Die Koning Van Die Eeue

12/88

Die Doop

DIE gerugte oor die profeet in die woestyn, en sy wonderbare boodskap, het deur die hele Galilea versprei. Die boodskap het die armes in die mees afgeleë dorpies in die berge, en die vissers by die see bereik, en by hierdie eenvoudige, dog ernstige mense het dit opregte weerklank gevind. In Nasaret, in die timmermanswinkel wat aan Josef behoort het, is daarvan gepraat, en Een het die roepstem herken. Sy uur het gekom. Hy het Sy werk gestaak, Sy moeder gegroet, en Sy landgenote gevolg wat na die Jordaan gestroom het. KE 102.1

Jesus en Johannes die Doper was neefs; daar was 'n groot ooreen- koms in die omstandighede van hulle geboorte, maar hulle het nog nie regstreeks met mekaar kennis gemaak nie. Jesus het Sy dae te Nasaret in Galilea deurgebring, en Johannes syne in die woestyn van Judea. In omgewings wat heeltemal verskillend was, het hulle in afsondering gelewe en geen aanraking met mekaar gehad nie. Die Voorsienigheid het dit so beskik, sodat dit nie kon gesê word dat hulle saamgespan het om mekaar te ondersteun in die aansprake wat hulle gemaak het nie. KE 102.2

Johannes was bekend met die omstandighede van die geboorte van Jesus. Hy het gehoor van Jesus se besoek aan Jerusalem in Sy kinderjare, en wat gebeur het in die skool van die rabbi's. Hy het geweet van Sy sondelose lewe en het geglo dat Hy die Messias was, maar daar was by hom nie absolute sekerheid nie. Die feit dat Jesus so lank onbekend gebly het, en geen besondere bewys van Sy sending gegee het nie, was genoeg rede om te twyfel of Hy wel die beloofde Messias kon wees. Johannes die Doper het egter in geloof gewag en geglo dat alles op Gods eie tyd opgeklaar sou word. Dit was aan Johannes geopenbaar dat die Messias hom sou vra om Hom te doop en dat die teken van Sy goddelike karakter dan gegee sou word. Dit sou hom in staat stel om Jesus aan die volk voor te stel. KE 102.3

Toe Jesus gekom het om gedoop te word, het Johannes in Hom n reinheid van karakter bespeur soos hy nog nooit tevore in enige mens gesien het nie. Selfs die atmosfeer wat Hom omring het, was heilig en het ontsag ingeboesem. Onder die menigtes wat na hom gekom het by die Jordaan, het Johannes duistere stories gehoor van misdaad, en hy het siele ontmoet wat swaar gebuk gegaan het onder 'n groot sondelas, maar nog nooit het hy 'n mens ontmoet van wie daar so 'n goddelike invloed uitgegaan het nie. Dit was alles in ooreenstemming met wat aan Johannes omtrent die Messias geopenbaar is. Tog het hy baie geaarsel om aan Jesus se versoek om gedoop te word te voldoen. Hoe kon hy, 'n sondige mens, die sondelose Een doop? En waarom sou Hy wat.geen bekering nodig gehad het nie, Homself onderwerp aan 'n rite wat 'n belydenis was van die afwassing van skuld? KE 103.1

Toe Jesus gevra het om gedoop te word, het Johannes teruggedeins en uitgeroep: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?” Beslis en met gesag het Jesus geantwoord: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.” Johannes het gehoorsaam en die Verlosser in die Jordaan ingelei en Hom onder die water begrawe. “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom.” Jesus het nie die doop ondergaan as 'n belydenis van skuld op Sy eie rekening nie. Hy het Homself vereenselwig met sondaars en die stappe en die werk gedoen wat ons moet doen. Sy lewe van lyding en geduldige volharding ná Sy doop behoort ook vir ons n voorbeeld te wees. KE 103.2

Toe Jesus uit die water gekom het, het Hy op die rivierwal neergekniel om te bid. Hy sou 'n nuwe en belangrike tydperk ingaan. Nou sou Hy in alle erns die stryd van Sy lewe begin. Hoewel Hy die Vredevors was, sou Sy koms die ontbloting van die swaard wees. Die koninkryk wat Hy sou oprig, was die teenoorgestelde van wat die Jode begeer het. Hulle sou Hom wat die fondament van die rituaal en ekonomie van Israel was, as die vyand en verwoester daarvan beskou. Hy wat die wet op Sinai afgekondig het, sou as 'n oortreder veroordeel word. Hy wat gekom het om die mag van die Satan te verbreek, sou uitgeskel word as Beëlsebul, die owerste van die duiwels. Geen sterweling op aarde het Hom verstaan nie, en gedurende Sy bediening sou Hy alleen staan. Sy hele lewe lank het Sy moeder en Sy broers Sy sending nie verstaan nie. Selfs Sy dissipels het Hom nie begryp nie. Hy het die ewige lig bewoon, as een met God, maar Sy lewe op aarde sou Hy in eensaamheid deurbring. KE 103.3

Vereenselwig met ons, moes Hy die las van ons skuld en ons eilendes dra. Die sondelose Een moes die skande van die sonde ondervind. Die liefhebber van die vrede moes te midde van verdeeldheid woon; die waarheid en valsheid, en reinheid en afskuwelikheid moes saam woon. Elke sonde, elke wanklank, elke verlagende wellus — die gevolge van oortreding — was 'n marteling vir Sy gees. KE 104.1

Hy moes die weg alleen bewandel; alleen moes Hy die las dra. Op Hom wat Sy heerlikheid afgelê het en die swakheid van die menslike natuur aangeneem het, sou die verlossing van die wêreld rus. Hy het alles gesien en gevoel, maar Hy het onwrikbaar vas gestaan. Die verlossing van die gevalle mensdom het van Hom afgehang, en Hy het Sy hand uitgestrek om die hand van die ewige Liefde beet te neem. KE 105.1

Toe Hy gebid het, het dit gelyk asof Sy blik tot die hemel deur- dring. Goed het Hy geweet hoedat die sonde die harte van die mense verhard het, en hoe moeilik dit vir hulle sou wees om Sy sending te verstaan en die verlossing aan te neem. Hy het by die Vader gepleit vir krag om hulle ongeloof te oorwin, om die bande te verbreek waarmee die Satan hulle gebind het, en om die verwoester vir hulle ontwil te oorwin. Hy het om 'n teken gevra dat God die mensheid aanneem in die persoon van Sy Seun. KE 105.2

Nog nooit tevore het die engele na so 'n gebed geluister nie. Baie graag wou hulle aan hulle geliefde Aanvoerder 'n boodskap van versekering en vertroosting bring. Maar nee, die Vader self sou die gebed van Sy Seun beantwoord. Strale van Sy heerlikheid het reg- streeks van Sy troon geskyn. Die hemel is geopen, en op die hoof van die Heiland het die reinste lig in die vorm van 'n duif neergedaal die sinnebeeld van Hom, die sagmoedige en die nederige. KE 105.3

die sinnebeeld van Hom, die sagmoedige en die nederige. KE 105.4

Van die groot menigte by die Jordaan het min mense behalwe Johannes die hemelse gesig gesien. Tog het die mense wat daar by- een was, onder die indruk gekom van die goddelike teenwoordigheid. Die mense het stil gestaan met hulle oë op Christus gevestig. Sy gestalte was omhul met die lig wat altyd rondom die troon van God skyn. Terwyl Sy gesig na omhoog gekeer was, het dit gestraal van n heerlikheid soos nog nooit in die gesig van 'n mens gesien is nie. En vanuit die geopende hemele het hulle 'n stem gehoor wat sê: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.” KE 105.5

Hierdie woorde van bevestiging is gespreek om die wat die toneel aanskou het, met geloof te besiel, en om die Heiland in Sy sending te versterk. Nieteenstaande die feit dat die sonde van 'n doemwaardige wêreld op Christus gelê is, en ondanks die vernedering wat Hy ondergaan het om die gevalle menslike natuur aan te neem, het die stem uit die hemel verklaar dat Hy die Seun van die Ewige God is. KE 105.6

Johannes was diep ontroer toe Hy Jesus daar neergekniel sien, smekende met trane om die goedkeuring van die Vader. Toe die heerlikheid van God Hom omstraal het, en die stem uit die hemel gehoor is, het Johannes die teken herken wat God beloof het om hom te gee. Hy het geweet dat dit die Verlosser van die wêreld was wat hy gedoop het. Die Heilige Gees het oor hom gekom, en met uitgestrekte arm het hy na Jesus gewys en uitgeroep: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” KE 106.1

Niemand onder die skare, selfs nie Johannes nie, het die betekenis van hierdie woorde, “Die Lam van God,” verstaan nie. Op die berg Moria het Abraham sy seun hoor vra, “My vader . . . waar is die lam vir 'n brandoffer?” Die vader het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun.” Gen. 22: 7, 8. In die ram wat op bonatuurlike wyse voorsien is in die plek van Isak, het Abraham 'n sinnebeeld gesien van Hom wat sou sterf vir die sondes van die mensdom. Die Heilige Gees het deur die profeet Jesaja die sinnebeeld as volg verder verduidelik: “Soos 'n lam wat na die slagplek gelei word,” het die Here “die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Jes. 53: 7, 6. Maar die volk van Israel het die les nie verstaan nie. Baie van hulle het die soenoffers beskou soos die heidene hulle offerandes beskou het — as gifte waarmee hulle self die Godheid kon bevredig. Die Here wou hulle leer dat die gawe wat hulle met Hom sou versoen, uit Sy eie liefde sou kom. KE 106.2

En die woorde wat tot Jesus by die Jordaan gespreek is, “Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het,” sluit die ganse mensdom in. Die Vader het tot die Seun as ons verteenwoordiger gespreek. Met al ons sondes en swakhede word ons nie as waardeloos weggewerp nie. Hy het ons begenadig in die Geliefde. (Efe. 1: 6.) Die heerlikheid wat op Christus gekom het, is 'n pand van die liefde van God vir ons. Dit openbaar aan ons die krag van gebed — hoe die menslike stem die oor van God kan bereik en ons gebede in die hemelse howe verhoor word. Deur die sonde is die aarde van die hemel afgesny en is ons vervreem van daardie gemeenskap, maar Jesus het die aarde weer met die sfeer van heerlikheid verbind. Sy liefde omring die mens en reik tot die hoogste hemele. Die lig wat van die geopende hemel op die hoof van die Heiland geskyn het, sal ook op ons skyn KE 106.3

as ons bid om hulp om versoeking te weerstaan. Die stem wat met Jesus gespreek het, sê ook aan elke gelowige siel: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.” “Geliefdes, nou is ons kinders van God en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Joh. 3: 2. Ons Verlosser het die weg geopen, sodat die grootste sondaars, diegene wat die grootste behoefte het, die ellendiges, toegang tot die Vader mag hê. Daar is vir almal 'n tuiste in die wonings wat Jesus gaan berei het. “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie. . . . Kyk, ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie.” Openb. 3:7, 8. KE 107.1