Die Verhaal Van Profete en Konings

33/69

Hoofstuk 28—Hiskia

Die hervorming wat tydens die voorspoedige regering van sy seun plaasgevind het, was in skrille kontras met die roekelose bewind van Agas. Hiskia het die troon bestyg, vasberade om alles in sy vermoë te doen om Juda te red van dieselfde noodlot wat besig was om oor die noordelike koninkryk te kom. Die boodskappe van bemoediging van die profete het nie net halwe gehoorsaamheid vereis nie. Alleenlik deur die mees besliste hervorming kon die dreigende oordele afgeweer word. DVvPEk 255.1

Hiskia was die aangewese man vir hierdie krisis. Pas nadat hy die troon bestyg het, het hy begin planne beraam en uitvoer. Hy het eers aandag aan die herstel van die tempeldienste wat so lank verwaarloos was geskenk; en in hierdie werk het hy die samewerking van ‘n groep priesters en Leviete, wat getrou aan hul heilige roeping gebly het, ingeroep. Met volle vertroue op hul lojale ondersteuning, het hy vrylik met hulle oor sy begeerte om onmiddellike en verreikende hervormings in te stel, gepraat: “Ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE onse God en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die HERE afgewend en dit die rug toegekeer.” “Nou is dit in my hart om ‘n verbond te sluit met die HERE, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word.” (2 Kron 29:6,10) DVvPEk 255.2

Met ‘n paar uitgesoekte woorde het die koning die situasie waarmee hulle te kampe gehad het, naamlik die tempel wat gesluit was en die beëindiging van alle dienste binne sy gebied; die flagrante afgodediens wat in die strate van die stad en in die hele koninkryk beoefen is; die afvalligheid van die menigtes wat moontlik aan God getrou sou gebly het as die leiers in Juda die regte voorbeeld gestel het; en die agteruitgang van die koninkryk en verlies van aansien in die oë van die omliggende nasies, in oënskou geneem. Die noordelike koninkryk was vinnig aan die verkrummel; baie het deur die swaard omgekom; menige is reeds in ballingskap weggevoer; Israel sou spoedig volkome in die hande van die Assiriërs val en totaal geruïneer word; en dieselfde lot sou sekerlik ook oor Juda kom, tensy God deur gekose verteenwoordigers, op ‘n magtige wyse sou werk. DVvPEk 255.3

Hiskia het ‘n direkte beroep op die priesters, om met hom te verenig om die nodige hervormings te bewerkstellig, gedoen. “Wees nou nie nalatig nie...” het hy hulle vermaan, “...want die HERE het julle verkies om voor Sy aangesig te staan, om Hom te dien en Sy dienaars te wees en offerrook te laat opgaan.” “Heilig julle nou en heilig die huis van die HERE, die God van julle vaders.” (Verse 11,5) DVvPEk 256.1

Dit was ‘n tyd vir haastige optrede. Die priesters het onmiddellik begin. Met die samewerking van ander wat saam met hulle getel is, wat nie tydens hierdie konferensie teenwoordig was nie, het hulle hartlik saam aan die reiniging en heiliging van die tempel gewerk. As gevolg van die jare van ontheiliging en verwaarlosing, was daar baie probleme; maar die priesters en die Leviete het onvermoeid gearbei en binne ‘n merkwaardige kort tyd kon hulle verslag lewer dat die taak voltooi is. Die deure van die tempel is herstel en oopgestel; die heilige voorwerpe is versamel en op hulle plek geplaas; en alles was in gereedheid vir die herinstelling van die dienste in die heiligdom. DVvPEk 256.2

Met die eerste diens wat gehou is, het die owerstes van die stad met koning Hiskia, die priesters en die Leviete verenig om vergifnis vir die sondes van die volk te soek. Op die altaar is sondoffers gebring “...om versoening te doen vir die hele Israel.” “Toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.” In die tempelhowe het die klank van lofprysing en aanbidding weerklink. Die liedere van Dawid en Asaf is met vreugde gesing, terwyl die aanbidders besef het dat hulle van die slawerny van sonde en afvalligheid verlos is. “En en die hele volk was bly oor wat God vir die volk berei het; want dit het gou gegaan.” (Verse 24,29,36) DVvPEk 256.3

God het inderdaad die harte van die hoofmanne van Juda voorberei om uit te lei in ‘n doelgerigte hervormingsbeweging, sodat die gety van afvalligheid gestuit kon word. Deur Sy profete het Hy boodskap na boodskap van ernstige vermaning na Sy uitverkore volk gestuur - boodskappe wat deur die tien stamme van die koninkryk van Israel verag en verwerp is en nou in die hande van die vyand oorgegee is. Maar in Juda het daar ‘n goeie oorblyfsel oorgebly en die profete het volgehou om by hulle aan te dring. Hoor wat Jesaja gesê het: “Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het.” En hoor hoe Miga met vertroue verklaar: “Maar ek sal uitsien na die HERE , ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor. Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my. Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.” (Miga 7:7-9) DVvPEk 257.1

Hierdie en ander soortgelyke boodskappe wat die bereidwilligheid van God getoon het om diegene wat met ‘n opregte hart na Hom draai te vergewe, het gedurende die jare van duisternis, toe die tempel-deure gesluit was, hoop aan baie wankelmoedige siele gebring. En nou, soos die leiers met die hervorming begin het, was menige mense, wat moeg vir die verslawing van sonde was, gereed om te reageer. DVvPEk 257.2

Diegene wat die tempelhowe binnegekom het om vergifnis te soek en hul geloftes aan Jehova te hernu, het wonderlike bemoediging in die profetiese gedeeltes van die Skrif gevind. Die plegtige waarskuwings teen afgodediens, wat ten aanhore van die hele Israel deur Moses geuiter is, het gepaard gegaan met profesieë oor die bereidwilligheid van God om gehoor te gee en vergifnis te skenk aan diegene wat, in tye van afvalligheid, Hom met hulle hele hart soek. “As jy ... na die HERE jou God terugkeer en na Sy stem luister...” het Moses hulle meegedeel, “...sal [Hy] jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.” (Deut 4:30,31) DVvPEk 257.3

En in die profetiese gebed tydens die inwyding van die tempel en die dienste wat tans deur Hiskia en sy medewerkers heringestel is, het Salomo gebid: “As U volk Israel verslaan word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het en hulle hul tot U bekeer en U Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van U volk Israel vergewe.” (1 Kon 8:33,34) Die stempel van Goddelike goedkeuring is op hierdie gebed geplaas; want na afloop van hierdie gebed, het vuur uit die hemel neergedaal om die brandoffer en offergawes te verteer en die heerlikheid van die HERE het die tempel gevul. (Sien 2 Kronieke 7:1) En in die nag het die HERE aan Salomo verskyn om hom mee te deel dat sy gebed verhoor is en dat genade betoon sou word aan diegene wat daar sou aanbid. Die genadige versekering is gegee: “[As] My volk, oor wie My Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:14) DVvPEk 258.1

Hierdie beloftes is met oorvloedige vervulling tydens Hiskia se hervorming begroet. DVvPEk 258.2

Die goeie begin ten tye van die reiniging van die tempel, is opgevolg met ‘n nog groter beweging waaraan Israel sowel as Juda deelgeneem het. In sy ywer om die tempeldienste ‘n ware seën vir die volk te maak, het Hiskia besluit om die Israeliete byeen te bring om die eertydse gebruik van die Pasga te laat herleef. DVvPEk 258.3

Die Pasga was jare lank nie meer as ‘n nasionale fees gevier nie. Die verdeling van die koninkryk ná Salomo se bewind, het die viering daarvan onprakties gemaak. Maar die ontsettende oordele wat oor die tien stamme gekom het, het in sommige harte ‘n begeerte na beter dinge aangewakker en die roerende boodskappe van die profete was effektief. Die koninklike boodskappers het die uitnodiging na die Pasga in Jerusalem wyd en ver aangekondig. Hulle het “...van stad tot stad die land Efraim en Manasse deur[ge]gaan tot by Sébulon.” Die draers van die welwillende uitnodiging was oor die algemeen verwerp. Die onboetvaardiges het ligsinnig weggedraai; tog was daar sommiges wat gretig was om ‘n beter kennis van die wil van God op te doen. Hulle “...het hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom.” (2 Kron 30:10,11) DVvPEk 258.4

In die land van Juda was die reaksie baie algemeen, want “...die hand van God [was] in Juda, sodat Hy hulle ‘n eensgesinde hart gegee het om die gebod van die koning en van die owerstes volgens die woord van die HERE uit te voer...” — ‘n bevel in ooreenstemming met die wil van God, soos deur sy profete geopenbaar. (Vers 22,21) DVvPEk 259.1

Hierdie geleentheid was een van die grootste om die versamelde menigtes te bevoordeel. Die ontheiligde strate van die stad is van die afgodiese heiligdomme, wat gedurende die bewind van Agas opgerig is, gereinig. Op die vasgestelde dag is die Pasga gehou en die week is deur die volk met die aanbied van vredesoffers deurgebring en om te leer wat God se wil vir hulle was. Die Leviete het daagliks “...deeglike kennis geopenbaar in die saak van die HERE...” en diegene wat hul hart voorberei het om God te vind, het vergifnis gevind. ‘n Groot vreugde het oor die aanbiddende menigte gekom; “...terwyl die Leviete en die priesters die HERE dag vir dag geprys het met kragtige instrumente.” (Vers 21). Almal was verenig in hul begeerte om Hom, wat so genadig en barmhartig was, te vereer. (Vers 12). DVvPEk 259.2

Die sewe dae wat gewoonlik aan die Pasga gewy was, het te vinnig verloop en die aanbidders het besluit om nog sewe dae deur te bring om meer volledig van die weg van die HERE te leer. Die priesters wat onderrig gegee het, het voortgegaan om uit die wetboek te onderrig; en die mense het daagliks in die tempel bymekaargekom om lof en danksegging te betuig; en toe die groot byeenkoms ten einde loop, was dit duidelik dat God ‘n wonderwerk in die bekering van die afvallige Juda verrig het en die vlaag van afgodery, wat gedreig het om oor te neem, te stuit. Die plegtige waarskuwings van die profete was nie tevergeefs nie. “Daar was groot blydskap in Jerusalem; want sedert die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, het so iets in Jerusalem nie voorgekom nie.” (Vers 26) DVvPEk 259.3

Die tyd het aangebreek dat die aanbidders na hul wonings moes terugkeer. “Toe staan die Levitiese priesters op en seën die volk; en hulle stem is verhoor en hulle gebed het gekom tot in Sy heilige woning, tot in die hemel.” (Vers 27) God het diegene, wat met gebroke harte hul sondes bely en hulle doelgerig na Hom om vergifnis en hulp gewend het, aanvaar. DVvPEk 260.1

Daar het nou ‘n belangrike taak waaraan diegene wat na hul huise teruggekeer het aktief moes deelneem oorgebly en die vervulling van hierdie taak het getuig van die opregtheid van die hervorming. Die rekord lui: “En toe ... het al die aanwesige Israeliete na die stede van Juda uitgetrek en die klippilare verbrysel en die heilige boomstamme omgekap en die hoogtes en die altare uit die hele Juda en Benjamin en in Efraim en Manasse afgebreek totdat hulle dit vernietig het. Daarna het al die kinders van Israel teruggegaan, elkeen na sy besitting, na hulle stede toe” (2 Kron 31:1) DVvPEk 260.2

Hiskia en sy medewerkers het verskeie hervormings ingestel vir die opbou van die geestelike en tydelike belange van die koninkryk. “In die hele Juda..” het die koning “...gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die HERE sy God. En in elke werk wat hy begin het ... het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad.” “Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou ... hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en Sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het. En die HERE was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig.” (Verse 20,21;2 Kon 18:5-7) DVvPEk 260.3

Die regering van Hiskia is gekenmerk deur ‘n reeks merkwaardige voorsienings wat aan die omliggende nasies geopenbaar het dat die God van Israel met Sy volk was. Die sukses van die Assiriërs met die besetting van Samaria en die versplinterde oorblyfsel van die tien stamme onder die nasies gedurende die vroeëre deel van sy regering, het daartoe gelei dat baie mense die mag van die God van die Hebreërs bevraagteken het. Aangehits deur hulle suksesse, het die Nineviete lankal die boodskap van Jona tersyde gestel en uitdagend geword in hul teëkanting teen die doeleindes van die hemel. ‘n Paar jaar na die val van Samaria het die seëvierende leërs weer in Palestina opgedaag en hierdie keer, met ‘n mate van sukses, hul magte teen die versterkte stede van Juda gerig; maar hulle het vir ‘n tydperk onttrek, weens probleme wat in ander dele van hul ryk ontstaan het. Eers ‘n paar jaar later, teen die einde van Hiskia se bewind, sou dit voor die nasies van die wêreld bewys word of die gode van die heidene uiteindelik sou seëvier. DVvPEk 261.1