Die Koning Van Die Eeue
Die Stem in die Woestyn
ONDER die getroues in Israel wat so lank gewag het op die koms van die Messias, het die voorloper van Christus verskyn. Die bejaarde priester, Sagaria, en sy vrou, Elisabet, was “altwee regverdig voor God;” en in hulle stil en heilige lewens het die lig van die geloof geskyn soos 'n ster in die duisternis van daardie bose dae. Aan hierdie godsalige egpaar is die belofte gegee van 'n seun wat “voor die aangesig van die Here sou uitgaan wat die pad sal regmaak.” KE 89.1
Sagaria het in die berge van Judea gewoon, maar hy het na Jerusalem gegaan om vir een week in die tempel te dien —'n diens wat tweemaal per jaar verwag is van die priesters van elke afdeling. “En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling, het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here om reukwerk te brand.” KE 89.2
Terwyl hy by die goue altaar besig was om reukwerk te brand, het die rookwolk met die gebede van Israel voor God opgegaan. Skielik was hy bewus van 'n goddelike teenwoordigheid. Daar was n engel van die Here “wat staan aan die regterkant van die reukoffer altaar. Die posisie van die engel daar was 'n teken van goedgunstigheid, maar Sagaria het nie daaraan gedink nie. Vir jare reeds het hy gebid vir die koms van die Verlosser, en nou het die hemel sy boodskapper gestuur om aan te kondig dat sy gebede verhoor is; maar dit het vir hom ongelooflik geklink. Hy was met vrees en selfveroordeling vervul”. KE 89.3
Die engel het hom met blymoedige versekering gegroet: “Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou n seun baar, en jy moet hom Johannes noem. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterke drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees. KE 90.1
En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot hulle God. En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en krag van Elia, om die harte van die vaders terug te bring na die kinders en die ongehoorsames na die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei. Toe sê Sagaria vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? want ek is 'n ou man, en my vrou is op vergevorderde leeftyd.” KE 90.2
Sagaria het goed geweet hoe 'n seun aan Abraham gegee is in sy ouderdom omdat hy geglo het dat die Een wat die belofte gegee het, dit kon vervul. Maar vir n oomblik het die bejaarde priester aan die swakheid van die menslike vlees gedink. Hy het vergeet dat God kan doen wat Hy belowe. Wat 'n teenstelling is hierdie geloof met die kinderlike geloof van Maria, die maagd van Nasaret, wat die engel as volg geantwoord het: “Hier is die diensmaag van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” Lukas 1: 38. KE 90.3
Die geboorte van 'n seun aan Sagaria, net soos die van Abraham en die van Maria, moes 'n groot geestelike waarheid leer —'n waarheid wat ons maar stadig leer en baie gou vergeet. Van onsself is ons onbekwaam tot enigiets goeds, maar wat ons nie kan doen nie, sal gedoen word deur die krag van God in elke siel wat glo en homself oorgee. Dit was deur die geloof dat die kind van belofte gegee is. Dit is deur die geloof dat die wedergeboorte kom en ons in staat gestel word om die werke van geregtigheid te doen. KE 90.4
In antwoord op Sagaria se versoek, het die engel gesê: “Ek is Gabriel wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.” Vyfhonderd jaar tevore het Gabriel aan Daniël die profetiese tydperk bekendgemaak wat sou J strek tot die koms van Christus. Die wete dat die einde van hierdie tydperk naby was, het Sagaria beweeg om te bid vir die koms van die Messias. Nou het daardie einste boodskapper deur wie die profesie gegee is, gekom om die vervulling daarvan aan te kondig. KE 90.5
Die woorde van die engel, “Ek is Gabriël wat voor God staan, is bewys dat hy 'n hoë ereplek in die hemel beklee.” Toe hy die boodskap aan Daniël gebring het, het hy gesê, “Daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Migael [Christus].” Dan. 10: 21. Van Gabriël het die Heiland in Openbaring gesê, “wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.” Openb. 1:1. En aan Johannes het die engel gesê: “Ek is 'n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete.” Openb. 22: 9. Dis 'n wonderlike gedagte — die engel wat die tweede ereplek langs die Seun van God beklee, is die een wat gekies is om die raadsbesluite van God aan sondige mense bekend te maak. KE 91.1
Sagaria het die engel se woorde betwyfel. Hy sou nie weer praat voordat daardie woorde vervul is nie. Die engel het aan hom gesê: “Kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.” In hierdie diens was dit die werk v' an die priester om te bid vir die vergifnis van die openbare en nasionale sondes van die volk en ook vir die koms van die Messias; maar toe Sagaria dit wou doen, kon hy nie een woord uitkry nie. KE 91.2
Toe hy uitkom om die volk te seën “het hy aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.” Hulle het reeds lank gewag en het begin vrees dat die oordeel van God hom miskien getref het. Maar toe hy uit die heilige plek uitkom, het sy gesig geblink van die heerlikheid van God; “daarop bemerk hulle dat hy 'n gesig in die tempel gesien het.” Sagaria het aan hulle beduie wat hy gesien en gehoor het; en “toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.” KE 91.3
Kort ná die geboorte van die beloofde kind is die vader se tong weer losgemaak “en hy het gepraat en God geloof. En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle woon, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judea. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word?” Die uitwerking van dit alles het ten gevolge gehad dat die aandag op die koms van die Messias gevestig is vir wie Johannes die weg moes berei. KE 91.4
Die Heilige Gees het oor Sagaria gekom, en in hierdie pragtige woorde het hy die werk van sy seun beskryf: KE 92.1
“En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, Want jy sal voor die aangesig van die Here gaan om Sy weë reg te maak;
Om kennis van verlossing aan sy volk te gee
In die vergifnis van hulle sondes,
Deur die innige barmhartigheid van onse God
Waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het,
Om te skyn oor die wat in duisternis en skaduwee van die dood sit,
Om ons voete na die pad van vrede te rig.”
KE 92.2
“En die kindjie het gegroei en sterk geword in die gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.” Vóór die geboorte van Johannes het die engel gesê, “Hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterke drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees.” God het die seun van Sagaria geroep tot n groot werk — die grootste werk wat ooit aan 'n mens opgedra is. Om hierdie werk te kan doen, moet hy die Here hê om saam met hom te werk. En die Gees van die Here sou met hom wees as hy die opdrag van die engel sou gehoorsaam. KE 92.3
Johannes sou uitgaan as die boodskapper van Jehova om die mense tot die lig van God te bring. Hy moes hulle gedagtes in 'n nuwe rigting stuur. Hy moes hulle onder 'n indruk bring van die heiligheid van Gods gebooie, en van hulle behoefte aan Sy volmaakte geregtigheid. So 'n boodskapper moet heilig wees. Hy moet 'n tempel wees vir die inwoning van die Gees van God. Om sy werk te kan doen, moet hy 'n gesonde gestel hê, en ook gesonde verstandelike en geestelike krag. Dit was dus nodig vir hom om sy aptyt en drifte in bedwang te hou. Hy moes in Staat wees om al sy kragte onder beheer te bring sodat hy onder die mense kon staan, onwrikbaar soos die rotse en berge van die woestyn. KE 92.4
In die tyd van Johannes die Doper was die gejaag na rykdom en die liefde vir weelde en vertoon algemeen. Singenot, etery en dri'nkerv, het siekte en ontaarding veroorsaak wat die geestelike sin verdof en die besef van die sonde verminder het. Johannes sou optree as hervormer. Deur sy matige lewe en eenvoudige kleding moes hy die oordadigheid van sy tyd bestraf. Dit is om hierdie rede dat die opdrag gegee is aan Johannes se ouers, naamlik die les van matigheid deur n engel van die troon van die hemel. KE 92.5
In die kinder- en jongelingsjare is die karakter die vatbaarste; dit is «dan wanneer selfbeheersing geleer moet word. Langs die haard en by die familietafel gaan daar invloede uit wat tot in ewigheid gevoel sal word. Meer as enige ander natuurlike gawe is dit die gewoontes wat in daardie vroeë jare geleer word, wat beslis of die man oorwinnaar sal wees of die neerlaag sal ly in die stryd van die lewe. In die jeug is dit die saaityd. Dit is dan wanneer beslis word watter soort oes daar sal wees vir hierdie lewe en die lewe hiernamaals. KE 93.1
As profeet sou Johannes “die harte van die vaders terugbring na die kinders en die ongehoorsames na die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.” In die bereiding van die weg vir Christus se eerste koms was hy n verteenwoordiger van diegene wat 'n volk sou voorberei vir die Here se tweede koms. Die wêreld is oorgegee aan selfbevrediging. Dwaalleer en fabels is algemeen. Die Satan se strikke om siele te vang, is menigvuldig. Almal wat die heiligmaking in die vrees van die Here wil volbring, moet die lesse van matigheid en selfbeheersing leer. Die aptyt en passies moet ondergeskik gemaak word aan die hoër kragte van die verstand. Hierdie selfdissipline is nodig vir daardie verstandelike krag en geestelike insig wat ons in staat sal stel om die heilige waarhede van Gods Woord te verstaan en uit te lewe. Om hierdie rede moet matigheid sy rol speel in die werk van voorbereiding vir Christus se wederkoms. KE 93.2
In die natuurlike beloop van sake sou die seun van Sagaria opgelei word vir die priestersamp; maar die opleiding wat hy in die rabbynse skole kon kry, sou hom nie toegerus het vir sy werk nie. God het hom nie na die teologiese leraars gestuur om te leer hoe om die Skrifte te verklaar nie. Hy het hom na die woestyn geroep sodat hy kon leer van die natuur en van die God van die natuur. KE 93.3
Dit was 'n eensa'me plek waar hy gewoon het, tussen dorre berge, diep klowe, en spelonke, maar hy het verkies om die genot van 'n weelderige lewe prys te gee vir die harde dissipline van die woestyn. Daar het sy omgewing gepas by sy eenvoudige lewe van selfverloëning. Ongestoor deur die rumoer van die wêreld, kon hy daar die lesse van die natuur, die openbaring, en die Voorsienigheid leer. Die woorde van die engel aan Sagaria is dikwels aan Johannes herhaal deur sy godvresende ouers. Van kindsbeen af is sy roeping hom voorgehou, en hy het die heilige pand aanvaar. Vir hom was die eensaamheid van die woestyn 'n welkome ontkoming aan die gemeenskap waar agterdog, ongeloof, en onreinheid byna algemeen was. Hy het sy eie kragte gewantrou om die versoeking te weerstaan, en hy het teruggedeins vir die aanraking met die sonde sodat hy nie miskien die vreeslike sondigheid van die sonde uit die oog verloor nie. KE 93.4
Aan God gewy as 'n nasireër van kindsbeen af, het hy self die wyding bevestig deur 'n heilige lewe. Sy kleed was soos die van die outydse profete, gemaak van kameelhaar, met 'n leergord om sy heupe. Sy voedsel was “sprinkane en wilde heuning” wat hy daar in die woestyn gekry het, en hy het die rein water van die berge gedrink. KE 94.1
Maar Johannes het nie sy lewe in ledigheid deurgebring, of as 'n kluisenaar, of in selfsugtige afsondering nie. Van tyd tot tyd het hy uitgegaan en onder die mense beweeg, en hy was altyd 'n belangstellende toeskouer van wat in die wêreld aangegaan het. Vanuit sy stille woonplek het hy die ontwikkeling van sake dopgehou. Met visie verlig deur die goddelike Gees, het hy die karakters van mense bestudeer sodat hy kon weet hoe om hulle harte te bereik met die boodskap van die hemel. Die las van sy roeping het op hom gedruk. Deur afsondering, oorpeinsing en gebed, het hy gesoek om sy siel te versterk vir sy lewenstaak. KE 94.2
Al het hy in die woestyn gewoon, was hy nie vry van versoeking nie. Sover as wat hy kon, het hy al die kanale toegemaak waardeur die Satan hom kon bereik, maar nogtans is hy deur die versoeker aangeval. Maar sy geestelike begrippe was helder; hy het 'n sterk karakter ontwikkel, en met die hulp van die Heilige Gees was hy in Staat om Satan se strikke te sien en sy krag te weerstaan. KE 94.3
In die woestyn het Johannes sy skool en heiligdom gevind. Net soos Moses in die berge van Midian, was hy deur Gods teenwoordigheid ingesluit en omring deur die tekens van Sy almag. Dit was nie sy voorreg soos die van Israel se groot leier om te woon in die majes- tueuse eensaamheid van die hoë berge nie; maar voor hom was die hoogtes van Moab, anderkant die Jordaan, wat getuig het van Hom wat die berge gegrondves en hulle met krag omgord het. Die neerslagtige aspek van die natuur in sy woestyntuiste was 'n treffende beeid van die toestand van Israel. Die vrugbare wingerd van die Here het 'n verlate plek geword. Maar bo-oor die woestyn was die hemelgewelf, skitterend en pragtig. Die wolke wat saamgepak het, donker en dreigend, daarin het die reënboog geskyn. So ook het daar bokant Israel se verlaging geskyn die beloofde heerlikheid van die Messias-regering. Oor die wolke van wraak het gestrek die reënboog van Gods genadeverbond. KE 94.4
Alleen in die stilte van die nag het hy Gods belofte aan Abraham gelees van 'n nakroos ontelbaar soos die sterre. Die lig van die more- glans wat die berge van Moab met goud geverf het, het gespreek van Hom wat sou wees soos “die more-lig by sonsopgang, 'n more sonder wolke.” 2 Sam. 23: 4. In die helderheid van die middag het hy die heerlikheid van Sy openbaring gesien wanneer “die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.” Jes. 40: 5. KE 95.1
Met 'n eerbiedige dog blymoedige gees het hy in die profetiese rolle die openbarings aangaande die Messias se koms ondersoek — die beloofde Saad wat die kop van die slang sou vermorsel; Silo, “die bringer van vrede,” wat sou kom voordat 'n koning sou ophou om te regeer op die troon van Dawid. Nou het die tyd gekom. 'n Romeinse heerser het gesit in die paleis op Sion. In vervulling van die vaste Woord van God, was die Christus alreeds gebore. KE 95.2
Dag en nag het hy Jesaja se treffende beskrywings van die heerlikheid van die Messias studeer — die Spruit uit die stomp van Isai; 'n Koning wat in geregtigheid sou regeer, en wat “die sagmoediges van die land met billikheid” sal oordeel; “'n toevlug teen die wind, . . . die skaduwee van 'n swaar rots in 'n land wat versmag;” Israel sal nie meer 'n “Verlatene” wees nie en sal nie meer 'n “Wildernis” genoem word nie, maar sal deur die Here genoem word, “My welbehae, en jou land: Die getroude.” (Sien Jes. 40: 5; 11: 4; 32: 2; 62: 4.) Die hart van die eensame banneling was vervul met die heerlike visie. KE 95.3
Hy het die koning in Sy heerlikheid aanskou, en hy het homself vergeet. Hy het die majesteit van heiligheid gesien en gevoel dat hy self onbekwaam en onwaardig is. Hy was gereed om uit te gaan as die boodskapper van die Hemel, onbevrees vir die mens, omdat hy op God vertrou het. Hy kon fier en onbevrees staan voor aardse konings, omdat hy laag neergebuig het voor die Koning van die konings. KE 95.4
Johannes het nie volkome die aard van die Messias se koninkryk verstaan nie. Hy het verwag dat Israel van sy nasionale vyande sou verlos word; maar die koms van 'n Koning in geregtigheid, en die bevestiging van Israel as 'n heilige volk, dit was die dinge waarop hy gehoop het. Hy het verwag dat die volgende profesie vervul sou word by sy geboorte: KE 96.1
“Om . . . aan Sy heilige verbond te dink, . . .
Dat ons, verlos uit die hand van ons vyande,
Hom sonder vrees kan dien,
In heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.”
KE 96.2
Hy het sy volk gesien, bedrieg, selfvoldaan, en aan die slaap in hulle sondes. Hy het verlang om hulle wakker te skud tot n heiliger lewe. Die boodskap wat God aan hom gegee het om te verkondig, was bedoel om hulle wakker te maak uit hulle slaap, en hulle te laat sidder van weë hulle boosheid. Voordat die saad van die evangelie gesaai kon word, moes die akker van die hart omgeploeg word. Voordat hulle genesing by Jesus sou soek, moes hulle wakker gemaak word om die gevaar van die wonde van die sonde te besef. KE 96.3
God stuur nie Sy boodskappers om sondaars te vlei nie. Hy bring geen boodskap van vrede om die mense aan die slaap te sus in 'n valse veiligheid nie. Hy spreek die gewete van die kwaaddoener sterk aan, en deurboor die hart met pyle van oortuiging. Die dienende engele hou die vreeslike oordele van God aan hom voor om hom sy behoefte te laat besef en hom te dryf om uit te roep, “Wat moet ek doen om gered te word?” Dan sal die hand wat hom tot in die stof verneder het, die boetvaardige ophef. Die stem wat die sonde bestraf en die hovaardige tot skande gebring het, sal dan met die grootste ontferming vra, “Wat wil u hê dat Ek vir u sal doen?” KE 96.4
Toe Johannes sy bediening begin het, was die volk in 'n Staat van opgewondenheid en ontevredenheid wat gegrens het aan 'n opstand. By die verwydering van Archelaus, het Judea regstreeks onder die kon- trole van Rome gekom. Die dwingelandy en afpersing van die Romeinse goewerneurs, en hulle vasberade pogings om heidense bole en gebruike in te voer, het opstand aangevuur wat die bloed van duisende van Israel se helde gekos het. Dit alles het die haat teen Rome aangeblaas en die verlange na verlossing van die Romeinse mag versterk. KE 96.5
Te midde van die stryd en tweedrag is daar 'n stem in die woestyn gehoor—'n stem ontstellend en gebiedend, dog vol hoop: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Met 'n nuwe, vreemde krag het dit die volk beweeg. Die profete het die koms van Christus voorspel as iets wat nog ver in die toekoms was; maar hier was 'n aankondiging dat dit op hande was. Johannes se snaakse voorkomste het sy hoorders laat terugdink aan die sieners van die ou tyd. In sy maniere en kleding was hy soos die profeet Elia. In die gees en krag van Elia hit hy die nasionale verdorwenheid en die heersende sondes bestraf. Sy woorde was duidelik, kragtig, en oortuigend. Vele het geglo dat hy een van die profete was wat uit die dode opgestaan het. Die hele volk was in beroering. Skares het na die woestyn gestroom. KE 97.1
Johannes het die koms .van die Messias aangekondig, en het die volk tot bekering geroep. As simbool van reiniging van die sonde, het hy hulle in die waters van die Jordaanrivier gedoop. So het hy deur middel van 'n treffende, aanskouelike les verklaar dat diegene wat voorgegee het om Gods uitverkore volk te wees, deur die sonde besoedel was en dat hulle sonder die reiniging van die hart geen deel kon hê in die Messias se koninkryk nie. KE 98.1
Prinse, rabbi s, soldate, tollenaars, en die boerebevolking het gekom om die profeet te hoor. Vir 'n tyd het die plegtige waarsku- wing van God hulle ontstel. Vele het tot bekering gekom en is gedoop. Mense van alle range het hulle onderwerp aan die profeet se vereistes sodat hulle deelgenote kon word van die koninkryk wat hy aangekondig het. KE 98.2
Baie van die skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle sondes kom bely en gevra om gedoop te word. Hulle het hulleself verhef as beter as ander mense, en hulle het die volk gelei tot 'n hoë dunk van hulle vroomheid; nou is die sondige geheime van hulle lewens geopenbaar. Maar die Heilige Gees het aan Johannes getoon dat vele van hierdie mense nie 'n ware oortuiging van die sonde gehad het nie. Hulle was opportuniste. As vriende van die profeet het hulle gehoop om in die guns te kom van die komende vors. Hulle het gedink dat as hulle deur hom gedoop is hulle groter invloed by die volk sou hê. KE 98.3
Johannes het hulle begroet met die snydende vraag: “Addergeslag, wie het julle aangewys om weg te vlug van die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas; en moenie dink om by julleself te sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.” KE 98.4
Die Jode het God se belofte van ewige begunstiging van Israel verkeerd vertolk: “So sê die Here wat die son gee tot 'n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot 'n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, Here van die leërskare is Sy Naam: As hierdie verordeninge voor My aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om 'n volk te wees voor My aangesig vir altyd. So sê die Here: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die Here.” Jer. 31: 35-37. Die Jode het hulle natuurlike verwantskap aan Abraham beskou as iets wat hulle reg gegee het om aanspraak te maak op hierdie belofte. Maar hulle het die voorwaardes wat God gestel het, oor die hoof gesien. Voordat Hy die belofte aan hulle gegee het, het Hy gesê, “Ek gee My wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. . . . Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie”. Jer. 31: 33, 34. KE 98.5
Aan die volk in wie se hart Gods wet geskryf is, is die guns van God verseker. Hulle is een met Hom. Maar die Jode het hulleself afgeskei van God. Ten gevolge van hulle sondes het hulle gely onder Sy oordele. Dit was ook die rede waarom hulle aan 'n heidense volk onderworpe was. Hulle verstand is verduister deur oortreding, en omdat die Here hulle in die verlede begunstig het, het hulle nie hulle sondes ernstig opgeneem nie. Hulle het hulleself wysgemaak dat hulle beter as ander mense is en dus geregtig op Gods seëninge was. KE 99.1
Hierdie dinge “is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” 1 Kor. 10: 11. Hoe dikwels vertolk ons Gods seëninge verkeerd, en vlei ons onsself dat ons begunstig word weens ons eie goedheid! God kan nie vir ons doen wat Hy verlang om te doen nie. Ons gebruik Sy gawes om ons nog meer selfvoldaan te laat voel en om ons harte te verhard in ongeloof en sonde. KE 99.2
Johannes het aan die leraars van Israel gesê dat hulle hoogmoed, selfsug, en wreedheid bewys gelewer het dat hulle n addergeslag, n dodelike vloek vir die mense was, en nie die kinders van regverdige en gehoorsame Abraham nie. Ondanks die lig wat hulle van God ontvang het, was hulle selfs slegter as die heidene en nie beter as hulle soos hulle gemeen het nie. Hulle het die steengroef vergeet waaruit bulle gekap is, en die gat waaruit hulle gegrawe is. God was me van hulle afhanklik vir die volvoering van Sy raadsbesluite nie. Net soos Hy Abraham uit 'n heidense volk geroep het, kan Hy ook ander roep tot Sy diens. Dit mag nou skyn of hulle harte net so lewenloos is soos die klippe van die woestyn, maar Sy Gees kan hulle lewendig maak om Sy wil te doen en die vervulling van Sy beloftes te verkry. KE 99.3
“Maar die byl lê ook al,” het die profeet gesê, “teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uit- gekap en in die vuur gegooi.” Die waarde van 'n boom word geskat, nie volgens sy naam nie, maar volgens die vrugte wat hy dra. As die vrugte waardeloos is, kan die naam van die boom hom nie red van vernietiging nie. Johannes het aan die Jode gesê dat hulle waarde voor God beslis sou word deur hulle karakter en lewe. 'n Blote belydenis was waardeloos. As hulle lewe en karakter nie in ooreenstem- ming met Gods wet was nie, dan was hulle nie Gods volk nie. KE 100.1
Onder sy hartdeursoekende woorde is sy hoorders tot oortuiging gebring. Hulle het na hom gekom met die vraag: “Wat moet ons dan doen?” Hy het geantwoord, “Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.” Hy het die tollenaars teen onwettigheid gewaarsku en die soldate teen geweld. KE 100.2
Almal wat onderdane van Christus se koninkryk word, het hy gesê, sou bewys lewer van geloof en bekering. Goedhartigheid, vriendelikheid, en getrouheid sou in hulle lewens gesien word. Hulle sou uitdeel aan die behoeftiges, en hulle sou hulle offergawes aan God bring. Hulle sou die weerloses beskerm, en voorbeelde wees van goedheid en ontferming. Dit is die bewys wat die navolgers van Christus sou gee van die wederbarende krag van die Heilige Gees. In hulle daelikse lewe sal geregtigheid, genade, en die liefde van God gesien word. So nie, sou hulle wees soos die kaf wat verbrand sal word. KE 100.3
“Ek doop julle wel met water tot bekering,” het Johannes gesê, “maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie bekwaam is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” Matt. 3: 11. KE 100.4
Die profeet Jesaja het voorspel dat die Here Sy volk sou reinig van hulle ongeregtighede “deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging.” Die woord van die Here aan Israel was, “Ek sal My hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou tin wegneem.” Jes. 4:4; 1:25. Vir die sonde, waar dit ook gevind word, is God “'n verterende vuur.” Heb. 12: 29. In almal wat hulleself aan Sy krag oorgee, sal die Gees van God die sonde verteer. Maar as mense vasklem aan die sonde, vereenselwig hulle hulle daarmee, en die heerlikheid van God wat die sonde verdelg, sal hulle ook verdelg. Nadat Jakob met die engel geworstel het, het hy uitgeroep, “Ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.” Gen. 32: 30. Jakob was skuldig aan 'n groot sonde teen Esau, maar hy het tot bekering gekom. Sy oortreding was vergewe en sy sonde gereinig; daarom kon hy die openbaring van Gods teenwoordigheid verduur. Maar wanneer mense voor God gekom het terwyl hulle moedswillig sonde in hulle harte gekoester het, is hulle vernietig. By die tweede koms van Christus sal die goddelose “met die asem van Sy mond” verdelg en “deur die verskyning van Sy wederkoms tot niet” gemaak word. 2 Thes. 2: 8. Die lig van die heerlikheid van God wat lewe aan die regverdiges skenk, sal die goddelose verdelg. KE 100.5
In die tyd van Johannes die Doper het Christus op die punt gestaan om te verskyn as die openbaarder van die karakter van God. Sy teenwoordigheid sou aan die mense hulle sondes openbaar. Alleen namate hulle gewillig sou wees om van hulle sondes gereinig te word, kon hulle in gemeenskap met Hom kom. Alleen die reine van hart sou Sy teenwoordigheid kon verduur. KE 101.1
So het die Doper dan die boodskap van God aan Israel verkondig. Vele het gehoor gegee aan sy prediking. Baie het alles opgeoffer om te kan gehoorsaam. Groot skares het hierdie nuwe leraar van plek tot plek gevolg, en baie het gehoop dat hy die Messias sou wees. Maar toe Johannes sien hoedat die mense hom volg, het hy gebruik gemaak van elke geleentheid om hulle te wys op Hom wat sou kom. KE 101.2