Die Verhaal Van Profete en Konings
Hoofstuk 25—Die Roeping van Jesaja
Die lang bewind van Ussia (ook bekend as Asárja) in die land van Juda en Benjamin is gekenmerk deur groter vooruitgang, as die van enige ander heerser sedert die dood van Salomo, byna twee eeue tevore. Die koning het jare lank met diskresie regeer. Met die seën van die Hemel het sy leërs van die grondgebied, wat vroeër verlore gegaan het, herower. Stede is herbou en versterk en die stand van die nasie onder die omliggende volke is verstewig. Handel het herleef en die rykdom van die nasies het na Jerusalem gevloei. Ussia se “...roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het.” (2 Kron 26:15) DVvPEk 233.1
Hierdie uiterlike welvaart het egter nie met ‘n ooreenstemmende herlewing van geestelike krag gepaard gegaan nie. Die tempeldienste is, soos in vorige jare, voortgesit en menigtes het byeengekom om die lewende God te aanbid; maar trots en formaliteite het geleidelik die plek van nederigheid en opregtheid ingeneem. Van Ussia self is daar geskrywe: “Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God.” (Vers 16) DVvPEk 233.2
Die sonde wat tot Ussia se rampspoedige ondergang geleihet, was verwaandheid. In oortreding met die duidelike opdrag van Jehova, naamlik dat niemand anders as die nageslag van Aaron as priesters moes dien nie, het Ussia in die heiligdom ingegaan “...om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.” Asárja, die hoëpriester en sy medewerkers het beswaar gemaak en by hom aangedring om van sy plan af te sien. “U het ontrou gehandel...” het hulle by hom aangedring “...en dit sal u van die kant van die HERE God nie tot eer strek nie.” (Verse 16,18) DVvPEk 233.3
Ussia was met argwaan gevul omdat hy, die koning, sodanig bestraf is. Maar, as gevolg van die gesamentlike protes van die gesaghebbendes, was hy nie toegelaat om die heiligdom te ontheilig nie. Terwyl hy vertoornd en in opstand daar gestaan het, is hy skielik met ‘n Goddelike oordeel getref. Melaatsheid het op sy voorkop verskyn. Met ontsteltenis het hy gevlug om nooit weer die tempelhof binne te gaan nie. Tot die dag van sy dood, enkele jare later, het Ussia melaats gebly — ‘n lewende voorbeeld van die dwaasheid om van ‘n duidelike “So sê die HERE” af te wyk. Nóg sy verhewe posisie, of sy lang jare van diens kon dien as verskoning vir die voorbarige sonde wat die sluitingsjare van sy regering gekenmerk het en wat die gevolglike oordeel van die hemel oor hom gebring het. DVvPEk 234.1
God is geen aannemer van die persoon nie. “Maar die siel wat iets moedswilliges doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.” (Num 15:30) DVvPEk 234.2
Die oordeel oor Ussia het blykbaar ‘n stremmende invloed op sy seun gehad. Jotam het in die latere jare van sy vader se bewind, groot verantwoordelikheid gedra en het na Ussia se dood die troon opgevolg. Van Jotam is geskryf: “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE; net soos sy vader Ussía gedoen het, het hy gedoen. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.” (2 Kon 15:34,35) DVvPEk 234.3
Die regering van Ussia het tot ‘n einde gekom en Jotam het reeds baie van die staat se laste gedra, toe Jesaja, as ‘n jongman uit die koninklike bloedlyn, tot die profetiese sending geroep is. Die tye waarin Jesaja sou arbei was belaai met uitsonderlike gevare vir die volk van God. Die profeet sou ‘n getuie van die inval van Juda deur die gekombineerde leërs van noordelike Israel en Sirië wees; hy sou die Assiriese leërskare sien kamp opslaan voor die hoofstede van die koninkryk. Gedurende sy leeftyd sou Samaria val en die tien stamme van Israel sou onder die nasies versprei word. Juda sou keer op keer deur die Assiriese leërs binnegeval word en Jerusalem sou ‘n beleg beleef wat tot sy ondergang sou gelei het, indien God nie op ‘n wonderbaarlike wyse ingetree het nie. Ernstige gevare het reeds die vrede van die suidelike koninkryk bedreig. Die Goddelike beskerming is onttrek en die Assiriese magte was op die punt om deur die land van Juda te versprei. DVvPEk 234.4
Maar die gevare van buite, oorweldigend soos dit geblyk het, was nie naastenby so erg soos die gevare van binne nie. Dit was die perversiteit van sy mense wat aan die HERE se dienskneg die meeste radeloosheid en die diepste depressie besorg het. Deur hul afvalligheid en rebellie het diegene wat as ligdraers onder die nasies moes uitstaan, God se oordele uitgelok. Baie van die euwels wat die snelle vernietiging van die noordelike koninkryk verhaas het en wat in onmiskenbare terme deur Hosea en Amos veroordeel was, was vinnig besig om die koninkryk van Juda te korrupteer. DVvPEk 235.1
Die vooruitsigte ten opsigte van die sosiale omstandighede van die volk was besonder ontmoedigend. In hul begeerte na winsbejag het die mense “...huis aan huis [ge]trek en akker aan akker [ge]gevoeg...” (Jesaja 5:8) Geregtigheid is verdraai en geen meegevoel is aan die behoeftige betoon nie. Van hierdie euwels het God gesê: “Wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise. Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel?” (Jes 3:14,15) Selfs die landdroste, wie se plig dit was om die hulpeloses te beskerm, het hul doof gehou vir die noodkrete van die armes en behoeftiges, die weduwees en die wese. (Sien Jesaja 10:1,2) DVvPEk 235.2
Gepaard met verdrukking en welvaart, het trots en liefde vir vertoon, erge dronkenskap en ‘n gees van brassery ontstaan. (Sien Jesaja 2:11,12;3:16,18-23;5:22,11,12) In Jesaja se tyd was afgodery nie meer iets wat verbaas het nie. (Sien Jesaja 2:8,9) Onregmatige praktyke het onder alle klasse so algemeen geword, dat die enkeles wat aan God getrou gebly het, dikwels in die versoeking gekom het om moed te verloor en hulle aan mismoedigheid en wanhoop oor te gee. Dit het voorgekom asof God se doel met Israel op die punt was om te misluk en dat die opstandige nasie onder ‘n soortgelyke lotgeval as Sodom en Gomorra sou ly. DVvPEk 235.3
In die lig van sulke omstandighede was dit nie verbasend dat, toe Jesaja gedurende die laaste jaar van Ussia se bewind opgeroep is om die boodskappe van waarskuwing en teregwysing aan Juda oor te dra, hy van die verantwoordelikheid weggeskram het nie. Hy was terdeë bewus daarvan dat hy hardnekkige weerstand sou teëkom. Toe hy sy eie onvermoë om die situasie te bowe te kom besef het, asook die gedagte aan die hardkoppigheid en ongeloof van die mense onder wie hy moes arbei, het die taak hopeloos voorgekom. Moes hy in moedeloosheid van sy sending afsien en Juda ongestoord laat voortgaan met hul afgodediens? Moes die gode van Nineve toegelaat word om, in stryd met die God van die hemel, oor die aarde te heers? DVvPEk 236.1
Dit was die gedagtes wat deur Jesaja se gedagtes gemaal het terwyl hy in die voorportaal van die tempel gestaan het. Skielik het dit gelyk asof die hek en die binneste sluier van die tempel gelig word en hy is toegelaat om na binne te kyk na die allerheiligste, waar selfs die profeet se voete nie kon ingaan nie. DVvPEk 236.2
'n Visioen van Jehova wat hoog en verhewe op Sy troon sit, het voor hom verrys, terwyl die kleed van Sy heerlikheid die tempel gevul het. Aan weerskante het Serafs bo die troon gestaan; hulle aangesigte in eerbied versluier, terwyl hulle hul Maker aanbid en plegtig toegeroep het: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol... ” totdat “...die drumpelposte ... gebewe [het] van die geluid van die roepers en die huis vol rook geword [het].” (Jes 6:3) DVvPEk 236.3
Terwyl Jesaja hierdie openbaring van heerlikheid en majesteit van sy HERE aanskou het, is hy oorweldig met ‘n besef van die reinheid en heiligheid van God. Hoe skerp was die kontras tussen die ongeëwenaarde volmaaktheid van sy Skepper en die sondige weg van diegene, hyself ingesluit, wat onder die uitverkore volk van Israel en Juda gereken is! “Wee my...” het hy uitgeroep, “...ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Vers 5) Terwyl hy daar so in die volle lig van Goddelike teenwoordigheid in die allerheiligste gestaan het, het hy besef dat indien hy aan sy eie onvolmaaktheid en ondoeltreffendheid oorgelaat word, hy geheel en al nie in staat sou wees om die sending waartoe hy geroep is, uit te voer nie. Maar ‘n Seraf is na hom gestuur om hom van sy benoudheid te bevry en hom vir sy groot sending toe te rus. ‘n Brandende kool van die altaar is op sy lippe gelê met die woorde: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak en jou skuld is weg en jou sonde versoen.” Toe het hy die stem van God gehoor wat sê: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Hierop het Jesaja geantwoord: “Hier is ek, stuur my.” (Verse 7,8) DVvPEk 236.4
Die hemelse besoeker het die wagtende boodskapper gebied: “Gaan sê aan hierdie volk: DVvPEk 237.1
“Hoor altyddeur, maar verstaan nie,
En sien altyddeur, maar bemerk nie.
Maak die hart van hierdie volk vet
En maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë,
Sodat hulle nie sien met hul oë
En met hul ore nie hoor
En hul hart nie verstaan nie,
En hulle hul nie bekeer en gesond word nie.”
DVvPEk 237.2
(Verse 9,10)
Die profeet se plig was duidelik. Hy moes sy stem in protes teen die heersende boosheid verhef. Maar hy was bevrees om die werk sonder enige versekering van hoop te onderneem. “Hoe lank HERE?” het hy gevra. (Vers 11). Is daar niemand van U uitverkore volk wat ooit sal verstaan, hulle bekeer en genees word nie? DVvPEk 237.3
Sy sielelas vir dwalende Juda sou nie tevergeefs wees nie. Sy sending sou nie volkome vrugteloos wees nie. Tog kon die euwels wat deur baie geslagte heen toegeneem het, nie in sy tyd uitgedelg kon word nie. Regdeur sy lewe moes hy ‘n geduldige, moedige onderwyser wees — ‘n profeet van hoop sowel as verdoemenis. Wanneer die Goddelike doel uiteindelik volbring is, sal die volle vrug van sy pogings en die van die getroue boodskappers van God, sigbaar word. ‘n Oorblyfsel sou gered word en om dit te bewerkstellig, moes die boodskappe van waarskuwing en smeking aan die rebelse volk oorgedra word; die HERE het verklaar: DVvPEk 238.1
“Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners,
En die huise sonder mense
En die land verwoes is tot ‘n wildernis,
En die HERE die mense ver verwyder het
En die verlatenheid groot is in die land.”
DVvPEk 238.2
(Verse 11,12)
Die swaar oordele wat oor die onboetvaardiges sou kom — oorlog, ballingskap, verdrukking, die verlies van mag en aansien onder die nasies - al hierdie dinge moes oor hulle kom, sodat diegene wat die hand van ‘n beledigde God daarin herken het, tot bekering gelei sou word. Die tien stamme van die noordelike koninkryk sou binnekort onder die nasies versprei en hulle stede verlate gelaat word; die vernietigende leërs van vyandige nasies sou keer op keer oor hulle land vee; selfs Jerusalem sou uiteindelik val en Juda sou in ballingskap weggevoer word; tog sou die Beloofde Land nie vir ewig volkome verlate bly nie. Die versekering van die hemelse besoeker aan Jesaja was: DVvPEk 238.3
“En as nog ‘n tiende deel daarin is,
Sal dit weer wees tot verwoesting;
Maar soos by die terpentynboom en die eikeboom
As hulle omgekap word — ‘n stomp oorbly, So sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.”
DVvPEk 238.4
(Vers 13)
Hierdie versekering van die uiteindelike vervulling van God se voorneme, het Jesaja se hart met moed gevul. Wat daarvan as aardse magte teen Juda opstaan? Wat daarvan as die boodskapper van die HERE met teëstand en verset begroet word? Jesaja het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien; hy het die lied van die Serafs gehoor: “Die hele aarde is van Sy heerlikheid vol.” (vers 3); hy het die belofte gehad dat die boodskappe van Jehova aan die afvallige Juda, met die oortuigende krag van die Heilige Gees gepaard sou gaan; en die profeet was bemoedig vir die taak voor hom. Gedurende sy lang en moeisame sending, het hy hierdie visioen met hom saamgedra. Hy het sestig jaar of langer voor die kinders van Juda as ‘n profeet van hoop gestaan, terwyl hy met toenemende vrymoedigheid sy voorspellings oor die toekomstige oorwinning van die kerk, verkondig het. DVvPEk 239.1