Die Koning Van Die Eeue
“As Julle nie Tekens en Wonders Sien nie”
DIE Galileërs wat teruggekeer het van die Paasfees, het vertel van die wonderwerke van Jesus. Die veroordeling van Sy dade deur die waardigheidsbekleërs te Jerusalem, het die weg vir Hom oopgemaak in Galilea. Baie van die mense het die misbruik van die tempel en die inhaligheid en vermetelheid van die priesters gelaak. Hulle het gehoop dat hierdie man, wat die owerstes op die vlug gejaag het, die langverwagte Verlosser sou wees. Nou het hulle gerugte gehoor wat oënskynlik hulle stoutste verwagtings bevestig het. Daar is berig dat die profeet self gesê het dat Hy die Messias was. KE 193.1
Maar die mense van Nasaret het nie in Hom geglo nie. Om hierdie rede het Jesus, op weg na Kana, nie by Nasaret aangegaan nie. Die Heiland het aan Sy dissipels gesê dat n profeet nie in sy eie land eer sou ontvang nie. Mense beoordeel karakter volgens dinge wat hulleself kan waardeer. Die bekrompenes en wêreldgesindes het Christus beoordeel volgens Sy nederige geboorte, Sy eenvoudige klere, en Sy daelikse werk. Hulle kon nie die reinheid waardeer van hierdie gees wat deur geen enkele sonde besmet was nie. KE 193.2
Die gerug dat Christus weer in Kana was, het deur die hele Galilea versprei, en hoop gebring aan die lydendes en ellendiges. In Kapernaum het die nuus die aandag getrek van 'n Joodse koninklike beampte wat 'n offisier in die koning se diens was. 'n Seuntjie van die offisier het aan 'n skynbaar ongeneeslike siekte gely. Die dokters het geen hoop vir hom gehad nie, maar toe die Vader hoor van Jesus, het hy besluit om Sy hulp te gaan inroep. Die kind was baie swak, en daar is gevrees dat hy nie sou leef tot hy terugkom nie; maar die offisier het gevoel dat hy Jesus persoonlik moes nader. Hy het gehoop dat die smeekbede van 'n vader die simpatie sou opwek van die Groot Geneesheer. KE 194.1
By Kana gekom, het hy 'n groot skare om Jesus gevind. Met ´n angstige hart het hy deurgedring tot in die Heiland se teenwoordigheid. Sy geloof het gewankel toe hy 'n man sien baie eenvoudig gekleed, met stof bedek van Sy reis. Hy het getwyfel of hierdie persoon sou kon doen wat hy kom vra het; maar nogtans het hy 'n onderhoud met Jesus gehad, Hom vertel waarom hy gekom het, en die Heiland gevra om met hom saam te gaan na sy huis. Jesus het reeds van sy droefheid geweet. Nog voordat die offisier van sy huis af weg is, het die Here sy verknorsing gesien. KE 195.1
Maar Jesus het ook geweet dat die vader in sy eie hart voorwaardes gestel het aangaande sy geloof in Hom. As daar nie voldoen word aan sy smeekbede nie, sou hy Hom nie aanneem as die Messias nie. Terwyl die offisier in angs en spanning gewag het, het Jesus gesê, “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.” KE 195.2
Nieteenstaande al die bewyse dat Jesus die Christus was, het die beampte besluit om die voldoening aan sy versoek as voorwaarde te stel van geloof in Hom. Die Heiland het hierdie voorwaardelike geloof vergelyk met die eenvoudige geloof van die Samaritane wat geen wonderwerk of teken gevra het nie. Sy woord, die altyd teenwoordige bewys van Sy Godheid, het 'n oortuigende krag gehad wat hulle harte aangeraak het. Dit het Christus gegrief dat Sy eie mense, aan wie die heilige godsprake toevertrou was, nie die stem van God verneem het wat deur Sy Seun tot hulle gespreek het nie. KE 195.3
Maar die koninklike beampte het darem 'n mate van geloof gehad, want hy het gekom om te vra wat vir hom seker een van die grootste seëninge sou wees. Jesus het 'n groter gawe gehad om te gee. Nie alleen wou Hy die kind gesondmaak nie, maar Hy wou die offisier en sy huisgesin deelgenote maak van die verlossing, en 'n lig in Kapernaum aansteek wat eerlank sy arbeidsveld sou word. Maar die beampte sal eers sy behoefte moet besef voordat hy die genade van Christus sal begeer. Hierdie man was verteenwoordigend van baie onder sy volksgenote. Hulle het om selfsugtige redes belanggestel in Jesus. Hulle het gehoop dat hulle die een of ander spesiale voordeel sou trek uit Sy mag, en hulle geloof was gebaseer op die ontvangs van hierdie stoflike guns; hulle was onbewus van hulle geestelike krankheid, en het nie hulle behoefte aan goddelike genade besef nie. KE 195.4
Soos 'n flits het die Heiland se woorde die koninklike beampte se hart ontbloot. Hy het gesien dat hy Jesus met 'n selfsugtige motief kom opsoek het. Hy het sy weifelende geloof in sy ware kleur gesien. In die grootste droefheid het hy besef dat sy twyfelmoedigheid die lewe van sy seun mag kos. Hy het geweet dat hy in die teenwoordigheid was van een wat sy gedagtes kon lees en vir wie alle dinge moont- hk was. In angs het hy gesmeek: “Here, kom af voordat my kind sterwe.” Sy geloof het Jesus beetgeneem net soos Jakob gedoen het toe hy in sy worstelstryd met die Engel uitgeroep het, “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën.” Gen. 32: 26. KE 195.5
Net soos Jakob, het hy oorwin. Die Heiland kan nie weggaan van die siel wat aan Hom vasklem en sy groot behoefte pleit nie. “Gaan, het Hy gesê,” “jou kind lewe!” Die koninklike beampte is van die Heiland af weg met 'n vrede en vreugde wat hy nooit voorheen geken het nie. Nie alleen het hy geglo dat sy seun gesond sou word nie, maar hy het met 'n sterk vertroue in Christus geglo as die Verlosser. KE 196.1
Terselfdertyd het diegene wat by die kind gewaak het in die huis te Kapernaum 'n skielike en misterieuse verandering gemerk. Die doodskaduwee op die lydende se gesig het verdwyn. Die koorsige gloed is vervang deur die sagte gloed van gesondheid. Die dowwe oë het weer gefonkel van intelligensie, en krag het teruggekeer tot die swak en uitgeteerde liggaampie. Daar is geen tekens meer van die siekte by die kind gesien nie. Die droë, koorsige vel het sag en klam geword, en die kind het stil aan die slaap geraak. Die koors het hom verlaat op die warmste van die dag. Die huismense was verbaas, en daar was groot vreugde. KE 196.2
Kana was nie so ver van Kapernaum af dat die beampte nie sy huis kon bereik die aand ná sy onderhoud met Jesus nie; maar hy het hom nie gehaas huis toe nie. Hy het die volgende more eers in Kapernaum aangekom. Wat 'n blye tuiskoms was dit nie! Toe hy na Jesus gaan soek het, was sy hart vol droefheid. Die sonskyn het vir hom wreed voorgekom, en die sang van die voëltjies was 'n klug. Hoe anders het hy nou gevoel! Die hele natuur het anders gelyk. Hy sien met nuwe oë. Terwyl hy so in die vroeë more gereis het, het dit geskyn of die ganse natuur God saam met hom geprys het. Terwyl hy nog 'n hele ent van sy huis af was, het bodes hom tegemoet gekom, om die spanning wat hy moes gevoel het, te breek. Hy was glad nie verbaas oor die nuus wat hulle gebring het nie, maar met 'n groot belangstelling wat hulle nie kon verstaan nie, het hy gevra wanneer die kind beterskap begin toon het. Hulle het geantwoord: “Gister om eenuur het die koors hom verlaat.” Dit was op dieselfde uur toe die vader se geloof die versekering aangeneem het, “U kind lewe,” dat goddelike liefde die sterwende kind aangeraak het. Die vader het huis toe gehaas om sy kind te groet. Hy het hom omhels soos een wat uit die dode opgewek is, en hy het God oor en oor gedank vir hierdie wonderbare genesing. KE 196.3
Daardie koninklike beampte het verlang om Christus beter te leer ken. Later, toe hy Christus se leer gehoor het, het hy en sy hele gesin dissipels geword. Die siekte in daardie huis is geheilig tot die bekering van die hele gesin. Gerugte van die wonderwerk het versprei; en in Kapernaum, waar so baie van Sy magtige werke gedoen is, is die weg geopen vir die persoonlike bediening van Christus. KE 197.1
Hy wat die koninklike beampte te Kapernaum geseën het, is net so begerig om ons te seën. Maar, net soos daardie bedroefde vader, word ons ook dikwels beweeg om tot Jesus te kom omdat ons aardse voordeel soek, en ons vertrou Sy liefde alleen wanneer ons kry wat ons gesoek het. Die Heiland verlang om ons 'n groter seën te gee as wat ons soek, en Hy gee ons nie dadelik wat ons vra nie, sodat Hy die sonde in ons hart kan openbaar en ons groot behoefte aan Sy genade. Hy wil hê dat ons die selfsug moet versaak wat ons beweeg om Hom te soek. Met 'n belydenis van ons hulpeloosheid en groot behoefte, moet ons ons heeltemal oorgee aan Sy liefde. KE 197.2
Die koninklike beampte wou eers die antwoord op sy gebed sien voordat hy sou glo, maar hy moes die woord van Jesus eers aanneem dat sy versoek toegestaan en die seën gegee is. Daardie les sal ons ook moet leer. Ons moet glo, nie omdat ons sien of voel dat God ons verhoor het nie. Ons moet vertrou op Sy beloftes. Wanneer ons Hom nader in geloof, verhoor God elke gebed. Wanneer ons God om Sy seën gevra het, moet ons glo dat ons dit sal kry, en ons moet Hom dank dat ons dit gekry het. Dan moet ons aangaan met ons werk, in die versekering dat die seën daar sal wees wanneer ons dit die meeste nodig het. Wanneer ons geleer het om dit te doen, sal ons weet dat ons gebede verhoor is. God sal vir ons doen “ver bo alles wat ons kan vra” “na die rykdom van Sy heerlikheid” volgens die “werking van die krag van Sy sterkte.” Efe. 3: 20, 16; 1: 19. KE 197.3