Die Koning Van Die Eeue

84/88

Die Emmausgangers

LAAT in die middag van die opstandingsdag, was twee van die dissipels op weg na Emmaus, 'n dorpie sowat agt myl van Jerusalem. Hierdie dissipels het nie 'n vername plek in die werk van Christus gehad nie, maar hulle was ernstige gelowiges in Hom. Hulle het na die stad gekom vir die Paasfees, en hulle gedagtes is gaande gemaak deur die gebeurtenisse van die afgelope paar dae. Hulle het die oggend die nuus gehoor van die verwydering van Christus se liggaam uit die graf, en ook die verslag van die vroue wat die engele gesien het en later ook Jesus. Hulle was nou op weg na hulle huis om te peins en te bid. Droefgeestig het hulle die aand gestap en praat oor die tonele van die verhoor en die kruisiging. Nog nooit tevore was hulle so moedeloos nie. Hopeloos en sonder geloof het hulle gestap in die skaduwee van die kruis. KE 814.1

Hulle het nie te ver geloop nie, of 'n vreemdeling het hom by hulle gevoeg, maar hulle was so in beslag geneem deur hulle eie swaarmoedigheid en teleurstelling dat hulle nie eintlik aandag aan hom geskenk het nie. Hulle het voortgegaan met hulle gesprek, en gesê wat hulle gedink het. Hulle het gepraat oor die dinge wat Christus geleer en wat hulle nie mooi verstaan het nie. Terwyl hulle so gesels het oor die dinge wat plaasgevind het, het Jesus verlang om hulle te vertroos. Hy het hulle droefheid gesien; Hy het die botsende gedagtes erstaan wat hulle laat vra het, Kon hierdie Man wat toegelaat het dat hulle Hom so verneder, wel die Christus gewees het? Hulle droefheid was so groot dat hulle gehuil het. Jesus het geweet dat hulle Hom baie liefgehad het, en Hy het verlang om die trane af te vee en hulle harte met blydskap te vervul. Maar Hy moes hulle eers lesse leer wat hulle nooit sou vergeet nie. KE 814.2

“Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kleopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” Hulle het Hom vertel van hulle teleurstelling in verband met hulle Meester, “wat n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; maar,” het hulle gesê, “ons owerpriesters en owerstes [het] Hom oorgelewer vir die doodstraf en Hom gekruisig.” Met harte vol teleurstelling, en met bewende lippe het hulle bygevoeg, “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit van- dag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.” KE 815.1

Dit is vreemd dat die dissipels Christus se woorde nie onthou het, en geweet het dat Hy die dinge voorspel het wat sou plaasvind nie! Hulle het nie besef dat die laaste gedeelte van Sy voorspelling net so gewis sou vervul word as die eerste gedeelte en dat Hy op die derde dag sou opstaan nie. Dit is die deel wat hulle wel moes onthou het. Die priesters en owerstes het dit nie vergeet nie. “Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerstes en die Fariseërs by Pilatus saam en sê: Meneer, ons herinner ons dat die Verleier, toe Hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan Ek op.” Matt. 27: 62, 63. Maar die dissipels het hierdie woorde nie onthou nie. KE 815.2

Toe het Hy aan hulle gesê: “O onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid ingaan nie?” Die dissipels het gewonder wie hierdie vreemdeling kon wees, wat tot hulle siele kon deurdring, en praat met sulke erns en gevoel en simpatie, en so hoopvol. Vir die eerste maal na Christus se verraad, het hulle weer moed geskep. Telkens het hulle hulle reisgenoot ernstig betrag, en gedink dat Sy woorde juis die woorde was wat Christus sou gespreek het. Hulle was met verbasing vervul, en hulle harte het in heerlike verwagting begin klop. KE 815.3

Beginnende by Moses, die Alfa van Bybelse geskiedenis, het Christus die Skrifte aangaande Homself verduidelik. As Hy Homself uit die staanspoor aan hulle geopenbaar het, sou hulle harte tevrede gewees het. In die oorvloed van hulle vreugde sou hulle na niks meer verlang het nie. Maar dit was nodig vir hulle om te verstaan hoe die tipes en profesieë van die Ou Testament van Hom getuig het. Hulle geloof moes daarop gebou word. Christus het geen wonderwerk verrig om hulle te oortuig nie, maar Hy het die Skrifte aan hulle verduidelik. Hulle het Sy dood beskou as die verplettering van al hul hoop. Nou het Hy hulle uit die profete bewys dat dit juis die sterkste bewys was vir hulle geloof. KE 816.1

Waar Hy hierdie dissipels onderrig het, het Jesus gewys op die belangrikheid van die Ou Testament as bewys van Sy sending. Baie belydende Christene verwerp vandag die Ou Testament, en hulle sê dat hulle dit nie langer nodig het nie. Maar dit is nie wat Christus geleer het nie. Hy het soveel waarde daaraan geheg dat Hy eenkeer gesê het, “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand ook uit die dode opstaan.” Lukas 16: 31. KE 816.2

Dit is die stem van Christus wat deur die patriarge en profete spreek van die dae van Adam af tot by die einde van tyd. Die Verlosser word in die Ou Testament geopenbaar net so duidelik as in die Nuwe. Dit is die lig van die profetiese verlede wat die lewe van Christus en die leer van die Nuwe Testament so helder laat uitstaan. Die wonderwerke van Christus is bewys van Sy Godheid; maar nog sterker bewys dat Hy die wêreld se Verlosser is, blyk uit die vergelyking van die profesieë van die Ou Testament met die geskiedenis van die Nuwe Testament. KE 816.3

Uit die profesieë het Christus Sy dissipels die regte idee gegee van wat Hy sou wees as mens. Hulle verwagting van 'n Messias wat die troon sou bestyg en koninklike mag sou aanneem volgens die idees van mense, was verkeerd. Dit sou bots met 'n regte begrip van Sy vernedering uit die hoogste tot die laagste posisie. Christus wou hê dat die idees van Sy dissipels reg en waar moes wees in elke opsig. So vêr moontlik moes hulle begryp dat Hy die lydensbeker moes drink wat aan Sy lippe gesit is. Hy het hulle daarop gewys dat die vreeslike stryd wat hulle toe nog nie kon verstaan nie, 'n vervulling was van die verbond wat gemaak is vóór die grondlegging van die wêreld. Christus moes sterf net soos enige oortreder van die wet moet sterf as hy volhard in die sonde. Dit alles moes gebeur, maar dit sou nie in 'n neerlaag eindig nie, maar in 'n heerlike, ewige oorwinning. Jesus het aan hulle gesê dat alles gedoen moes word om die wêreld van die sonde te red. Sy navolgers moet lewe soos Hy gelewe het, werk soos Hy gewerk het, met erns en volharding. KE 816.4

So het Christus met die twee dissipels gesels, en hulle verstand geopen sodat hulle die Skrifte kon verstaan. Daardie dissipels was moeg, maar hulle belangstelling was groot. Woorde van lewe en versekering het van die Heiland se lippe gevloei. Maar nog was hulle oë gesluit. Toe Hy hulle vertel het van die aanstaande verwoesting van Jerusalem, het hulle die gedoemde stad wenend aanskou. Maar hulle het nog glad nie besef wie hulle reisgenoot was nie. Min het hulle gedink dat die Persoon oor wie hulle gesels het, langs hulle stap, want Christus het na Homself verwys asof Hy 'n ander persoon was. Hulle het gedink dat Hy een van die was wat die groot fees bygewoon het, en wat nou op weg huis toe was. Hy het net so versigtig soos hulle gestap oor die klippe, en af en toe saam met hulle gesit om 'n bietjie te rus. So het hulle voortgestap met die bergpad, terwyl die Een wat eerlank Sy plek sou gaan inneem aan Gods regterhand, en wat kon sê, “Aan My is gegee alle mag in hemel en op aarde” Matt. 28: 18, saam met hulle gestap het. KE 817.1

Terwyl hulle voortgereis het, het die son ondergegaan, en voordat die reisigers hulle woning bereik het, het die werkers op die lande hulle werk gestaak. Toe die dissipels hulle huis wou binnegaan, het dit gelyk of die vreemdeling Sy reis verder wou voortsit. Maar die dissipels het tot Hom aangetrokke gevoel. Hulle siele was hongerig om meer van Hom te hoor. “Bly by ons,” het hulle gesê. Dit het gelyk of Hy die uitnodiging nie wou aanneem nie, en hulle het by Hom aangedring en gesê, “Dit is amper aand en die dag het gedaal.” Christus het toe hulle uitnodiging aangeneem, “en Hy het ingegaan om by hulle te bly.” KE 817.2

As die dissipels nie by Hom aangedring het om by hulle te vertoef nie, sou hulle nie geweet het dat hulle reisgenoot die verrese Heiland was nie. Christus dwing Homself nooit op mense af nie. Hy stel belang in diegene wat Hom nodig het. Hy sal die nederigste woning blymoedig binnegaan, en die eenvoudigste hart aanmoedig. Maar as mense te onverskillig is om aan die hemelse Gas te dink, of Hom te vra om in te kom, sal Hy hulle verbygaan. Op hierdie wyse ly baie mense groot skade. Hulle ken Christus net so min as daardie dissipels met wie Hy saamgestap het. KE 817.3

Die eenvoudige aandete van brood is gou berei. Dit is voor die Gas geplaas, wat plek ingeneem het aan die hoof van die tafel. Toe het Hy Sy hande opgehef om die voedsel te seën. Verbaas het die dissipels geskrik. Hulle Gas strek Sy hande uit presies net soos hulle Meester gewoonlik gedoen het. Hulle kyk weer, en skielik sien hulle die merke van die spykers in Sy hande. Albei roep tegelyk uit, Dit is die Here Jesus! Hy het opgestaan uit die dode! KE 818.1

Hulle staan op om hulleself aan Sy voete neer te werp en Hom te aanbid, maar Hy het voor hulle oë verdwyn. Hulle kyk na die plek waar die Een gesit het wat 'n rukkie tevore nog in die graf gelê het, en hulle sê vir mekaar, “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? KE 818.2

Maar met hierdie belangrike nuus om te gaan vertel, kon hulle nie daar sit en praat nie. Hulle moegheid en honger is weg. Hulle laat staan hulle kos net so, en blymoedig is hulle dadelik met dieselfde pad terug waarmee hulle gekom het, om die goeie nuus te gaan vertel aan die dissipels in die stad. In sommige dele is die pad nie veilig nie, maar hulle klim oor die steil plekke, en gly oor die gladde rotse. Hulle sien nie, en hulle weet nie, dat Hy wat saam met hulle op die pad gereis het, hulle beskerm nie. Met pelgrimstaf in die hand, stryk hulle voort, en probeer hulle om vinniger te beweeg as wat vir hulle veilig is. Hulle raak die pad byster, maar vind dit weer. Soms hardloop hulle, soms struikel hulle, maar hulle haas voort, met die onsigbare Reisgenoot die hele pad dig by hulle. KE 818.3

Die nag is donker, maar die Son van Geregtigheid skyn op hulle. Hulle harte bons van vreugde. Dit is asof hulle in 'n nuwe wêreld is. Christus is 'n lewende Verlosser. Hulle treur nie langer oor Hom as een wat dood is nie. Christus het opgestaan — dit herhaal hulle oor en oor. Dit is die boodskap wat hulle neem na die treurendes. Hulle moet hulle die wonderlike storie van die reis na Emmaus vertel. Hulle moet vertel wie by hulle op die pad aangesluit het. Hulle is die draers van die grootste boodskap wat nog ooit aan die wêreld gegee is —'n blye boodskap waarin die mensdom hulle hoop vir tyd en ewigheid kan vestig. KE 818.4