Die Verhaal Van Profete en Konings

4/69

Hoofstuk 1—Salomo

Tydens die bewind van Dawid en Salomo het Israel magtig onder die nasies geword, met vele geleenthede om ‘n reuse invloed vir waarheid en geregtigheid uit te oefen. Die naam van Jehova is verhoog en vereer en die doel waarvoor Israel in die Beloofde Land gevestig was, was gereed om vervul te word. Hindernisse is afgebreek en soekers na waarheid uit heidense lande is nie met leë hande weggestuur nie. Bekerings het plaasgevind en die kerk van God op aarde het gegroei en was voorspoedig. DVvPEk 10.1

Teen die einde van Dawid se lewe het hy ten gunste van sy seun afstand gedoen van die koningskap en is Salomo as koning gesalf. Sy vroeë lewe was belowend en dit was God se doel dat hy van krag tot krag sou gaan en in karakter al nader aan die ewebeeld van God sou kom en so sy volk sou inspireer om hul heilige verbond, as bewaarders van die Goddelike waarheid, te vervul. DVvPEk 10.2

Dawid het geweet dat die hoë doel wat God aan Israel gestel het slegs haalbaar sou wees indien die regeerders en die volk met volharding sou streef na die standaard wat aan hulle voorgehou is. Hy het geweet dat, ten einde Salomo, sy seun, die verantwoordelikhede waarmee God hom vereer het sou kon uitvoer, die jeugdige regeerder nie slegs ‘n soldaat, ‘n staatsman en ‘n koning moes wees nie, maar ‘n sterk, goedhartige man, ‘n onderwyser in geregtigheid en ‘n voorbeeld van getrouheid. DVvPEk 10.3

Met sagmoedige erns het Dawid Salomo aangemoedig om manmoedig en edel te wees en om genade en liefdevolle goedhartigheid teenoor sy onderdane te toon; en om in al sy onderhandelings met die nasies van die wêreld, God se naam te eer en te verheerlik en die sieraad van heiligheid te openbaar.Die menigvuldige beproewings en merkwaardige ondervindings wat Dawid in sy lewe ervaar het, het hom die waarde van meer edele deugde geleer en het hom gelei om in sy sterwens-opdrag aan Salomo te verklaar: “Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ‘n Heerser oor mense, ‘n regverdige, ‘n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, ‘n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.” (2 Sam 23:3,4) DVvPEk 10.4

Wat ‘n geleentheid het Salomo nie gehad nie! Indien hy die Goddelik-geïnspireerde raad van sy vader sou volg, sou sy heerskappy een van geregtigheid wees soos in Psalm 72 beskryf: DVvPEk 11.1

“O God, gee aan die koning U regte
en u geregtigheid aan die seun van die koning.
Laat hy U volk oordeel met geregtigheid en U ellendiges met reg...
Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld,
soos buie — ‘n swaar reën op die aarde.
In sy dae sal die regverdige bloei
en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.
En hy sal heers van see tot see
en van die Rivier tot by die eindes van die aarde...
Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied,
die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.
Ja, al die konings sal hulle voor hom buig,
al die nasies sal hom dien.
Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp,
en die ellendige en wie geen helper het nie...
Mag hy dan lewe! en mag hulle altyddeur vir hom bid;
mag hulle die hele dag hom seën!...
Mag sy naam vir ewig wees;
mag sy naam uitspruit solank as die son daar is!
En mag al die nasies in hom geseën word,
hom gelukkig prys!

Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen!
En geloofd sy vir ewig Sy heerlike Naam!
En laat die hele aarde met Sy heerlikheid vervul word!
Amen, ja amen.”
DVvPEk 11.2

In sy jeug het Salomo die keuse van Dawid, sy eie gemaak en het vir baie jare opreg gewandel, sy lewe gekenmerk deur streng gehoorsaamheid aan God se gebooie. Vroeg in sy bewind het hy saam met sy raadgewers na Gibeon gegaan, waar die tabernakel wat in die wildernis gebou is steeds gestaan het en daar met sy uitgekose adviseurs, “...die owerstes oor duisend en oor honderd en met die regters en met elke vors in die hele Israel, die familiehoofde...” (2 Kron 1:2) verenig deur offers aan God te bring en hulself volkome aan die HERE se diens te wy. Met die besef van die volle omvang van die pligte verbonde aan die koninklike amp, het Salomo geweet dat diegene wat swaar vragte dra, die Bron van Wysheid vir leiding moet nader indien hulle hul verantwoordelikhede op ‘n aanvaarbare wyse wou nakom. Dit het daartoe gelei dat hy sy raadgewers aangemoedig het om van harte saam met hom te verenig om seker te maak van hulle aanneemlikheid vir God. DVvPEk 12.1

Bo enige aardse goed het die koning wysheid begeer en insig om die werk wat God aan hom opgedra het met welslae uit te voer. Sy begeerte was vir skerpheid van verstand, vir ruimhartigheid, vir ‘n gees van sagmoedigheid. Daardie nag het die HERE in ‘n droom aan hom verskyn en gesê, “Begeer wat Ek jou moet gee.” Met sy antwoord het die jong en onervare koning sy gevoel van hulpeloosheid en sy versoek om hulp uitgespreek:“U het aan u kneg, my vader Dawid, ‘n groot guns bewys, net soos hy voor u aangesig gewandel het in trou en in geregtigheid en in opregtheid van hart met U; en U het vir hom hierdie groot guns bewaar, dat U hom ‘n seun gegee het wat op sy troon sit, soos dit vandag is.” DVvPEk 12.2

“Nou dan, HERE my God, U het U kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ‘n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie. En U kneg is midde onder U volk wat U verkies het, ‘n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. Gee dus aan U kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor U volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?” DVvPEk 12.3

“En dit was goed in die oë van die HERE dat Salomo dit begeer het.” DVvPEk 13.1

“En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ‘n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ‘n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie. Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.” DVvPEk 13.2

“En as jy in My weë wandel, deur My insettinge en My gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng.” (1 Kon 3:5-14; 2 Kron 1:7-12) DVvPEk 13.3

God het belowe dat, soos Hy met Dawid was, Hy ook met Salomo sou wees. As die koning opreg voor God sou wandel, indien hy sou doen wat God hom beveel het, dan sou sy troon bevestig wees en sy heerskappy sou ‘n middel wees waardeur Israel verhef sou word as “...'n wyse en verstandige volk...”, ‘n lig vir hul buurnasies. (Deut 4:6) DVvPEk 13.4

Salomo se woorde in sy gebed tot God voor die antieke altaar in Gibeon, spreek van nederigheid en ‘n sterk begeerte om God te eer. Hy het besef dat hy sonder Goddelike hulp so hulpeloos soos ‘n kind was om die verantwoordelikhede wat op hom rus, uit te voer. Hy het besef dat hy ‘n gebrek aan goeie oordeel het en hierdie besef van onbevoegdheid het hom genoop om God vir wysheid te nader. In sy hart was daar geen selfsugtige aspirasies vir wysheid om bo ander verhewe te wees nie. Hy het begeer om sy pligte getrou uit te voer en het die gawes versoek waarmee hy, tydens sy bewind, eer aan God kon bring. Salomo was nooit so welaf of so wys of werklik so groot, soos toe hy gebieg het:“Ek is ‘n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.” (1 Kon 3:7) DVvPEk 13.5

Diegene wat vandag verantwoordelike poste beklee, behoort hierdie les uit Salomo se gebed te leer. Hoe hoër die pos wat ‘n mens beklee, hoe groter is die verantwoordelikhede wat hy moet dra, hoe wyer is die invloed wat hy uitoefen en hoe groter dus sy behoefte aan afhanklikheid van God. Hy moet altyd onthou dat saam met die oproep om te werk, kom die oproep om met omsigtigheid met sy medemens te verkeer. Hy moet met die gesindheid van ‘n leerling voor God staan. Posisie verleen nie heiligheid van karakter nie. Dit is deur God te eer en gehoorsaam aan sy gebooie te wees dat ‘n mens ware grootheid bekom. DVvPEk 14.1

Die Here wat ons dien is geen aannemer van persoon nie. Hy wat aan Salomo die gees van wyse onderskeiding geskenk het, is net so gewillig om vandag dieselfde seën aan Sy kinders te verleen. Hy verklaar: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt en dit sal aan hom gegee word.” (Jak 1:5). Wanneer ‘n persoon met verantwoordelikheid meer na wysheid as na welvaart, mag of roem smag, sal so iemand nie teleurgestel word nie. Die Groot Leermeester sal so iemand nie net wys wat om te doen nie, maar op ‘n wyse wat Goddelike goedkeuring wegdra. DVvPEk 14.2

So lank hy toegewyd bly, sal die persoon wat deur God met onderskeidingsvermoë en bekwaamheid toegerus is, nie ‘n gretigheid na ‘n hoë posisie openbaar en ook nie strewe na mag of beheer nie. Uiteraard het ‘n mens verantwoordelikhede om te dra, maar in stede daarvan om na oppergesag te strewe, sal ‘n ware leier vir ‘n verstandige hart bid om tussen goed en kwaad te kan onderskei. DVvPEk 14.3

Die pad van persone wat as leiers aangestel is, is nie ‘n maklike een nie, maar hulle moet elke uitdaging as ‘n oproep tot gebed raaksien. Hulle mag nooit nalaat om die groot Bron van alle wysheid te raadpleeg nie. Versterk en verlig deur die Meester Werker, sal hulle in staat wees om ferm te staan teen onheilige invloede en om tussen reg en verkeerd, goed en kwaad te onderskei. Hulle sal goedkeur wat God goedkeur en sal ernstig daarna streef om in God se saak, weerstand teen die instelling van verkeerde beginsels te bied. DVvPEk 14.4

God het aan Salomo die wysheid wat hy bo welvaart, eer en ‘n lang lewe begeer het, gegee. Sy versoek vir ‘n flinke verstand, groothartigheid en ‘n teer gesindheid is aan hom gegun. “En God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê, sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte. Ja, hy was wyser as al die mense ... sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom.” (1 Kon 4:29-31) DVvPEk 15.1

“En die hele Israel ... was bevrees vir die koning; want hulle het gesien dat daar Goddelike wysheid in sy binneste was om reg te doen.” (1 Kon 3:28) Die volk se harte was by Salomo net soos dit met Dawid was en hulle het hom in alles gehoorsaam. “En Salomo ... het hom versterk in sy koningskap; en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak.” (2 Kron 1:1) DVvPEk 15.2

Vir baie jare was Salomo se lewe gekenmerk deur toegewydheid aan God, opregtheid, beginselvastheid en streng gehoorsaamheid aan God se bevele. Hy het in al die belangrike ondernemings voorgeskryf en het die sake van sy koninkryk met wysheid behartig. Sy wysheid en welvaart, die manjifieke geboue en die openbare werke wat hy vroeg in sy heerskappy opgerig het, die energie, vroomheid, regverdigheid en grootmoedigheid wat hy in woord en daad aan die dag gelê het, het die lojaliteit van sy onderdane gewen en die bewondering en eerbetoon van die regeerders van baie lande afgedwing. DVvPEk 15.3

Gedurende die eerste deel van Salomo se regering is die naam van Jehova grootliks vereer. Die wysheid en regverdigheid deur die koning geopenbaar, het aan alle nasies getuig van die uitnemende eienskappe van die God wat hy gedien het. Vir ‘n tyd was Israel soos die lig van die wêreld wat Jehova se grootheid uitgestraal het. Die ware glorie van Salomo se vroeë bewind was nie in sy ongeëwenaarde wysheid, sy fabelagtige rykdom, of sy vêrreikende mag en roem nie, maar in die eer wat hy aan God gebring het deur die wyse gebruik van die gawes van die hemel. DVvPEk 15.4

Soos die jare verbygegaan en Salomo se beroemdheid toegeneem het, het Hy gepoog om God verder te vereer, deur sy verstandelike vermoëns en geestelike krag aan te vul en deur voort te gaan om die seëninge wat hy ontvang het met andere te deel. Niemand het beter as hy verstaan dat dit as gevolg van die guns van Jehova was dat hy mag, wysheid en insig besit het en dat hierdie gawes geskenk was sodat hy aan die wêreld ‘n kennis van die Koning van die konings moes verleen. DVvPEk 16.1

Salomo het ‘n besondere belang in natuurstudie gehad, maar sy navorsing was nie net tot een vakrigting beperk nie. Deur ‘n deeglike studie van alle geskape dinge, lewend en nie-lewend, het hy ‘n duidelike begrip van die Skepper gekry. In die kragte van die natuur, in die minerale- en diereryk, in elke boom, struik en blom het hy die openbaring van God se wysheid waargeneem en soos hy gepoog het om meer kennis op te doen, het sy kennis van God en sy liefde vir Hom voortdurend toegeneem. DVvPEk 16.2

Salomo se Goddelik-geïnspireerde wysheid het uiting in lofliedere en vele spreuke gevind. “En hy het drie duisend spreuke uitgespreek en sy liedere was duisend en vyf. En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Libanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse.”(1 Kon 4:32, 33) DVvPEk 16.3

In Salomo se spreuke vind ons beginsels vir ‘n heilige lewe en hoë ideale, hemelse beginsels wat na Goddelikheid lei, beginsels wat elke optrede in die lewe moet beheer. Dit was die wye verspreiding van hierdie beginsels en die erkenning van God aan Wie alle lof en eer toekom, wat van Salomo se vroeë bewind ‘n tydperk van morele verheffing en materiële voorspoed gemaak het. DVvPEk 16.4

“Gelukkig die mens wat wysheid gevind het...”, het hy geskryf, “...en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë en al sy paaie is vrede. Dit is ‘n lewensboom vir die wat dit aangryp en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.” (Spr 3:13-18) DVvPEk 17.1

“Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit.” (Spr 4:7). “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid.” (Ps 111:10) “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek.” (Spr 8:13) DVvPEk 17.2

Het Salomo later jare maar net ag geslaan op daardie wonderlike woorde van wysheid! As hy wat verklaar het: “Die lippe van die wyse strooi kennis uit...” (Spr 15:7) en hy wat self die konings van die aarde geleer het om die hulde wat hulle aan ‘n aardse regeerder wou bring, aan die Koning van die konings te bring, tog nooit met “...valsheid van mond...” en “...hoogmoed en trotsheid...” die eer wat God alleen toekom op homself geneem het nie! DVvPEk 17.3