Die Koning Van Die Eeue

22/88

Betesda en die Sanhedrin

“EN daar is in Jerusalem by die Skaappoort 'n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betesda genoem word. Daarin het 'n groot menigte van siekes gelê: blindes en kreupeles en lammes wat vir die roering van die water gewag het.” KE 198.1

Met sekere tye was daar n roering in die water van hierdie bad, en daar is algemeen geglo dat dit op bonatuurlike wyse geskied het, en dat die een wat eerste in die water gegaan het ná die roering, genees sou word van sy kwaal. Honderde lydendes het die plek besoek. Wanneer die roering in die water bespeur is, was die skare so groot wat vorentoe beweeg het dat hulle die mans, vrouens, en kinders wat swakker was, feitelik vertrap het. Baie kon nie eens naby die bad kom nie. Baie wat wel daarin geslaag het om die bad te bereik, het op die randjie van die water gesterf. Rondom die bad is skerms opgerig om die siekes te beskut teen die hitte bedags en die koue snags. Sommige het die nag in die gange deurgebring, en dag na dag het hulle na die randjie van die water gekruip, hopende op genesing. KE 198.2

Jesus was weer in Jerusalem. Terwyl Hy alleen gestap het, peinsende en biddende, het Hy by die bad gekom. Hy het gesien hoedat die arme siekes waggehou het vir wat hulle gemeen het hulle enigste kans op genesing was. Hy het verlang om Sy krag van genesing te gebruik en elke sieke gesond te maak. Maar dit was die Sabbatdag. Skares het na die tempel gegaan om te aanbid, en Hy het geweet dat as Hy hulle sou genees, dit die vooroordeel van die Jode sou opwek en Sy werk sou beëindig. KE 198.3

Maar die Here het daar een baie treurige geval gesien. Dit was 'n man wat vir agt-en-dertig jaar reeds hulpeloos verlam was. Sy siekte was in 'n groot mate die gevolg van sy eie sonde, en dit was beskou as 'n straf van God. Alleen en sonder vriende, voelende dat hy uitgesluit was van Gods genade, het die lyer lange jare in eilende deur- gebring. Met tye wanneer daar verwag is dat die roering in die water sou kom, het ontfermende vriende hom in een van die poorte gedra, maar op die regte oomblik het hy niemand gehad om hom in die water te plaas nie. Hy het al met vorige kere die roering van die water gesien, maar hy kon nooit verder kom as die kant van die water nie. Ander wat sterker was as hy, het voor hom ingespring. Hy kon nie met sukses meeding met die selfsugtige, aanstormende menigte nie. Sy pogings, en sy angs en teleurstelling, het sy laaste bietjie kraggies uitgeput. KE 199.1

“Die siek man het op sy mat gelê en so nou en dan na die water gekyk, toe 'n tere, ontfermende gesig oor hom buig met die woorde,Wil jy gesond word?” Daar het weer hoop in sy hart gekom. Hy het gevoel dat hy, hoe ook al, gaan hulp kry. Maar hy het gou weer moedeloos gevoel. Hy het onthou hoe dikwels hy al probeer het om die water te bereik, en nou het hy maar min hoop gehad om te lewe totdat die water weer geroer word. Moeg het hy geantwoord, “Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan 'n ander een voor my in.” KE 199.2

Jesus het nie hierdie lyer gevra om geloof in Hom te hê nie. Hy het eenvoudig gesê, “Staan op, neem jou bed op en loop.” Maar die man se geloof het op daardie bevel gereageer. Elke senuwee en spier het getril met nuwe lewe, en krag het gekom in sy verlamde bene. Sonder om teë te praat, het hy sy wil in werking gebring om die bevel van Christus te gehoorsaam, en al sy spiere het sy wil gehoorsaam. Hy het opgespring en gevind dat hy n gesonde man was. KE 199.3

Jesus het hom geen versekering van goddelike hulp gegee nie. Daardie man kon bly lê en twyfel, en sy enigste kans om gesond te word, verbeur. Maar hy het Christus se woord geglo, en deur daarop te handel, het hy krag ontvang. KE 199.4

Deur dieselfde geloof kan ons geestelike genesing verkry. Deur die sonde is ons afgesny van die lewe van God. Ons siele is verlam. Van onsself is ons net so magteloos om 'n heilige lewe te lei as daardie lam man was om te loop. Daar is vele wat hulle hulpeloosheid besef, en wat verlang na daardie geestelike lewe wat hulle in ooreenstemming met God sal bring; hulle probeer tevergeefs om dit te verkry. In wanhoop roep hulle uit, “Ek, ellendige mens! wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Rom. 7:24. Laat daardie moedelose, worstelende mense na omhoog kyk. Die Verlosser buig neer oor die eiendom wat Hy met Sy bloed gekoop het, en Hy sê met die grootste ontferming, “Wil jy gesond word?” Hy beveel jou om op te staan in gesondheid en vrede. Moenie wag om te voel dat jy gesond is nie. Glo Sy woord en dit sal vervul word. Plaas u wil aan die kant van Christus. Besluit om Hom te dien, en waar u op Sy woord handel, sal u krag ontvang. Wat ook al die sonde is, sal die bande wat so lank jou siel en liggaam gebind het, deur Christus verbreek word om jou te verlos. Hy sal lewe gee aan die siel wat “dood was deur die misdade.” Efe. 2:1. Hy sal die gevangene vrylaat wat in swakheid deur die bande van die sonde gebind is. KE 200.1

Die gekeesde lamme het gebuk om sy bed op te tel, wat bestaan het uit n matjie en kombers, en toe hy weer orent kom met 'n gevoel van vreugde, het hy omgekyk na sy Verlosser, maar Jesus het onder die skare verdwyn. Die man het gevrees dat hy Hom nie weer sou herken as hy Hom sien nie. Toe hy daar wegstap met ferme tred, lowende God in sy nuwe krag, het hy n hele paar van die Fariseërs teëgekom, en hulle dadelik vertel van sy genesing. Hy was verbaas oor die kilheid waarmee hulle na sy storie geluister het. KE 200.2

Met fronsende winkbroue het hulle hom in die rede geval en gevra waarom hy sy bed op die Sabbat dra. Streng het hulle hom daaraan herinner dat dit nie wettig was om laste te dra op die dag van die Here nie. In sy blydskap het die man vergeet dat dit die Sabbat was, maar nogtans het hy nie veroordeel gevoel omdat hy die bevel gehoorsaam het van die Een wat sulke krag van God geopenbaar het nie. Onbevrees het hy geantwoord, “Hy wat my gesondgemaak het, Hy het vir my gesê. Neem jou bed op en loop.” Hulle het toe gevra wie dit was wat dit gedoen het, maar hy kon nie se nie. Hierdie owerstes het geweet dat daar net Een was wat hierdie wonderwerk kon gedoen het, maar hulle wou regstreekse bewys hê dat dit Jesus was, sodat hulle Hom kon veroordeel as 'n Sabbatskender. Volgens hulle mening het Hy nie alleen die wet oortree deur op die Sabbat 'n man te genees nie, maar Hy het Homself ook skuldig gemaak aan heiligskennis deur hom te beveel om sy bed te dra. KE 200.3

Die Jode het die wet so verdraai dat dit 'n swaar juk geword het. Hulle onsinnige bepalings was iets waarmee ander volke die spot gedryf het. Veral was die Sabbat omhein met allerhande lastige bepalings. Vir hulle was die heilige dag van die Here nie 'n verlustiging nie. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het die viering van die Sabbat 'n ondraaglike las gemaak. Vir 'n Jood was dit nie geoorloof om 'n vuur of 'n kers aan te steek op die Sabbat nie, en gevolglik was die mense afhanklik van die heidene vir baie werkies wat hulle eie reëls hulle nie toegelaat het om vir hulleself te doen nie. Hulle het nie daaraan gedink dat as hierdie dade sondig was, diegene wat ander gekry het om dit te doen, net so skuldig was asof hulle die werk self gedoen het nie. Hulle het gedink dat die saligheid net vir die Jode was, en dat die posisie van alle ander mense, omdat hulle alreeds hopeloos was, nie erger kon word nie. Maar God het geen gebooie gegee wat nie deur almal gehoorsaam kan word nie. Sy wette gee geen toestemming tot onredelike of selfsugtige bepalings nie. KE 201.1

In die tempel het Jesus die man ontmoet wat Hy genees het. Hy het gekom om 'n sondoffer te bring, en ook 'n dankoffer vir die groot genade wat aan hom betoon is. Toe Hy hom daar onder die aanbidders sien, het Jesus Homself bekendgestel met die waarskuwing, “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Die geneesde man was oorstelp van vreugde toe hy sy Verlosser sien. Onwetend van hulle vyandigheid teenoor Jesus, het hy aan die Fariseërs gesê wat hom ondervra het, dat dit hierdie man is wat hom gesond gemaak het. “Hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die Sabbat gedoen het.” KE 201.2

Jesus is voor die Sanhedrin gebring op aanklag dat Hy die Sabbat geskend het. As die Jode op hierdie tyd 'n onafhanklike volk was, sou hulle Hom op hierdie aanklag tot die dood kon veroordeel het. Maar omdat hulle aan die Romeine onderworpe was, kon hulle dit nie doen nie. Die Jode het geen mag gehad om die doodvonnis uit te voer nie, en die beskuldigings wat hulle teen Jesus ingebring het, sou geen krag gehad het in 'n Romeinse hof nie. Maar hulle het gestrewe na 'n ander doelwit. Ondanks hulle pogings om Hom teen te werk, het Christus selfs in Jerusalem groter invloed onder die volk begin kry as hulle. Menigtes wat geen belang gestel het in die stryery van die rabbi's nie, het aangetrokke gevoel tot Jesus deur Sy leer. Hulle kon Sy woorde verstaan, en hulle harte is verkwik en vertroos. Hy het God voorgestel, nie as 'n wraaksugtige regter nie, maar as 'n barmhartige Vader, en Hy self het die beeld van God weerkaats. Sy woorde was soos balsem vir hulle verwonde gees. Beide deur Sy woorde en Sy werke van genade het Hy die verdrukkende mag van die ou tradisies en menslike gebooie verbreek, en die grenslose liefde van God in sy volheid voorgestel. KE 201.3

In een van die vroegste profesieë oor Christus is daar geskryf: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en Hom sal die volke gehoorsaam wees.” Gen. 49: 10. Die mense het hulle om Christus geskaar. Die simpatieke harte van die skare het die lesse van liefde en welwillendheid aangeneem in stede van die onbuigbare seremonies deur die priesters vereis. As die priesters en rabbi's hulle nie met die saak bemoei het nie, sou Sy leer so 'n grondige reformasie teweeggebring het soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Maar om hulle eie gesag te handhaaf, het hierdie leiers besluit om die invloed van Jesus te verbreek. Sy daging voor die Sanhedrin, en 'n openbare veroordeling van Sy leer, sou hulle help om hulle doel te bereik, want die volk het nog groot eerbied gehad vir hulle godsdienstige leiers. Wie ook al gewaag het om die rabbynse vereistes te minag, of om die laste te versag wat hulle die volk opgelê het, is beskou as skuldig, nie alleen aan godslastering nie, maar ook aan verraad. Op hierdie grond het die rabbi's gehoop om agterdog teen Jesus te verwek. Hulle het Hom voorgestel as iemand wat besig was om die gevestigde gebruike te vernietig, wat die volk verdeel het en die weg geopen het vir hulle onderwerping deur die Romeine. KE 202.1

Maar die planne wat hierdie rabbi's so ywerig besig was om te vervul, het ontstaan in 'n gans ander raad as die van die Sanhedrin. Nadat dit die Satan misluk het om Christus te oorwin in die woestyn, het hy sy magte saamgetrek om Hom te beveg in Sy bediening, en indien moontlik, om Sy werk te dwarsboom. Wat hy nie kon regkry deur regstreekse persoonlike aanvalle nie, het hy probeer doen deur ander metodes. Onmiddellik nadat hy hom onttrek het aan die stryd in die woestyn, het hy in oorleg met sy engele planne gemaak om die verstand van die Joodse volk nog verder te benewel om nie hulle Verlosser te herken nie. Hy sou deur sy menslike werktuie optree in die godsdienstige wêreld deur hulle te besiel met sy eie vyandigheid teen die kampvegter vir die waarheid. Hy sou hulle beweeg om Christus te verwerp en om Sy lewe so bitter moontlik te maak, hopende om Hom in Sy werk te ontmoedig. En die leiers van Israel het werktuie geword van die Satan deur teen hulle Verlosser te veg. KE 202.2

Jesus het gekom om “die onderwysing groot en heerlik te maak.” Hy sou nie die waardigheid daarvan verminder nie, maar dit eerder verhoog. Die Skrif sê, “Hy sal nie dof brand of geknak word totdat Hy die reg op die aarde gegrond het nie.” Jes. 42: 21, 4. Hy het gekom om die Sabbat te bevry van daardie lastige bepalings wat dit 'n vloek pleks van 'n seën gemaak het. KE 203.1

Dit was om hierdie rede dat Hy die Sabbat gekies het om die man by Betesda gesond te maak. Hy kon daardie siek man net so goed op enige ander dag van die week genees het, of Hy kon hom maar net genees het sonder om hom te beveel om sy bed met hom saam te dra. Maar dit sou Hom nie die kans gegee het waarna Hy gesoek het nie. Daar was 'n wyse doel in elke daad van Christus se lewe op aarde. Alles wat Hy gedoen het, was op sigself belangrik, en ook die les wat dit geleer het. Onder die siekes by die bad het Hy die ergste geval uitgesoek om Sy krag van gesondmaking te beoefen, en Hy het die man beveel om sy bed deur die stad te dra om die groot wonder wat vir hom gedoen is, rugbaar te maak. Dit sou die vraag laat ontstaan van presies wat op die Sabbat geoorloof was, en dit sou die weg open vir Hom om die beperkings van die Jode op die dag van die Here te veroordeel, en hulle tradisies nietig te verklaar. KE 203.2

Jesus het aan hulle gesê dat die werk om die lyding van siekes te verlig heeltemal in ooreenstemming is met die wet van die Sabbat. Dit was in ooreenstemming met die werk van Gods engele wat gedurig opgaan en neerdaal tussen die hemel en die aarde as dienaars van die lydende mensdom. Jesus het gesê, “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Alle dae behoort aan God om Sy planne uit te werk vir die mens. As die Joodse verklaring van die wet reg was, dan sou God verkeerd wees, want Hy het alles in stand gehou van die skepping af; Hy wat gesê het dat alles wat Hy gemaak het goed was, en die Sabbat ingestel het om die voltooiing van die skepping te herdenk, sal Sy werk moet staak en die nimmereindigende roetine van die heelal moet stopsit. KE 203.3

Moet God die son belet om op die Sabbat te skyn, of sy strale afsny om nie die aarde te verwarm en die plantegroei te verkwik nie? Moet die hele stelsel van wêrelde stilstaan op daardie heilige dag? Moet Hy die strome belet om die velde en woude te besproei, en moet Hy die bare van die see gebied om stil te wees? Moet die koring en mielies ophou om te groei, en moet die vrugte nie ryp word nie? Moet die bome en die blomme nie bloei op die Sabbat nie? KE 204.1

As dit die geval sou wees, sou die mense die vrugte van die aarde mis, asook die seëninge wat die lewe aangenaam maak. Die natuur moet met sy werking voortgaan. God kan nie vir een oomblik Sy hand terughou nie, of die mens sou beswyk en sterf. En die mens het n werk om te doen op hierdie dag. Hy moet omsien na die benodighede van die lewe, die siekes moet versorg word, en daar moet voorsien word in die behoeftes van diegene wat behoeftig is. Diegene wat nalaat om lyding op die Sabbat te verlig, sal nie onskuldig wees nie, Gods heilige rusdag is vir die mens gemaak, en dade van genade is heeltemal in ooreenstemming met die doel daarvan. God wil nie hê dat Sy skepsels selfs vir een uur moet ly as die lyding op die Sabbatdag of enige ander dag verlig kan word nie. KE 204.2

Die beroepe op God is op die Sabbatdag groter as op ander dae. Sy kinders staak hulle gewone werk, en bestee die tyd aan oorpeinsing en aanbidding. Hulle vra Hom meer gunste op die Sabbat as op ander dae. Hulle vra om Sy spesiale aandag. Hulle verlang na Sy beste seëninge. God wag nie vir die Sabbat om verby te gaan voordat Hy hierdie versoeke toestaan nie. Die werk van die Hemel hou nooit op nie, en die mens moet nooit rus van sy goeie werke nie. Die Sabbat was nie bedoel as 'n tyd vir ledigheid nie. Die wet verbied sekulêre werk op die rusdag van die Here; die werk om 'n bestaan moet ophou; geen werk vir wêreldse plesier of vir profyt is geoorloof op daardie dag nie; maar net soos God Sy skeppingswerk gestaak het en op die Sabbat gerus en dit geseën het, so moet die mens ook sy daelikse werk staak en die heilige ure bestee aan gesonde rus, aanbidding, en heilige dade. Die werk van Christus, toe Hy die sieke gesond gemaak het, was in volkome ooreenstemming met die wet. Dit het die Sabbat geëer. KE 204.3

Jesus het aanspraak gemaak op gelyke regte met God in die werk van gelyke aard en van dieselfde karakter as die wat die Vader in die hemel doen. Maar dit het die Fariseërs nog meer gebelg. Nie alleen het Hy die wet gebreek soos hulle gemeen het nie, maar deur God “Sy eie Vader” te noem, het Hy gesê dat Hy “gelyk aan God was.” Joh. 5: 18. KE 205.1

Die Joodsc volk het God hulle Vader genoem, en hulle sou nie so kwaad geword het as Christus net aanspraak op daardie verhouding gemaak het nie. Maar hulle het Hom van godslastering beskuldig en daardeur bewys dat hulle besef het dat Hy die aanspraak in die hoogste sin gemaak het. KE 205.2

Hierdie teenstanders van Christus het geen argumente gehad teen die waarhede wat Hy hulle aan die verstand gebring het nie. Hulle kon net hulle gebruike en tradisies aanhaal wat swak en flou was vergeleke met die wat Jesus uit die Woord aangevoer het, en uit die einde- lose werking van die natuur. As die rabbi's enige begeerte gehad het om lig te ontvang, sou hulle oortuig gewees het dat Jesus die waarheid gepraat het. Maar hulle het Sy punte oor die Sabbat laat links lê, en getrag om woede teen Hom op te wek omdat Hy aanspraak gemaak het op gelykheid aan God. Die woede van die owerstes het geen perke geken nie. As hulle nie bang was vir die mense nie, sou die priesters en rabbi's Jesus sommer daar en dan doodgemaak het. Maar die openbare gevoel ten gunste van Hom was sterk. Vele het in Jesus die vriend gesien wat hulle kwale genees en hulle vertroos het, en hulle het Sy genesing van die sieke te Betesda geregverdig. So moes die leiers vir 'n tyd hulle haat bedwing. KE 205.3

Jesus het die beskuldiging van godslastering verwerp. My gesag, het Hy gesê, vir die werk waarvoor julle My beskuldig het, is dat Ek die Seun van God is, een met Hom in natuur, in wil, en in doel. In al Sy werke van die skepping en die voorsienigheid, werk Ek saam met God. “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.” Die priesters en rabbi's het die Seun van God tot verantwoording geroep omdat Hy die werk gedoen het waarvoor Hy opsetlik na die wêreld gestuur is. Deur hulle sondes het hulle hulleself afgeskei van God, en in hulle hoogmoed het hulle onafhanklik van Hom gehandel. Hulle het selfvoldaan gevoel oor alle dinge, en hulle het geen behoefte gevoel aan 'n hoër wysheid om hulle te lei nie. Maar die Seun van God het Homself oorgegee aan Sy Vader se wil en Hy was afhanklik van Sy krag. So volkome was Christus ontledig van die eie-ek dat Hy geen planne gemaak het vir homself nie. Hy het Gods planne vir Hom aangeneem, en dag na dag het die Vader Sy planne geopenbaar. So moet ons ook op God vertrou, sodat ons lewens die eenvoudige uitwerking van Sy wil sal wees. KE 205.4

Voordat Moses die heiligdom gebou het as woonplek van God, is hy beveel om alles te maak volgens die patroon wat aan hom op die berg getoon is. Moses was vol ywer vir Gods werk; die talentvolste en mees bedrewe manne was beskikbaar om sy aanwysings uit te voer. Nogtans moes hy nie 'n klok, granaat, klossie, fraaiing, of gordyn, of enige ander voorwerp in die tabernakel maak dan alleen volgens die patroon wat aan hom getoon is nie. God het Moses na Hom toe op die berg geroep, en daar aan hom die hemelse dinge geopenbaar. Die Here het hom met sy eie heerlikheid bedek, sodat hy die patroon kon sien, en daarvolgens is alles gemaak. En so ook aan Israel in wie God graag wou woon, het Hy die heerlike karakter-ideaal geopenbaar. Die patroon is aan hulle getoon op die berg toe die wet op Sinai gegee is, en toe die Here voor Moses verbygegaan en uitgeroep het, “Here, Here, 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid hou vir dui- sende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vetgewe.” Exod. 34: 6, 7. KE 206.1

Israel het hulle eie weë gekies. Hulle het nie gebou volgens die patroon nie; maar Christus, die ware tempel vir Gods inwoning, het elke besonderheid van Sy aardse lewe gereël in ooreenstemming met Gods ideaal. Hy het gesê: “Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in My ingewande.” Ps. 40: 9. So moet ons karakters ook gebou word “tot 'n woning van God in die Gees.” Efe. 2: 22. So moet ons alles maak “volgens die voorbeeld,” ja van Hom wat vir ons gely het “en 'n voorbeeld vir julle nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg.” Heb. 8: 5; 1 Pet. 2: 21. KE 206.2

Die woorde van Christus leer ons dat ons ons moet beskou as onafskeidelik verbind met ons Vader in die hemel. Wat ons posisie ook al is, ons is afhanklik van God in wie se hande ons lotsbestemming is. Hy het ons werk aan ons gegee, en ons met die vermoëns en mid dels toegerus vir daardie werk. Solank as ons ons oorgee aan die wil van God, en op Hom vertrou vir krag en wysheid, sal ons gelei word in veilige paaie om ons aangewese deel te doen in Sy groot plan. Maar die een wat op sy eie wysheid en krag vertrou, is besig om homself af te skei van God. Pleks van saam met Christus te werk, werk hy saam met die vyand van God en mens. KE 206.3

Die Heiland het voortgegaan, “Want alles wat Hy [die Vader] doen, dit doen die Seun ook net so. . . . Want soos die Vader die dode opwek en lewendig maak, so maak ook die Seun lewendig wie Hy wil.” Die Sadduseërs het geleer dat daar geen opstanding van die liggaam sou wees nie; maar Jesus het aan hulle gesê dat een van die grootste werke van Sy Vader die opwekking van die dode is, en dat Hy self ook mag het om daardie werk te doen. “Daar kom n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het sal lewe. Die Fariseërs het geglo in die opstanding van die dode.” Christus het verklaar dat die mag wat lewe aan die dode gee, toe reeds in hulle midde was, en hulle sou die openbaring daarvan sien. Dit is hierdie selfde opwekkingskrag wat lewe aan die siel gee wat “dood was deur die misdade en die sondes.” Efe. 2:1. Daardie gees van die lewe in Christus Jesus, “die krag van Sy opstanding,” maak mense vry “van die wet van die sonde en die dood.” Filip. 3: 10; Rom. 8: 2. Die heerskappy van die sonde word verbreek, en deur die geloof word die siel bewaar van die sonde. Die een wat sy hart oopstel vir die Gees van Christus word n deelgenoot van daardie krag wat sy liggaam sal voortbring uit die graf. KE 207.1

Die nederige Nasarener het Sy ware edelmoedigheid getoon. Hy verhef Hom bokant die mensdom, Hy gooi die mantel van die sonde en skande af, en staan geopenbaar, die mees geëerde onder die engele, die Seun van God, een met die Skepper van die heelal. Sy toehoorders was betower. Geen mens het nog ooit woorde soos syne gespreek, of hom met sulke koninklike majesteit gedra nie. Sy woorde was duidelik en verstaanbaar, en het Sy sending en die plig van die wêreld duidelik verklaar. “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun mag eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. . . . Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.” KE 207.2

Die priesters en owerstes het hulleself gestel as regters om Christus se werk te veroordeel, maar Hy het gesê dat Hy hulle regter is, en die regter van die hele aarde. Die wêreld is aan Christus oorgegee, en deur Hom het die seëninge van God na die gevalle mensdom gevloei. Hy was hulle Verlosser net sowel vóór as ná Sy vleeswording. Sodra die sonde ontstaan het, was daar ook 'n Verlosser. Hy het die lig en die lewe aan almal gegee, en volgens die mate van lig wat gegee is, so sal elkeen geoordeel word. En Hy wat die lig gegee het, Hy wat die siel agtervolg het met genade, soekende om hom te win van sonde tot heiligheid, is terselfdertyd voorspraak en regter van die siel. Vanaf die begin van die groot stryd in die hemel, het die Satan voortgegaan met bedrog, en Christus het gewerk om sy planne aan die kaak te stel en sy mag te breek. Dit is Hy wat die bedrieër beveg het, en wat deur die eeue die gevangenes uit sy mag bevry het, en wat elke siel sal oordeel. KE 208.1

En God het aan Hom “mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Omdat Hy in die diepste ellende en versoeking van die mens gedeel het, en die swakhede en sondes van mense verstaan; omdat Hy ten behoewe van die mens die versoekings van die Satan oorwin het; en omdat Hy met ontferming sal handel met die siele vir wie Hy Sy bloed gestort het, daarom is die Seun van die mens aangestel om te oordeel.” KE 208.2

Maar Christus se sending was nie om te oordeel nie, maar om te red. “God het Sy Seun in die wereld gestuur nie om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wereld deur Hom gered kan word.” Joh. 3: 17. En voor die Sanhedrin het Jesus gesê, “Wie My woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Joh. 5: 24. KE 208.3

Christus het aan Sy toehoorders gesê om hulle nie te verwonder nie, en toe het Hy die gordyn van die toekoms nog 'n bietjie verder weggetrek. “Daar kom 'n uur,” het Hy gesê, “wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan—die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” Joh. 5: 28, 29. KE 208.4

Hierdie versekering aangaande die toekomstige lewe — dit was waarop Israel so lank gewag het, en wat hulle verwag het om te verkry by die koms van die Messias. Die enigste lig wat die duisternis van die graf kan verlig, het op hulle geskyn. Maar eiesinnigheid is blind. Jesus het die tradisies van die rabbi's oortree en hulle gesag veronagsaam, en hulle wou nie glo nie. KE 209.1

Die tyd, die plek, die okkasie, die erns van die vergadering — alles het bygedra om die woorde van Jesus voor die Sanhedrin nog meer indrukwekkend te maak. Die hoogste godsdienstige gesag van die volk het die lewe gesien van Hom wat gesê het dat Hy die redder van Israel was. Die Here van die Sabbat het aangekla gestaan voor 'n aardse hof dat Hy die Sabbatswet oortree het. Toe Hy so onverskrokke Sy sending verduidelik het, het Sy regters Hom met verbasing en woede bejeën; maar hulle kon Hom nie antwoord nie. Hulle kon Hom nie veroordeel nie. Hy het die reg van die priesters en rabbi's betwyfel om Hom tot verantwoording te roep, en hulle met Sy werk in te meng. Hulle het geen gesag gehad om dit te doen nie. Hulle aansprake het berus op hulle eie hoogmoed en verwaandheid. Hy het geweier om skuldig te pleit op hulle aanklagte, of om deur hulle berispe te word. KE 209.2

Pleks van verskoning te vra vir die daad waaroor hulle gekla het, of om te verduidelik waarom Hy dit gedoen het, het Jesus die owerstes beskuldig, en die aangeklaagde het nou die klaer geword. Hy het hulle bestraf oor die hardheid van hulle harte, en hulle onkunde aangaande die Skrifte. Hy het verklaar dat hulle die Woord van God verwerp het omdat hulle Hom wat deur God gestuur is, verwerp het. “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is die wat van My getuig.” Joh. 5: 39. KE 209.3

Elke bladsy van die Ou Testament, of dit geskiedenis, poësie, voorskrif, of profesie was, het gestraal van die heerlikheid van die Seun van God. Die hele Joodse stelsel, sover as dit 'n instelling van God was, was 'n bondige profesie van die evangelie. Aangaande Christus het “al die profete” “getuig” (Hand. 10:43). Van die belofte wat aan Adam gegee is, deur die patriargale linie en in die regspraak, het die heerlike lig van die hemel die spore van die Verlosser aangewys. Sieners het die Ster van Betlehem gesien, die Silo wat sou kom, namate die toekomstige dinge aan hulle geopenbaar is. Elke offerande het gewys op die dood van Christus. In elke wolk van wierook het Sy geregtigheid opgestyg. Elke keer as op die ramshoring geblaas is, is Sy Naam gehoor. In die ontsaginboesemende misterie van die allerheiligste plek het Sy heerlikheid gewoon. KE 209.4

Die Jode het die Skrifte in hulle besit gehad, en hulle het gedink dat hulle in 'n bloot uiterlike kennis van die Woord die ewige lewe gehad het. Maar Jesus het gesê, “Julle het nie Sy woord as iets blywends in julle nie.” Daar hulle Christus in Sy Woord verwerp het, het hulle Hom ook as persoon verwerp. “Julie wil nie na My kom om die lewe te hê nie,” het Hy gesê. KE 210.1

Die Joodse leiers het die geskrifte van die profete aangaande die koninkryk van die Messias ondersoek, maar hulle het dit gedoen nie met 'n opregte begeerte om die waarheid te ken nie, maar met die doel om bewyse te vind vir hulle trotse hoop. Toe Christus gekom het op 'n manier anders as wat hulle gemeen het, wou hulle Hom nie aanneem nie; om hulleself te regverdig, het hulle probeer bewys dat Hy 'n bedrieër was. Nadat hulle eers hierdie weg ingeslaan het, was dit baie maklik vir die Satan om hulle teenstand teen Christus te versterk. Die woorde wat hulle moes aangeneem het as bewys van Sy Godheid, het hulle teen Hom gebruik. Op hierdie wyse het hulle die waarheid van God in 'n leuen verander, en hoe duideliker die Heiland tot hulle gespreek het deur Sy werke van genade, hoe meer het hulle volhard in hulle weerstand teen die lig. KE 210.2

Jesus het gesê, “Eer neem Ek van die mense nie aan nie.” Dit was nie die invloed van die Sanhedrin, of die goedkeuring daarvan, wat Hy begeer het nie. Hulle goedkeuring sou vir Hom geen eer gewees het nie. Hy was beklee met die eer en gesag van die Hemel. As Hy dit begeer het, sou engele uit die hemel gekom het om Hom hulde te betoon; die Vader sou weer getuig het van Sy Godheid. Maar vir hulle eie ontwil, vir die ontwil van die volk onder wie hulle as leiers gedien het, wou Hy hê dat die Joodse leiers Sy karakter moes sien, en die seëninge moes ontvang wat Hy aan hulle gebring het. KE 210.3

“Ek het gekom in die Naam van My Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem.” Jesus het op gesag van God gekom; Hy het Sy beeid gedra, Sy Woord vervul, en Sy eer gesoek; maar nogtans is Hy nie deur die leiers van Israel aangeneem nie; maar as ander sou kom en hulle as Christus voordoen, uit hulle eie wil, en soekende hulle eie eer, sou hulle aange neem word. En hoekom? Omdat hy wat sy eie heerlikheid soek aanklank vind in die harte van diegene wat selfverheffing begeer. Na sulke mense sou die Jode luister. Hulle sou die valse leraar aanneem omdat hy hulle hoogmoed sou streel deur hulle geliefkoosde opinies en tradisies te beaam. Maar die leer van Christus het nie ooreengestem met hulle idees nie. Dit was geestelik, en het die opoffering van die eie-ek geverg; daarom wou hulle dit nie aanneem nie. Hulle het God nie geken nie, en vir hulle was Sy stem deur Christus soos die stem van 'n vreemde. KE 210.4

Word dieselfde soort ding nie in ons tyd herhaal nie? Is daar nie vele nie, veral godsdienstige leiers, wat hulle harte teen die Heilige Gees verhard sodat dit vir hulle onmoontlik is om die stem van God te herken? Verwerp hulle nie die Woord van God, sodat hulle hulle eie tradisies kan bewaar nie? KE 211.1

“As julle Moses geglo het,” het Jesus gesê, “sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle My woorde glo?” Dit was Christus wat tot Israel gespreek het deur Moses. As hulle na die goddelike stem sou geluister het wat deur hulle groot leier gespreek het, sou hulle daarin die leer van Christus herken het. As hulle Moses geglo het, sou hulle Hom geglo het van wie Moses geskryf het. KE 211.2

Jesus het geweet dat die priesters en rabbi's vasbeslote was om Hom om die lewe te bring; maar nogtans het Hy duidelik Sy eenheid met die Vader verklaar, en Sy verhouding tot die wêreld. Hulle het gesien dat hulle geen verskoning gehad het vir hulle teenstand teen Hom nie, maar nogtans kon die vlam van hulle haat nie geblus word nie. Hulle was vreesbevange waar hulle die oortuigende krag gesien het wat Sy bediening gekenmerk het; maar hulle het Sy oproepe weerstaan en hulleself met die duisternis omsluit. KE 211.3

Dit het hulle nie geluk om die gesag van Jesus te ondermyn, of om die respek en aandag van die volk van Hom af te wend nie — baie van hulle was oortuig deur Sy woorde. Die owerstes self het veroordeel gevoel waar Hy hulle tot 'n skuldbesef gebring het, maar dit het hulle nog meer verbitterd teen Hom gemaak. Hulle was gedetermineerd om Hom dood te maak. Hulle het boodskappers deur die hele land gestuur om die mense te waarsku dat Jesus 'n bedrieër is. Spioene is aangesê om Hom dop te hou en Sy doen en late te rapporteer. Die dierbare Heiland het nou gewis in die skaduwee van die kruis gestaan. KE 211.4