Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 27—Agas
Die toetreding van Agas tot die troon het Jesaja en sy medewerkers van aangesig tot aangesig gebring met toestande wat meer ontstellend was as enigiets wat tot dusver in die ryk van Juda bestaan het. Baie mense wat voorheen die verleidelike invloed van afgodediens weerstaan het, is nou oorreed om deel te neem aan die aanbidding van heidense afgode. Vorste in Israel was ontrou aan hul heilige verbond; valse profete het met boodskappe wat mislei het vorendag gekom; sommige van die priesters het selfs onderrig teen vergoeding aangebied. En die leiers van afvalligheid het steeds met ‘n vorm van Goddelike aanbidding volgehou en beweer dat hulle onder die volk van God gereken word. DVvPEk 248.1
Die profeet Miga, wat sy getuienis gedurende daardie onheilspellende tye gelewer het, het verklaar dat die sondaars in Sion, wat eis dat hulle “...steun ... op die HERE...” en godslasterlik gespog het: “Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie...” het steeds “...Sion [ge]bou met bloed en Jerusalem met onreg!” (Miga 3:11,10) Teen hierdie euwels het die Profeet Jesaja sy stem met streng teregwysing verhef: “Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE... As julle kom om voor My aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om My voorhowe te vertrap?” (Jes 1:10-12) DVvPEk 248.2
Inspirasie verklaar: “Die offer van die goddelose is ‘n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring.” (Spr 21:27) Die God van die hemel is “...te rein ... om die kwaad aan te sien en die onreg [te] aanskou.” (Hab 1:13) Dit is nie dat Hy onwillig is om te vergewe dat Hy van die oortreder wegdraai nie; dit is omdat die sondaar weier om van die ruim voorsiening van genade gebruik te maak, dat God die sondaar nie van sy sonde kan verlos nie. “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God en julle sondes het Sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.” (Jes 59:1, 2) DVvPEk 248.3
Salomo het geskryf: “Wee jou, o land, as jou koning ‘n kind is.” (Pred 10:16) So was dit met die land van Juda. Deur voortgesette oortreding het die heersers soos kinders geword. Jesaja het die volk se aandag op die verswakte posisie onder die nasies van die aarde gevestig en aan hulle getoon dat dit die gevolg van die goddeloosheid in hoë posisies was. “Want kyk, die Here HERE van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water, die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die oudste; die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder. En Ek sal seuns hulle vorste maak en moedswilliges sal oor hulle heers.” “Want Jerusalem het gestruikel en Juda het geval; want hulle tong en hulle dade is teen die HERE om Sy oë, vol heerlikheid te trotseer.” (Jes 3:1¬4,8) DVvPEk 249.1
“Jou leiers is verleiers...” het die profeet vervolg, “...en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ‘n dwaalweg gemaak.” (Vers 12). Gedurende die regering van Agas was dit letterlik waar; van hom is geskryf: “Maar hy het gewandel in die weë van die konings van Israel en selfs gegote beelde vir die Baals gemaak. Hy het self ook offerrook in die dal van die seun van Hinnom laat opgaan ... ja, hy het selfs sy seun deur die vuur laat deurgaan volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het.” (2 Kron 28:2,3;2 Kon 16:3) DVvPEk 249.2
Dit was inderdaad ‘n tyd van groot gevaar vir die uitverkore volk. Binne enkele jare sou die tien stamme van Israel onder die heidennasies versprei word. En in die koninkryk van Juda was die vooruitsigte ook donker. Die magte vir die goeie was vinnig aan die afneem en die magte van die bose het toegeneem. Die profeet Miga, wat die situasie aanskou het, was genoop om sê: “Die vrome het verdwyn uit die land en daar is geen opregte meer onder die mense nie.” “Die beste van hulle is soos ‘n doringstruik, die mees opregte erger as ‘n doringheining.” (Miga 7:2,4). “As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie...” het Jesaja beweer, “...soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.” (Jes 1:9) DVvPEk 249.3
God het in elke eeu, ter wille van diegene wat getrou gebly het, asook weens Sy oneindige liefde vir die dwalendes, die rebelle verduur en by hulle aangedring om hul bose weë te laat vaar en na Hom terug te keer. “Gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie...” het God, deur die mense wat Hy aangestel het, aan die oortreders die weg van geregtigheid geleer. (Jes 28:10) DVvPEk 250.1
En so was dit gedurende die regering van Agas. Uitnodiging op uitnodiging is aan die afvallige Israel gestuur om na hul trou aan Jehova terug te keer. Met deernisvolle pleidooie het die profete voor die volk gestaan, met ernstige vermanings tot bekering en hervorming; hulle woorde het vrug tot eer van God gedra. DVvPEk 250.2
Deur Miga het die wonderlike versoek gekom: “Hoor tog wat die HERE sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge en laat die heuwels na jou stem luister! Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die HERE het ‘n twis met sy volk en sal met Israel ‘n regsgeding hou.” DVvPEk 250.3
“My volk, wat het Ek jou aangedoen en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My! Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aaron en Mirjam.” DVvPEk 250.4
“My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het en wat gebeur het van Sittim af tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.” (Miga 6:1-5) DVvPEk 251.1
Die God wat ons dien, is lankmoedig: “Sy barmhartighede het geen einde nie.” (Klaagl 3:22) Regdeur die proeftydperk smeek Sy Gees die mens om die geskenk van die lewe aan te neem. “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe?” (Eseg 33:11) Dit is Satan se spesifieke oogmerk om die mens in sonde te lei en hom dan hulpeloos en hopeloos te laat, te bevrees om om vergifnis te vra. Maar God nooi: “Hulle moet My beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.” (Jes 27:5) In Christus is elke voorsiening gemaak, elke aanmoediging aangebied. DVvPEk 251.2
In die dae van afvalligheid in Juda en Israel, het baie gevra: “ Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaar- oud kalwers. Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie?” Die antwoord was duidelik en positief: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:6-8) DVvPEk 251.3
Deur die waarde van praktiese godsaligheid te bepleit, het die profeet slegs die raad wat eeue gelede aan Israel gegee is, herhaal. Toe hulle op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, was die woord van die HERE deur Moses: “En nou, DVvPEk 251.4
Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en Sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deut 10:12,13) Van geslag tot geslag is hierdie raad deur die diensknegte van Jehova aan diegene wat gevaar geloop het om in gewoontes van formalisme te verval en dié wat sou vergeet om genade te betoon, herhaal. Toe Christus Self, tydens Sy aardse bediening, deur die geregsdienaar genader is met die vraag: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?” het Jesus hom geantwoord: “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” (Matt 22:36-40) DVvPEk 251.5
Ons moet hierdie duidelike uitsprake van die profete en van die Meester Self, as die stem van God aanvaar. Ons moet geen geleentheid vir dade van barmhartigheid, of deernisvolle voorbedagtheid en Christelike bedagsaamheid teenoor belasdes en verdruktes, onbenut laat verbygaan nie. Al kan ons niks meer doen nie, kan ons ten minste woorde van bemoediging en hoop, tot diegene wat God nie ken nie en wat die maklikste met simpatie en liefde bereik kan word, uiter. DVvPEk 252.1
Ryk en oorvloedig is die beloftes wat aan diegene, wat op die uitkyk is vir geleenthede om vreugde en seën in die lewens van ander te bring, gemaak word: As jy “...jou siel laat uitgaan na die hongerige en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” (Jes 58:10,11) DVvPEk 252.2
Die weg van die afgodery van Agas, in die aangesig van die ernstige pleidooie van die profete, kon slegs een uiteinde tot gevolg hê: “Daarom het ‘n toorn van die HERE oor Juda en Jerusalem gekom en Hy het hulle ‘n skrikbeeld, ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak.” (2 Kron 29:8) Die koninkryk het spoedige agteruitgang ervaar en die algehele bestaan daarvan is deur invallende leërs in gevaar gestel. “Toe het Resin, die koning van Aram en Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem om te veg en hulle het Agas ingesluit; maar hulle kon nie veg nie.” (2 Kon 16:5) DVvPEk 252.3
Indien Agas en die hoofmanne van sy ryk ware diensknegte van die Allerhoogste was, sou hulle geen vrees vir die onnatuurlike alliansie wat teen hulle gesmee was gehad het nie. Maar herhaalde oortreding het hulle van krag beroof. Getref deur ‘n naamlose vrees vir die vergeldende oordele van ‘n beledigde God, het die hart van die koning “...en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.” (Jes 7:2). In hierdie krisis het die woord van die HERE tot Jesaja gekom en hom gebied om die bewende koning te ontmoet en te sê: DVvPEk 253.1
“Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word ... weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália; omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê: Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak. So sê die Here HERE: Dit sal nie tot stand kom nie en dit sal nie gebeur nie” ” As julle nie glo nie - voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!” (Verse 4-7,9) DVvPEk 253.2
Dit sou voordelig vir die koninkryk van Juda gewees het indien Agas hierdie boodskap as ‘n hemelse boodskap aanvaar het. Maar hy het verkies om op die arm van vlees te steun en het by die heidene om hulp aangeklop. Uit desperaatheid het hy die volgende boodskap na Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gestuur: “Ek is u dienaar en u seun; kom op en verlos my uit die hand van die koning van Aram en uit die hand van die koning van Israel wat teen my optree.” (2 Kon 16:7) Die versoek was vergesel van ‘n duur geskenk uit die koning se skatte en uit die tempel se voorraadstoor. DVvPEk 253.3
Die hulp wat aangevra was, is gestuur en Koning Agas het tydelike verligting ervaar, maar teen watter koste vir Juda! Die eerbetoon wat aangebied is, het die gierigheid van Assirië opgewek en spoedig het daardie verraderlike nasie gedreig om Juda oor te neem en te vernietig. Agas en sy ongelukkige onderdane is geteister met vrees vir ‘n algehele oorname deur die wrede Assiriërs. DVvPEk 254.1
“Want die HERE het Juda verneder...” vanweë sy volgehoue oortredings. “Selfs in die tyd toe hulle hom in benoudheid gebring het...” het Agas, in stede van berou te toon, “...het hy nog meer ontrou teen die HERE begaan ... hy het geoffer aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het; en hy het gedink: Die gode van die konings van Aram help hulle; ek sal aan húlle offer, dat hulle my kan help!” het hy gesê. (2 Kron 28:22,23) DVvPEk 254.2
Toe die afvallige koning die einde van sy bewind nader, het hy die deure van die tempel laat sluit. Die gewyde dienste is opgeskort. Die kandelare is nie meer brandend voor die altaar gehou nie. Daar is nie meer offers vir die sonde van die volk geoffer nie. Die soete geur van wierook het nie meer tydens die oggend- en aandoffers opgestyg nie. Met die tempelhowe verlate en die deure na die tempel gesluit, het die inwoners van die goddelose stad blatant altare vir aanbidding van heidense afgode op die straathoeke regdeur Jerusalem opgerig. Dit wou voorkom asof die heidendom geseëvier het; asof die magte van die duisternis die botoon gevoer het. DVvPEk 254.3
Maar in Juda was daar nog enkeles wat hul trou aan Jehova gehandhaaf het en wat standvastig geweier het om in afgodediens verlei te word. Jesaja, Miga en hul eweknieë het met hoop na diesulkes gekyk, terwyl hulle die skade wat gedurende Agas se laaste jare berokken is gadegeslaan het. Hul heiligdom was wel gesluit, maar die getroues is verseker: “God is met ons.” “Hom moet julle heilig en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees.” (Jes 8:10,13,14) DVvPEk 254.4