Die Verhaal Van Profete en Konings

31/69

Hoofstuk 26—“Aanskou Jou God!”

In Jesaja se tyd was die geestelike begrip van die mens, as gevolg van hulle wanbegrip van God, verduister. Die Satan het lank daarna gestrewe om mense te mislei om hulle Skepper te sien as die outeur van sonde, lyding en dood. Diegene wat hy so mislei het, het gemeen dat God hardvogtig en veeleisend is. Hulle het Hom as Iemand wat voortdurend op die uitkyk was om te veroordeel beskou en wat onwillig was om die sondaar te aanvaar, indien daar ‘n wettige verskoning was om hom nie te help nie. Die wet van liefde waardeur die hemele regeer word, is verkeerdelik deur die aartsvyand as ‘n beperking op die mens se geluk, ‘n swaar las waarvoor hul liefs moes vlug, weergegee. Hy het verklaar dat die voorskrifte daarvan nie nagekom kon word nie en dat straf vir die oortreding na willekeur toegeken word. DVvPEk 240.1

Deur die ware karakter van Jehova uit die oog te verloor, was die Israeliete sonder verskoning. Dikwels het God Homself aan hulle geopenbaar as “...'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” (Ps 86:15) Hy het getuig: “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad en uit Egipte het Ek my seun geroep.” (Hos 11:1) DVvPEk 240.2

Die HERE het met deernis teenoor Israel tydens hul verlossing van Egiptiese slawerny en gedurende hul reis na die Beloofde Land opgetree. “In al hulle benoudheid was Hy benoud en die Engel van Sy aangesig het hulle verlos; deur Sy liefde en deur Sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” (Jes 63:9) DVvPEk 240.3

“Ek self [sal] meegaan om jou die rusplek te verskaf...” (Ex 33:14) was die belofte aan hulle gedurende hul reis deur die woestyn. Hierdie versekering het gepaard gegaan met ‘n wonderlike openbaring van die karakter van Jehova, wat Moses in staat gestel het om die goedheid van God aan die hele Israel te verkondig en hulle ten volle aangaande die eienskappe van hul onsigbare Koning te onderrig. “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” (Ex 34:6,7) DVvPEk 240.4

Dit was op grond van sy kennis van die lydsaamheid van Jehova en Sy oneindige liefde en barmhartigheid, waarop Moses sy wonderlike pleidooi vir die lewe van Israel gebaseer het toe hulle op die grense van die Beloofde Land, geweier het om in gehoorsaamheid aan God se bevel voort te gaan. Toe hulle rebellie ‘n hoogtepunt bereik het, het God verklaar: “Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei;” en Hy was van voorneme om Moses se nageslag “...'n groter en sterker nasie maak as hulle.” (Num 14:12) Maar die profeet het op grond van God se wonderbaarlike voorsienigheid en beloftes namens die uitverkore volk gepleit. En toe, as die sterkste van al sy pleidooie, het hy op God se liefde vir die gevalle mens aangedring. (Sien verse 17-19) DVvPEk 241.1

Genadiglik het die HERE geantwoord: “Ek vergewe, volgens jou woord.” En toe het Hy aan Moses, in die vorm van ‘n profesie, kennis aangaande Sy doel met die finale oorwinning van Israel meegedeel: “Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word...” (Verse 20,21) Die heerlikheid van God, Sy karakter, sy barmhartige goedhartigheid en tere liefde — dit wat Moses namens Israel gepleit het — is aan die hele mensdom geopenbaar. En hierdie belofte is met dubbele maat verseker; dit is met ‘n eed bevestig. So seker as wat God leef en regeer, moet sy heerlikheid “...onder die nasies ... onder al die volke sy wonders...” verkondig word. (Ps 96:3) DVvPEk 241.2

Dit was met betrekking tot die toekomstige vervulling van hierdie profesie wat Jesaja die skitterende Serafs voor die troon hoor sing het: “Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jes 6:3) Die profeet, oortuig van die sekerheid van hierdie woorde, het self daarna aan diegene wat voor beelde van hout en klip neergebuig het, met vrymoedigheid verklaar dat “...hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.” (Jes 35:2) DVvPEk 242.1

Hierdie profesie is besig om spoedig in vervulling te gaan. Die sendingaktiwiteite van die kerk van God op aarde, dra ryke vrug en die evangelieboodskap sal binnekort aan alle nasies verkondig word. “Tot lof van die heerlikheid van Sy genade waarmee Hy ons begenadig...” word manne en vroue van elke ras, taal en nasie in “...die heerlikheid van Sy genade waarmee Hy ons begenadig...” aanvaar, “...sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.” (Ef 1:6;2:7) “Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen! En geloofd sy vir ewig Sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps 72:18,19) DVvPEk 242.2

In die visioen wat tot Jesaja in die tempelhof gekom het, is aan hom ‘n duidelike beeld van die karakter van die God van Israel gegee. “Die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam...” het in groot majesteit voor hom verskyn; maar die profeet moes die medelydende aard van sy HERE verstaan. Hy wat woon “...in die hoogte en in die heilige plek...” woon ook “...by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jes 57:15) Die engel wat aangesê was om Jesaja se lippe aan te raak, het aan hom die boodskap gebring: “Jou skuld is weg en jou sonde versoen.” (Jes 6:7) DVvPEk 242.3

Terwyl hy sy God aanskou het, het die profeet, soos Saulus van Tarsus by die poort na Damaskus, nie slegs ‘n besef van sy eie onwaardigheid ervaar nie; daar het in sy nederige hart die versekering van vergifnis gekom, vol en vry; en hy het as ‘n veranderde man opstaan. Hy het sy HERE gesien. Hy het ‘n blik op die lieflikheid van die Goddelike karakter gekry. Hy kon getuig van die transformasie wat plaasvind wanneer Oneindige Liefde aanskou word. Voortaan sou hy geïnspireer word met ‘n verlangende begeerte om toe te sien dat die afgedwaalde Israel van die las en straf van sonde gevrywaar word. “Waar wil julle nog geslaan word?” het die profeet gevra. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen.” (Jes 1:15,18,16,17) DVvPEk 242.4

Die God wat hulle beweer het om te dien, maar Wie se karakter hulle misverstaan het, is aan hulle voorgehou as die groot Geneesheer van geestelike siekte. Wat as die ganse hoof krank en die hele hart swak was? Wat as daar van die voetsool na die kroontjie nie ‘n heel plek is nie, maar slegs wonde en kneusplekke en smetterige sere? (Sien Jesaja 1:6). Hy wat hardkoppig sy eie hart gevolg het, kan genesing vind deur hom na die HERE te wend. “Ek het hulle weë gesien...” het die HERE verklaar. “En Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk ... Vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees.” (Jes 57:18,19) DVvPEk 243.1

Die profeet het God as die Skepper van alles verhef. Sy boodskap aan die stede van Juda was, “Hier is julle God!” (Jes 40:9) “So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom,” “Ek is die HERE wat alles volbring [het]...” “...wat die lig formeer en die duisternis skep.” “Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.” (Jes 42:5;44:24;45:7,12). “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” (Jes 40:25,26) DVvPEk 243.2

Aan diegene wat bevrees was dat hulle nie aanvaar sou word as hulle na God terugkeer nie, het die profeet verklaar: DVvPEk 244.1

“Waarom sê jy dan, o Jakob en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van Sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Verse 27-31) DVvPEk 244.2

Die hart van Oneindige Liefde smag na diegene wat magteloos voel om hulself van die strikke van Satan te bevry; en Hy bied genadiglik aan om hulle te versterk om vir Hom te lewe. “Wees nie bevrees nie...” sê Hy; “...want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” “Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou. Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE en jou Losser is die Heilige van Israel.” (Jes 41:10,13,14) DVvPEk 244.3

Die inwoners van Juda was almal onverdienstelik en tog sou God hulle nie prysgee nie. Deur hulle sou Sy naam onder die heidene verhoog word. Baie mense wat geheel en al onbekend was met Sy eienskappe, moes nogtans die heerlikheid van die Goddelike karakter aanskou. Dit was om Sy genadige plan duidelik te maak, dat Hy voortdurend Sy diensknegte, die profete, met die boodskap gestuur het: “Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg.” (Jer 25:5) “Om my Naam ontwil...” het Hy deur Jesaja verklaar, “...vertraag Ek My toorn en om My roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.” “Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen — want ag, hoe is my Naam ontheilig! — en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.” (Jes 48:9,11) DVvPEk 244.4

Die oproep tot bekering is met onmiskenbare duidelikheid verkondig en almal was genooi om terug te keer. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is...” het die profeet gepleit; “...roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jes 55:6,7) DVvPEk 245.1

Het jy, leser, jou eie weg ingeslaan? Het jy ver van God afgedwaal? Het jy daarna gestrewe om aan die vrugte van oortreding te smul, net om te vind dat dit soos as op jou lippe word? En nou, met jou lewensplanne aan skerwe en alle hoop verlore, sit jy alleen en verlate? Daardie stem wat al lank tot jou hart gepleit het, maar waarna jy nie wou luister nie, kom nou hard en duidelik na jou: “Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, ‘n onherstelbare verwoesting.” (Miga 2:10) Keer terug na jou Vaderhuis. Hy nooi jou: “Keer terug na My, want Ek het jou verlos.” “Kom na My toe, luister en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.” (Jes 44:22,55:3) DVvPEk 245.2

Moenie na die voorstel van die vyand luister om van Christus af weg te bly totdat jy jouself verbeter het nie, totdat jy goed genoeg is om tot God te nader nie. As jy tot dan wag, sal jy nooit na God kom nie. Wanneer Satan jou op jou vuil wasgoed wys, herhaal dan die belofte van die Verlosser: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Joh 6:37) Sê aan die vyand dat die bloed van Jesus Christus jou van alle sonde reinig. Maak Dawid se gebed jou eie: “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” (Ps 51:7) DVvPEk 245.3

Die vermanings van die profeet aan Juda om die lewende God te aanskou en om Sy genadige offers te aanvaar, was nie tevergeefs nie. Daar was sommige wat ernstig gehoor gegee, van hul afgode af weggedraai en Jehova aanbid het. Hulle het geleer om hulle Skepper se liefde, genade en deernis raak te sien. En in die donker tye wat in die geskiedenis van Juda sou aanbreek, toe daar slegs ‘n oorblyfsel in die land oorgebly het, sou die profeet se woorde voortgaan om vrug te dra, met besliste hervorming. “In dié dag...” het Jesaja verklaar, “...sal die mens kyk na sy Maker en sy oë sal sien op die Heilige van Israel; en hy sal nie kyk na die altare nie, die werk van sy hande; en wat sy vingers gemaak het, sal hy nie aansien nie: die heilige boomstamme en die sonpilare.” (Jes 17:7,8) DVvPEk 246.1

Vele sou die Een, algeheel lieflik, die Vernaamste onder tienduisend, aanskou. “Jou oë sal die Koning in Sy skoonheid aanskou...” was die genadige belofte aan hulle gemaak. (Jes 33:17). Hulle sonde sou vergewe word en hulle sou in God alleenlik roem. In dié blye dag van bevryding van afgodery, sou hulle uitroep: “Maar daar sal die HERE vir ons heerlik wees; dit sal ‘n plek van riviere wees, van breë strome ... Die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hy sal ons verlos.” (Verse 21, 22) DVvPEk 246.2

Die boodskappe wat Jesaja aan diegene, wat gekies het om van hul bose weë af weg te draai, oorgedra het, was vol vertroosting en bemoediging. Hoor die woord van die HERE deur sy profeet: DVvPEk 246.3

“Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel!
Want jy is my kneg;
Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Israel!
y sal deur My nie vergeet word nie.
Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel
en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.”
DVvPEk 246.4

(Jesaja 44:21,22)

“En in dié dag sal jy sê:
Ek dank U, HERE,
dat U toornig op my gewees het;
U toorn is afgewend en U het my vertroos.

Ja, God is my heil,
ek sal vertrou en nie vrees nie;
want die Here HERE is my krag en my psalm,
en Hy het my tot heil geword...

Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike
dinge gedoen;
laat dit bekend wees op die hele aarde.
Juig en jubel, o inwoners van Sion!
Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.”
DVvPEk 247.1

(Jesaja 12)