Die Koning Van Die Eeue

23/88

Die Gevangeskap en Dood van Johannes

JOHANNES die Doper was die eerste wat die koninkryk van Christus aangekondig het, en hy was die eerste wat daarvoor geiy het. Waar hy eers in die vrye lug van die woestyn beweeg het, en waar hy groot skares geboei het, het hy nou tussen die vier mure van n sel opgesluit gesit. Hy was 'n gevangene in die fort van Herodes, die viervors. In die landstreek oos van die Jordaan, wat onder Herodes was, het Johannes die meeste van sy werk gedoen. Herodes self het na die prediking van die Doper geluister. Die losbandige koning het gesidder onder die oproep tot bekering. “Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n reg- verdige en heilige man was, . . . en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.” Johannes het eerlik met hom gehandel, en hom bestraf vir sy verbintenis met Herodias, sy broer se vrou. Vir 'n tyd het Herodes probeer om die ketting van wellus te verbreek wat hom gebind het; maar Herodias het hom nog vaster gebind in haar strikke, en sy het haarseif op Johannes gewreek deur Herodes te beweeg om hom in die gevangenis te werp. KE 212.1

Johannes was 'n baie ywerige werker, en die feit dat hy nou in die gevangenis moes stil sit, het swaar op hom gedruk. Namate die weke verbygegaan het sonder om 'n verandering te bring, het hy baie neerslagtig en twyfelmoedig geword. Sy dissipels het hom nie verlaat nie. Hulle is toegelaat om hom in die gevangenis te besoek, en hulle het hom vertel van die werk van Jesus, en hoe die mense na Hom toe gestroom het. Maar hulle kon nie verstaan waarom hierdie nuwe leraar, as Hy die Messias was, niks gedoen het om Johannes te verlos nie. Hoe kon Hy toelaat dat Sy getroue voorloper van sy vryheid, en moontlik ook van sy lewe, beroof word? KE 213.1

Hierdie vrae was nie sonder uitwerking nie. Twyfel wat andersins miskien nooit sou ontstaan het nie, het nou by Johannes opgekom. Die Satan was bly toe hy die woorde van hierdie dissipels hoor, en sien hoe hulle die siel van die Here se boodskapper verwond het. Hoe dikwels het dit al gebeur dat diegene wat dink dat hulle die vriende van 'n goeie mens is, en graag hulle getrouheid aan hom wil betoon, inderwaarheid sy gevaarlikste vyande is! Hoe dikwels ontmoedig hulle woorde hom pleks van sy geloof te versterk! KE 213.2

Net soos die dissipels van die Heiland, het ook Johannes nie die aard van Christus se koninkryk verstaan nie. Hy het verwag dat Jesus die troon van Dawid sou bestyg, en namate die tyd verbygegaan en die Heiland geen aanspraak op die koningskap gemaak het nie, het dit Johannes baie verbyster en ontstel. Hy het aan die mense verkondig dat die profesie van Jesaja vervul moes word ten einde die weg van die Here te berei; die berge en heuweis moet klein gemaak word; die bulte moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word. Hy het gemeen dat die hoogtes van menslike hoogmoed gelyk gemaak moet word. Hy het na die Messias verwys as die Een met die wan in die hand wat Sy dorsvloer sal reinig, die koring in Sy skuur sal bring, en die kaf met onuitbluslike vuur sal verbrand. Net soos die profeet Elia, in wie se gees en krag hy gekom het, het hy verwag dat die Here Homself sou openbaar as die God wat met vuur antwoord. KE 213.3

In sy werk het die Doper die sonde op onverskrokke wyse verodeel sowel in hoë as in lae kringe. Hy het selfs Koning Herodes openlik bestraf oor sy sonde. Hy het nie sy lewe dierbaar geag sodat hy sy sending kon volbring nie. En nou het hy daar in die gevangenis gewag vir die Leeu uit die stam van Juda om die hoogmoed van die verdrukker te verneder, en om die armes, en die wat in nood roep, te verlos. Maar dit het gelyk asof Jesus heeltemal tevrede was om maar dissipels te maak, en die mense te genees en te leer. Hy het geëet aan die tafels van tollenaars, terwyl die Romeinse juk elke dag nog swaarder gedruk het op Israel, terwyl Koning Herodes en sy minnares gemaak het wat hulle wou, en terwyl die armes en ellendiges maar steeds tot die hemel geroep het. KE 213.4

Vir die woestynprofeet was dit alles dinge wat hy nie kon verstaan nie. Daar was tye wanneer die gefluister van demone sy gees geteister, en die skaduwee van 'n verskriklike vrees hom beklem het. Kon dit wees dat die langverwagte Verlosser nog nie verskyn het nie? Maar wat sou dan die boodskap beteken het wat hy self verkondig het? Johannes was bitter teleurgestel in die uitslag van sy sending. Hy het verwag dat die boodskap van God dieselfde uitwerking sou hê as toe die wet voorgelees is in die dae van Josia en Esra (2 Kronieke 34, Nehemia 8, 9); dat daar n opregte bekering tot God sou plaas- vind. Hy het sy hele lewe opgeoffer vir die sukses van hierdie sending. Was dit alles tevergeefs? KE 214.1

Dit het Johannes ontstel om te sien dat sy dissipels, uit liefde vir hom, ongeloof gekoester het teenoor Jesus. Sou sy werk vir hulle vrugteloos gewees het? Was hy self ontrou gewees in sy sending dat hy nou nie meer mag werk nie? As die beloofde Verlosser wel verskyn het en Johannes getrou was aan sy roeping, sou Jesus dan nie nou die mag van die verdrukker verbreek en sy voorloper vrystel nie? KE 214.2

Maar die Doper het nie sy geloof in Christus opgegee nie. Die herinnering aan die stem uit die hemel en die neerdaling van die duif, die vlekkelose reinheid van Jesus, die krag van die Heilige Gees op Johannes toe hy in die Heiland se teenwoordigheid gekom het, en die getuienis van die profetiese geskrifte — dit alles het getuig dat Jesus van Nasaret die Beloofde Een was. KE 214.3

Johannes wou nie sy angs en twyfel met sy dissipels bespreek nie. Hy het besluit om boodskappers na Jesus te stuur en navraag te doen. Hy het twee van sy dissipels gestuur, hopende dat hulle onderhoud met Jesus hulle geloof sou versterk, en versekering aan hulle broeders sou gee. Ook het hy verlang na 'n woord van Christus persoonlik aan hom. Die dissipels het na Jesus gegaan met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” KE 214.4

'n Kort rukkie tevore nog het Johannes na Jesus gewys en gese, “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” “Dit is Hy wat ná my kom, wat my vóór is.” Joh. 1: 29, 27. En nou kom die vraag, “Is U die Een wat sou kom?” Dit was n bitter teleurstelling: As Johannes, die getroue voorloper, Christus se sending nie verstaan het nie, wat kon dan verwag word van die soekende menigte? KE 215.1

Die Heiland het nie sommer dadelik die dissipels se vraag beantwoord nie. Terwyl hulle verwonderd gestaan het oor Sy stilswye, het die siekes na Hom toe gekom vir genesing. Blindes het voel-voel hulle weg deur die skare gevind; siekes van alle klasse—sommige het self aangesukkel en sommige is deur hulle vriende gedra het probeer om in die teenwoordigheid van Jesus te kom. Die stem van die magtige Geneesheer het die dowe ore deurdring. 'n Woord, 'n aanraking met die hand, het blinde oë geopen om die daglig te sien, die natuurtonele, die gesigte van vriende, en die aangesig van die Verlosser. Jesus het siektes bestraf en koors verban. Sy stem het die ore van sterwendes bereik en hulle het opgestaan in gesondheid en lewenskrag. Verlamde duiwelbesetenes het Sy woord gehoorsaam, hulle is van hulle kranksinnigheid genees en het Jesus aanbid. Terwyl Hy hulle genees het, het Jesus die mense geleer. Die arme arbeiders en dagloners wat deur die rabbi's vermy is as onrein, het hulle om Hom geskaar en Hy het tot hulle die woorde van die ewige lewe gespreek. KE 215.2

So het die dag verbygegaan, en die dissipels van Johannes het alles gesien en gehoor. Eindelik het Jesus hulle laat roep en aan hulle gesê om aan Johannes te gaan vertel wat hulle gesien het, sluitende met die volgende woorde: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.” Lukas 7: 23. Die bewyse van Sy godheid is gesien in Sy werk vir die lydende mensdom. Sy heerlikheid is geopenbaar in Sy neerbuigende liefde deur ons plek in te neem. KE 215.3

Die dissipels het die boodskap geneem, en dit was genoeg. Johannes het hom die profesie aangaande die Messias herinner, “Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die sagmoediges; Hy het My gestuur om te” “verbind die gebrokene van hart, om vir die gevangene 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep n jaar van die welbehae van die Here.” Jes. 61: 1, 2. Nie alleen het die werke van Christus Hom aangekondig as die Messias nie, maar dit het getoon op watter wyse Sy koninkryk opgerig sou word. Aan Johannes is dieselfde waarheid geopenbaar as aan Elia in die woestyn, toe 'n “groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En na die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. En na die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die Here nie. En na die vuur het God met die profeet gespreek deur die gesuis van 'n sagte stilte.” 1 Kon. 19: 11, 12. So sou Jesus ook Sy werk doen, nie met wapengekletter en die omverwerping van trone en koninkryke nie, maar deur tot die harte van die mense te spreek deur 'n lewe van ontferming en opoffering. KE 215.4

Die beginsel van die Doper se eie lewe van selfverloëning was die beginsel van die Messias se koninkryk. Johannes het goed geweet hoe dit alles ingedruis het teen die beginsels en hoop van die leiers van Israel. Wat vir hom oortuigende bewys was van Christus se Godheid, sou vir hulle geen getuienis wees nie. Hulle het gewag op 'n Messias wat nooit belowe is nie. Johannes het gesien dat die Heiland se werk niks anders as hulle haat en veroordeling sou uitlok nie. Hy, die voorloper, het slegs gedrink uit die beker wat Christus tot die droesem toe sou moes drink. KE 216.1

Die Heiland se woorde, “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie,” was bedoel as sagte bestraffing vir Johannes. En hy het dit aangeneem. Omdat hy nou die aard van Christus se sending beter verstaan het, het hy homself aan God oorgegee vir lewe of dood, wat beste die belange sou bevorder van die saak wat hy liefgehad het. KE 216.2

Ná die boodskappers vertrek het, het Jesus tot die volk aangaande Johannes gespreek. Die Heiland se hart het uitgegaan tot die getroue getuie wat nou in Herodes se gevangenis opgesluit gesit het. Hy sou die mense nie laat dink dat God Johannes verlaat het, of dat sy geloof gefaal het in die uur van beproewing nie. “Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou?” het Hy gevra. “'n Riet wat deur die wind beweeg word?” KE 216.3

Die lang riete wat langs die Jordaan gegroei het en wat deur elke windjie beweeg is, was 'n gepaste voorstelling van die rabbi's wat as kritici opgetree het van die Doper se werk. Hulle is heen en weer beweeg deur die winde van die openbare mening. Hulle wou hulle- self nie verneder om die hartdeurdringende boodskap van die Doper aan te neem nie, en tog was hulle bang vir die mense om sy werk openlik te weerstaan. Maar Gods boodskapper het nie so 'n gedweë gees gehad nie. Die skare rondom Christus was getuie van die werk van Johannes. Hulle het gehoor hoe onverskrokke hy die sonde bestraf het. Tot die eiegeregtige Fariseërs, die priesterlike Sadduseërs, Koning Herodes en sy hof, vorste en soldate, tollenaars en dagloners, het Johannes ewe duidelik gespreek. Hy was nie 'n swaaiende riet wat heen en weer beweeg is deur die winde van menslike lof of vooroordeel nie. In die gevangenis was hy net so getrou aan God en net so ywerig vir die geregtigheid as toe hy Gods boodskap in die woestyn verkondig het. Wat beginsels betref, was hy rotsvas. KE 217.1

Jesus het voortgegaan, “Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.” Johannes is geroep om die sondes en buitensporigheid van sy tyd te bestraf, en sy eenvoudige klere en selfopofferende lewe was in ooreenstemming met sy sending. Mooi klere en die weelde van die lewe is nie die deel van Gods diensknegte nie, maar van diegene wat in paleise woon, die regeerders van hierdie wêreld aan wie die mag en die rykdom behoort. Jesus het hulle aandag gevestig op die kontras tussen die kleding van Johannes en die wat gedra is deur die priesters en die owerstes. Hierdie amptenare het pragtige klere en versiersels gedra. Hulle was lief vir vertoon, waarmee hulle die mense wou verblind om dus groter respek af te dwing. Hulle was meer daarop gesteld om die bewondering van mense te verkry as daardie reinheid van hart wat die goedkeuring van God sou weg- dra. Op hierdie wyse het hulle geopenbaar dat hulle hulle trou nie aan God gegee het nie, maar aan die koninkryk van hierdie wêreld. KE 217.2

“Maar wat het julle uitgegaan om te sien?” het Jesus weer gevra. “'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet! Dit is hy van wie daar geskrywe is — KE 217.3

“Kyk, Ek stuur My boodskapper voor U aangesig,
Wat U weg voor U sal regmaak.”
KE 217.4

“Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie.” In die aankondiging aan Sagaria voor die geboorte van Johannes, het die engel gesê: “Hy sal groot wees voor die Here.” Lukas 1:15. Wat is grootheid volgens die skatting van die Hemel? Nie wat die wêreld as grootheid reken nie; nie rykdom, of rang, of edele afkoms, of verstandelike begaafdheid nie. As verstandelike begaafdheid, sonder enige hoëre aansien, eer verdien, dan is ons eer verskuldig aan die Satan wie se verstandelike bekwaamheid deur geen mens geëwenaar is nie. Maar as sulke bekwaamheid vir selfsugtige doeleindes aangewend word, dan kan mens sê: Hoe groter die gawe, hoe groter die vloek. Dit is sedelike waardes wat God hoog waardeer. Liefde en reinheid is die eienskappe wat Hy die hoogste waardeer. Johannes was groot in die oë van God toe hy voor die boodskappers van die Sanhedrin, voor die volk, en voor sy eie dissipels, geweier het om eer vir homself te soek, maar almal op Jesus gewys het as die Beloofde Een. Sy onself- sugtige vreugde in die diens van Christus is die edelste soort eienskap nog ooit in die mens geopenbaar. KE 218.1

Diegene wat gehoor het wat Johnnnes van Jesus gesê het, en wat na sy dood van hom getuig het, het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” Joh. 10: 41. Johannes het nie vuur uit die hemel laat neerdaal, of die dode opgewek soos Elia nie; en nog minder het hy Moses se staf van krag gebruik in die Naam van God. Hy is gestuur om die koms van die Heiland aan te kondig, en om die volk te waarsku om hulle voor te berei vir Sy koms. So getrou het hy sy sending vervul dat die mense, toe hulle in herinnering geroep het wat hy van Jesus gesê het, kon getuig: “Alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” Elke dissipel van die Meester is geroep om so vir Christus te getuig. KE 218.2

As die boodskapper van die Messias was Johannes “baie meer as 'n profeet.” Want terwyl die profete die koms van Christus van ver af gesien het, is dit aan Johannes gegee om Hom te sien, om die getuienis van die hemel aangaande Sy Messiaskap te hoor, en Hom aan Israel voor te stel as die Een van God gestuur. Maar nogtans het Jesus van hom gesê: “Maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.” KE 218.3

Die profeet Johannes was die skakel tussen die twee bedelings. As Gods verteenwoordiger het hy opgetree om die verhouding te toon van die wet en die profete tot die Christelike bedeling. Hy was die mindere lig wat gevolg sou word deur die groter een. Die verstand van Johannes was verlig met die Heilige Gees sodat hy sy lig kon laat skyn op die volk; maar geen ander lig het ooit en sal ooit helderder skyn op die gevalle mens as die wat geskyn het uit die leer en voorbeeld van Jesus nie. Christus en Sy sending is maar baie dof weerkaats deur die offerstelsel. Selfs Johannes het nie die toekomstige ewige lewe verstaan wat sou kom deur die Verlosser nie. KE 219.1

Afgesien van die vreugde wat Johannes gevind het in sy sending, was sy lewe een van verdriet. Sy stem is maar selde gehoor behalwe in die woestyn. Hy het 'n eensame lewe gelei. Hy sou nie die resul- tate van sy werk sien nie. Hy sou nie die voorreg hê om by Christus te wees en om die goddelike krag van die groter lig te sien nie. Hy sou nie sien hoedat die blindes weer sien, die siekes genees, en die dode opgewek word nie. Hy het nie die lig gesien wat uit elke woord van Christus geskyn en die beloftes van die profesieë met heerlikheid bestraal het nie. Die geringste dissipel wat Christus se magtige werke gesien en Sy woorde gehoor het, was in hierdie opsig meer bevoorreg as Johannes die Doper, en dus ook groter as hy. KE 219.2

Deur die groot skares wat na Johannes se prediking geluister het, het sy roem deur die land versprei. Daar is baie belanggestel in wat die uitwerking van sy gevangeskap sou wees. Maar sy onbesproke lewe, en die sterk openbare gevoel in sy guns, het die mening laat ontstaan dat daar geen geweld teenoor hom sou gepleeg word nie. KE 219.3

Herodes het geglo dat Johannes 'n profeet van God was, en dit was sy plan om hom weer vry te stel. Maar hy het dit uitgestel uit vrees vir Herodias. KE 219.4

Herodias het geweet dat sy nooit deur regstreekse metodes Herodes sou kon oorhaal om Johannes te laat dood maak nie, en sy het besluit om haar plan uit te voer met lis. Op die koning se verjaarsdag is daar 'n onthaal gereël vir die staatsamptenare en howelinge. Daar sou 'n feesmaal en dronkenskap wees. Herodes sou met die oog op hierdie feestelikhede nie so waaksaam wees nie, en sou moontlik deur haar beïnvloed kon word volgens haar wil. KE 219.5

Toe die groot dag aanbreek, en die koning en sy here besig was om te eet en drink, het Herodias haar dogter in die banketsaal gestuur om te dans vir die vermaak van die gaste. Salome was in die fleur van haar vrouelike skoonheid wat die edelliede heeltemal betower het. Dit was nie die gebruik vir die dames van die hof om by sulke feestelikhede te verskyn nie, en Herodes is baie lof toegeswaai toe hierdie dogter van Israel se priesters en vorste gedans het vir die vermaak van die gaste. KE 219.6

Die koning was half dronk van die wyn. Die sinne het die oorhand gekry en die rede is onttroon. Hy het slegs die saal van plesier gesien met die vrolike gaste, die bankettafel, die fonkelende wyn, die skitterende ligte, en die dansende meisie voor hom. In die onbedagsaamheid van die oomblik wou hy graag iets doen wat hom sou verhef voor die groot manne van sy ryk. Met 'n eed het hy belowe om aan die dogter van Herodias enigiets te gee wat sy mag vra, selfs tot die helfte van sy koninkryk. KE 220.1

Salome is haastig na haar moeder om te verneem wat sy moes vra. Die antwoord was gereed — die hoof van Johannes die Doper. Salome het nie geweet van die dors na wraak in haar moeder se hart nie, en sy het geaarsel om die versoek voor te lê, maar die vasberadenheid van Herodias het gewin. Die meisie is terug met die vreeslike versoek, “Ek wil hê dat u my op die daad die hoof van Johannes die Doper op 'n skottel gee.” Markus 6: 25. KE 220.2

Herodes was verbaas en verbyster. Die joligheid het opgehou, en 'n onheilspellende stilte het neergesak op die toneel van plesier. Die gedagte om Johannes om die lewe te bring, het die koning met afsku vervul. Maar hy het sy woord gegee en hy wou dit nie laat blyk dat hy sommer die belofte in ligsinnigheid gegee het nie. Hy het die eed geneem ter ere van die gaste, en as een van hulle maar 'n woordjie wou spreek teen die vervulling van die belofte, sou hy met die grootste bereidwilligheid die lewe van die profeet gespaar het. Hy het hulle geleentheid gegee om te praat in die guns van die gevangene. Hulle het groot afstande gereis om die prediking van Johannes te hoor, en hulle het geweet dat hy 'n dienskneg van God was, en aan geen misdaad skuldig was nie. Maar alhoewel hulle geskok was oor die meisie se versoek, was hulle te besope om te protesteer. Geen stem is verhef om die lewe van die boodskapper van die Hemel te spaar nie. Hierdie manne het hoë posisies beklee onder die Volk, en op hulle het groot verantwoordelikhede gerus, maar hulle het hulleself so oorgegee aan swelgery en dronkenskap dat hulle verstand benewel was. Die musiek en die gedans het hulle in so 'n mate aangetas dat hulle gewete aan die slaap was. Deur hulle stilswye het hulle die doodvonnis uitgespreek oor die profeet van God om die wraaksug van 'n losbandige vrou te bevredig. KE 220.3

Herodes het tevergeefs gewag om van sy eed onthef te word, en toe het hy onwillig die onthoofding van die profeet gelas. Baie gou is die hoof van Johannes ingebring voor die koning en sy gaste. Daardie lippe wat Herodes so getrou gewaarsku het, om hom te bekeer van sy sondige lewe, is vir ewig die swye opgelê. Nooit weer sou daardie stem wat mense tot bekering geroep het, gehoor word nie. Die dronkenskap van daardie een aand het die lewe gekos van een van die grootste profete. KE 221.1

O hoe dikwels is die lewens van onskuldiges opgeoffer aan die onmatigheid van diegene wat die reg moes bewaar het! Die persoon wat bedwelmende drank drink, word verantwoordelik gehou vir al die onreg wat hy mag pleeg onder die invloed van drank. Deur sy sinne te benewel, maak hy dit vir hom onmoontlik om 'n kalme oordeel te vel, of om 'n duidelike besef te hê van goed en kwaad. Hy open die weg vir die Satan om deur hom te werk om die onskuldiges te verdruk en te vernietig. “Die wyn is 'n spotter, en sterke drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” Spr. 20: 1. So gebeur dit ook dat “die reg teruggedring [word] . . . ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder.” Jes. 59: 14, 15. Diegene wat seggenskap het oor die lewens van hulle medemens, moet strafbaar wees as hulle hulle oorgee aan dronkenskap. Almal wat die wet van die land administreer, behoort self die wet te hou. Hulle moet manne van selfbeheersing wees. Hulle moet volle beheer hê oor hulle liggaamlike, verstandelike, en sedelike kragte, sodat hulle 'n gesonde verstand en 'n hoë gevoel van reg kan hê. KE 221.2

Die hoof van Johannes die doper is na Herodias geneem wat dit met duiwelse tevredenheid aangeneem het. Sy het gejuig in haar wraak en haarseif gevlei met die gedagte dat Herodes se gewete hom nie langer sou pla nie. Maar sy het geen geluk gevind in haar sonde nie. Haar naam is gevrees, terwyl Herodes heftiger gewetenswroegings moes verduur as toe die profeet hom gewaarsku het. Die invloed van Johannes se prediking is nie vernietig nie; dit sou in elke geslag gevoel word tot die einde van tyd. KE 221.3

Herodes se sonde was gedurig voor hom. Onafgebroke het hy gesoek om die aanklaende stem van sy skuldige gewete te stil. Sy geloof in Johannes was onwrikbaar. Waar hy gedink het aan Johannes se lewe van selfverloëning, aan sy ernstige oproepe, sy gesonde oordeel en raad, en waar hy onthou het hoe hy aan sy dood gekom het, kon Herodes geen rus vind nie. Waar hy besig was met staatsake, en eer van mense ontvang het, het hy geglimlag en 'n waardige houding aangeneem, terwyl hy binnein hom 'n angstige hart omgedra het, gedurig gekwel deur die vrees dat 'n vloek op hom gerus het. KE 222.1

Die woorde van Johannes dat mens niks vir God kan verberg nie, het 'n baie diep indruk gemaak op Herodes. Hy was daarvan oortuig dat God alomteenwoordig was; dat Hy die brassery in die banketsaal gesien het; dat Hy die bevel om Johannes te onthoof, gehoor het; en dat Hy die tevredenheid van Herodias gesien, en haar belediging van die hoof van die een wat haar bestraf het. En nog baie ander dinge wat Herodes van die lippe van die profeet gehoor het, het nou tot sy gewete gespreek, duideliker as die prediking in die woestyn. KE 222.2

Toe Herodes hoor van die werke van Christus, was hy baie verontrus. Hy het gedink dat God Johannes uit die dode opgewek, en hom nou uitgestuur het met nog groter krag om die sonde te bestraf. Hy het in gedurige vrees verkeer dat Johannes sy dood sou wreek deur hom en sy huis te vervloek. Herodes het die gevolge van sy sonde geoes soos God gesê het: “Die Here sal jou daar 'n bewende hart gee en smagtende oë en 'n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan 'n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie. In die more sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar more! van- weë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp en van weë die gesig van jou oë wat jy sal sien.” Deut. 28:65-67. Die sondaar se eie gedagtes is sy aanklaer, en daar is geen marteling wreder as die angel van 'n skuldige gewete wat hom dag en nag geen rus gee nie. KE 222.3

Vir vele is die lot van Johannes 'n groot verborgenheid. Hulle wil weet waarom hy alleen gelaat is om daar in die gevangenis aan sy einde te kom. Die donker misterie van hierdie daad van God kan nie deur die menslike oog deurdring word nie; maar dit kan nooit ons vertroue in God skok as ons daaraan dink dat Johannes slegs gedeel het in die lyde van Christus nie. Almal wat Christus navolg, sal die kroon van opoffering moet dra. Hulle sal sekerlik misverstaan word deur selfsugtige mense, en hulle sal die mikpunt word van wrede aanvalle van die Satan. Dit is hierdie beginsel van self opoffering wat sy koninkryk wil vernietig, en hy sal daarteen veg waar dit ookal geopenbaar word. KE 222.4

Die kinder-, jongelings-, en manlike jare van Johannes was gekenmerk deur vasberadenheid en sedelike krag. Toe ,hy in die woestyn gepreek het, “Berei die weg van die Here, maak Sy paaie reguit!” (Matt. 3:3) het die Satan gevrees vir die veiligheid van sy koninkryk. Die sondigheid van die sonde is op so 'n wyse geopenbaar dat mense gesidder het. Die Satan se mag oor vele wat onder sy beheer was, is gebreek. Hy het onvermoeide pogings aangewend om die Doper af te wen van 'n lewe van volkome oorgawe aan God, maar dit het hom nie geluk nie. En ook het hy nie daarin geslaag om Jesus te oorwin nie. In die versoeking in die woestyn is die Satan verslaan, en groot was sy woede. Nou was hy vasberade om droefheid in Christus se hart te bring deur Johannes te tref. Die Een wat hy nie tot die sonde kon verlei nie, sou hy nou laat ly. KE 223.1

Jesus het nie tussenbei gekom om Sy dienskneg te verlos nie. Hy het geweet dat, Johannes die toets sou deurmaak. Blymoedig sou die, Here na Johannes gekom het om sy donker sel te verlig met Sy teen- woordigheid. Maar Hy kon Homself nie in die hande van Sy vyande gaan stel en Sy werk in gevaar bring nie. Met die grootste bereidwilligheid sou Hy Sy getroue dienskneg verlos het, maar vir die ontwil van duisende wat in later jare in die gevangenis gewerp en gedood sou word, moes Johannes die martelaarsbeker ledig. Waar die navolgers van Jesus in eensame kerkers moes kwyn, of deur die swaard, of pynbank, of brandstapel moes omkom, oënskynlik deur God verlate, sou dit n baie groot bemoediging vir hulle wees om te weet dat Johannes die Doper van wie se getrouheid Christus self getuig het, ook so gely het! KE 223.2

Die Satan is toegelaat om die aardse lewe van Gods boodskapper vroeg te beëindig, maar die lewe wat saam met Christus verborge is in God, kan die verwoester nie raak nie. (Kol. 3: 3.) Hy het homself daarin verheug dat hy Christus in droefheid gedompel het, maar hy het nie daarin geslaag om Johannes te oorwin nie. Die dood het Johannes vir altyd buite die bereik van die krag van versoeking geplaas. In hierdie stryd het die Satan sy eie karakter geopenbaar. Voor die ganse heelal as getuie het hy sy vyandigheid teen God en mens gewys. KE 223.3

Hoewel Johannes nie op wonderbaarlike wyse verlos is nie, is hy nie verlaat nie. Daar was altyd hemelse engele by hom teenwoordig wat die profesieë aangaande Christus vir hom geopen het, asook die kosbare beloftes van die Skrifte. Dit het hom ondersteun, net soos dit ook die steun sou wees van Gods volk deur die eeue. Aan Johannes die Doper, net soos aan die wat ná hom gekom het, is die versekering gegee, “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Matt. 28: 20. KE 224.1

God lei Sy kinders nooit langs 'n ander weg as die wat hulle self sou kies as hulle maar die einde van die begin af kon sien, en die heerlike doel waaraan hulle beantwoord as medewerkers van Hom nie. Henog wat na die hemel is sonder om te sterf, en Elia wat in 'n wa van vuur oopgeneem is, was nie groter of meer geëerd as Johannes die Doper wat alleen daar in sy sel omgekom het nie. “Omdat dit aan julle terwille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.” Filip. 1: 29. Van al die gawes wat die hemel kan gee, is 'n deel in die lyde van Christus die grootste pand en die hoogste eer. KE 224.2