onder die heidene besef het dat Hy alleen die ware God is. In die goddelose Jerigo was die getuienis van ‘n heidense vrou: “Die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.” (Josua 2:11) Die kennis van Jehova waaroor sy beskik het, het tot haar redding gekom. “Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie.” (Heb 11:31) En haar bekering was nie ‘n geïsoleerde geval van God se genade teenoor afgodedienaars wat Sy Goddelike gesag erken het nie. Te midde van die land het ‘n hele aantal mense, onder andere die Gibeoniete, wat afstand van hul heidendom gedoen het en met Israel verenig het, gedeel in die seëninge van die verbond. DVvPEk 285.4
Geen onderskeid as gevolg van nasionaliteit, ras of klas word deur God erken nie. Hy is die Skepper van die ganse mensdom. Alle mense is deur die skepping een familie en almal is een deur verlossing. Christus het gekom om elke skeidsmuur af te breek en elke kompartement van die tempelhowe oop te stel, sodat elke siel vrye toegang tot God kan hê. Sy liefde is so wyd, so diep, so vol, dat dit oral binnedring. Dit lig Satan se invloed oor diegene wat deur sy misleidings bedrieg is uit en plaas hulle binne die bereik van God se troon, die troon wat deur die reënboog van belofte omring is. In Christus is daar nóg Jood, nóg Griek, slaaf of vry man. DVvPEk 286.1
In die jare wat op die besetting van die Beloofde Land gevolg het, is die welwillende planne van Jehova tot redding van die heidene byna uit die oog verloor en dit het vir Hom nodig geword om Sy plan opnuut uiteen te sit. “Al die eindes van die aarde...” was die psalmis geïnspireer om te sing, “...sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer en al die geslagte van die nasies sal voor U aangesig aanbid.” “Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.” “Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde U heerlikheid.” “Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof; omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het, om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood; sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en Sy lof in Jerusalem, as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien.” (Ps 22:28;68:32;102:16,19-23) DVvPEk 286.2
Indien Israel getrou aan hulle verbond was, sou al die nasies 371 van die aarde in hul seëninge gedeel het. Maar die harte van hulle aan wie die reddende waarheid toevertrou is, was onaangeraak deur die behoeftes van diegene rondom hulle. Soos wat God se doel uit die oog verloor is, is die heidene beskou as buite bereik van Sy genade. Die lig van waarheid is weerhou en duisternis het oorheers. Die nasies is met ‘n sluier van onkunde oordek; die liefde van God was amper onbekend; dwaling en bygeloof het gefloreer. DVvPEk 287.1
Dít was die vooruitsig wat Jesaja begroet het toe hy tot die profetiese sending geroep is; tog was hy nie moedeloos nie, want die triomfantlike refrein van engele wat die troon van God omring, het in sy ore gelui: “Die hele aarde is van Sy heerlikheid vol!” (Jes 6:3) En sy geloof is versterk deur visioene van heerlike verowerings deur die kerk van God wanneer “...die aarde [vol sal] wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes 11:9) “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.” (Jes 25:7) Die Gees van God sou op alle vlees uitgestort word. Diegene wat honger en dors na geregtigheid, sou onder die Israel van God getel word. “Hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope...” het die profeet gesê. “Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE en hom met die erenaam Israel noem.” (Jes 44:4,5) DVvPEk 287.2
Aan die profeet is ‘n openbaring van die weldadige plan van God in die verspreiding van die onboetvaardige Juda onder die nasies van die aarde gegee: “Daarom sal My volk My Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek...” het die HERE verklaar (Jes 52:6) En nie alleen moes hulle die les van gehoorsaamheid en vertroue leer nie; in hulle ballingskap moes hulle ook aan ander ‘n kennis aangaande die lewende God oordra. Baie van die kinders van die vreemdelinge moes leer om Hom as hul Skepper en hul Verlosser lief te kry; hulle sou begin om Sy heilige Sabbatdag as ‘n gedenkteken van Sy skeppende krag te onderhou; en wanneer “...die HERE sy heilige arm ontbloot het voor die oë van al die nasies...” om sy volk uit gevangenskap te bevry, sou “...al die eindes van die aarde ... sien die heil van onse God.” (vers 10) Baie van hierdie bekeerlinge uit die heidendom, sou begeer om ten volle by die Israeliete in te skakel en sou hulle op die terugreis na Judea vergesel. Geeneen sou sê: “Die HERE sal my gewis afskei van Sy volk nie...” (Jes 56:3) want die woord van God deur Sy profeet, aan diegene wat hulself aan Hom oorgee en Sy wet nakom, was dat hulle voortaan onder die geestelike Israel, Sy kerk op aarde, moes tel. DVvPEk 287.3
“En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke. Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.” (Verse 6-8) DVvPEk 288.1
Die profeet was toegelaat om deur die eeue heen vooruit te kyk na die tyd van die koms van die beloofde Messias. Aanvanklik het hy slegs “...benoudheid en duisternis [gesien]! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe.” (Jes 8:22) Baie mense wat na die lig van die waarheid verlang het, is deur valse leraars in die verwarrende doolhowe van filosofie en spiritisme mislei; andere het hul vertroue in vormgodsdiens geplaas, maar het nie ware heiligheid in die lewenspraktyk ingebring nie. Die vooruitsigte het hopeloos gelyk; maar kort voor lank het die toneel verander en voor die oë van die profeet het ‘n wonderbaarlike gesig oopgegaan. Hy het gesien hoe die Son van Geregtigheid met genesing in sy vleuels opkom; en in vervoering het hy uitgeroep: “Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: In die eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring en in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene. Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” (Jes 9:1,2) DVvPEk 288.2
Hierdie glorieryke Lig van die wêreld sou verlossing na elke nasie, geslag, taal en volk bring. Aangaande die werk voor Hom, het die profeet die ewige Vader hoor verklaar: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n Lig van die nasies, om My heil te wees tot aan die einde van die aarde.” “In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe; om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn!” “Kyk, hulle hiér kom van ver en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.” (Jes 49:8,9,12) DVvPEk 289.1
Deur nog verder deur die eeue heen te kyk, het die profeet die letterlike vervulling van hierdie heerlike belofte gesien. Hy het die draers van die blye boodskap van verlossing na die uithoeke van die aarde, na elke stam en nasie, sien uitgaan. Hy het gehoor hoe die HERE van die evangeliese kerk sê: “Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ‘n rivier en die rykdom van die nasies soos ‘n oorlopende stroom.” En hy het die opdrag gehoor: “Maak die plek van jou tent wyd en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek en jou nageslag sal nasies in besit neem.” (Jes 66:12;54:2,3) DVvPEk 289.2
Jehova het aan die profeet verklaar dat Hy sy getuies “...na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud ... na Tubal en Jawan, na die ver kuslande...” sou stuur. (Jes 66:19) DVvPEk 290.1
“Hoe lieflik is in die berge
Die voete van hom wat die goeie boodskap bring,
Wat vrede laat hoor,
Wat goeie tyding bring,
Wat verlossing uitroep;
Wat aan Sion sê: Jou God is Koning!”
DVvPEk 290.2
(Jesaja 52:7)
Die profeet het die stem van God gehoor wat Sy kerk na hul aangewese werk geroep het, sodat die weg vir die inleiding van Sy ewige koninkryk voorberei kon word. Die boodskap was onmiskenbaar duidelik: DVvPEk 290.3
Staan op, word verlig; want jou lig kom,
en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.
Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek
en donkerheid die volke;
maar oor jóú sal die HERE opgaan,
en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.
En nasies sal trek na jou lig,
en konings na jou stralende opgang.
Slaan jou oë rondom op en kyk —
hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe;
jou seuns kom van ver,
en jou dogters word op die heup gedra.”
En uitlanders sal jou mure bou,
en hulle konings sal jou dien;
want in My toorn het Ek jou geslaan,
maar in My welbehae het Ek My oor jou ontferm.
En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie,
om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies
en hulle konings in triomftog.
Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die
aarde!
Want Ek is God en daar is geen ander nie.
DVvPEk 290.4
(Jesaja 60:1- 4,10,11;45:22)
Hierdie profesieë van groot geestelike ontwaking in ‘n tyd van stikdonkerte, vind vandag vervulling in die groeiende reeks sendingstasies wat na die donker dele van die aarde uitreik. Die groepe sendelinge in heidenlande is deur die profeet met baniere vergelyk wat opgehef is om leiding aan diegene te gee wat op soek is na die lig van die waarheid. DVvPEk 291.1
“En in dié dag...” sê Jesaja, “...sal die nasies vra na die wortel van Isaï, wat daar staan as ‘n banier van die volke en sy rusplek sal heerlik wees. En in dié dag sal die HERE weer vir die tweede keer Sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van Sy volk los te koop ... en Hy sal ‘n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.” (Jes 11:10-12) DVvPEk 291.2
Die dag van verlossing is naby. “Want die HERE — Sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.” (2 Kron 16:9) Onder al die nasies, geslagte en tale, sien Hy manne en vroue wat bid vir lig en kennis. Hulle siele is onbevredig; te lank is hulle met as gevoed. (Sien Jesaja 44:20). Die vyand van alle geregtigheid het hulle eenkant toe geskuif en soos blindes het hulle rondgetas. Maar hulle was opreg van hart en het verlang om van ‘n beter weg te leer. Alhoewel hulle in die dieptes van die heidendom, sonder enige kennis van die geskrewe wet van God of Sy Seun Jesus verkeer het, het hulle op veelvuldige wyses die werking van Goddelike krag op die verstand en karakter geopenbaar. DVvPEk 291.3
Soms was diegene wat geen kennis van God gehad het nie, behalwe dit wat hulle onder die leiding van Goddelike genade ontvang het, baie goed vir Sy dienaars en het hulle hierdie dienaars, selfs ten koste van hul eie lewens, beskerm. Die Heilige Gees is besig om die genade van Christus in die harte van baie edele soekers na die waarheid in te plant, wat hul medelye, in stryd met hul geaardheid en opvoeding, opwek. “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld...” (Joh 1:9) en skyn in sy siel; en hierdie Lig, indien hy daarop ag slaan, sal sy voete na die koninkryk van God lei. Die profeet Miga sê: “Al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my ... Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.” (Miga 7:8,9) DVvPEk 292.1
Die hemel se verlossingsplan is wyd genoeg om die hele wêreld te omhels. God verlang om die asem van die lewe in die uitgeputte mensdom in te blaas. En Hy sal nie toelaat dat enige siel wat opreg verlang na iets hoër en edeler as wat die wêreld kan aanbied, teleurgestel word nie. Hy stuur Sy engele voortdurend na diegene wat, terwyl hulle deur die mees ontmoedigende omstandighede omring is, in geloof bid vir ‘n Mag hoër as hulself om van hulle besit te neem en bevryding en vrede te bewerkstellig. God sal Homself op verskeie maniere aan hulle openbaar en hulle in aanraking met voorsienighede bring, wat hulle vertroue in die Een wat Homself as losprys vir almal gegee het bevestig, sodat “...hulle [hul] vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar Sy gebooie kan bewaar.” (Ps 78:7) DVvPEk 292.2
“Sal van ‘n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van ‘n regverdige ontvlug? Waarlik, so sê die HERE: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word en die buit van die tiran sal ontvlug.” (Jes 49:24,25) “Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.” (Jes 42:17) DVvPEk 292.3
“Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God.” (Ps 146:5). “Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes!” (Sag 9:12). Aan al die opregtes van hart in heiden lande — “...die opregtes in die oë van die Hemel...” “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis.” (Ps 112:4) God het gespreek: “Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.” (Jes 42:16) DVvPEk 293.1